Nuuskommentaar: Plaas Zuma homself in die doofpot?

Zuma antwoord vrae in die parlement. Foto: Twitter

Zuma antwoord vrae in die parlement. Foto: Twitter

Gister het Zuma te midde van een van sy blitsbesoeke aan Suid-Afrika ook sy begrotingsrede in die parlement gelewer. Die interessantheid is egter hoe die media daaroor berig.

  • Die media dra ruim nuus oor ’n adjunk-minister wat na bewering ’n lid van die DA met die f-woord gevloek het. Die voorval gaan ondersoek word, nadat die agbare lid ontken het dat hy geswets het.
  • Zuma se verwysings na xenofobie het veral in die Independent-groep en die SAUK se radionuus heelwat aandag gekry. Volgens ’n berig van IOL het die president onder meer gesê: “Afrikane behoort in vrede met mekaar saam te leef.” Dit klink of blank en bruin geïgnoreer is.
  • Die uitreiking van die Marikana-verslag – wat reeds omstredenheid veroorsaak weens die voeteslepery – klaarblyklik om dit aan die hand van ander insette te “redigeer.”

’n Nagaan van Zuma se volledige toespraak bring nie behoorlike helderheid oor of Zuma inderdaad blankes, bruines en Afrikaners (“die ander” wie se koms die kontinent se probleme veroorsaak het, aldus Zuma) uitgesluit het in sy voortdurende oprakel van “Africans” nie. Dit lyk of die IOL-verslaggewer dalk meer rasbenepenheid in Zuma se toespraak gelees het as wat bedoel was.

Wat egter wel duidelik is, is dat Zuma sommer in sy intrede Afrikaans uitgesluit het toe hy die “fellow Africans” verwelkom het, en die teenwoordiges in vier tale gegroet het, Afrikaans uitgesluit.

Hy verwys wel na die “verskillende gemeenskappe” wat in vrede moet kan saambestaan, maar dis nie duidelik of hy die “inheemse” Africans en “Africans” van elders as gemeenskappe in die oog het nie.

Die ANC se “suksesse” word teenoor ander Afrikalande gemeet (en selektief gedoen). Die mislukkings (aangebied as doelwitte wat nie heeltemal behaal is nie) word voor die deur van apartheid en kolonialisme gelê. Trouens, hy meen die stryd om vryheid eindig nie wanneer onafhanklikheid verkry is nie.

Daar was natuurlik geen verwysing na waar Suid-Afrika op die persvryheidsindeks, die korrupsie-persepsie-indeks, die geweldsindeks, omkoopindeks en vele meer trek nie.

Terwyl die president sy werkliheidsvreemde toespraak lewer, is daar harde werklikhede. In Johannseburg het die Gautengse Onderwysdepartement slae by Fedsas en AfriForum in die hof gekry oor die toelatingskwessie. Die departement se regsverteenwoordiger het in sy betooghoofde aangevoer dat Fedsas die kat aan die stert beet het en die verkeerde kwessies hof toe neem. Nadat die saak se dringende deel afgehandel is, het ’n woordvoerder sy mond erg uitgespoel, en was dit duidelik dat Fedsas in die kol was met sy ontleding oor wat die departement probeer doen het – om skole hul wetlike verantwoordelikheid om oor toelatings te beslis, te ontneem. Die LUR self het immers die bal reeds laat val met sy verwysing na die “kleinbasies”. ’n Volledige hofsaak volg nou.

Ten spyte van die verdelende impak van hierdie saak verskyn dit nie op Zuma se radarskerm nie.

Nuwe statistieke toon dat Suid-Afrika se werkloosheidskoers nuwe laagtepunte bereik. Dit is deels toe te skryf aan ’n nuwe definisie van werkloosheid, maar dit maak die syfer meer geloofwaardig.

The Economist se indeks van die veiligste stede is ook gister bekend gemaak. Johannesburg is al stad in Afrika wat The Economist se lys van 50 veiligste stede ter wêreld kon haal – maar dit is omdat dit so moeilik is om die verlangde data uit Afrika te kry. Trouens, Johannesburg is saam met Midde-Oosterse stede gemeet en het selfs op daardie lysie byna onderaan geëindig. Op die algemene lys behaal Johannesburg die 47ste plek uit 50 stede. Ho ChiMiehn-stad in Viëtnam, Teheran in Iran en Djakarta in Indonesië is die stede wat swakker as Johannesburg vaar.

Ook op die indekse wat spesifieke aspekte van veiligheid meet het Johannesburg nie te goed gevaar nie. Die verrassing is waarskynlik dat Johannesburg nie op die indeks vir persoonlike veiligheid die swakste gevaar het nie, maar vir gesondheidsdienste.

Vir gesondheidsdienste het Johannesburg die 47ste plek ingeneem, vir digitale veiligheid die 44ste plek, vir persoonlike veiligheid die 39ste plek en vir infrastruktuur die 45ste plek.

Zuma sal wel weer die media voor stok kry omdat so skraps oor die “positiewe” dele van sy toespraak geskryf is. Dit is immers deel van sy blaampolitiek-strategie.

Die media kom wêreldwyd onder druk weens subjektiewe beriggewing, en syfers uit die VSA toon byvoorbeeld dat 61% van die Amerikaanse kiesers nie die politieke nuus wat hulle kry vertrou nie. Net 21% vertrou die politieke nuus. Terwyl veral die gedrukte media onder sulke enorme druk is, sal verwag word dat dié media sal uithaal om geloofwaardigheid te bewerkstellig.

In Suid-Afrika is dit egter ’n baie, baie moeilike taak. Word die regering se getjommel belig, kritiseer die regering die media omdat die “goeie storie” nie die nodige prominensie kry nie. Word die “goeie storie” sterk belig, verloor die media hul lesers wat in hul eie alledaagse waarnemings die teenoorgestelde beleef.

En Zuma help nie die proses aan nie. Lees ’n mens deur sy toespraak en die lang lys van stappe wat die regering, volgens hom, neem om dinge reg te ruk, strook dit nie met die ooglopende gespartel om korrupsieloos te lewe nie. Die ouditeur-generaal se verslae vertel ook ’n ander verhaal. Dus, hoe meer aksie, hoe meer geploeter.

Uiteindelik sal Zuma net homself kan blameer as hy min of meer verswyg word, behalwe wanneer hy weer sy voet daarin sit. Met sy jongste blaps, “die ander” wat die vreedsame en prettige saambestaan van Afrikane kom bederf het, het die lys van skadelike stellings ’n aks gegroei. Baie van hierdie bog haal ook die oorsese media, wat ook tam raak om oor Zuma te berig asof hy die leier van ’n voorste Afrikaland is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rynhardt ·

Ek is bly Zuma verwys na ons as “die ander”,want dit is my mense,die Afrikaner/Boervolk met n trotse geskiedenis en kultuur.Ons het SA ontwikkel terwyl hy en sy Anc,SA afgebreek het!Vir 21jaar kon hy en sy Anc nie na groot hoogtes neem m.b.t.ekonomie nie!Zuma sal nooit op Afrikadag erkenning gee vir die Afrikaner,want dit druis in teen die beginsels van sy aanbiddende vryheidsmanifes!Die res van Afrika sal kolonialisme bly blameer,terwyl die onderskeie Afrika-diktators niks gedoen het om hul eie onderskeie lande te ontwikkel,toe die Britte en Franse dit verlaat het nie.Zuma het leluk vergeet om te noem dat vir dekades verryk Afrika-diktators hulself,terwyl hul mense krepeer van honger en ellende.Zuma se raadgewers bly net vir hom se:”Blameer die witman,blameer die witman”.Dit is al taal wat Zuma verstaan!Zuma sal hom permanent doof en blind hou vir alles wat gebeur in SA.Ons Afrikaners word gevangene gehou deur boewe wat hulself verryk.Ek sluit af met die volgende boodskap vir ons mense.Die Grieke het Griekeland,die Russe het Rusland,die Engelse het Engeland en die Amerikaners het Amerika.Wat het ons Afrikaner/Boervolk vandag?Ons land en toekoms is van ons ontneem op n bedrieglike wyse.Word n hegte volk en keer terug na jou waardes en geloof.Die Here doen die res.

Werner ·

Waneer waarheid we’ll eendag gepraat word, sal ons dit nog kan herken?? Dit is so bitter bitter skaars.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.