Nuuskommentaar: Plaasmoorde vervolg …

Monument_Plaasmoorde-320x165Die nuwe jaar was nog skaars twee weke oud toe die eerste plaasmoord plaasvind – die moord op die 61-jarige Sarel Pretorius van die plaas Platfontein buite Barkly-Oos. Volgens AfriForum was dit die vyfde plaasaanval in vier dae.

Al argumenteer mense uit veral ‘n liberale hoek dat hulle blou in die gesig is dat die plaasaanvalle nié polities gemotiveer is nie, het dit ‘n vuurwarm politieke onderwerp geword. En dit is nie moeilik om te verstaan hoekom nie – die sterftesyfer onder boere en hul gesinslede is volgens die meeste gesaghebbende berekenings byna ‘n honderd per 100 000 per jaar. Dit is selfs effens hoër as die syfer onder bruin mans in die Wes-Kaap, wat algemeen as die hoogste identifiseerbare koers ter wêreld aangedui word.

Hierdie politiek-inkorrekte syfer word teësinnig verskaf, bloot omdat ‘n bekende liberale kommentator op ‘n radioprogram die omvang van plaasmoorde probeer kontekstualiseer het deur te sê die moordkoers onder Wes-Kaapse bruinmense (dus vroue en kinders ook) is “veel hoër” as die moordkoers onder boere.

In alle billikheid het hy wel gesê die plaasmoorde is erg en onaanvaarbaar.

Enkele lande het ‘n hoër moordkoers as Suid-Afrika se gemiddelde moordkoers. Suid-Afrika is egter ook die wêreld se verkragtingshoofsetel, en die punt is dat Suid-Afrika ‘n besonder gewelddadige samelewing het. Om veilig te wees, kos baie, met duiwelsvurkheinings wat in gekombineerde lengte China se groot muur na kleingeld laat lyk, diefwerings wat tronktralies ewenaar, alarms en gewapende reaksiemagte. Vir die president se veiligheid is sommer ‘n bunker en ‘n “firepool” ook ingesluit.

Dit is nie moeilik om te sien hoekom plaasmoorde en plaasaanvalle ‘n politiek-gelaaide kwessie geword het nie. Die aanvalle wat moorde oplewer is byna altyd oor rasgrense heen, en baie van die aanvalle word deur die grusaamste wreedheid gekenmerk. Die slagoffers is gewoonlik gereelde kerkgangers, en nie deel van die anti-kultuur waarvan hulle die slagoffers geword het nie. Hulle leef besonder blootgestel, wat ‘n besondere sielkundige impak het veral wanneer ministers en ander woordvoerders van die regering elke nou en dan die boere kollektief van allerlei grusaamhede beskuldig op ‘n trant asof dit ‘n algemene waarheid is.

Hiermee word nie gesinspeel dat die bendeverwante geweld op die Kaapse Vlakte nie ook onskuldige slagoffers oplewer nie. Kort-kort lees ons van onskuldige kinders wat in die kruisvuur tussen bendes sterf. Te midde van die anti-kultuur wat deur die bendes se dwelmkultuur in stand gehou word, is daar kort-kort jong slagoffers wat ontvoer, verkrag en vermoor word. Met die aanvang van die nuwe skooljaar het verskeie nuwe skoliere aangedui hulle is bang om skool toe te gaan omdat dit hulle aan die bendegeweld blootstel.

Dis onaanvaarbaar, en daarom reeds verskeie oproepe van die Wes-Kaapse regering dat die nasionale regering soldate moet ontplooi om die samelewing te help normaliseer.

Die bedoeling hiervan is nie om die een grusaamheidsgraad teen die ander af te speel nie. Die doel is bloot om te argumenteer dat dit heeltemal verstaanbaar is om politieke motiewe te lees in die regering se onwilligheid om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar. Die syfers spreek vanself, die impak spreek vanself, en die oproepe om dit tot prioriteitsmisdaad te verklaar (soos dit onder die presidentskap van wyle Nelson Mandela was) is nie goedkoop politiekery soos die minister van polisie dit probeer afmaak nie. Vir dié opmerking van die minister verdien hy reeds die F-simbool wat die DA aan hom toegeken het.

Die CDP het ‘n beroep op politieke partye gedoen om die komende verkiesing te gebruik om druk op die regering uit te oefen om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar. Maklik gaan dit wees nie. Volgens die nuusverklarings op die DA se webwerf het dié party nie op die jaar se eerste plaasmoord gereageer nie. Die Vryheidsfront Plus, gewoonlik die enigste van die vennote van die Kollektief vir Demokrasie wat op plaasmoorde reageer, het dié keer volgens die webwerf agterweë gebly. Die VF+ se standpunt is egter baie goed bekend.

Deur plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar – op sterkte van die kliniese syfers – kan die regering baie doen om die persepsie te verlig dat sy halsstarrigheid nie op politiekery neerkom nie. Dieselfde geld hoe dit teenoor die bende-kultuur op die Kaapse Vlakte optree. As die gemeenskap wil hê die weermag moet ontplooi word, is dit immers nie ‘n onbillike versoek nie. As die Wes-Kaapse regering ‘n kommissie van ondersoek na die disfunksionaliteit van die polisiestasies wil instel, is dit ongevraag van die minister om tot in die grondwetlike hof te baklei om dit te keer.

As Rome brand, moet daar nie viool gespeel word nie. Die “firepool” moet leeggeskep word om die brande te blus.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Pieter Potgieter ·

Dit het tyd geword om self op te tree. Daar is wit werklose mense wat boere kan bewaak as hulle opleiding kry en kos en klere vir betaling. Ons het nou genoeg gepraat vir 20 jaar. Ons boere is in die slagveld nie omdat hulle wil nie , maar as gevolg van ANC beleid. Moet reg in eie hande neem en skiet rowers op sig voor hul toeslaan.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.