Nuuskommentaar: Plaasaanvalle – moenie kans nou deur vingers laat glip

Argieffoto: Praag

Argieffoto: Praag

“Die les wat toe (2003) geleer is, is dat dit maklik is om aanbevelings te doen, maar dat dit nie uitgevoer word sonder die politieke wil nie. VF Plus is bekommerd daaroor en sal die proses dophou.” Hierdie aanhaling uit die Vryheidsfront Plus se nuusverklaring oor die jongste verslag van die SA Menseregtekommissie oor landelike veiligheid, is waarskynlik dié aspek wat die meeste belanghebbendes ’n beklemming om die hart gee. Dat daar politieke sensitiwiteite onderliggend is by meningsvormers, blyk byvoorbeeld uit die klem wat die Mail & Guardian plaas op ’n aanbeveling: “It [die SA Menseregtekommissie] said ‘particular attention’ needs to be given to race relations on farms and that the ‘stereotypes’ used to describe farming in South Africa need to be addressed in an awareness campaign. This includes the ‘divisive’ term ‘farm killings’, which implies that attacks on farm owners are more important than the violence experienced by farmworkers.

Die realiteit is dat statistieke aandui dat die moordkoers onder boere en hul gesinslede waarskynlik die hoogste vir ’n identifiseerbare groep ter wêreld is (ongeveer 20 keer hoër as die gemiddelde moordkoers vir die wêreld), en tog nie geïgnoreer kan word nie.

Agri SA se reaksie op die verslag begin dan ook soos volg: “Die mees onaanvaarbare element van die geweldskultuur in boerderygebiede is die onnodige lewensverlies wat die landbougemeenskap in die onlangse verlede moes verduur. Dit is onaanvaarbaar dat voorvalle van geweld en brutaliteit in boerderygemeenskappe steeds voortduur. Agri SA is ernstig bekommerd oor die lyding wat hierdie misdade tot gevolg het vir diegene wat afhanklik is van die landbou.”

Die algemene reaksie is dat daar grootliks tevredenheid is onder instellings soos Agri SA wat opmerk dat die MRK in sy verslag erkenning gee aan Agri SA se voorlegging, naamlik: “Die inligting wat voorsien was aan die paneel was uiters belangrik in die formulering van sy aanbevelings, veral ten opsigte van hoe die gebrek aan veiligheid en sekuriteit in boerderygebiede ander aspekte met betrekking tot menseregte beïnvloed.”

Die DA sowel as die Vryheidsfront Plus wil die verslag in die parlement laat dien, met die VF Plus wat volgens dr. Pieter Groenewald die saak selfs verder wil neem: “Ek het ook onderneem om te versoek dat die portefeuljekomitee op polisie die aanbevelings in die verslag op dieselfde wyse hanteer as wat met die aanbevelings van die Farlam-kommissie gedoen is, waar die komitee dit bespreek het waarna die minister oor die uitvoering daarvan terugvoering daaroor moet gee.”

AfriForum, een van die belangrikste rolspelers om die verslag te laat realiseer, wys by monde van Lorraine Claasen daarop dat … “hoewel al die deelnemers in hul spreekbeurt (voor die kommissie) uitgevra is oor plaasaanvalle, die frekwensie en brutaliteit daarvan, asook hoe die slagoffers deur die polisie en die NVG behandel is, is die lot van die slagoffers in die bevindings nie met die erns wat dit verdien aangespreek nie”.

In die mediaverklaring spreek AfriForum hom soos volg uit: “AfriForum het die verslag wat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) oor aanvalle en moorde in landelike gebiede bekend gestel het, verwelkom. Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat hoewel die organisasie sekere voorbehoude oor die detail van die verslag het, is die aanbevelings wat daarin deur die SAMRK gemaak word, konstruktief. ‘In die eerste plek moes ons nooit in hierdie situasie beland het nie. Plaasmoorde is al sedert die vroeë 1990’s ’n krisis en die voortbestaan van hierdie krisis kan toegeskryf word aan die regering se lamsakkige houding daaroor. Ons is egter van mening dat, indien die aanbevelings wat in die verslag gemaak word met die nodige erns deur die onderskeie staatsdepartemente uitgevoer word, dit ’n wesenlike verskil kan maak om die krisis hok te slaan’.”

Opsommend, so lyk dit, is daar groot rede tot dankbaarheid oor die verslag. Weens die regering se negatiewe ingesteldheid hieroor tot dusver, en hoogstens periodieke bontpratery wat flikkerings van hoop verskaf en laat verdamp, lyk dit nie of bestaande drukaksies verslap kan word nie – insluitende die internasionalisering van die probleem.

Die statistiek vertel sy eie verhaal, en hiervoor moes die kommissie op TLU SA en AfriForum se statistieke staatmaak, selfs al het dit geblyk dat die polisie intern ook ’n soort (hoogs betwisbare) stel statistieke byhou. Dit kan ook nie toegelaat word dat harde feite oor “verdelende terme” soos plaasmoorde weer onder ’n wollerige kombers ingevee en uiteindelik as probleem ontken word nie. Dit is ’n skending van die slagoffers (wat die plaaswerkers wat dikwels sonder inkomste en heenkome gelaat word insluit) se menseregte.

Die ontsettende wreedheid kan ook net aandag kry as die politici dit baie duidelik maak dat dit onaanvaarbaar is. Dit neem in elk geval niks weg van die regering se rol om in elk geval die breë moraliteitskrisis in die land, wat ook in die algemene geweldselement van misdaad neerslag vind, deurlopend te takel nie.

Die boere en hul gesinne is nie “kitsbanke” waar gou geld gehaal kan word nie.

Die krisis moet holisties, maar ook baie spesifiek, aandag kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

HEVW ·

Woord en daad kan baie uiteenlopend wees. Glo my ons gaan nog baie met groot verslaendheid sug.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.