Nuuskommentaar: Plaasaanvalle knaag die siel weg

Argieffoto: AfriForum Jeug

Argieffoto: AfriForum Jeug

Kort ná die nuus dat plaasaanvalle nou groter voorrang gaan geniet, indien dan nie wel tot prioriteitsmisdaad verklaar word nie, volg die nuus van die moord op dr. Bennie Cilliers en die wrede aanval op sy vrou op hul plaas, Gouda, in die distrik Rouxville.

Dr. Cilliers het spreekkamers in Rouxville en Smithfield gehad, en ook pasiënte van Bethulie behandel.

Vir die omgewing is dit ’n wrede slag omdat daar nou nie meer ’n privaat dokter is nie. Volksblad sit dit vandag goed in ’n hoofartikel uiteen. Die skrywer daarvan, Charles Smith, het op ’n plaas in die distrik Rouxville grootgeword, en was as kind ’n pasiënt van dr. Cilliers. Smith boer nou self by Rouxville, en het ’n ongelooflike passie vir die plaas en omgewing wat gereeld uit sy pennevrug blyk.

Tog bekyk hy sake in die hoofartikel baie klinies.

Dis immers nie net Rouxville se verlies nie. Dis ook nie die landbougemeenskap se verlies alleen nie. Dis die land se probleem wat nog ’n suksesvolle voedselprodusent minder het, maar dis in besonder ’n emosionele verlies vir die Afrikanergemeenskap. Baie stadsjapies het familie wat boer en blootgestel op plase woon. Nuuswebwerwe in Afrikaans registreer besonder baie lesers by berigte en rubrieke wat oor plaasaanvalle handel, en die kommentaar daaronder is gewoonlik oorvloedig.

Dit vreet duidelik die volk se siel weg as hul blootgestelde deel so onder moorde en ander onbeskryflik wrede aanvalle deurloop.

Juis daarom kry aksies soos om plaasaanvalle en die regering se dikvellige politieke reaksie onder die wêreld se aandag te bring, groot aftrek. Onlangs het afgevaardigdes van AfriForum, die TLU SA en die Vryheidsfront Plus in Switserland sulke voorleggings voor ’n VN-komitee gedoen en is, nie verrassend nie, deur ’n Suid-Afrikaanse diplomaat van rassisme en hunkerend na apartheid beskuldig nadat sy nie die voorleggings kon keer nie.

Teen die naweek was die aanval op die Cilliers-egpaar grootliks ou nuus. Tog, minstens een koerant wat oor die Cilliers-aanval geswyg het, het nog veel te sê gehad oor ’n veel vroeër aanval, wat op ’n voorval uitgeloop het wat tot die dood van die twee aanvallers gelei het.  Hiermee word nie te kenne gegee dat die dood van die twee aanvallers minder ernstig is, of selfs geregverdig kan word nie, al het hulle hul ook in ’n situasie gaan begewe wat erg gespanne is weens die omvang van die baie plaasaanvalle.

Dis bloot net verskriklik dat plaasmoorde sulke alledaagse nuus is dat dit nou wat nuuswaardigheid betref, moet terugstaan vir die dood van plaasaanvallers.

Met pres. Jacob Zuma se komende staatsrede kry hy die ideale geleentheid om te bevestig dat plaasaanvalle saam met ander verwoestende misdaad soos veediefstal, nou wel formeel ’n prioriteitsmisdaad is. Die politieke klimaat was egter nog altyd so gelaai dat, selfs al word plaasaanvalle formeel prioriteitsmisdade, dit eerder informeel sal wees en onder die media-radarhoogte ingevlieg sal word. Dis immers verkiesingsjaar, en die ANC het reeds in oorvloed getoon dat die speel van die rassekaart die hoofelement van sy verkiesingstrategie sal wees.

Ons siel word pynlik weggeknaag met elke plaasaanval.

Met die huidige droogte het ons die geleentheid om solidariteit met die landbougemeenskap te toon deur by te dra tot droogtehulp-projekte. Van politieke partye wat in ons stemme belangstel, kan met goeie reg verwag word om behoorlik standpunt oor die kwessie in te neem, en dit nie byvoorbeeld tot “provinsiale funksie” te reduseer om op plaasaanvalle te reageer nie.

Die veiligheid van die landbougemeenskap is net so ononderhandelbaar soos die veiligheid van elke wetsgehoorsame burger.

Die landbouers is nie vrybuit nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
"Siek en sat"

Ek het nie meer hoop dat plaasaanvalle en plaasmoorde prioriteit by die Minister en SAP gaan kry nie!! Daar word nou al jare daaroor gedebateer en gesmeek, maar steeds kom daar niks daadwerkliks daarvan nie! Wat staan ons Boere te doen? Burgeroorlog? Reg in eie hande neem? Wat? Niemand het antwoorde nie…..

ernest

Ek begin wonder of die tyd v rassisme nie juis nou met erns begin moet word nie. Gee v ons die statistiek van hoeveel swartmense die afgelope jare deur witmense vermoor is EN ook andersom. Dan sal die prentjie begin sin maak. Watse politieke korrektheid is hierdie “rassisme” storie as monde gesnoer word oor “kleur” ? Ek daag die regering uit om vir ons die syfers te gee…”as hulle hoegenaamd” statstiek het en nie wegkruip agter “rassisme” nie. Ons is lankal keelvol….!!!

Stv

Sorry Maroela. Sien my kommentaar word nie geplaas nie. Wil net weet wat fout is.

Byvoorbaat Dank.

Stv

Hi Landi,

Dan vra ek nederig onverskoning. Baie dankie vir die terugvoer.

Therese van Schalkwyk

“Ons siel word pynlik weggeknaag met elke plaasaanval”. Hierdie sinnetjie is só beskrywend. Herman Toerien verwoord weer presies hoe ‘n mens voel met die lees van elke plaasmoord. Die wreedheid en haat by die aanvallers moet verskriklik wees wanneer skedelfraktuur, fraktuur in linkerarm, ribfrakture en sagteweefselbeserings ter sprake is. Dit is te grusaam om aan te dink… Dalk moet AfriForum en Solidariteit poog om die leiers van Westerse lande van aangesig tot aangesig te gaan spreek oor hierdie tragedie wat hom afspeel in Suid-Afrika. Die nuwe SA waarvoor húlle hul beywer het. Nederland is ‘n goeie begin, want daar is… Lees meer »