Nuuskommentaar: Plaasmoorde: Regering skuld ons ’n GROOT verskoning

Argieffoto: AfriForum Jeug

Argieffoto: AfriForum Jeug

Die optrede van die Suid-Afrikaanse diplomatieke missie by die VN in Genève, deur ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse bevolking tot rassiste en “hunkerend na apartheid” te verklaar omdat hulle sterker optrede teen plaasmoorde verlang, is so skandalig dat gevra moet word of hulle bloot daarmee moet wegkom.

’n Verskoning van die regering oor hoe sy diplomate die afgelope paar dae in Genève teenoor Suid-Afrikaanse minderhede opgetree het, gaan so skaars soos hoendertande bly.

Die geleentheid was die Menseregtekommissie van die Verenigde Nasies se Forum oor Minderheidsregte.

Drie afvaardigings uit Suid-Afrika, te wete AfriForum, die TLU SA en die Vryheidsfront Plus, het voorstelle aan die kommissie voorgelê met plaasmoorde as gedeelde tema.

Al drie het in hul verslae aan die kommissie verdoemende syfers voorgehou om te toon dat die regering se slaphandhouding is wese op die skending van minderheidsregte neerkom.

Toe die Vryheidsfront Plus sy voorlegging wou doen, het die amptelike Suid-Afrikaanse missie in Genève ’n stokkie daarvoor probeer steek. Die missie se woordvoerder het rassisme en apartheid opgehaal in die argumente en aangevoer daar kan nie van Suid-Afrika se regering verwag word om statistiek oor moorde aan ras te koppel nie.

Dit, terwyl die VF Plus se voorlegging syfers oor alle rasse sonder voorbehoud gebruik het. So asof die ANC-regering in sy rasbeheptheid nie ras aan bykans elke aspek van die samelewing gekoppel het nie, sodat daar juis nou ’n saak van hierdie aard voor die grondwetlike hof dien (die sogenaamde DKD-saak).

Gelukkig het die VSA die Suid-Afrikaanse missie teengestaan en voorgestel dat die voorlegging onmiddellik gelewer word.

Beweerde rassisme en apartheid sou egter die tema bly met die ander se voordragte. Trouens, in sy eie voorlegging het die Suid-Afrikaanse missie diegene wat die plaasmoorde-voorleggings steun van rassisme en hunkering na apartheid beskuldig. In wese beteken dit dat die destydse regering onder pres. Nelson Mandela ook rassisties sou wees en na apartheid sou hunker, want plaasmoorde was toe ’n gelyste prioriteitsmisdaad. Dit het juis in die slag gebly toe die bewind van oudpres. Thabo Mbeki ’n sterk Afrikanistiese inslag gekry het.

Kortom, die optrede van die Suid-Afrikaanse missie in Genève was (al weer) skandalig. Dit lyk werklik of hierdie diplomate slegs een noot ken. Die probleem is dat hulle in hul smeerpoging harde feite deur belaglike argumente probeer weg-“redeneer” en in die proses medeburgers lukraak met die blinde sambok bydam.

Net so afkeurenswaardig soos die Suid-Afrikaanse missie se optrede was, net so vreemd is ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse media se reaksie, met meeste media wat nie enige nuusdekking hieraan gegee het nie.

Al drie hoofsaaklik Afrikaanse instansies wat voorleggings gedoen het, het mediaverklarings met bykomende inligting oor hul bydraes uitgereik. So ver bekend het die amptelike Suid-Afrikaanse missie egter nie ’n verklaring oor sy eie optrede uitgereik nie.

Dit kan tog nie wees dat die nou swygende media meen plaasmoorde is nie meer nuus nie. Terwyl die sitting in Genève plaasgevind het, het plaasmoorde immers ongesteurd voortgegaan en hieroor is redelik breedvoerig in sommige van hierdie einste media berig.

Dit wil ook nie voorkom of die verswyging aan simpatie met die amptelike missie se standpunt te wyte is nie, want die meeste van hierdie nou swygende media bestee baie ruimte aan ander skandes en skandale deur die regering.

Kan dit wees omdat die voorleggings deur die “verkeerde” instellings gedoen is?

Of is die nuusdekking bloot net nog op pad?

Om iemand deesdae van rassisme te beskuldig is ’n ernstige saak. Om dit boonop te doen sonder dat die audi alteram partem-reël toegepas is, en daar ’n behoorlike skuldigbevinding was, beteken onskuldige mense word bloot oor hul velkleur of ’n saak wat hulle steun, nie-rassig soos dit ook al mag wees want dit handel immers oor moorde op swart boere en plaaswerkers ook, blindelings beswadder.

Dit sal goed wees as die Suid-Afrikaanse missie nou eens en vir altyd behoorlik verkla word waar hul diplomatieke immuniteit hulle nie beskerm nie, sodat hierdie soort skandalige “diplomasie” teen eie burgers eens en vir altyd nek omgedraai kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Maryke Knoetze ·

Dan wonder hulle hoekom kry hulle nie hulle koerante verkoop nie. Ipv hieroor te berig moes ons op die lamppale lees Karlien speel nou in 7de laan. Asof iemand geinteresseerd is daarin.

Loeis ·

Ten minste is die wereldbeker rugby very, anders was dit die hoofnuus, gebruik om belangriker sake te verswelg.

Delia ·

Maryke, dit pla my nie as die SA’se koerante nie die aangeleentheid dek nie….wat vir my belangrik is, is dat die buitelandse media dalk wel sal kennis neem en die woord oorsee sal versprei. Gelukkig het ons darem nog Maroela en Praag hier wat ons inlig!

Gideon Jones ·

Die regering is dankbaar dat daar apartheid was, dit is al verskoning vir onbevoegdheid. Dit is die enigste kaart wat hulle het om te speel.

Eddie ·

Dink julle regtig die klomp narre van die ANC gaan worry oor wie wat se. Hulle is mos die untouchables en sal niks oorkom nie. Al wat nou gaan gebeur is dat oorsee se mense meer die nuus gaan dophou om te sien hoe die ANC verder hierdie land in die grond afdruk.

Heinrich ·

Indien ‘n mens met ‘n instansie gewerk het wat integriteit gehad het sou daar miskien een of ander poging tot ‘n verskoning wees. Maar ons werk hier met ‘n terroriste organisasie wat ‘n verskoning as ‘n teken van swakheid sien en nooit verskoning sal vra nie!

GES ·

Dit is so goed as om die duiwel te vra om verskoning te vra. Geen verskoning gaan enige moord ongedaan maak nie. Die ANC en sy leiers is baie baie slegte nuus.

Langtand. ·

Op dese aarde wie gee ‘ n flenter om of Karlien in ‘n sepie speel!
Is dit nou rerig iets om oor te berig!
Besef mense nie wat aangaan nie of draai almal n blinde oog? Hierdie moorde op weerlose mense is skrikwekkend en dis niks anders as volslae terrorisme nie!! Kyk die afgelope maand hoeveel ou mense is vermoor, hulle kom in groepe want hulle is sulke papbroeke en dan is die hulle teikens baie maklik om te oorrompel en te martel… Die wreedste maniere word gebruik!
Niemand in die regering sê iets nie, want dis alles in lyn met hulle beplanning!
Ek weet nie hoe nie, maar daar sal dringend n teenreaksie moet kom! Waar is die ou soldate wat geweet het hoe maak mens met sulke afstootlike barbare!
Hier is groot fout in SA, dit het vir die goeie burgers in n plek van hel verander! Mag God ons help!

Griki ·

Ek glo, hoop en vertrou dat die lede van die VN intelligent genoeg is om die waarheid raak te sien. Die ANC-regering het homself al so baiekeer blatant belaglik gemaak dat ek nie kan dink dat die VN-lede hulle glo nie.

Johann Marx ·

As die regering reken misdaad kan nie aan ras gekoppel word nie, is dit die beste nuus ooit. Dit wys duidelik dat die regering NIE rassisties is nie, en dat geen verdere rasgedrewe aksies in Suid Afrika sal plaasvind nie. So wanneer stop BEE en Regstellende Aksie en Kwota Stelsels en Tranformasie? Ek hoop die media volg op….

GES ·

BEE sal ophou die dag as wetgewing nie meer nodig is nie om ‘n oorweldigende meerderheid teen ‘n minderheid te beskerm. Dit blyk dat die meerderheid nie die vermoë het om hulle self te handhaaf en te bou nie.

Peet J ·

Wie het die Suid-Afrikaanse missie of sending met betrekking tot die huidige regering verteenwoordig in Geneve, kan iemand help asseblief?

Pieter ·

Dis mos maar die ou laai van veral naspes om iets liewer dood te swyg

Schalk ·

Pieter. Hulle moet dit dood swyg, hulle was tog ook die spreekbuis vir die Nasionaliste. Hulle verander maar so saam die regerings. Ek het nog nie gehoor dat hulle ooit onverskoning gevra het vir hulle bydrae in apartheid nie. n Familie lid het vir Naspers gewerk, daai jare sou jy nie n betrekking by hulle gekry het, as jy nie vir die Nasionale party gestem het nie.

Ester ·

Hoop van harte dat dit die kol sal tref in Geneve.. Julle mense wat goed in Engels is, plaas asb elke plaasmoord in die oorsese media sodat hulle bewus kan word van wat presies hier aan die gang is. Die internet het mos nie grense nie !!!!

Johann Marx ·

Delia, hoekom is dit belangrik dat die buitelandse media kennis neem? Hoekom bly mense dink dat die “buiteland” hier gaan ingryp? Die buiteland gryp net in waar daar olie of uraan is, of miskien goud. Vir die res voel hulle ‘n veer. Die buiteland het net hier ingegryp om die ANC te help aan bewind kom…..sodat hulle die ANC kan melk vir die land se steenkool, yster-erts en minerale. Nou dat dit leeg gemelk is, stel hulle nie eintlik belang nie. Elizabeth slaan die spyker op die kop. Volksmoord is aan die orde van die dag….toegesmeer onder die dekmantel van “misdaad”. Die tyd vir ‘n soortgelyke strategie om onsself te beskerm is absoluut ryp……

Etienne ·

Johann jy slaan die spyker op die kop. Kyk maar wat gebeur in Zimbabwe. Die mense word koelbloedig vermoor daar en die res van die wereld se maar net “Haai siestog” -Note to one self- do not visit Africa. Net soos hier is daar niks van waarde vir hulle nie so gaan maar aan ons sal later as daar niks meer oor is nie net inkom en alles oor vat. Die “beskermers” van Afrika.

alida ·

Karlien wie? Klaar 7de laan gekyk. Die koerante en tydskrifte het ons eers verswelg deur hul “gelukkige” huwelik en toe 2 weke later oor die “tragiese” egskeiding. Soek sensasie !!!!! As ek persoonlik nooit weer van haar of haar broer hoor of sien nie is dit te gou.

pop1 ·

Alida daar moet ek saamstem. Ek sal liewer graag van mense hoor wat die huwelik nog respekteer. Om terug te kom na die plaasmoorde. Lande oorsee sal net begin ingryp as daar 10 van ons oor is. Dan sal hulle dalk sanksies instel.

swanna ·

Die drie verteenwoordigers is uit die verkeerde ras in te bleek. Daar gaan niks van kom nie. In die verlede het die ander ras by engeland gaan huil en by die VN en daar was aan hul lippe gehang. Dit is hoekom ons is waar ons nou is. RDP.

Brendon ·

Fokus gou! Om iemand van rassisme aan te kla is rassisties, want gebaseer op die persoon se vel kleur, wil jy sê hy mag sekere sprake nie spreek nie

Shirley Wassenaar ·

Ek wil net dankie se vir Maroela Media, Praag, Vyheidsfront en Afriforum en die ander een wat betrokke is wat nog so omgee en ons op hoogte hou. Ek weet nie of daar iets sal van kom nie maar ons kan net bid dat hulle aandag daaraan gee. Ek bewonder die mense wat voor al daardie snobs moes praat ek sou dit nooit kan doen nie. Ek het net na Afriforum en nog een geluister en dit was werklik goed voorbereid. Trots op julle almal.

Ettienne Swanepoel ·

Die volk was gewaarsku oor wat nou in die land gebeur. Maar toe word ons gevloek en geskel. En 86% stem toe mos ja. Nou kla hul die meeste en almal het glo nee gestem. Vergeet van buitelandse hulp. Hul voel niks vir ons nie.

Paul ·

Ai tog boet. Wie het op jou geskel en gevloek? Word tog eakket en vergeet van wie ja en wie nee gestem het. Hou op om in die verlede te leef en besef daar is nie meer n ja en nee groepering nie.

Ettienne Swanepoel ·

Ai ou Paul. Jy is ook seker een van daardie wat met oogklappe rondloop. Skrik wakker boetie. Bietjie laat om nou te huil en om iets te wil doen. Die ja stemmers is nog met ons. In die terroriste se dinges opgekruip. Pleks jy maar net erken jy het ja gestem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.