Nuuskommentaar: Plaasaanvalle en terreur – Om doeltreffend te reageer

Argieffoto: AfriForum Jeug

Argieffoto: AfriForum Jeug

Die land is geskok deur die vlaag plaasmoorde wat reeds vanjaar voorgekom het. So ver bekend is agt boere en hul gesinslede vanjaar reeds tydens plaasaanvalle vermoor, en in sommige gevalle is die moorde met erge foltering voorafgegaan.

Sondag, ’n week na ʼn bejaarde egpaar buite Bloemfontein na kerk oorval, gemartel en vermoor is, het minstens twee plaasaanvalle vir die aanvallers skeefgeloop. In die eerste voorval by De Tweedespruit by Cullinan, is vier aanvallers vasgetrek na die boer hulle met ʼn plaaswerker, wat gyselaar geneem is, gesien kom het en alarm met die radio gemaak het. Die een aanvaller het op die polisie geskiet.

Later die dag is Gert (65) en Lulu (60) Malan van die plaas Kromvlei buite Bothaville na kerk voorgelê en met draad vasgebind. Vuurwapens, geld en juwele is uit die kluis geplunder. Maar hierna het sake vir die aanvallers skeefgeloop. Gert het losgekom, en ’n buurvrou gebel wat die nooddienste en plaaswag ontbied het. In ’n ommesientjie was sowat 150 mense met ongeveer 100 bakkies, wat boere en polisie insluit, op die aanvallers se spoor.

Drie is by die gesteelde bakkie aangekeer, maar drie het in die lande gaan skuiling soek. Twee het hul klere uitgetrek om onder die grond weg te kruip, met net die gesigte wat uitsteek, maar is steeds vasgetrek toe dit ’n geval was van ʼn boer maak ’n plan, en met drie lugspuite die lande ingevaar is. Die ses aangekeerdes het sommer hul informant se besonderhede verskaf, en hy is ook opgepik.

Na afloop van die voorval was daar wye lof vir wat vermag kan word as die boere en die polisie saamspan. Die lof het onder meer uit senior polisiekringe gekom, terwyl die bekende mnr. Bully Botma, voormalige president van  Graan SA en nou munisipale raadslid, ook op sy Facebook-blad na die samewerking verwys het.

Natuurlik kon beide hierdie gevalle heeltemal anders verloop het. Binne die landbou-veiligheidstelsel geld verskeie beginsels soos deelname wat nie net veiligheids- en kommunikasiestelsels insluit nie, maar soos in die Bothaville-omgewing, deurlopende nagtelike patrollies. Boere word gemaan om nie gereeld groot hoeveelhede geld en wapens in die huise te hou nie, en in sowat tien persent van die gevalle is die aanvalle die gevolg van boere wat sleg met hul werkers werk. Wat laasgenoemde betref, is daar gereelde bewese vals uitsprake van ministers dat die slegte behandeling wydverspreid onder boere voorkom, terwyl baie kenners aanhou waarsku dat hierdie veralgemenings van die vrot appels bydra tot die gees van plaasaanvalle.

Een van die vernaamste kopsorge is dat die regering halsstarrig weier om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad te verklaar soos dit tydens die presidentskap van wyle pres. Nelson Mandela was. Die syfers regverdig dit meer as dubbel en dwars, maar politieke motiewe pootjie politieke bereidwilligheid tot sinvolle optrede.

Intussen is verskeie analoë besig om te ontwikkel tussen die plaag van plaasaanvalle in Suid-Afrika, en die terreurbedreiging in Europa, veral soos na die aanval op die satiriese tydskrif, Charlie Hebdo, gemanifesteer het.

Selfs al weet ons niks of bitter min wat agter die skerms binne en tussen intelligensiedienste gebeur, is dit baie duidelik dat daar ’n enorme uitruil van inligting oor selle en individue plaasgevind het, en dat daar waarskynlik nou veel potensiële terroriste is oor wie ’n oog gehou word. Nie ʼn heeltemal passiewe oog soos destyds met Anders Breivik in Noorweë die geval was nie, wat eers massale dood en verwoesting moes saai voor hy aangekeer is, maar nou meer bedag daarop dat ’n potensiële bedreiging heel moontlik in ’n bloedige, maar voorkombare, aanval kan ontwikkel.

Kortom, dis duidelik dat die Europese lande geen aptyt het om met terreur en ʼn terreurbedreiging saam te leef nie. Ellelange opiniestukke word geskryf, grootliks gebaseer op inligting wat Suid-Afrikaanse akademici en kenners al dekades lank publiseer – soos dat die bedreiging nie net militêr aangespreek kan word nie. En oor hierdie ander oplossings soos die voedingsare in die politieke sosiologie, is ook reeds boekrakke vol materiaal in Suid-Afrika.

Die wegpraat van die bedreiging, of die minimalisering daarvan, maak nie deel uit van dit wat as doeltreffende teenmaatreëls beskou word nie. Nog minder ’n klimaat skep deur politieke uitsprake wat regstreeks en onregstreeks bevorderlik is vir die aanvalle.

In Europa is instinktief aangevoel die gemeenskap moet oor ’n breë front konsolideer om teenkanting teen die terreur te toon. Bitter baie, indien nie die meeste Europeërs nie, voel heimlik dat Charlie Hebdo vieslik provokatief was, en die terreur nie net op hulself getrek het nie, maar gehelp het om dit op Europa te rig. Daar is ’n groeiende debat oor die grense tussen spraakvryheid en onaanvaarbare meningsuitings, en dit is onder meer ook Sondag in Rapport deur die redakteur, Waldimar Pelser, onder die loep geneem.

Maar al word heimlik hoé gevoel, die boodskap wat sigbaar uitgaan, is een van ’n eendragtige “Ons is Charlie Hebdo.”

Maar in Suid-Afrika is ’n veldtog om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar deur die vorige minister van polisie as “goedkoop propaganda” afgemaak. Nuwe ministers en adjunkministers is na hul aanstellings gou om allerlei beloftes te maak, maar wanneer daar maande later nog dadels van gekom het, is dit duidelik dat ook hulle in die politieke dryfsand wegsink.

Operasies soos by De Tweedespruit en Bothaville toon dat daar gevalle is waar die polisie inderdaad met dit wat tot hul beskikking is, soos reaksiemagte en die honde-eenheid hartlik met boere kan saamwerk. Dat soveel boere soos in die geval van Bothaville hul Sondag opoffer om plaasaanvallers met alles tot hul beskikking te jag tot elkeen aangekeer is, toon nie net wat gedoen kan word nie, maar ook ʼn behoorlike keelvolheid dat hulle en hul gesinne onder konstante bedreiging moet leef waaroor die regering nie bereid is om duidelik op ’n podium te staan en dit konsekwent te veroordeel nie.

ʼn Halfhartige strategie se kanse op sukses is minimaal.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae