Nuuskommentaar: Plaasmoorde se boek sonder einde

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

“‘Seblief. Pleistertjie vir die eina.” Eers toe die tweejarige Anri van Rooyen die pleistertjie vra het haar ouers besef sy is deur dieselfde koeël in haar magie getref wat haar pa verlam gelaat het. ’n Paar dae later sterf sy.

Nie baie ver van die toneel nie, is die kleine Willemientjie Potgieter soos haar ma, van agter in die kop doodgeskiet na haar pa met ʼn panga doodgeslaan is. Willemientjie, wie se ideaal dit was om ’n lofkleuter by die Kinderkrans te word.

Of die bejaarde wewenaar wie se voetsole afgeskil is om te verklap waar sy kluis is – ’n kluis wat hy nie gehad het nie. Liggaamlik het hy oorleef, maar sy dogter vertel van sy gees was min oor.

Dis soos ʼn boek wat net nie klaar geskryf kan word nie. Plaasaanvalle duur onverpoosd voort.

Ten spyte van die wreedhede waarmee plaasaanvalle gereeld gepaard gaan, is dit geen prioriteitsmisdaad soos dit tydens die presidentskap van Nelson Mandela was nie. Trouens, die vorige minister van polisie het AfriForum se poging om dit só te laat verklaar, as ’n publisiteitsfoefie afgemaak. Wie niks fout hiermee vind nie, durf ook nie moreel gesproke die argiewe oop te slaan by ʼn gewese minister wat gesê het Steve Biko se dood laat hom koud nie.

Maar die kliniese syfers spreek ook boekdele. Geïsoleerd as kategorie maak moorde op boere en hul gesinslede waarskynlik die identifiseerbare groep met die hoogste pro rata moordsyfer ter wêreld uit. Bruin mans in die Wes-Kaap wat volgens ou literatuur dié twyfelagtige “amptelike titelhouers” is, se syfer is effens laer as dié vir boere.

Dit is ongeveer drie tot vier keer so hoog soos Suid-Afrika se skrikwekkende hoë gemiddeld, en meer as twee keer so hoog as die gemiddelde moordkoers onder polisielede.

“Ek sukkel om nog woorde te vind om op die jongste plaasmoord te reageer,” skryf ʼn partyleier. ʼn Politikus sonder woorde? Maar dit is presies wat gebeur het na ʼn politikus wat so gereeld as moontlik op plaasmoorde reageer om druk op die regering te probeer plaas, op die soveelste moord in ’n baie bloedige week moes reageer. ʼn Mediaverklaring moes twee keer voor dit uitgestuur kon word, verander word omdat daar ook ’n tweede en derde plaasaanval plaasgevind het waartydens daar noodlottige gevolge was.

Binne ’n week na pres. Jacob Zuma se staatsrede van 2011 waarin hy geen woord gerep het oor plaasaanvalle nie, het vyf mense in plaasaanvalle die lewe gelaat. Gelukkig gaan dit nie altyd so nie. Maar in hierdie staatsrede het die president groot gewag gemaak van misdaad in sekere kategorieë wat flink gedaal het.

Elf jaar na die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se eerste verslag oor menseregteskendings op plase word ’n nuwe ondersoek nou gehou. Met die vorige verslag, en sy opvolgverslag in 2008, het plaasaanvalle wel in beginsel deel uitgemaak van die ondersoeke, maar die doelwitte is só bewoord dat dit gelyk het of dit eerder die algemene toestande, waaronder arbeidsverhoudinge op plase was, wat aan die beurt gekom het.

Die jongste mediaverklaring oor die ondersoek wat gister begin het, en tot vandag duur, SAHRC probes challenges facing farming communities, is ook polities korrek bewoord. Tog is daar een belangrike verskil – die jongste ondersoek word gelei deur een van die kommissarisse, Danny Titus, wat tot dusver in sy onderhoude met die media en artikels wat uit sy pen hieroor verskyn het, die indruk van groot ewewigtigheid skep.

In die handel en wandel het die huidige ondersoek dus die ondersoek na plaasaanvalle geword, en die meeste getuies wat gaan voorleggings doen, se fokus sal op die oog af gerig wees op die gevare waaraan plaasbewoners blootgestel word deur bedreigings wat van buite die plaasgrense kom. AfriForum, wie se klag by die Menseregtekommissie as een van die hoof-aanleidende oorsake van die ondersoek genoem word, het reeds ’n omvattende voorlegging gedoen.

Die verhoor sal hopelik vir van die oorlewende slagoffers help om hul trauma beter te verwerk. Beraders wat met hierdie slagoffers werk het lank reeds opgemerk dat hierdie trauma iets anders is – dis diep en hou nie op nie. Dit het die naam viktimologie gekry. Dit word deur die gevoel van afgesonderdheid, blootgesteldheid, ’n gevoel van in die steek gelaat te wees en ander faktore soos die wreedheid en die ongelooflike gevolge soos hele boerderye wat tot niet gaan, veroorsaak. Dink maar aan die sielkundige impak na die kommandostelsel en die vermoë om self iets te doen, afgeskaf is en toe nie soos beloof is, gou met ’n plaasvervangende stelsel vervang is nie. En dan te hoor ʼn veldtog om hul lot te laat aanspreek is ’n publisiteitsfoefie.

Spesiale beraderskursusse is al vir slagoffers van plaasaanvalle aangebied – waar die slagoffers vir ’n week lank na ’n veilige omgewing geneem word om intensiewe berading te ontvang, terwyl die slagoffers mekaar kan ondersteun.

Enorme ingrepe soos hierdie op mense word dikwels die onderwerp van ’n land se prosa en poësie. Van letterkundige skrywers word immers gesê dat hulle die gewete van die volk is – iets wat byvoorbeeld gereeld gehoor is toe skrywers en digters hul penne in gal gedoop het oor apartheid.

Tog is die letterkunde skraps aan die weergee van hierdie ingreep. Trouens, beskou die post-1994-skrywers hulle nog as die gewete van die volk? Op die gebied van die skilderkuns gee Pauline Gutter, plaasdogter van die Vrystaat die toon aan met haar reuseskilderye oor plaasaanvalle.

Sommige analiste raak driftig in hul betoë dat plaasaanvalle nie politiek gemotiveerd is nie. Hierin het hulle in alle waarskynlikheid reg, maar om daarom tot die gevolgtrekking te kom dat plaasaanvalle buite-om die politieke omgewing heen plaasvind, is doodgewoon oneerlike intellektualisme. Hoe kan byvoorbeeld geargumenteer word dat Mandela se opvolgers se skrapping van plaasaanvalle as prioriteitsmisdaad enigiets anders as goedkoop politiekery was? Hoe kan die feit dat die polisie nie afsonderlike statistiek hieroor byhou as nie politiekery beskryf word nie? Hoe kan die afskaffing van die kommando’s sonder om seker te maak die plaasvervangende strukture is in plek, nie as politiekery nie beskou word?

Les bes is dit blatante politiekery om slagoffers en hul ondersteuners wat dit as polities ervaar, daaroor te gaan betig.

ʼn Groot verantwoordelikheid rus nou op die Menseregtekommissie om, soos die openbare beskermer, sy rug styf te maak en nie in sy bevindings oor politieke inmenging te struikel, of voor politieke korrektheid te swig nie, en die regering tot verantwoording te roep. Anders gaan die stryd eenvoudig voort om die regering as skenders van menseregte in die buiteland te skilder.

Die vinger kan egter nie net na die regering en sy strukture gewys word nie. Die vrot appels onder die boere – en soos in enige beroep is daar – moet besef dat hul slegte behandeling van plaaswerkers ʼn buurman en sy gesin hul lewe kan kos. Algemene en plaasveiligheid mag nie verslap word nie. Die aanhou van groot bedrae geld soos vir lone, of warm geld van ʼn paar stuks vee wat “buite-om die boeke” verkoop is, trek aanvallers soos vlieë.

Mag hierdie ondersoek nie weer ʼn windeier baar nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Hanno Visagie ·

Netwerk24 : Stemme : Leuens, godsdiens en transformasie
“Dit is ongelukkig so dat ’n leuen as die waarheid aanvaar word as dit genoeg herhaal word. Dit betaam ons (en veral ’n teoloog) egter om by die waarheid te hou. Ek verwys na die artikel oor Steve Biko (DB, 11.09) waarin die valse stelling herhaal word dat Jimmy Kruger sou gesê het Biko se dood laat hom koud. Hy het dit nooit gesê nie. Ek weet, want ek was daar.”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.