Nuuskommentaar: Plaasmoord-prioritisering en korrupsie

Argieffoto: AfriForum Jeug

Argieffoto: AfriForum Jeug

Die regering se gereelde bontpratery veroorsaak nou dat Suid-Afrikaners met meer as ʼn tikkie ongeloof geslaan is oor die skynbare verklaring van plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad en dat Suid-Afrika sy posisie op die internasionale korrupsiepersepsie-indeks jou warempel gaan verbeter het.

Wat het die prioritisering van plaasmoorde en Suid-Afrika se jongste posisie op die korrupsie-persepsie-indeks met mekaar te make?

Mens weet nie of jy jou oë en ore kan glo nie.

Volgens die jongste syfers wat pas deur Transparency International (TI) bekend gestel is, het Suid-Afrika se posisie op die internasionale korrupsiepersepsie-indeks verlede jaar van die 67ste posisie tot die 61ste verbeter. En die vorige jaar het mense se oë klaar gerek toe die 67ste posisie ʼn verbetering op die vorige jaar se 72ste plek was.

Wat weet TI wat die gewone Suid-Afrikaners, wat aan die ontvangkant van wydverspreide omkooppraktyke is, nie weet nie?

Nie dat Suid-Afrika veel te roem het op sy nuutste posisie op die indeks nie. ʼn Hele rits Afrikalande, waaronder Botswana in die 26ste posisie, Rwanda in die 44ste posisie en Namibië in die 45ste posisie, vaar beter as Suid-Afrika. Selfs Ghana in die 56ste posisie steek Suid-Afrika die loef af, terwyl Lesotho die 61ste posisie met Suid-Afrika deel.

Net so het die aankondiging van die waarnemende nasionale polisiekommissaris, dat plaasmoorde voortaan as prioriteitsmisdaad sou geld, stadig ingesink. Lt. Genl. Kgmotso Phahlane het die aankondiging Maandag in ʼn Afrikaanse onderhoud op RSG se program, Spektrum, gemaak. Dit het egter nie een van RSG se nuusbulletins weerskante van die program gehaal nie.

Sedert die bekendmaking op RSG het Maroela Media hard probeer om seker te maak die inligting sou korrek vertolk kon word. Die afwesigheid van iets op skrif, soos ʼn mediaverklaring deur die SAPD, het sake bemoeilik. Die georganiseerde landbou is nie formeel ingelig nie, iets wat normaalweg verwag sou word, omdat dit juis die boere self is wat ʼn belangrike rol sal moet speel in ʼn opgegradeerde landbou-beveiligingsplan.

Teen Woensdag het ʼn briefskrywer in Volksblad van haar laat hoor en aanvaar dat wat sy op RSG gehoor het, inderdaad daarop neerkom dat plaasaanvalle voortaan ʼn prioriteitsmisdaad sou wees. Die volgende dag het Volksblad met ʼn berig wat ook in Beeld gedra is, geantwoord. Maroela se berig, waarvoor sedert Maandag inligting bymekaar gemaak is, waaronder by die polisie self, is toe ook geplaas.

Vandag (Vrydag) volg Volksblad en Beeld met ʼn hoofartikel. Die titel is, Almal in SA móét polisie steun in plaasmoordplan. Groot segmente van die media het nog glad nie op die nuus gereageer nie.

Maroela, wat AfriForum se veldtog ondersteun om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad te laat verklaar, ʼn veldtog wat tot in internasionale raadsale gevoer is, sou bitter graag Maandag die nuus met ʼn groot opskrif wou aankondig. Die probleem was egter dat die beskikbare inligting te vaag en selfs teenstrydig was. Dit het wel gelyk asof die polisie se bestuur beoog het om meer aandag en hulpbronne te skenk aan die landelike veiligheidsplan. ʼn Formele verklaring daarvan tot prioriteitsmisdaad, soos in die Mandela-era waartoe politici verbind sou wees en die nasionale begroting dit daarom ook sou verreken, was nie duidelik nie.

Die georganiseerde landbou het, sover vasgestel kan word, ook nog nie formeel op die verwikkelinge gereageer deur mediaverklarings daaroor uit te reik nie. Hulle het wel en gewoonlik met groot voorbehoude, op medianavrae gereageer.

Dit lyk uiteindelik uit antwoorde op medianavrae, asof die polisie, minstens in eie geledere, ʼn hoër premie op sy landelike veiligheidsplan gaan plaas. Afgesien van plaasaanvalle op boere, hul gesinslede en plaaswerkers, vorm misdaad soos veediefstal deel daarvan. Die aanduidings is dat meer mannekrag en voertuie beskikbaar gestel sal word. Dis te verwelkom en moet gesteun word. Soos sake nou staan, is daar dele van die land waar veediefstal veroorsaak dat boere nie meer met skaap kan boer nie. Skade deur gewasdiefstal en diefstal van implemente en gereedskap, beloop jaarliks, aldus die landbousensus, miljarde rande.

Of dit in die praktyk gaan beteken dat plaasaanvalle nou ʼn prioriteitsmisdaad sal wees, sal die tyd leer. Minister Pravin Gordhan se begrotingsrede sal reeds bietjie lig werp en so ook pres. Jacob Zuma se staatsrede. In sy sogenaamde 8 Januarie-toespraak voor die ANC, het Zuma na berig word heel ongewoon na plaasaanvalle verwys en ʼn hele sin daaraan gewy.

Afgesien daarvan dat die polisie die nuus oor die prioritisering van plaasaanvalle uiters lomp oorgedra het, is die geloofwaardigheid van die regering en sy “goeie stories” ook so afgetakel dat ʼn baie groot deel van die publiek uiters skepties is.

Om goeie nuus op die sigwaarde daarvan te glo, is omtrent net so moeilik as om te glo dat Suid-Afrika sy posisie so werklikwaar op die korrupsiepersepsie-indeks kon verbeter.

Na  berig word sou Phahlane sy prioritiseringsplan Donderdag aan die parlement voorlê.  Phahlane was inderdaad in die parlement en nuus oor sy doen en late daar het wel die media gehaal. Nuus oor die prioritisering van plaasaanvalle was egter, aldus Google-soektogte, so skaars soos hoendertande.

Soos sake nou staan, lyk dit asof dit wys sal wees om die broek met ʼn goeie gordel, kruisbande en ʼn stywe rek bo te hou. AfriForum het reeds Donderdag ʼn stap verder gevorder. Mnr. Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye en ʼn afvaardiging van AfriForum het in Pretoria byeengekom om plaasmoorde, sowel as ander landelike geweld en gemeenskapsverhoudinge in landelike gebiede, te bespreek.

Tydens die vergadering het die minister en AfriForum ooreengekom die minister sal deur sy departement ʼn inisiatief van stapel stuur om rolspelers oor ʼn wye spektrum byeen te bring om ʼn gesamentlike front teen plaasaanvalle en ander landelike geweld te vorm. Die doel van die inisiatief is ook om samewerking op plaaslike vlak tussen die onderskeie rolspelers in plaaslike gemeenskappe te verbeter.

Die partye het saamgestem Phahlane se verklaring dat plaasmoorde en veediefstal as prioriteitsmisdade hanteer sal word, ʼn stap in die regte rigting is.

Voorlopig minstens, lyk dit asof Phahlane se aankondiging bloot as ʼn stap in die regte rigting beskou moet word, maar tog dat enige manifestasie daarvan in die praktyk behoorlik omarm moet word.

Om te wag dat die regering enige prioritisering van plaasaanvalle met hart en siel sal ondervang en dit reguit sê, is om te wag dat die perde horings kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Chris W ·

Baie insiggewende berig Mnr.Toerien!Dankie!Al wat ek kan byvoeg is net “sien is glo”!

Rynhardt ·

SA is die enigste land ter wereld waar blanke boere uitgemoor word! Alle geheime agentskappe is getransformeer om Anc te dien, maar kan na 22jaar nie agterkom wie agter plaasaanvalle sit nie? Se dit nie iets vir ons mense nie? Polisie is getransformeer en korrupsie floreer in polisiemag, maar hul gaan plaasaanvalle hokslaan terwyl die einste polisie in 2015 beklemtoon het dat misdaad in SA buite beheer is? N Deel van ons mense is te goedhartig en glo te veel die snert wat aan ons volk opgedis word! Onthou om iets werklik te beveg het jy geld nodig en moet daar n wil wees om dit te kan vermag.Beide ontbreek by Anc terwyl korrupsie koning kry in SA.Ons mense moet in opstand kom, ek praat van ons Afrikaner/Boervolk! Ons moet met mening ons stem begin dik maak!Partye en organisasies is te sag en pateties!

Greg ·

Rynhardt, ons weet alamal wie sit agter die plaas aanvalle, maar wat kan wie daaraan doen op die stadium?

Vixie ·

Interessant dat hulle nou ewe skielik Plaasmoorde (ja, ek spel dit met ‘n hoofletter, want dit is belangrik) wil aanspreek? So voor die verkiesing?

Rynhardt ·

Greg, ons mense moet begin hard word, ons is te sag.Teen die pas wat dinge aangaan, gaan ons mense uitgemoor word.n Stille rewolusie is aan die gang teen ons mense! Onthou, die oorgewig ooms in paelement en organisasies kyk net na hul eiw finansiele belange.

Peet ·

Ja, ons is te liggelowig en dink dat ander mense na ons sal omsien. Ons moet egter besef dat onsself meer betrokke sal moet raak. Sonder om te pessimisties te wees, stem ek saam dat hierdie vir my na ‘n verkiesings foefie klink.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.