Nuuskommentaar: Plaasaanvalle sonder ophou, maar kop bo water gehou

Argieffoto: Praag

Plaasaanvalle kom so gereeld in Suid-Afrika voor dat, sou dit nie vir die verbluffende wreedheid daarvan gewees het nie, dit seker al die gemiddelde persoon wat nuus volg sou afgestomp het. Die Wes-Kaap beleef minder plaasaanvalle as die ander provinsies, maar die aanval op IW van der Merwe van die Koue Bokkeveld, en die wreedheid waarmee dit gepaard gegaan het, is skokkend.

Die aanval is skynbaar ’n regstreeks gevolg van die droogte. Van der Merwe het keuses aan seisoenale arbeiders gestel om minder dae te werk en so te verhinder dat hulle hul werk verloor. Volgens boere in die Koue Bokkeveld wag ’n ongekende ramp op dié gebied as dit nie gou reën nie, en drastiese aanpassings is aan die besproeiing aangebring om byvoorbeeld verdamping te help hokslaan. Dis besonder duur prosesse en nie almal kan dit bekostig nie. Op gesaghebbende vlak is reeds voorspel dat die prys van uie en aartappels in die Wes-Kaap gaan styg omdat daar ’n skaarste aan dié produkte gaan wees.

Dr. Corné Mulder, Wes-Kaapse leier van die Vryheidsfront Plus, het boere aangeraai om waar moontlik eerder van plaaslike arbeid gebruik te maak, nadat dit geblyk het dat die aanvallers waarskynlik seisoenale werkers uit Lesotho was.

Plaasaanvalle staan egter in ’n omvangryke konteks, waarvan doeltreffende polisiëring ’n belangrike aspek is. Byna gelyklopend met die aanval op mnr. Van der Merwe het die minister van Polisie, Fikile Mbalula, in ’n erg dubbelsinnige antwoord op ’n parlementêre vraag van die VF Plus aangedui dat hy nie gespesialiseerde eenhede vir plase oorweeg nie. Dr. Groenewald, leier van die VF Plus, sê die antwoord van die minister op ʼn geskrewe parlementêre vraag is teleurstellend en ʼn stap in die verkeerde rigting wat landelike beveiliging aanbetref.

Mbalula oorweeg nie spesialiseenhede vir landelike beveiliging nie en bou net voort op die bestaande landelike beveiligingstrategie, wat juis gebreke het, veral met die praktiese toepassing wat nie realiseer nie. Tans is daar ongeveer twintig polisiestasies in landelike gebiede wat nie eens aan die minimum vereistes van sektorpolisiëring voldoen nie.

Dr. Groenewald sê dit is wel verblydend dat die minister onderneem om die “kapasiteit” by landelike polisiekantore te verhoog en dat verskeie stappe gedoen word om veiligheid in dié gebiede te verhoog.

Ook die DA, by monde van mnr. James Vos, kiesafdelingshoof van Witzenberg, het die voorval gebruik om na die noodsaak van gespesialiseerde eenhede te verwys. Hy wil ook insae in die landelike beveiligingsplan hê sodat gesien kan word of dit voldoende is.

Die ironie is dat die Vryheidsfront Plus die parlementêre vraag gevra het vóór die aanval op Van der Merwe, wie se toestand aanvanklik as bedenklik, maar nou as bevredigend aangegee word. Dit was na aanleiding van ’n vlaag plaasaanvalle in Augustus vanjaar. So het daar byna geen maand sonder ’n vlaag plaasaanvalle verby gegaan nie.

Tog word daar nog steeds deur veral linkses ou koeie uit die sloot gegrawe, soos in artikels om te probeer aantoon dat plaasaanvalle niks met ras te make het nie. In die proses word die punt gemis – natuurlik word swart boere en plaaswerkers ook aangeval, maar die regering se reaksie, soos ook blyk uit aspekte van die landelike beveiligingsplan, is skerp op ras afgestem.

Moet die landboubedryf in geheel moedeloos word? Die TLU SA skryf:

“Die Suid-Afrikaanse landboubedryf was nie aandadig aan die resessie waarin die land hom tans begeef nie, en TLU SA wil die hele landboubedryf en alle boere gelukwens met die prestasie om die landbousektor te laat groei met meer as 22%, terwyl dit met die res van die land sleg gaan.

“Mnr. Louis Meintjes, President van TLU SA, sê dit is ʼn merkwaardige pluimpie vir die landboubedryf en wys op die deursettingsvermoë van boere om, ten spyte van klimatologiese en politieke probleme, steeds een van twee sektore te wees wat groei terwyl die land in resessie verkeer.”

Natuurlik gaan dit nie oral so nie. Heelwat berigte is al ontvang van boere wat nie meer die verwoestingswerk van die droogte kon hanteer nie en hul eie lewens geneem het. Maar die droogte en ander natuurrampe het ook getoon hoe boere en ander Suid-Afrikaners kan saamstaan en vragte voer van een deel van die land na die ander vervoer om met uitkomste te help. Dit is veral hartverblydend nadat Afgri-SA gesê het ’n groot deel van die regering se droogtehulp het in die burokrasie verdwyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

MM ·

Ja ek weet nie meer wat om te se oor al die mense wat so vermoor word nie – ANC SE SKULD DIS AL WAT EK NOG KAN SE – ELKE MOORD LE VOOR HULLE DEUR!!

Dirk01 ·

Herman Toerien kan skryf tot hy blou is, ons sit met n onbevoegde regering en alle stelse wat aan regering gekoppel is . Dit is duidelik wat gebeur het na nuwe regering aan bewind gekom alles word vervalle en ek verwys met graagte na my verwysings….Zimbabwe en rest of Africa

Liz ·

Dit is net vir my snaaks dat hierdie wrede aanval nog nie gedek is deur die nuus nie, en dit op on wes-kaapse drumpel. Ons is afhanklik van boere en boerderye ongeag ras, of klas. Boere is die rede dat daar voedsel in enige formaat op rakke in winkels is. So dit verbaas my dat die regering nie 2 en 2 bymekaar kan sit, en agter kom sonder boere en boerderye , lei die nasie honger en dan is ons kniee nog boonop gebuig deur een van die ergste droogtes wat ons in ‘n lang tyd beleef het. Help die voedsel produsente en die nasie word gehelp! word wakker regering

Elize ·

Ons wil graag plaaslike mense gebruik maar hulle wil nie werk nie hier in Olifantsrivier streek-daarom moet ons uitlanders gebruik.Met al die social grants en maklike deelmhandel en misbruik het ons plaaslike inwoners geen behoefte aan eerlike harde werk nie-

Adam ·

Die verwysing na “linkses” is opvallend. Die rede vir die grootste hoeveelhede van hierdie weersinswekkende plaasmoorde is gesetel in die feit dat plaasboere sagte teikens is. Die regering se houding jeens die probleem is veel eerder waar die ras-gedeelte sigbaar is. Misdadigers weet dat boere kontant by hulle moet hou, dat hulle wapens oa ter beveiliging besit en die opsie om beide kontant en wapens te buit van sagte teikens, is bloot te aantreklik vir misdadigers. Geen, maar geen boer kan hom effektief verskans teen ‘n goed beplande aanval nie. So vergeet maar die “linkse” teorie. Ek het op ‘n plaas grootgeword en is 60 jaar bekend met wat op ‘n plaas gebeur. Ons regering is bloot onbevoeg, die SAPD is ‘n tragiese lot en die SANW is ‘n organisasie wat nie eens beheer oor ‘n kinderpartytjie kan uitoefen nie. Ek val dalk in Herman se definisie van “linkse”, terwyl ek in die ANC definisie as ‘n “regse” afgemaak word. Ek is in werklikheid nie een van die twee nie, maar bloot ‘n trotse blanke Afrikaner pragmatis. Ek sou graag ‘n paar van die kommentators vir ‘n toer plaas toe wou neem en dan kyk of hulle nog so vol oplossings is.

Zeus ·

Mense doen eenvoudig nie genoeg om hulle self te beveilig nie. Die argument dat duisende rande spandeur word aan sekuriteits maatreels is irrelavant as jou handwapen in jou kluis toegesluit is.

Boet Fasie ·

Regering baie vinnig om weermag te ontplooi om te help teen bende geweld in die townships en onlangse moorde op swart mense is vinnig ondersoek en skuldiges dood geskiet , maar Fikile Mbalula wil niks doen om plaasmoorde om dit te bekamp nie.

John ·

Hierdie minister gaan niks doen vir die boere nie. Sy bestuurstyl is reeds op die rugbyveld ontbloot. Mens wonder wat sy volsin oor die boere sou wees… in hul afwesigheid.

Amanda ·

Daar is niks wat gese kan word wat nie al gese is nie…almal kan praat tot hulle blou is in die gesig. Niks verander nie en dit gaan ook nie. Punt.

dr. Sakkie van der Merwe ·

Terwyl ons in ‘n “land” bly wat oorstroom is met migrante en diegene wat nie wil werk nie sal die probleem nooit opgelos word nie. Soos tereg opgemerk sit die Wes-Kaap met ‘n alkohol probleem by werkers asook die “all-pay” sisteem wat net kinder aanwas bevorder. ERENS sal daar volgens internasionale reg ‘n plek gekry moet word waar ons mense “eenkant” kan gaan bly, ons self regeer en self werksaam wees. MAAR – is ons mense bereid, om sou die opsie op die tafel kom, op te pak , te trek en voor te begin? Die Voortrekkers het dit met die Groot Trek gedoen, maar is daar nog ‘n wil by ons om die geskiedenis te herhaal.

Gustav Venter ·

22% oor watse tydperk? Ongeag, dis ‘n ontsaglike prestasie. 22 % groei met geen regeringsondersteuning, plaasaanvalle, droogte, veesiektes, grondhervorming, grondeise, kredietskaarste, onregverdige internasionale mededinging… Wys my ‘n ander sektor, of ‘n ander land se boere, wat dit kan ewenaar. En dan reken mense die Boer het nie die vesel om ‘n land op sy eie en van vooraf te bou nie? Staan opsy. Kom uit ons pad uit. Ons weet waarheen ons gaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.