Nuuskommentaar: Plaasaanvalle, die polisie en opposisie

plaasmoordeOp sy eie sou dié storie uiters ontstellend wees as dit blyk die geval te wees: ‘n Gesin word deur plaasaanvallers oorval, die boer en sy dogter word geskiet en gewond, waarop die boervrou haar man se vuurwapen in die hande kry en op die aanvallers losbrand en een wond. En na berig word wou die polisie die boervrou in hegtenis neem omdat sy haar man se vuurwapen hanteer het. Sy is glo eers gelos ná met regstappe gedreig is.

Maar dié saak staan ongelukkig nie in isolasie nie. Volgens die beskikbare inligting het ‘n boer van Brits enkele jare gelede gehoor daar word by sy plaaswinkel ingebreek. Hy haas hom daarheen, en toe hy instap, storm een van die inbrekers met ‘n skerp voorwerp op hom af. Die boer skiet een waarskuwingskoot deur die dak, maar die aanvaller storm steeds. Daar is nie tyd vir nog ‘n waarskuwingskoot nie, en hy skiet die aanvaller in die bors. Die makker het intussen deur die venster die hasepad gekies. Die boer laat kom die ambulans, maar die aanvaller sterf in die hospitaal. Die boer word in hegtenis geneem. So ver vasgestel kon word was daar nie verdere mediaberigte oor wat van die saak geword het nie.

In die Oos-Vrystaat kom ‘n ongetroude vrou van die dorp af by haar opstel aan. Sy sien daar is by die huis ingebreek, en bel ‘n buurman. Terwyl die buurman om die huis kyk, spring die vermeende inbreker uit ‘n boom op hom. In die gestoei word die verdagte gewond, en hospitaal toe geneem, maar nooit in hegtenis geneem of vervolg nie. Die staat betaal sy mediese kostes. Die buurman word in hegtenis geneem.

Dit is maar enkele voorbeelde wat die media gehaal het. In minstens een geval moes die polisie ‘n stywe bedrag belastingbetalersgeld betaal vir die onregmatige aanhouding van ‘n bekende boer van Bethlehem.

Gelukkig is daar ook positiewe verhale, en heelwat suksesverhale oor die aankeer van plaasmoordenaars.

Verskillende instansies het konsensus dat plaasaanvalle, en in die besonder plaasmoorde, ‘n baie ernstige probleem en ‘n statistiese uitskieter is. Die pro rata aantal boere en hul gesinslede wat vermoor word, blyk effens hoër te wees as die aantal bruin mans in die Wes-Kaap wat vermoor word, wat al as die hoogste syfer vir ‘n identifiseerbare groep in die wêreld aangedui is. Die plaasaanvalle gaan dikwels met baie ernstige marteling gepaard, te grusaam om te noem.

Die regering, en heelwat opposisiepartye, se houding hieroor laat werklik veel te wense oor. Sommige partye wat darem af en toe reageer, het dit as “provinsiale funksie” gedelegeer – hul nuusverklarings op die webwerwe wat die nasionale mediaverklarings dra, dawer in hul stilswye hieroor, net soos hul versuim om Afrikaans in enige nasionale mediaverklarings te gebruik.

Dit is egter die taak van ander partye, en nie Maroela Media nie, om dit tot hul eie voordeel uit te wys.

Dit kan nie maar net aan die burgerlike instellings soos AfriForum en Solidariteit, en landbouorganisasies soos Agri SA en die TLU SA oorgelaat word om die kwessies op die spits te probeer dryf, en druk op die regering hieroor uit te oefen, en partye daarmee te laat wegkom en tog die stemme te probeer opvorder nie.

Die negatiewe druk op die landbou is besonder groot, met boonop twee ministers aan die voorpunt.

Die kiesstelsel is so ontwerp dat stemme nie verlore gaan nie. Om ‘n saak behoorlik op die agenda geplaas te kry, moet stemme so uitgebring word dat dit die partye wat die saak stewig op die agenda plaas, stemme trek al is dit klein partye. Dit gaan nie net oor die toekoms van landbou in die algemeen, of plaasaanvalle in die besonder nie, maar oor enige aspek wat belangrik is – die behoud van Afrikaans, ook in die onderwys, die neerslag van Christelike waardes, ook in die veldtog teen Vigs eerder as die aanmoediging van losbandigheid deur die massa-verspreiding van kondome – nou selfs gegeur en op ander maniere opgekikker, veiligheid in die algemeen, verset teen rasdiskrimende wetgewing wat sommige bevolkingsgroepe se werksgeleenthede beperk, en so kan die lys gerek word.

Donderdag het ‘n leser in ‘n kommentaar op Facebook ‘n nare rassistiese opmerking gemaak oor Gam en swart mense wat nie vertrou kan word nie. Sy gaan toe verder en roep blanke kiesers op om saam te staan en vir ‘n sekere liberale party te stem. Daardie party, en waarskynlik geen party wat aan die verkiesing deelneem, sal daardie soort uitlatings met hom geassosieer wil hê nie.

Dit reflekteer eerstens ‘n ongelooflike onkunde oor die politiek, en tweedens ‘n totale tersydestelling van beginsels wanneer besluit word waar om die kruisie te trek.

Daardie soort houding gaan ons land se boeregemeenskap geen guns doen nie – nie net word die stem “vermors” wanneer iemand simpatie met die saak van die landbouers het maar vir ‘n party stem wat ekskuus dat ek leef daaroor is nie, maar die saak van hulle wat vere vir die landbouers voel, of hulle selfs as die vyand behandel, word gesterk.

En dit verdien die boeregemeenskap werklik nie. Die trauma wat slagoffers van plaasaanvalle beleef word as viktimologie beskryf – ‘n baie intense trauma wat nie wil weggaan nie. Afgesien van die wreedhede en afgesonderdheid wat hiertoe bydra, word dit ook aangevuur deur die gevoel van om blootgestel en in die steek gelaat te wees.

En dit verdien ons boere nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jjels ·

Herman, dankie vir jou en Maroela Media se poging om die res van ons daagliks in te lig en op hoogte te hou van die gruweldade in ons land. Puik nuuskommentaar!

Christien Krugerk ·

Daar is soveel dinge wat fout is in ons land, maar die hoof saak is hoe afvallig ons wittes, wat onsself kinders van die Here noem geword het.
Daar is een antwoord. Draai terug na God. Kyk na die verlede en sien hoe Hy opregte gebede verhoor het met die slag van Bloedrivier.
Dit mag nou surrealisties voorkom, maar moet ons nie eerder op krag van Bo staatmaak terwyl ons ook weer as n blanke nasie begin saamstaan sonder om onder mekaar verdeeldheid te saai nie?
Die sukses van die massas spruit juis daaruit ongeag van stam.
Verder moet die verloop van Geskiedenis duidelik aan almal bekend gemaak word sodat die wanopvatting van apartheid duidelik gemaak word aangesien verdraaiing die toestande van onnodige haat teen ons aanwakker.
Ek glo ons handjievol kan nog n verskil maak deur om te gee, saam te staan, meer paraat te wees en op te kyk na God.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.