Nuuskommentaar: Plaasmoorde en xenofobie

Heel voorspelbaar het die regering AfriForum se optrede gister – om lakshede oor onder meer forensiese ondersoeke tydens plaasaanvalle wat moordenaars skotvry daarvan laat afkom het – as rassisme beskryf. Voorheen het die minister van polisie reeds ‘n aksie van AfriForum as ‘n publisiteitsfoefie afgemaak.  AfriForum se volledige verslag kan hier gelees word.

Aan die ander kant van die munt het pres. Jacob Zuma in die parlement te kenne gegee dat nie alle Suid-Afrikaners xenofobies is nie.

Xenofobie is weer vol op die nuusagenda. Vroeg vanoggend berig RSG dat buitelandse winkeleienaars onder swaar polisie-begeleiding uit die Wallacedene informele nedersetting naby Kraaifontein buite Kaapstad geneem is. Hul winkels is gisteraand tydens onrus geplunder en aan die brand gesteek. Wallacedene is sedert gister in oproer toe ‘n skare wat huise geëis het, HOP-huise begin beskadig het en huiseienaars verjaag het. ‘n SAUK-kameraman wat die geweld verfilm het, het ‘n kopbesering opgedoen nadat hy met ‘n baksteen getref is. Zuma het gister in vraetyd in die Nasionale Vergadering gereageer nadat buitelanders se winkels onlangs in Orange Farm in Johannesburg en Booysenspark in Port Elizabeth geplunder is. ‘n Somaliër is in Port Elizabeth dood nadat hy doodgekap is.

Intussen het nog ‘n uiters wrede plaasmoord, dié van die tagtigjarige Louis Traut, skaars die nuus gehaal. Sy vrou en twee dogters is ook wreed aangerand.

‘n Vreemde teenstrydigheid is aan die ontwikkel. Ná bykans 400 jaar in die land, word blankes nog steeds aan ‘n eiesoortige behandeling onderwerp. Die geskiedenis word verdraai en selfs herskryf om te probeer aantoon dat blankes swart mense se grond gesteel het – ook in dele van die land waar daar nog geen swart mense gewoon het toe blankes daar ingetrek het nie – en daarom aan grondhervormingspraktyke onderwerp moet word wat die TLU SA dit as in wese onteiening sonder behoorlike kompensasie laat beskryf. Solidariteit het versoek dat die Menseregtekommissie betrokke raak by die kwessie dat die SAL blankes mans algeheel van sy kadet-opleiding uitgesluit het.

Selfs die nasate van die werklike inheemse bevolking, die bruin mense, word as vreemdelinge in hul eie land behandel wat op Solidariteit se hofsaak teen die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) in die Wes-Kaap uitgeloop het, en ‘n belangrike katalisator geword het dat Peter Marais se Bruin Belangebeweging ‘n uiters geslaagde kongres met meer as 100 afgevaardigdes gehou het.  Lees ‘n verslag hieroor hier.

Hierteenoor word die land oorstroom deur vlugtelinge vanuit alle hoeke van die aarde, maar ‘n groot persentasie vanuit Afrika, soos ook buurlande soos Zimbabwe en Mosambiek. Sommiges vlug vir konflik, soos uit Somalië en die DRK, ander is “ekonomiese vlugtelinge” wat na ‘n land met ‘n geweldige werkloosheidskoers en volgens die Wêreldbank die grootste inkomstegaping ter wêreld vlug, en ander land hier aan skynbaar bloot omdat Suid-Afrika as ‘n misdaadparadys beskou word, met aktiwiteite wat met swendelary, dwelmhandel en prostitusie verband hou, asook ‘n beduidende aandeel in plaasmoorde. Die Vryheidsfront Plus het immers ‘n verklaring uitgereik om te sê misdadigers vrees nie meer die gereg nie.

Die VN se Kommissie vir vlugtelinge het ook gister ‘n verslag uitgereik oor die stand van vlugtelinge wêreldwyd, wat nou tot 45,2 miljoen aangegroei het, waarvan byna die helfte kinders is. Maar daarin kom ook ‘n vreemde syfer voor. Hoewel Suid-Afrika ongeveer 30 000 asielaansoeke verwerk het, het die land volgens dié agentskap net 420 vlugtelinge!  Suid-Afrika se amptelike standpunt oor die mense wat onwettig uit Zimbabwe kom, is reeds goed bekend – hulle word nie as vlugtelinge beskou nie, want die land is nie in ‘n oorlog gewikkel nie. Of anders gestel, as die vlugtelinge uit Zimbabwe as vlugtelinge opgeneem word beteken dit vriend Mugabe en sy onderdrukkende bewind word as iets ongewens beskou, en dit is ondenkbaar.

Die implikasies is dat die Suid-Afrikaanse belastingbetalers in plaas van die VN hierdie rekening betaal, en dat die stroom onwettige immigrante om die land se skaars werkgeleenthede meeding, en uiteindelik met ‘n paar rand onder die tafel deur om HOP-huise, oumenspensioen en ander voordele.

Hierdie aankomelinge moet volgens die ideologie van Mbeki omarm word, om Suid-Afrika as deel van die omvattende (swart) Afrika-visie te simboliseer.

Geslagte wit Afrikane daarenteen… In die praktyk werk dit nie altyd so lekker nie. Veral die Somaliërs wat toevallig werklik uit ‘n oorlogsgeteisterde land vlug wat pas die lewe van ook twee Denel-werknemers geëis het, en ook in elke ander land waar hulle in beduidende getalle aanland soos in Ethiopië en Kenia as vlugtelinge beskou word, moet hier bloot geassimileer word.

En kort-kort moet hulle die spit afbyt, en selfs met hul lewe betaal.

As die regering maar net naastenby dieselfde besorgdheid sou uitspreek oor die verskynsel van plaasmoorde, maar dit word met dikwels kwetsende opmerkings as niks besonders nie weggepraat. Almal is mos maar gelyk en ongelyk tegelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.