Nuuskommentaar: Plaasmoorde – een erge euwel, twee persepsies

Argieffoto: AfriForum Jeug

Argieffoto: AfriForum Jeug

Selde, indien ooit, is ideologiese verskille tussen twee koerante binne dieselfde groep so ontbloot soos in die hoofartikels van Beeld en Volksblad gister. Beide het plaasmoorde onder die loep geneem.

Later die dag het AfriForum en TLU SA die plaasaanval-syfers vir 2014 verskaf, wat plaasmoorde insluit. Dis harde, empiriese syfers, en dit moes in ʼn objektiewe wêreld vry van ideologiese bande die einde van die argument wees. Maar dit is nie, en dit sal nie gou wees nie.

In Beeld is die fokus geplaas op die vermaning dat plaasmoorde nie verpolitiseer moet word nie. Netwerk24 se subopskrif lui: “Ook is daar geen bewys dat dié moorde, soos soveel ander beweer, rasgemotiveerd is nie.” Die artikel beskryf egter die euwel in sy brutaliteit, en veroordeel dit. Die artikel word met ’n goeie dosis Basson-bashing in die kommentaarkolom gevolg.

Volksblad se aanslag is heel anders, met Netwerk24 se subopskrif wat lui: “Dit is werklik tyd dat die regering wys dat hy ernstig is oor hierdie verskriklike misdade wat net nie wil ophou nie.” Oor die raskwessie skryf Volksblad: “Net so moet die regering die rassekaart vir eers links laat en opnuut daaroor besin om plaasaanvalle tot voorkeurmisdaad te verklaar.”

Beeld se redakteur is ook hoofredakteur van die Media24-groep, terwyl Gert Coetzee van Volksblad ’n waarnemende redakteur is. In dieselfde uitgawe van Volksblad skryf Coetzee ook ’n puik rubriek met die titel: “Suid-Afrika se nuwe slagvelde,” terwyl ’n senior redaksielid, Charles Smith ’n rubriek skryf met die titel: “Ons is vandag Toon, Rienie en Martie.” Dit is die voorname van die jongste slagoffers van plaasmoorde in die Vrystaat.

Uiteindelik handel dit nie daaroor of aanvallers werklik rassemotiewe het wanneer hulle plaasmense aanval (dikwels na kerk voorlê), wreed martel en dikwels dan vermoor nie. Wanneer misdade oor die rasgrense heen plaasvind, het dit ’n emosionele inslag. Dink maar aan die groot betogings by die hof van die sg. leeukampverhoor waar ’n blanke onder die beskuldigdes was wat ’n swart man “vir die leeus gevoer” het. Onder appèl is die blanke onskuldig bevind aan moord omdat die patologiese getuienis daarop gedui het dat die man reeds dood was voor die blanke op die toneel verskyn het.

Dink ook maar aan die reaksies op die bakkie-sleepvoorvalle – hoe dit geweldig “opgeblaas” is toe blankes aangekla is, maar toe ’n boer van Parys tydens ʼn plaasaanval op dieselfde wyse vermoor is, was dit kwalik nuus.

In die vorige bedeling het dit as strafverswaring gedien om misdade oor die kleurgrens te pleeg, juis oor die rassegevoelens wat dit opjaag. Wie tydens plaasaanvalle aanval, en wie vermoor word is klinkklare, harde bewyse. En laat dit dadelik gestel word, daar is swart boeregesinne wat aangeval word en vermoor word. Verlede jaar was daar byvoorbeeld na afloop van ’n Vrystaatse plaasaanval waartydens ’n swart boer en sy vrou vermoor is, ook emosionele berigte oor die lot van die gesin se troeteldiere, vir wie daar toe na aanleiding van die berigte (meestal wit) uitkoms gekom het.

Maar meestal, as dit by moorde kom, word die aanvalle deur swart mense gepleeg en is die slagoffers meestal wit. En dit skep persepsies en emosies. En hierdie kommentator skep geen behae daarin om so op die kleurkwessie te hamer nie – dis suiwer reaktief.

Daar word van ’n verantwoordelike regering en ’n verantwoordelike media verwag om op ’n verantwoordelike wyse hierop te reageer.

En dit is nie te veel gevra dat die politici in hul uitsprake oor die landbou hulle moet weerhou van vrot appel-veralgemenings wat die lewe van elke boer en sy gesin in gevaar stel nie. Daar is nie-regeringsorganisasies, waarvan minstens een grootliks deur Cosatu gefinansier word, en die ander klaarblyklik uit die buiteland, wat verslag op verslag die lig laat sien oor “wantoestande” op plase. Politici is gou om hierdie verslae as die evangelie op te slurp en striemende veralgemeende aanvalle op boere te loods. Wanneer die “gevalle” deur ander instansies ondersoek word, is dit bykans alles gefabriseerde gevalle – waarskynlik om die organisasies se bestaansreg te “regverdig” en voortgesette finansiering te kry.

Dit is nie iets waaroor gedebatteer hoef te word nie. Dit is die ABC van demokrasie dat ’n regerende party in algemene belang regeer, anders het ons te make met ’n diktatuur van die meerderheid. Dit is die ABC van politieke sosiologie dat daar omsigtig te werk gegaan word met heterogeniteit. Dit is ’n algemene beginsel dat gehou word by ’n akkoord, soos die nasionale vredesakkoord.

Tog was dit vir Vrystaat Landbou, met adv. George Bizos aan die spits, nodig om die regering voor die hof te sleep om sy lede en Vrystaatse inwoners se grondwetlike regte op veiligheid te verseker. Die regering het buite die hof geskik en die ooreenkoms is ’n bevel van die hof gemaak. Toe die ooreenkoms verslons word, is die hof weer genader en weer geskik.

Die persepsie dat die ANC politiek-halsstarrig en rasgemotiveerd oor plaasaanvalle dink, is nie beperk tot die wit boeregemeenskap nie. By geleentheid was die provinsiale leiers van ’n nie-rassige party, die ACDP, by hul swart leier in Kaapstad saamgetrek. Die vorige aand was daar ’n plaasmoord in Noordwes. ʼn Mediaverklaring oor die plaasaanval word aan die leier voorgehou, wat weier om dit uit te reik omdat die ANC dan sal sê hy is “’n wit meeloper.” Die wit leier van die Wes-Kaap kon die verklaring egter in sy naam uitreik, en dit is onder meer in Beeld gedra. ʼn Ruk later, tydens ’n vergadering in Bloemfontein, word die leier gevra hoekom sy party nooit iets oor plaasaanvalle uitreik nie. Hy reageer en sê sy party reik “baie” uit, maar dis die media wat dit nooit dra nie. In werklikheid reik sy party op nasionale vlak niks oor plaasaanvalle uit nie (dit kan met ’n besoek aan die webwerf geverifieer word), maar die party het op provinsiale vlak heelwat uitgereik, en die media het effektief almal gebruik – en daaroor is breedvoerig aan die leier verslag gedoen.

En hierdie party is nie die enigste wat plaasaanvalle vir reaksie tot ’n provinsiale saak” gereduseer het nie. En dis moeilik anders te verklaar as dit deel uitmaak van ʼn persepsie dat ʼn strategie om swart lede te trek nie sal werk as die nasionale leierskap plaasaanvalle veroordeel nie. Dus maar weer ras.

Kortom, die plaasaanvalle mag moontlik meestal nie ras- en politiek gedrewe wees nie, maar die wyse waarop meningsvormers soos die politici, en veral die regering daarop reageer, maak dat dit wel deeglik in hierdie pot prut.

Geen ideologiese bril gaan dit ook verander voor die regering sy basiese verpligtinge teenoor al sy burger nakom nie.

Daar is net een manier waarop ’n verantwoordelike regering op hierdie euwel sal reageer, maar dan moet daar ’n verantwoordelike regering wees.

En die media het ook ʼn enorme rol, nie net oor plaasaanvalle nie, maar om as algemene waghond oor die regering te dien. Pas het Max du Preez as rubriekskrywer by die Independent Media-groep bedank omdat die groep, sonder om hom te ken, vir die ANC verskoning gevra het oor dinge wat Max in ’n rubriek oor pres. Zuma kwytgeraak het. Die ANC het woedend reageer. Max het by sy feite en standpunte gestaan. Nou is die Independent die groot verloorder, en lyk die naam “Independent” ’n bietjie verspot.

Dit is verskriklik erg dat ons ons boere en hul gesinslede so wreed verloor, en alles tot ons beskikking moet gedoen word om dit te stuit. Maar ons verloor nie net ons boere nou nie, ons loop ’n groot gevaar om alle hoop op rasseharmonie ook te verloor, en ons verloor terselfdertyd enige sweempie van ’n verantwoordelike en verantwoordbare regering wat in algemene belang regeer, en as ons nog ’n “politieke korrektheid” in die media hieroor op die koop toe kry wat mediavryheid strem, raak die prys enorm groot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

anet ·

Dankie Herman, ek het jou artikel baie geniet, en die artikel is absoluut ‘n ontbloting van die werklike waarheid. Media24 is ‘n draadsitter, en wil sy brood alkante gebotter he, en waai saam met elke stink wind. Dankie vir AfriForum wat vir ons werklike nuus skryf wat saak maak

Flip Sadler ·

Dankie Herman vir die artikel,,alles so waar en hartseer.

Dis die waarheid ·

Die barbaarisme van die mense is dekades of ‘n eeu gelede geindentifiseer. Na aanleiding hiervan het die vorige regerings apartheid ingestel en toegepas om beskerming te bied om te verhoed dat die minderheid wit ras nie uitgemoor word nie. Indien apartheid nie bestaan het nie was die wit ras al dekades gelede totaal uitgewis.

Leeutjie ·

Hierdie rubriek het my vrae wat ek binne myself vra beantwoord. Baie dankie!

Piet Smith ·

Dit is maar weer ‘nbewys hoekom ek nie meer op Beeld inteken nie kan nie eers jou rooster met hom afvee nie

Lillian ·

Enigiemand wat al ‘n familielid verloor het deur ‘n plaasmoord sal die ewig durende smart verstaan.

My oupa is 33 jaar gelede vermoor en ek dra steeds die letsels …

Burger ·

Ek kan nie sien dat dit as prioriteit van regeringskant geag sal word nie. Hierdie land is verdeeld en kleurgroepe is openlik hatig teenoor mekaar. Dit is vernietegende siklus wat vanuit die regering tot sommige pro Afrikaanse organisasies gevoed word. Inwoners van SA behandel mekaar met minagting. Die stryd is eerstens om menslikheid te vestig , dan teen afskuwilikhede soos moord, nie plaasmoord nie , enige moord. Elke moord is ewige onaanvaarbaar. Om plaasmoord uit te sonder is om die regering te tart. Hulle sien dit net eenvoudig as jy ag net jou groep van waarde. Ons land bloei onder haat wat lank terug gevestig is en moreel geregverdig as deur instellings wat dit onder die vaandel van Christus gedoen het. As hulle opreg was sou hulle lankal begin help het met genesing en oplossings, maar hulle voor bloot n stryd om finansiele oorlewing. Kom ons begin baklei vir my swart of wit landsgenood se lewe en daardie gees sal baie vinniger posvat as wat ons besef. Een helse kopseer vir die regering is die dag as die mense van die land begin saamstaan. Hulle magsbasis word dan bedreig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.