Nuuskommentaar: Plaasmoordnaasbestaandes verdien beter as polisie-rondstampery

Foto: AfriForum

Foto: AfriForum

Die nuus dat naasbestaandes van plaasmoordslagoffers en lede van AfriForum tydens ’n vreedsame betoging by die polisiehoofkwartier in Pretoria deur polisielede rondgestamp en met inhegtenisneming gedreig is, laat ’n wrang smaak en ontbloot een van die dryfvere dat die betoging in die eerste plek gehou is … ’n dikwels arrogante apatie oor die nodigheid om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad te verklaar. Vanjaar is reeds sowat 30 boere en hul gesinslede tydens plaasaanvalle vermoor, en die land sidder nog oor die wreedheid waarmee sommiges plaasgevind het.

Dit is ook nie die eerste keer dat die polisie sê dat hulle van g’n sout of water weet dat toestemming verleen is vir die hou van ’n wettige betoging nie. Enigeen wat net iets van AfriForum weet, sal weet dat so iets nie sonder die nodige goedkeuring sou plaasvind nie. Trouens, AfriForum het voorheen reeds hof toe gegaan toe die polisie onbillik toestemming geweier het. Boonop beskik AfriForum oor die bewyse dat onder andere die minister vooraf ingelig is oor die hou van die wettige betoging.

Of dit moedswilligheid is, of administratiewe lompheid waar die linkerhand nie weet wat die regterhand doen nie (en dit soms sommer lyk of die linkerhand ook nie weet wat die linkerhand doen nie), hierdie soort optrede wek die indruk van ʼn piesangrepubliek-polisiediens.

Die aantal basiese menseregte wat die polisie in die proses geskend het, is ellelank. Dit word vererger deurdat dit gemik was teen mense wat in die ergste graad getraumatiseer is. Dit is tragies as in gedagte gehou moet word dat die polisie juis op die voorpunt behoort te staan van die saak van die regverdiges.

Gelukkig is daar ook heelwat gevalle waar landbougemeenskappe met groot lof van die polisie se optrede en reaksie op plaasaanvalle getuig. In sommige kringe is daar selfs ’n gevoel dat AfriForum se optrede weer ’n wig kan indryf waar verhoudinge met moeite opgebou is. Die een saak sluit die ander egter nie uit nie – AfriForum se veldtog handel onder meer dat plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad verklaar moet word (en oor die nodigheid hieroor kan geen rasionele mens wat nie sterk rasgedrewe is nie, tog verskil nie), dat akkurate statistieke bygehou en bekend gemaak moet word, en gereelde neerhalende opmerkings van senior polisielede (en selfs politici) teenoor diegene wat vra dat plaasaanvalle geprioritiseer word, gestaak word.

Dit is immers duidelik dat plaasaanvallers nie die boodskap sal kry dat plaasbewoners dieselfde regte van veiligheid as ander burgers het nie, tensy daar behoorlik oorlog hierteen verklaar word. Dié boeregemeenskap is geen vrybuit nie, maar in heelwat gevalle waar die aanvalle deur burgers van buurlande gepleeg is, word die indruk juis gewek dat die aanvallers gemeen het hulle tree met ’n onuitgesproke sanksie op.

Die regering maak hiervan ’n politieke spel, en kla as hy politiek gekonfronteer word.

Die mees basiese beginsel van demokrasie is dat die regerende party nie in belang van die meerderheid regeer nie (want dit is die tirannie van die meerderheid), maar in algemene belang.

Minderhede kan nie maar net soos vreemdelinge in hul eie land laat voel word nie. En as iemand dan juis die slagoffer hiervan word, en ’n instansie soos AfriForum staan vir hierdie regte op, verdien hy of sy beter as om rondgestamp te word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Melt Olckers ·

Een probleem wat duidelik aangespreek moet word is die betrokkenheid van Polisie Beamptes by plaasmoorde. Gereeld word berig dat Polisie Beamptes betrokke is. Dit alleen wys dat daar ‘n probleem in die SAPD is wat die publiek se vertroue skaad.

Johan 2 ·

Het julle dit dalk afgeneem? Ek sal dit graag met ander deel op youtube…

Bruno Stef ·

Die Afrikaner tree op soos hulle opgevoed is maar dit het ook n punt bereik dat sommiges onder ons se geduld gaan opraak Ek verwys na gevalle wat fris boereseuns hulle self verdedig het met nagevolge wat opgeblaas word in howe en die manne dan as die aggresors uitgemaak word terwyl hulle net hulself verdedig het.Ons mense pleeg nie misdade op plase en inbrake by woonhuise vermink/verkrag/vermoor ander mense nie.

Theresa ·

As iemand nog nie agtergekom het dat die polisie niks voel vir ons witboere nie dan bly jy onder ‘n klip. Dit sal nooit verander nie. Hulle voel niks vir ons nie. Hoe minder daar van ons is hoe beter vir hulle…………….

tina ·

Goeie samevatting Herman. Beter kan ‘n mens dit nie uitdruk nie en is dit ook my gevoelens. ‘n Mens kom tot die oortuiging dat die plaasaanvalle en op blanke burgers in stedellike gebiede, ‘n agenda is van sekere politieke groepe om die boere en hul families van hul plase te vervreem en vrees by blankes te wek.

Henry ·

Weereens bewys dat geen lid van die regime se polisie naby my, my mense, my eiendom of my esel wat in my poorte is, toegelaat word nie.
>?”% hulle!!!

iemamd ·

Daar was gisteraand weer n plaas aanval hier op Levubu in Limpopo, alby the mense wat aangeval was is blykbaar hospitaal toe. Ek wens ek het meer geweet, die tannie was n oud onderwyser van my.

my ouers is ok n jaar of wat terug aangeval.

dis lankal nie net meer iets wat met ander mense daar doer ver in die kaap gebeur nie, dit gebeur met my mense, elke ander dag in my omgewing en dit maak my bang.

Marius ·

Die witman moet besef hy bly nou in n kommunistiese land. In alle kommunistiese bedelings is die algemene publiek n vyand van die polisie. Dit het nou al n paar keer gebeur dat ek summier uit die internet geskop word sodra ek sekere berigte probeer oopmaak, onder andere wanneer Steve Hofmeyr betrokke is. Weet iemand iets hiervan? My kommentaar op n ander berig het ook voete gekry, ek het beslis nie lelik gepraat nie.

Joe64 ·

Die ANC WIL JOU VERWOES, maar jy kom dit nie agter nie. In jou kop is daar iewers hoop in die kultuur van die dwase. Die huidige strategie kos geld, terwyl dit hulle niks kos nie, en het jou belasting geld as hulle iets nodig kry.
Die strategie moet drasties verander, want die tempo waarteen jou mense plek en bestaansreg verloor is baie gevaarlik. Hou op om met belasting geld te mors in howe. Identifiseer persone, WIE is verandwoordelik vir die agteruitgang in Hospitale, werk met daai persoon.
Die huidige strategie om met die hoof persoon wat jou wil vernietig te werk en dink hy gaan die volgende persoon wat hy self vertel het om jou te vernietig aan te spoor om jou te help met die persone wat deur hom aangese is om jou te vernietig en te dink dit gaan jou van enige nut wees; dit verg werklik ‘n wonderlike hoeveelheid onnosel.

Johan Barnard ·

Hoekom is daar nie ñ video geplaas van die voorval saam met hierdie artikel geplaas nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.