Nuuskommentaar: Plaasaanvalle uiteindelik in parlement

Argieffoto

Argieffoto

Uiteindelik gaan plaasaanvalle en plaasmoorde in die parlement gedebatteer word ná volgehoue pogings deur die Vryheidsfront Plus. Dit is onvermydelik dat dit ’n emosionele debat gaan wees, hoewel alle toepaslike instansies moet sorg dat diegene wat teen plaasaanvalle praat oor die nodige feite beskik.

Februarie se bloedige maand wat betref plaasaanvalle kon uiteindelik nie meer deur die speaker van die parlement, Baleka Mbete, geïgnoreer word nie. Volpunte ook aan die leier van die Vryheidsfront Plus, dr. Pieter Groenewald, wat volhard het met sy pogings om die kwessie gedebatteer te kry. Die debat sal nou Dinsdag plaasvind.

Dit volg ná die speaker aanvanklik nie die debat wou goedkeur nie en eerder ’n EFF-mosie oor grondroof toegelaat het – ’n debat wat in ’n yslike verleentheid vir die ANC ontaard met pres. Jacob Zuma wat nou eerder die EFF napraat as sy eie koukus.

Tot dusver was veroordelings vanuit regeringsgeledere oor plaasaanvalle bitter skaars, en nog meer kere duidelik doelbewus afwesig in belangrike toesprake soos staatsredes.

Allerlei lomp pogings is aangewend om plaasaanvalle nietig te laat lyk, soos om dit in algemene misdaadsyfers te probeer verdrink. Sekere akademici en lede van die Seunse Weenkoor het gereeld hieraan meegedoen.

Sekere feite kon hulle egter nie op hierdie manier laat onderploeg nie. Die moordkoers onder boere en hul gesinslede is ongeveer drie keer so hoog as die gemiddelde moordkoers in Suid-Afrika. Dit is ongeveer twee keer so hoog as die moordkoers onder polisielede waaroor die regering wel ’n behoorlike lawaai opskop. AfriForum tel onder die voorste instansies wat plaasaanvalsyfers bekom en bekend maak, en uitwys wanneer die owerhede met syfers konkel. Maroela Media het in sy kort bestaan reeds sowat 22 000 trefslae vir “plaasaanvalle”, 26 000 vir “plaasaanval”, 10 000 vir “plaasmoord” en 7 000 vir “plaasmoorde”.

Die moordkoers onder boere en hul gesinslede is ook aansienlik hoër as die hoogste moordkoers ter wêreld onder ʼn identifiseerbare groep, naamlik dié onder bruin mans in die Wes-Kaap. In daardie geval speel bendeverwante aktiwiteite wat met inisiasie en dwelm-afsetgebiede verband hou ’n groot rol.

Dis nogal in skerp teenstelling met ’n gesin wat van die kerk terug by die huis kom, en daar oorval en op die wreedste maniere denkbaar om die lewe gebring word.

Die baie buitelanders wat nou by die plaasaanvalle betrokke is, voeg boonop ’n nuwe dimensie by wat kon gebly het. Dis nie meer die byna gelokaliseerde verskynsel van oorgrensmisdaad oor die Lesothogrens wat elemente soos weidingsroof, veediefstal, brandstigting en af en toe ’n plaasmoord (wat dikwels die gevolg van ’n misplaaste wraakaanval was) nie.

Het dit nie tyd geword nie dat die regering hom so ondubbelsinnig oor plaasmoorde en plaasaanvalle uitspreek dat buitelanders wat die land onwettig inkom nie onder ’n misverstand verkeer dat boere eintlik vrybuit is nie?

Oor die jare is etlike swart boere en hul gesinslede ook al vermoor. Namate grondhervorming toeneem, sal meer swart boere ook die slagoffers word van plaasaanvalle. Ou statistieke dui egter daarop dat die aard van plaasmisdade tussen wit en swart slagoffers (ook plaaswerkers) verskil. Dit het in ’n stadium geblyk dat beginnerboere hul hele veestapels tydens een strooptog verloor, terwyl wit boere se vee meer gereeld maar in kleiner getalle gesteel word. Met plaasaanvalle is die verkragtingskoers op swart slagoffers hoog, terwyl die moordkoers onder wittes hoër is.

Dit troos min dat navorsing daarop dui dat die aanvaller gewoonlik suiwer krimineel opgetree het, en nie politiek of ras in die oog gehad het nie. Die regering se onewehandige hantering van die kwessie plaas dit vierkant in die politieke arena.

Die opheffing van plaasaanvalle as prioriteitsmisdaad soos tydens die bewind van pres. Nelson Mandela is boonop gevolg deur die opskorting van die kommando’s, en ’n uiters gebrekkige inwerkingstelling van ’n plaasvervangende stelsel. Kan enigiemand werklik glo geen politieke oorwegings was ter sprake nie? En waar het die destydse Vrystaatse premier, Winkie Direko, uitgeval met die stelling dat die kommando’s rowerneste was? Dieselfde Direko wat by die bekendstelling van ’n sensus, kort ná sy die toneel van ’n plaasmoord by Senekal besoek het en die verskriklike hartseer van die plaaswerkers – nou sonder toekoms – gesien het, die nuus gehaal het deur te sê sy voel die polisie moet opdrag kry om plaasmoordenaars te skiet nog voor hulle by die selle kom?

Dit lyk ook nie of die regering oorentoesiasties is om Julius Malema en Kie se oproepe tot die besetting van grond te veroordeel nie. AfriForum het pas ’n hofbevel bekom wat die breedsprakige snuiter belet om sulke opruiende oproepe te doen. Sy oproepe jaag bowendien die raskwessie die hoogtes in.

Deur die jare het sekere plaasmoorde ’n groot deel van die land emosioneel erg aangegryp, soos klein Willemientjie Potgieter wat saam met haar ouers doodgeskiet is. Willemientjie se droom was om by die Kinderkrans ’n lofkleuter te word.

Of toe die tweejarige Anri van Rooyen vir haar ouers gevra het: “Seblief, pleistertjie vir die eina.” Dit was ná sy deur dieselfde koeël in die maag getref is wat haar pa verlam gelaat het. Anri is kort hierna oorlede.

Nou wag ’n hoogs tydige parlementêre debat.

Gaan dit met ʼn waardigheid geskied wat pas by die nagedagtenis van die slagoffers, of gaan dit deur wilde uitsprake onteer word? Die feit is dat sprekers wat téén plaasmoorde en plaasaanvalle gaan praat, hul feite baie mooi agtermekaar sal moet hê. Dis een van daardie onderwerpe waar feite hard sal moet werk om emosies te oorskadu. Die feite is nodig om die wind uit die seile te haal van diegene wat probeer aanvoer dat daar eintlik niks ongewoons aan die syfers is nie. Of nog erger, dat die boere dit op hulself bring deur werkers sleg te behandel, of gereeld groot bedrae kontant in die kluis te hê, of arsenale aan te hou wat “per bestelling” vanuit Gauteng beroof word. Soms “toevallig” kort ná aansoek vir lisensie-hernuwings gedoen is en die rowers as’t ware oor ’n inventaris beskik van wat beskikbaar is, ook onder die plaaswerkers.

Hierdie probleme word deurgaans aangeraak.

Vrot appels hoort eenvoudig nie in die landbou nie. Hulle plaas die ander boere se lewe onnodig in gevaar, en die georganiseerde landbou spreek hom gereeld hieroor uit. Sulke vrot appels beïnvloed nie net die voorkoms van plaasaanvalle nie, maar kan byvoorbeeld ’n hele uitvoerbedryf sink omdat die invoerlande nie by lande wil invoer waar die produsente onder verdenking van menseregteskendings is nie.

Maar is dit werklik regverdiging vir die wreedste plaasmoorde?

’n Aspek wat ook aandag behoort te kry, is die kwessie van noodweer. Met die gebrekkige polisiegetalle is daar dikwels ’n noodsaak om noodweer toe te pas. Maar net te gereeld is die aanvallers skotvry, en die boer of boere in die sop, soos nou weer met die aanval op ’n 70-jarige boer by Brandfort.

AfriForum moes ook al verskeie kere met regslui ingryp om te keer dat selfs vroue toegesluit word wat duidelik in noodweer opgetree het.

Die situasie kan eenvoudig nie ontstaan waar potensiële aanvallers onder die indruk gelaat gaan word dat hulle onaantasbaar gaan wees, en die boer of boervrou wat noodweer toegepas het, aan die pen gaan ry nie.

’n Groot verantwoordelikheid rus nou op politici om in Dinsdag se debat sinvol te kyk na ’n onderwerp met baie skerp kante, en wat eintlik ’n paar dae se debatvoering regverdig.

Baie sterkte aan al die lede wat die belange van die boeregemeenskap op die hart dra. En mag die enkele vrot appels heeltemal uit die landbougemeenskap uitvrot.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

AL ·

Jul sal n koue skouer en vyandigheid ervaar in die begin vd debat – dalk in hul koppe klim deur te bepaal hoe jul gaan voorberei vd debat.
Navorsing smeer in elk geval die motief toe vir die wreedaardige moorde. Van wanneer af is n bejaarde n bedreiging? Om gemartel, verkrag en vermoor word?
Wanneer n gesin hul samewerking gee en nog steeds vermoor word?
N Forensiese profiler sal vir jul se dat die moorden baie sadistiese persoonlike haat georienteerd is.
GEEN KRIMINEEL HET DIE REG OM TE MOOR NIE. PUNT. HY HOORT NIE OP JOU WERF NIE, NIE in jou huis nie. ONS SAMELEWING IS SIEK DEUR KRIMINELE SE OPTREDES TE PROBEER REGVERDIG.

Jaco ·

Ek glo vas hierdie moorde word deur die regering aan wie ons soveel belasting betaal aangeblaas. Is dit nie ironies nie? Byt die hand wat jou voed! MAAR ek glo vas in karma, baie gelowe selfs glo daarin…ek wil eerlik waar nie in hul skoene wees die dag wanneer karma hul slaan nie….Afrika is vervloek weens die onregmatige optredes deur leiers en deur die mense wat hul in sulke magsposisies geplaas het, en die resultaat? Meeste sterf van die honger. Go figure!

Johann ·

Ek voel dit is moontlik ‘n goeie ding, maar wie sê dit gaan die gewenste uitwerking teweeg bring. Dingaan het mos al in die verre verlede bewys hy wil nie praat nie

AL ·

Baie goeie opsomming. Mens kan hul nie heeltemal vertrou nie.

Jannie ·

Goed, die moordsyfer op mense op plase (wit en swart) is besonders hoog en moet aangespreek word. Persoonlik dink ek dis omdat die moordenaars veel meer geleentheid het om dit te organiseer, die tyd het om dit uit te voer en te ontvlug. Baie van die plase is ook naby ons landsgrense en buitelanders in vele gevalle die moordenaars. Dis eintlik logies dat sekuriteit en hulpverlening nie so geredelik beskikbaar gaan wees op ‘n afgelee plek as in die stad nie. As die VF+ egter die moorde as sg. “volksmoord of “genocide” teen wittes gaan voorhou, gaan hulle nie ernstig opgeneem word nie want die algehele moordsyfer vir wittes in die land per 100000 is veel laer as die vir swartes.

AL ·

Dan moet die landsgrense beter beveilig word om plaasaanvalle te bekamp wat aan buitelandse grense strek. Wat gebeur aan die ander kant van die draad. Word boere ook gemartel en vermoor soos aan die SA se landsgrens? Is dit dieselfde modus operandi?

william ·

Kan mens nog met hulle redeneer, lyk my as jy iets wil se in parlement word jy doodgeskree.
Hulle moet die fotos wys van mense wat vermoor is, vir hulle vra hoe hulle sal voel as hulle mense so vermoor word.?
Dan moet hulle ook die “Grond Diewe” miete uitlig en ook wil ek weet-: hoekom as Boere hulle self verdedig , word die BOER aangekla van moord!..
Maar as iemand 20 keer met n’ mes gesteek word, dan is dit net huisroof!..
Ons MOET die kommandos weer op die been bring, al moet ons dit self bevonds.
Hulle sal nie.
Daai “show of force” is baie goeie afskrikmiddel.

AL ·

Die EFF het daardie mode begin. Daar is baie werklose mans van ons volk wat die kommandowerk kan doen.
Miskien kan elkeen n geringe bydrae doen om dit te befonds. Die Regering sal seker nie befondsing doen nie?!

NOU JA ·

Gerrie Nel asb help ons in die Parlamet met die plaasmoorde weet jy kan ñ verskil maak dankie.

AL ·

Ek hoop VF+ dat jul die plaasmoorde tussen boer en plaaswerkers ook kan skei. Of plaaswerkers wel aangeval is omdat hul die eiendom en die boer wou beskerm en of dit n geval is van ander faksies wat onmin veroorsaak het.

René ·

Ons Bid dat ons Hemelse Vader se Hand oor die debat sal wees Dinsdag.

Dat verharde harte weer sag sal word.

Dat liedere van vrede en vryheid weer in ons grense gesing sal word.

Dat hierdie die eerste klein stroompie sal wees van ‘n magtige revier van vrede en eenheid, wat oor ons land en die mense van ons land se harte sal spoel.

Dat daar in Suid Afrika GEEN meer rasisme sal bestaan nie, maar dat elke SuidAfrikaner ‘n hoop en ‘n toekoms sal he – groot, klein, oud en jonk

Dat daar ‘n generasie sal opstaan wat bekend sal wees as “COLOURBLIND”

Vir ‘n land waar daar nie iets soos swart of wit bestaan nie, maar waar ons almal SUIDAFRIKANERS kan wees.

Amen.

Samehorig ·

Ons bid tot die enige waaragtige God wat Homself bewys het in die geskiedenis van Israel en die Afrikaanse volk, vir wysheid vir die VFPlus om Dinsdag in die bresse te tree vir ons arme, verpletterde mense. Sterkte!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.