Nuuskommentaar: Plaasmoorde en haatspraakklag teen Zuma

Argieffoto

Argieffoto

Dit sal interessant wees om te sien hoeveel keer belangrike toesprake deur pres. Jacob Zuma deur ’n vlaag plaasaanvalle gevolg word. Binne enkele dae na sy sogenaamde 8 Januarie-toespraak vanjaar, was daar drie plaasmoorde in twee afsonderlike plaasaanvalle.

In 2011 was daar vyf dae na Zuma sy staatsrede gelewer het, minstens vyf plaasmoorde.

Dit was waarskynlik blote toeval, want in totaal was daar vanjaar al sewe plaasmoorde met die meeste voor Zuma se toespraak, maar die gemene deler was dat Zuma in sy betrokke redes taamlik swygsaam was oor hierdie bose euwel wat die land teister. Statisties kan op verskillende maniere hierna gekyk word, en elke keer is die antwoord dat plaasaanvalle en plaasmoorde ’n baie eiesoortige euwel is wat verdien om ’n prioriteitsmisdaad te wees. En in ʼn ware demokrasie regeer ’n regering in algemene belang, nie net in belang van sy eie ondersteuners nie, maar die regering weier nukkerig om die aanvalle as prioriteitsmisdade te verklaar. Regering in algemene belang is ’n konsep waaraan die ANC nog swaar sluk, want om mee te begin, wie gaan dan die blaam kan dra vir dinge wat die regerende party heel bekwaam en op eie stoom verbrou – soos met Eskom?

Daar is al so baie oor plaasmoorde kommentaar gelewer, dit raak bykans ’n onbegonne taak om met iets nuuts vorendag te kom. Trouens, binne die mediawêreld is al verskeie instruksies “van bo af” uitgereik om nie soveel aandag aan plaasmoorde te skenk nie, en as dit gedra moet word, na daardie kant van die blad, en daardie hoek te verskuif wat lesers tradisioneel nie so maklik “raaklees” nie.

Die einste media maak steeds groot geraas – en heeltemal tereg – van die bose aanvalle in Parys, Frankryk. Daar is egter uitkringende verset dat die wêreld ’n bykans blinde oog werp op die eskalasie van onbeskryflike terreur wat Boko Haram in Nigerië saai. Trouens, op  die oomblik saai Boko Haram waarskynlik meer bloedige sterftes as die IS in Sirië en Irak – ’n onbeskryflike boosheid op sy eie. Daar is al verskeie ontledings geplaas oor hoekom daar so ’n onewewigtige reaksie op grudade is – met ’n miljoen en ’n half mense wat in Parys aan ’n betoging deelneem, en Nigerië wat nou darem so af en toe die media haal.

Maar word sake na pro rata verwerk, is dit moeilik om te verklaar hoekom plaasaanvalle so relatief min media-aandag geniet. Selfs al word 120 Franse vanjaar in hul eie land deur terroriste afgemaai is dit een uit elke halfmiljoen, of een vyfde mens uit elke 100 000. Die moordsyfer onder boere en hul gesinslede in Suid-Afrika is sowat 95 per 100 000 per jaar – elke jaar. Dit is twee keer meer as polisielede wat vermoor word, en drie keer meer as Suid-Afrika se hemelhoë gemiddeld.

Nigerië se bevolking is sowat 175 miljoen. Sou Boko Haram se slagoffers vanjaar 20 000 beloop, is dit een uit elke 8 750 Nigeriërs. Dit gee ’n syfer van effens minder as 12 per 100 000, ook slegs ’n fraksie van die moordkoers onder boere en hul gesinslede in Suid-Afrika.

Ja, hierdie is eintlike sinnelose syferspel waar appels met pere vergelyk word. Ander faktore beïnvloed die belangrikheid van nuus as net die getalle. In Parys was die een aanval op ’n satiriese weekblad, en hoewel waarskynlik nie besonder baie mense met die dikwels onsmaaklike en vulgêre karakter van Charlie Hebdo saamgestem het nie, is die aanslag op persvryheid ’n saak van enorme belang. Die ander aanval, op ’n Joodse winkel, het weer wortels op sy eie.

Maar net so het die aanvalle op plase (en almal loop nie noodwendig op moord uit nie, maar ander misdade soos wrede aanranding en marteling kom voor), ’n groter sielkundige impak op die breër Afrikanerbevolking. Baie mense het familie en vriende op plase, soos hierdie skrywer se eie seun en ander familie. Faktore soos die afskaffing van die kommandostelsel verhoog die gevoel van magteloosheid omdat die Afrikaner deur regeringsinmenging ’n kerndeel van sy wese nou grootliks blootgestel laat. Dit skud ’n hele gemeente omdat ’n omie en tannie se sitplekke in die kerk nou leeg is omdat hulle die vorige Sondag na kerk by hul opstal oorval is… Nie noodwendig dood nie, maar hul gees en verstand blywend gebreek sodat die dood kort daarna ’n genadige uitkoms is.

Talle uitkringende sosiologiese en sielkundige faktore is al uitgewys.

En met Suid-Afrikaanse boere is dit ’n misdaad wat jaar vir jaar vir jaar aanhou, en waar die vorige minister AfriForum se pogings om dit as prioriteitsmisdaad te verklaar, as “goedkoop propaganda” afgemaak het.

Soos gemeld, was daar waarskynlik geen verband tussen Zuma se toespraak en die moorde nie. Maar die gevolge was duidelik in die sosiale media. Met ’n bevolkingsegment wat die hoenders ingedryf is omdat die ANC, in die woorde van Media 24 se koerante, die blanke tot vyand verklaar het, is nuuswebwerwe oorstroom deur inskrywings van lesers wat as niks anders as haatspraak beskryf kan word nie toe die nuus oor plaasmoorde bekend geword het. Volgens wet en die grondwet, kan hierdie nuuswebwerwe in die moeilikheid beland oor hierdie soort inskrywings, en moes ingespring word om dit te verwyder. Hierdie verwyderings het weer ontsteltenis onder die ontstoke lesers veroorsaak.

Die aankondiging van die Vryheidsfront Plus dat hy Zuma vir haatspraak by die Menseregtekommissie gaan aankla oor sy stellings dat die land se probleme begin het toe Jan van Riebeeck  in die Kaap aangekom het, is ook gunstig deur lesers ontvang … waar die nuus hoegenaamd in die media verskyn het. Dit sal baie goed wees as die Menseregtekommissie aandag aan hierdie saak sal skenk, want ’n blinde oog en dowe oor gaan ’n liederlike sweer in die Suid-Afrikaanse samelewing yslik groot laat swel en baie septies laat word.

En weer eens kan die vraag gevra word: Weet Zuma hoegenaamd wat die woord “demokrasie” beteken en dat demokrasie nie aan ʼn diktatuur van die meerderheid gelyk gestel kan word nie?

Zuma is besig om vir ’n deel van die bevolking die simbool te word van alles wat sleg is. Die SAKP-geleide poging om hom statuur te gee en die fiksie te dryf dat hy ’n uitmuntende president is, help nie juis om die weersin in Zuma te versag nie.

Die ANC is egter nie al wat grootliks ʼn blinde oog op plaasmoorde werp nie. Liberale kommentators gooi ook wal, en verduidelik dat dit gewone misdaad is om vuurwapens in die hande te kry (om mee te wat?) en dat daar ’n persepsie is dat daar groot hoeveelhede geld op plase is (en verskeie boere is al wreed gemartel om te verklap waar die kluis is wat nie bestaan nie). Daar word aangevoer dat die moordkoers veel laer is as onder bruin mans in die Wes-Kaap (wat onjuis is – indien enigsins is die pro rata-koers van moorde onder boere nou hoër). En dat dit onwys van ou mense is om kwalik beveilig alleen op plase te bly – terwyl heelwat geen ander heenkome het nie en genoeg aanvalle ook al op baie goed bewaakte opstalle uitgevoer is. Sou ’n meer geldige vraag nie wees hoekom dit juis in Suid-Afrika so gaan nie?

Uiteindelik kan die land ’n baie duur prys betaal vir hierdie pogings om die onverkoopbare vir allerlei onverkwiklike redes as ’n hoë kwaliteit uitvoerproduk te probeer verkwansel.

En dit sal salig wees as kommentators die dag die pen kan neerlê oor plaasaanvalle, en die pen dan deur historici oorgeneem kan word wat ontleed wat was. Nou word egter steeds geskryf aan ’n boek sonder einde…

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

pop ·

Niemand sal die ingewortelde en ingebore haat vir mekaar in hierdie land kan stop nie. En nou word dit aangeblaas ook. Eers as daar nie n enkele wit vel oor is in die land sal hulle ophou om ons te haat.

Thys Human ·

Ek het vroeer vanoggend elders op die internet gese dat ek seker verkeerd kan wees, maar ek kry dieselfde gevoel as Herman dat elke keer as Zuma of iemand soos Malema iets kwytraak oor grondgryp is daar ‘n vlaag van plaasmoorde.

Ek dink dit is iets waaroor hy baie beter aangevat kan word as oor Nkandla.

Hanno Visagie ·

Die ANC en sy ondersteuners kan steeds met veral twee nie-rassige, nie-seksistiese woorde beskryf word, naamlik domastrant en geslepe.

Johan Wiggill ·

Herman, jy meld tereg “Sou ’n meer geldige vraag nie wees hoekom dit juis in Suid-Afrika so gaan nie? Is dit onderlinge en diep gewortelde rasse verskille en wantroue? Is die rasse situasie in SA enigsins versoenbaar? Dit bring my telkens terug dat eksterne selfbeskikking die enigste blywende oplossing bied. Waarom sal die regering so halstarrig volhou dat SA ‘n (mislukte) reënboognasie is. Waarom so bevrees oor die kleine minderheid in die land?

Drieks ·

Die Anc wat hierdie mode toegelaat het in SA, gaan self gebyt word deur hierdie wreede moordenaars. Hul is oppad om aan hul deure te klop…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.