Nuuskommentaar: Plaasmoorde kan gees van Kersfees steel

Argieffoto

Argieffoto

So kort voor Kersfees het ontstellende syfers oor plaasaanvalle en plaasmoorde weer die lig gesien, maar dié werklikheid ontbreek heeltemal uit pres. Jacob Zuma se veiligheidsverslag in sy jaaroorsig van Suid-Afrika vir 2015.

Die regering se swye, en skandalige pogings van sy diplomaat in Genève laat die probleem egter nie verdwyn nie. So kan die gees van Kersfees vir baie gesteel word.

Vanjaar is reeds 62 plaasmoorde aangeteken. Dit is die vyfde agtereenvolgende jaar dat plaasmoorde toeneem, blyk dit uit syfers van AfriForum se navorsingsinstituut wat pas bekendgemaak is. In 2014 is 279 plaasaanvalle aangeteken. Vanjaar is 270  plaasaanvalle sover aangemeld en in 56 van dié aanvalle is 62 boere en werkers se lewens geneem.

In dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus se Kersboodskap word nog perspektiewe bygevoeg. Die afgelope 30 dae was daar 29 plaasaanvalle en sewe plaasmoorde in Suid-Afrika. Almal onskuldige mense wat op die wreedste manier vermoor word. Dit is byna een plaasaanval per dag en sowat twee moorde per week.

Dit is nog nie die einde van die jaar nie, maar die hartseer werklikheid is dat verlede jaar se 279 plaasaanvalle vanjaar nog oortref kan word.

Die syfers se omsetting in vergelykbare data is al goed bekend, en is onder meer in voorleggings voor ’n VN-komitee in Genève gebruik, naamlik dat die kanse om as boer of gesinslid vermoor te word, drie keer hoër is as die Suid-Afrikaanse gemiddelde syfer, en twee keer hoër as die pro rata-moordsyfer van polisielede.

En dis nie asof die Suid-Afrikaanse algemene moordsyfer iets watwonders is nie – in Suid-Afrika word amper 18 000 mense of 49 per dag vermoor.

Dié plaasaanvalvoorleggings by die VN is egter nié deur die Suid-Afrikaanse regering gedoen nie, maar deur AfriForum, die TLU SA en die Vryheidsfront Plus. Trouens, die Suid-Afrikaanse missie se gedrag was skandalig en het nie net die voorleggings probeer voorkom nie, maar almal wat daarmee assosieer, met rassisme gelyk gestel. Gelukkig het die VSA ’n teenreaksie ingelui sodat die voorleggings wel gedoen kon word.

Word daar na pres. Jacob Zuma se Jaareindverslag vir 2015 gekyk – en in die besonder die deel oor veiligheid en sekuriteit – word plaasaanvalle egter nie eens genoem nie. Daar word wel baie aandag geskenk aan die moorde op polisielede, terwyl die studente-onluste en die hantering daarvan ook heelwat aandag kry. Geskorste polisiehoof Riah Phiyega se neus word ook goed in die grond gevee en Marikana se eierdans duur voort. Ook die renosterstropery kom aan die bod.

Wat nie altyd uit die kliniese syfers van plaasaanvalle blyk nie, is die uiterste wreedheid waarmee dit dikwels gepaardgaan, sodat dit vir selfs die grootste apologeet wat aanvoer dat dit eintlik maar “gewone moorde op plase is” moeilik maak om sy standpunte te motiveer.

Daar word meer en meer toegegee dat daar wel elemente van politiek of rassisme in aspekte van plaasmoorde opgesluit lê.

Dis egter so duidelik soos daglig dat die regering se kunsmatige blinde oogwerpery op die tragedie blatante politiekery is. So beskou, kan ’n saak uitgemaak word dat die regering hom medepligtig maak aan politieke terreur op sy eie burgers deur sy versuim om dit tot prioriteitsmisdaad te verklaar.

Natuurlik is daar boere wat laks is in hul veiligheidsmaatreëls, en laks om aan gereelde patrollies en ander beveiligingsaksies mee te doen. Natuurlik is daar die vrot appels wat swak gesindhede teenoor hul werkers handhaaf en so ook ander boere en hul gesinslede se lewens in gevaar stel.

Niks regverdig egter plaasmoorde en die wreedheid waarmee dit gepaardgaan nie.

Dit is bitter hartseer dat ’n onderwerp soos hierdie juis nou, wanneer ’n groot deel van die mensdom opnuut die Vredesboodskap van vrede op aarde en in die mens ’n welbehae ter harte neem, aan die bod gestel word. Omdat baie plaasaanvalle juis plaasvind wanneer die gesin van ’n kerkdiens tuiskom, is dit seker vanjaar ook moontlik dat die terugkeer tuis ná die Kersdiens ook in ’n tragedie kan ontaard. Dít onderstreep die gebroke aard van die mensdom.

Soos uit die land se algemene moordsyfer blyk, asook ander misdaadsyfers soos verkragting, kan enigeen op Kersdag die slagoffer van misdaad wees.

Kerstyd word wyd geassosieer met om te gee – geskenkies vir diegene na aan ons harte, maar ook ’n tradisie om na wesies, armes en haweloses om te sien.

Mag vanjaar se Kersdag nie onthou word as een van geweld nie – nie net die vat van aardse besittings nie, maar die wreedaardige neem van lewens daarmee saam, en in die proses die wegvat van die goeie gesindhede wat nodig is om die land op sy pad vorentoe te help.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Sarel Strydom ·

Daar is soveel haat en hartseer in hierdie land. Kan ons vir een dag vergeet van Zuma en ANC en die spul. KOm ons respekteer hulle wat nie meer met ons is nie en die Families wat hierdie Kersfees nie meer voltaqllig is nie en net 5 minute se stil gebed. ASB.

Fly ·

Ek let dat u melding maak van boere wat versuim om gereelde patrollies te ondeeneem en wat nie in geëlektrifiseerde ‘tronke / forte’ hulle vonnis afle nie. En al sonde is dat hulle gebore is. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek is baie bly oor artikells wat bewusmaking bevorder. Maar om vreesloos en in vrede te lewe behoort n basiese reg te wees. Dit is belaglik dat n mens jou gesin soos hoenders in n hok moet toe maak. En dit is n skande dat die regering hom skaad by die misdadigers en swyg as dit by die veiligheid kom van diegene wat die land voed.

Henry ·

Dankie Herman
Ongelukkig leef ons in ‘n ‘n staat waar ons mense – veral op die plase – die teiken van ‘n terreurveldtog is. Daarom durf ons nooit huiwer om dit in gedagte te hou en ons waaksaamheid verslap nie. Selfs nie eers gedurende tye wanneer dermiljoene mense in die beskaafde wêreld hierdie tye geniet nie.
Is maar hoe dit is.

Karl Heyns ·

Dankie Herman. Die’ verslag is deurslaggewend in vertel alles oor dit’ wat die meerderheid in S.A nie wil hoor nie maar wat die meerderheid oorsee nie besef nie en MOET hoor. Forgive spelling mistakes.

Johannes Meintjes ·

Ons bly skynbaar maar almal huiwerig om ‘n bose ding by die naam te noem. Daar is talle uitgebreide navorsingstukke oor volksmoord, veral op boere en die buitmaak van hulle grond, in die wereld se geskiedenis. Indien dit saam met die detail op “Genocide Watch” bestudeer word, het ons ‘n daadwerklike (en meen ek, ‘n aangehitsde politieke) probleem rondom plaasmoorde in SA. Soos met Bloedrivier, moet daar verseker hulp van enige moontlike oorde ingeroep word, – maar die landsburgers of ge-affekteerdes het die grootste morele en rentmeesterskap verantwoordelikheid om dringend en effektief iets aan sulke kritiese sake te doen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.