Nuuskommentaar: Plaasaanvalle, plaasmoorde en aannames oor die regte van plaaseienaars

Foto: Reint Dykema

Bloot uit koerantopskrifte oor verskeie hofsake oor plaaseienaars of hul personeel wat vervolg word oor sake wat by betreding begin, kan afgelei word dat plaaseienaars se regte oor hul grond in die praktyk erg misken word. Dra dit by tot gebrekkige of onwillige wetstoepassing, en uiteindelik dat die trauma van plaasaanvalle baie erger is as gewone trauma, en as viktimologie bekend staan?

AfriForum het onlangs sy statistieke oor plaasaanvalle vir 2018 bekend gemaak en die syfers spreek hard. Die feit dat daar verlede jaar meer plaasaanvalle (432) en minder plaasmoorde (54) as die vorige jaar was, dui daarop dat die boeregemeenskap persoonlike beveiliging opgeknap het. Mediadekking kan kwalik ’n volledige prentjie skep van die omvang van al die maatreëls en aksies wat vanuit die landbougemeenskap van stapel gestuur word om die probleem aan te pak, soos die ure lange nagtelike opofferings om patrollies te ry.

Oor die onderliggende redes vir die talle plaasaanvalle is al bitter baie geskryf en in die media geplaas. Daar is al verskeie studies gedoen wat heelwat skietgoed aan ontleders gee om feitlik elke vooropgestelde mening te kan voed. Dikwels voed fopnuus, en enkele gevalle van vrot appels, algemene indrukke wat dan self bydra tot opvattings wat weer plaasaanvalle en die gevalle van uitsonderlike wreedheid kan voed.

Wat egter soos ’n paal bo water staan, maar deur politieke korrektheid nie dikwels aan die bod kom nie, is verskillende aannames oor die regte wat grondeienaarskap aan die grondeienaars verskaf. Die reg op privaatheid bestaan byvoorbeeld op die oog af nie.

’n Vinnige blik na koerantopskrifte toon aan dat baie gevalle voorkom waar betreding die oorsaak was vir grondeienaars of hul personeel wat in die hof beland weens die teenspoed wat betreders weens betreding op die lyf geloop het. Hieronder tel die sogenaamde doodskissaak waar die twee mans wat teen die betreder opgetree het, se appèlverhoor teen ’n skuldigbevinding weens moord nog hangende is. Betreding is ook onderliggend aan die saak waar nog twee mans in die Coligny-saak aan moorde skuldig bevind is, en die staatsgetuie daarna aan verskeie mense glo beken het hy het in die hof gelieg.

In nog ’n geval het ’n boer tronkstraf gekry nadat hy ’n plaaswerker wat sy plaas betree het vir ’n bosvark aangesien en doodgeskiet het. In al drie gevalle was daar getuienis oor misdaad wat die slagoffers sou gepleeg het – van kabeldiefstal tot sonneblomdiefstal. Feit bly, hulle was waar hulle nie sonder toestemming behoort te gewees het nie.

Enigeen wat iemand op ’n plaas ken, weet hoeveel sonde boere met betreders het. Dit wissel van blote kuiers aan familie wat op plase woon, en dan sommer kortpad vat deur lande en weikampe. Amptelike statistieke van Statistiek SA oor misdaad soos veediefstal, gewasdiefstal en die diefstal van gereedskap en werktuie beloop miljarde rande per jaar.

Voeg hierby dat plaasaanvallers privaat grond moes betree het om plaasaanvalle te kon uitvoer. Deur teen betreders te kon optree, sou veel plaasaanvalle voorkom kon gewees het. (Daar is voorgeskrewe vonnisse vir betreding en selfs vir “draadkruip” op die wetboek.)

Baie boere ontsien die aanmeld van sulke misdaad by die polisie. Onwettige begrafnisse wat op plase plaasvind, haal ook periodiek die nuus. Met een so ’n geval by Bethlehem het die polisie wel ingetree – deur polisielede met masjiengewere by die onwettige begrafnis te ontplooi “om die begrafnisgangers teen die boer te beskerm”, aldus die amptelike verslag van die ondersoekers. Brandstigting lei jaarliks tot miljarde rande skade en selfs lewensverlies. Gevalle waar die polisie na bewering traag was, of selfs geweier het om misdaad op plase bloot net te registreer, is volop.

Argieffoto

Dat daar ’n ander siening by die regering is oor die regte wat plaaseienaars oor hul eie grond het, blyk onder meer uit die wet op die sekerheid van verblyfreg. Die indruk word ook dikwels uit nuusdekking gewek dat daar wat wetstoepassing betref, nie sommer ’n onderskeid tussen onwettige uitsettings en wettige uitsettings getref word nie. Onlangs het AfriForum ’n hofsaak gewen vir koste nadat die polisie geweier het om ’n ander hofbevel uit te voer wat hulle verplig het om onwettige besetters van grond af te verwyder.

Die huidige proses om grondgryp sonder vergoeding grondwetlik te wysig hou heel duidelik ook verband met aannames oor die regte wat grondeienaarskap bied.

’n Bietjie respek vir die landbouer, eerder as ’n adjunkminister se ongestrafte uitroep in die parlement met verwysing na boere, “Begrawe hulle lewend”, kan dalk ’n klein rol speel om plaasaanvalle te verminder. Ja, die studies dui gewoonlik daarop dat gewone misdadige oorwegings tot die meeste plaasaanvalle bydra, maar dit geskied binne ’n bepaalde klimaat.

Maar dink ten minste aan die slagoffers wat nadoods dikwels as goeie mense uitgewys word wat besonder baie vir hul medemens, onder wie plaaswerkers en hul gesinne, gedoen het. Navorsing toon dat die trauma wat baie slagoffers van plaasaanvalle beleef, veel erger as gewone trauma is, en bekend staan as viktimologie. Die afgesonderdheid van die slagoffers dra onder meer hiertoe by, maar so ook die gevoel dat die gemeenskap deur die owerheid in die steek gelaat word. Die terapie wat hiervoor benodig word, is veel omvangryker en komplekser as die “gewone” traumaberading van ander misdaadslagoffers.

En dan wil ’n mens nie hoor dat plaasaanvalle nie ’n probleem is nie, of nie ’n groter probleem is nie. Proporsioneel, so dui die syfers aan, is plaasaanvalle ’n baie groter probleem.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Michael

Onthou dat plaasaanvallers het ook regte as jy nie by dit hou word jy voor die hof gesleep

legens

Goeie redenasie en punte . Dit kom maar weer neer op `n bykans effektieflose korrupte regering en staatsmasjienerie wat nie die regte van die burgers beskerm nie of dit slegs by geleentheid, selektief .

Paul

Betreffende plase en die regte van plaaseienaars kan mens die volgende kort opsomming gee soos dit tans in die land gaan en die regters maar te gewillig is om dit so toe te pas. Verskoon die Engels as ek sê “Everything goes”, buiten mens mag nie onwettig op die boer se plaas woon nie, alhoewel as iemand daarop kom plak het jy al jou dae om die mense daar weg te kry, en jy mag nie daarop boer nie, en dit is dit.

Gemaskerde Sopbeen

Hoekom het niemand nog die volgende argument ge-opper nie: Indien iemand vermoor word, het die staat gefaal in sy HEEL EERSTE verpligting teenoor die burgers van die land soos vervat in die grondwet, nl. veiligheid en sekuriteit. Art 182.4(b) bemagtig die MRK om restitusie en kompensasie te bekom waar ‘n persoon se regte geskend is. Aangesien hulle NIE die vermoorde kan terug bring nie, is die volgende stap kompensasie….en behoort die naasbestaandes van die vermoorde NOOIT weer belasting te betaal aan ‘n staat wat hulle gefaal het nie. As die regering boedelbelasting wil hef, hou my aan die lewe tot… Lees meer »

PietM

Ja, hierdie laksheid of onwilligheid van die SAPD om hulle werk te verrig kom nie net op plase voor nie. Ek het self ‘n klagte van betreding by die SAPD ingedien en hulle geweier het om dit te registreer, aangesien ek nie die betreder persoonlik geken het nie.