Nuuskommentaar: Plaasmoorde, vrot munisipaliteite en AfriForum se 100 000

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het dié week pas aangekondig dat sy ledetal tot meer as 100 000 vermeerder het, of twee gebeurtenisse onderstreep die belangrikheid van dié organisasie.

Die ouditeur-generaal maak sy jaarlikse oudit-slagting onder die land se munisipaliteite bekend, en nog ‘n plaasmoord ruk die land.

AfriForum het ongelooflik baie ysters in die vuur. Onder meer wil die organisasie die hof nader oor Eskom se planne om drie Vrystaatse munisipaliteite weens agterstallige rekeninge se krag Maandag af te sny. Sou dit gebeur, word pligsgetroue betalers gestraf vir die wandade, en selfs misdade wat ander pleeg, wat veroorsaak dat kragbetalings se geld nie uiteindelik by Eskom uitkom nie. Hospitale en ouetehuise kan onder meer só in ‘n besonder strawwe winter hard geslaan word.

Wat plaasmoorde betref, lyk dit of daar darem nou ‘n liggie in die tonnel kan wees, met die nuwe minister van polisie wat aandui dat hy veel groter prioriteitsaandag aan hierdie euwel wil skenk. AfriForum se pogings hiertoe kan nouliks onderskat word. Dit is selfs geïnternasionaliseer met die saak wat by verskeie internasionale forums aanhangig gemaak is. Petisies is van stapel gestuur, en AfriForum moes in die proses heelwat kritiek ontbeer – nie net van die kant van regeringslui nie. AfriForum is onder meer daarvan beskuldig dat sy veldtog teen plaasmoorde goedkoop propaganda is, en dat dié organisasie dislojaal teenoor die land staan.

AfriForum het heel tereg daarop gewys dat sy optrede juis op die teenoorgestelde dui: dat diegene wat verbrou, se lojaliteit teenoor die land onder verdenking behoort te wees.

Ook rektore wat oor die wyse waarop hulle transformasie dryf, koppe met AfriForum gestamp het, het verwytend na dié organisasie as “regs” verwys. AriForum is egter op die juridiese terrein baie goed toegerus (soos sy suksestempo in hofsake dui), en sou hy “regs” wees, is die grondwet van die land ook “regs”.

Daar is egter min terreine waar die regering se beleid van kaderontplooiing (en waar die onbekwame kaders vasgebrand het, kader-herontplooiing) swak dienslewering tot gevolg het soos op munisipale vlak nie. Die gevolge is daar vir elkeen om te sien.

Net 9% het pas skoon oudits gekry, en die Vrystaat was een van die provinsies waar nie ‘n enkele munisipaliteit die pyp gerook het nie. Onregmatige uitgawes het met meer as 30% teenoor die vorige boekjaar toegeneem. Dit, ten spyte van taakspanne en ander ingrypings, sommige inisiatiewe voortspruitend uit die era van minister Sicelo Shiceka, met sy mislukte Operation Clean Audits 2014. Die regering het maar baie onlangs eers erken dat hierdie doelwit nie bereik gaan word nie, en die toets is ook met onderskeiding gedop.

Maar die skrif was lankal aan die muur, of liewer, die riool lank reeds in die drinkwater. Ook hier het AfriForum reeds lank, en oor baie jare, ingegryp. Soms gedreig met die howe, en waar moontlik met hande uitreik gehelp dat van die probleme opgelos word. Dit het verskeie babasterftes gekos voor die minister van waterwese erken het dat onbekwame mense in poste sit, en vir die probleme verantwoordelik is.

Die regering se verwyte teen AfriForum oor die internasionalisering van plaasmoorde is erg misplaas. Verskeie buitelandse burgers is reeds in plaasaanvalle vermoor, of was ooggetuies van plaasmoorde, en so het die probleem homself geïnternasionaliseer, en media in die slagoffers se lande van herkoms het dan ook daaroor berig, met volop data oor die omvang en die ongelooflike wreedheid daarvan.

Pas was ‘n Britse burger, Christine Robinson, die slagoffer van ‘n plaasmoord buite Thabazimbi waar sy die Rra Ditau Bush Lodge besit het. Dit sal vreemd wees as ‘n paar Britse koerante wat reeds hul rolperse in gal gedoop het oor die euwel, nie weer ballisties raak oor hierdie geval nie. Gaan die regering (of enige politieke party) formeel met die Britte simpatiseer soos protokol vereis?

In grondwetlike demokrasieë speel burgerlike instellings ‘n enorme rol, en word saam met byvoorbeeld ‘n vrye media as integrale deel van die grondwetlike demokrasie beskou. Suid-Afrika het wat dit betref, effe stadig uit die blokke gekom, maar beskik nou oor ‘n wye verskeidenheid, soos Freedom Under Law, Outa en ander. Maar min kon nog daarin slaag om so ‘n reusevoetspoor te laat soos AfriForum.

Saam met vennote soos Solidariteit en Helpende Hand word ‘n gedugte span gevorm wat saam meer as ‘n kwartmiljoen ingeskrewe lede het. Hulle is politiek onverbonde, en die beskuldigings van “regs” wees is erg misplaas as in ag geneem word dat opnames toon dat die meeste van hierdie lede hul kruisies by die DA trek.

Dié politieke onverbondenheid is baie belangrik, omdat dit die organisasies in staat stel om enige party wat teen die belange van die mense optree, tot orde te roep. Soos Flip Buys, hoof van Solidariteit dit stel: “Sterk Burgerlike Gemeenskapsorganisasies is veral noodsaaklik in ‘n land met ‘n eenparty oorheersde stelsel én ‘n verswakkende staat.”

Dit is trouens ‘n skrikwekkende gedagte waar die land kon gewees het as dit nie vir burgerlike instellings was nie. Julius Malema se haatspraak sou moontlik nie in die howe gestuit gewees het nie. Pretoria sou lankal nie meer op die landkaart gewees het nie. Daar sou waarskynlik geen herbesinning oor e-tol gewees het nie. Afrikaans as onderrigmedium op universiteite, en heelwat meer skole, sou reeds iets van die verlede kon gewees het.

En binne hierdie versameling kan die rol van die Solidariteit-familie, waarvan AfriForum een is, nie onderskat word nie.

Maar daar lê nog ‘n enorme veld braak. Dit is in elke lid se belang dat daar nog baie, sommer regtig baie ander aansluit, al is dit ook net om ‘n aftrekorder te teken, sodat die reuse uitdagings wat die hoof gebied moet word, doeltreffend aangespreek kan word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Hanno Visagie ·

Anders as die meeste Afriforum-lede wat ANC-light stem, is ek dankbaar om as weergebore Christen vir die Vryheidsfront te kan stem.

Danie ·

Baie geluk Afriforum!Ek het laas jaar aangesluit by Afriforum,Solidariteit en Helpende Hand,en sedertdien my maandelikse aftrekorder 2 keer verhoog,en ek gaan weer.Ek kanselleer onnodige uitgawes en gee eerder vir Afriforum en Helpende Hand.
Ek voel so trots om n bydrae te kan maak,en ek het baie meer hoop en ek voel ek behoort iewers.
As n volk nie n stem het nie,word daar nie na hulle geluister nie.Afriforum en Solidariteit is ons stem.En soveel meer.Nie net praat mense nie.Doen mense.
Ek is seker daar is nog baie Afrikaners wat n bydrae kan bekostig,en dit nog nie doen nie.Ons kan nog sterker,beter.Probeer dit en sluit aan.Dit voel lekkerrrrrrr.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.