Nuuskommentaar: Planeet Zuma

Jan van Riebeeck land in Tafelbaai in April 1652 Grafika:  Charles Davidson Bell (1813–1882)

Jan van Riebeeck land in Tafelbaai in April 1652 Grafika:
Charles Davidson Bell (1813–1882)

Terwyl wetenskaplikes nou al meer as ’n duisend planete ligjare van die aarde af gevind het, bekend as eksoplanete, en sommige wetenskaplikes wat glo daar is minstens twee groterige onontdekte planete in ons eie sonnestelsel maar baie ver van die son af, is daar ʼn planeet in ons eie midde: Planeet Zuma.

Pres. Jacob Zuma het dit pas weer self gedemonstreer, toe hy in ’n onderhoud met die SAUK verklaar hy het nie wit mense met sy Jan van Riebeeck-stellings beledig nie; net die feite gestel.

En dis waar die moeilikheid inkom. Dit handel nie net oor ’n persepsie van die geskiedenis nie, maar ’n weergawe van die geskiedenis wat nie juis in geskiedenisboeke gevind kan word nie. Maar Zuma staan nie alleen nie, en Jan van Riebeeck se koms is nie die enigste geskiedenisgreep waaroor verskillende gemeenskappe heel verskillende weergawes het nie. En dis boonop ’n internasionale verskynsel.

In dieselfde onderhoud het Zuma gesê die ANC streef nasionale versoening na, en dit as verduideliking gebruik oor hoekom hy nie daarvan beskuldig kan word dat hy wit mense beledig het nie.

Dat dit, na 21 jaar (eintlik ’n paar jaar meer) van amptelike “nie-rassigheid” vir die ANC steeds primêr oor ras handel, is nou nie juis ’n getuigskrif van Zuma se aanspraak dat die ANC nasionale versoening nastreef nie. Juis die teenoorgestelde aansprake het al uit die monde van leiers binne die ANC gekom wat meen, en daarop aanspraak maak, dat die Nasionale Vredesakkoord nie meer bestaan nie, of ten dele nie meer bestaan nie (go figure), en dat daarom afgewyk kan word van sake waaroor plegtig ooreengekom is. Hulle is nié deur die ANC gerepudieer nie.

Waar ter wille van nasionale versoening ’n reëling getref is dat plekname behoue sou word (tensy die name aanstoot gee), maar munisipaliteite hul eie name kan kry en foutiewe weergawes van name gebruik is, het plekname in kulturele strooptogte in veral sommige provinsies soos domino’s geval. Hier en daar het leiers, soos die burgemeester van Tshwane, gesê name word juis ter wille van versoening verander, en selfs die “nalatenskap van Madiba” daaraan gekoppel. Dus nou ’n heel groot onlekkerte toe die persoon wat waarskynlik dit wat oud-pres. Nelson Mandela se nalatenskap behels die akkuraatste kon weergee, ’n vloermoer kry oor die manifestasie daarvan.

Ter wille van ʼn ander perspektief. Die geskiedenis wat die blankes skryf, is ook nie altyd akkuraat nie. Diegene wat die voorreg het om ou boeke te geërf het wat ’n paar geslagte lank in ’n familie saamgekom het, kan gerus kyk hoe die geskiedenis van die slag van Bloedrivier oor tyd verander het. Vir ʼn paar dekades lank het die aantal swart en bruin mense in die laer al hoe minder geword, sodat daar in ’n stadium kwalik berig is oor Alexander Biggar en sy span swart skerpskutters uit Port Natal. ’n Paar jaar gelede het ’n vooraanstaande teoloog in ’n artikel oor Bloedrivier in ’n kerklike tydskrif die lesers erg uitgetrap oor hulle nie hul geskiedenis ken nie. In sy weergawe was daar ook geen bruin en swart mense in die laer nie, maar wel vroue en kinders. Andries Pretorius het egter geweier dat vroue en kinders saamgaan omdat dit ’n strafkommando was.

Die “apartheidsweergawe” van geskiedenis het nie eers in 1948 begin toe die Natte aan bewind gekom het nie. In 1949 het die destydse minister van onderwys, A.J. Stals, ʼn boek, Die gedenkwaardighede van Suid-Afrika, onderteken waarvoor die navorsing reeds voor 1948 gedoen is. Dit span die kroon op 15 jaar lange werk deur die Kommissie vir die Behoud van Natuurlike en Historiese Erfenisse. In kort, onder historiese gedenkwaardighede word slegs die kultuurhistoriese neerslag van die blankes weergegee. In die Vrystaat was daar destyds net vyf sulke historiese gedenkwaardighede gelys, terwyl darem veel meer in die destydse Kaapprovinsie gelys is, veral die dele wat langer gekoloniseer was. Die San, Khoi en swart mense se kultuurhistoriese bydraes is onder “natuurlike en wetenskaplike gedenkwaardighede” gelys.

Benewens Zuma se weergawe oor Van Riebeeck wat sterk binne die ANC se strategie pas om kolonialisme vir die ANC se foute te blameer, oor watter ander kwessies het Zuma en sy mense al ’n eie weergawe geskets? Om dit volledig te lys, beteken dat die politiek-korrekte handskoene uitgetrek moet word, en dat die persoon wat dit stel in alle waarskynlikheid as ’n (bedorwe) rassis uitgemaak sal word. (Dink maar aan die vreeslike skrobbering wat dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, in die parlement en van verskillende partye, en selfs Afrikaanse kommentators, te beurt geval het toe hy aan Zuma ’n suiwer geskiedenisles oor historiese grondbesit voorgehou het. Analiste wat nie fout met Mulder se feite kon vind nie, het hom oor sy “onsensitiwiteit” geknyp. Die feit is, die skewe weergawe het bly voortbestaan en het nou wéér polariserend toegeslaan.) Gaan die “Ek is Jan”-veldtog, met T-hemde kompleet, dit duidelik maak dat nuwe historiese insigte nodig is voor aanbeweeg kan word, of gaan die veldtog ge-Mulder word?

  • Zuma het ’n jaar of wat gelede op TV oor die behoefte vir grondhervorming gesê die meeste tradisionele swart grond val in die droë en onvrugbare dele. Dit is bedoeld, of onbedoeld, ’n volledige kluitjie. Dit is trouens merkwaardig hoe die ou tuislandgrense grootliks met die hoë reënval-isotoopkaarte ooreenval. Argeoloë en antropoloë gebruik ook hierdie kaarte om swart migrasieroetes in Suid-Afrika in te verklaar, en spesifiek die isotoop waar boerdery sonder besproeiing (of erg aangepaste gewasse wat later gekom het) kwalik moontlik sal wees. Oor die kwessie van grondvrugbaarheid kan ook maar net tong in die kies gevra word of die gebruik van kunsmis nie ook ’n Westerse konsep is nie.
  • Zuma het by herhaling klein lappies aarde as teenvoeter vir landelike armoede gebruik. Die werklikheid is dat omstandighede in die kommersiële landbou dikwels vereis dat boerdery-eenhede al hoe groter moet wees om lewensvatbaar te wees. Landou-ekonome kan presies uitwerk wat die minimum-grootte is wat ’n boerdery-eenheid in ʼn bepaalde area moet wees dat die eienaar vir homself ’n inkomste kan genereer gelykstaande aan die minimumlone wat deur wetgewing vasgestel word. In betreklike hoë reënvalgebiede is dit dikwels ʼn paar honderd hektaar. Klein plasies, tensy met intensiewe, hoogs wetenskaplike boerdery soos tonnelboerdery (en dus die beskikbaarheid van volop water) bedryf word, gaan dus armoede in die hand werk, nie dit bekamp nie.
  • In ʼn artikel in Rapport het die destydse minister van landbou, Tina Joemat-Pettersson, geskryf dat grond wat die bruin mense en Indiërs besit het by die 13% ingesluit is wat die oorspronklike tuislande beslaan het. Dit is onwaar. Syfers is moeilik bekombaar, maar dit is heel moontlik dat die sowat 26 bruin landelike gebiede, waarvan sommiges soos Mier en die Richtersveld, enorm groot is, saam meer as ’n miljoen hektaar beslaan het. Boonop het bruin mense ook aansienlike hoeveelheid stedelike en eiendom en dorpserwe besit. Boonop is dit onjuis om na 1994 dit steeds te stel dat blankes die ander 87 besit. Die ANC-beheerde staat besit groot areas, soos die ruimte wat spoorlyne en paaie opneem, nasionale parke, weermaggronde, staatsplase, bewaringsgebiede, grond wat deur bruin mense en ander minderhede besit word, en vele meer.
  • Zuma het nou herhaal dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel. Dit kom voor of Zuma met die mite volhou dat swart mense die eerste bewoners van die land was. Die werklikheid is dat swart mense laat-aankomelinge in die land was, en afgesien van grond van die Khoi en die San af te neem, ook op ander wyses nie mooi met dié bevolkingsgroepe gewerk het nie. Terwyl die aansprake oor “grond gesteel” volgehou word, veral verbaal geuit deur die EFF, beskryf die ad hoc-komitee oor grondbesit dié stellings as die groot leuen. Verskeie gerekende instansies en persone is deel van hierdie komitee.

Grondsteel’n Groot probleem is dat dit wat Zuma verkeerdelik as feite opdis, ook deur baie ander, veral swart mense as feite voorgehou word. Dit blyk by uitstek uit syfers wat die Matie, Charl Swart, versamel het om in sy meestersverhandeling in Politieke Wetenskap te gebruik (sien tabel hiernaas). In wese kom dit daarop neer dat ʼn groeiende aantal mense van alle rasse glo dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel. Met die laaste opname, in 2007, was 80 % van die swart mense reeds dié mening toegedaan.

Hoe moet op die verskillende weergawes en persepsies van die geskiedenis reageer word dat dit nie aanhou om rassepolarisasie te verdiep nie, veral teen die agtergrond van die ANC se verbluffende rasbeheptheid?

Moet bloot aanvaar word dat die oorwinnaar die geskiedenis skryf? Om by dié punt uit te kom moet egter aanvaar word dat iemand die ou stryd gewen het, en dit nie uiteindelik in onder meer ʼn vredesakkoord besleg is wat veronderstel was om geen wenner en geen verloorder op te lewer nie.

Word die standpunt aanvaar dat die ANC die oorwinnaar was en sy weergawe van die geskiedenis dus moet geld, kan bloot gewag word dat die skoolleerplanne deursuurdeeg om minstens die jonger generasies van die ANC se geskiedenisweergawe te oortuig. Uit die tabel kan afgelei word dat al hoe meer blankes, bruin mense en Indiërs reeds op daardie voerband is om te glo blankes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel.

Of die leiers van minderheidsgroepe kan eenvoudig die rug styf maak, en aandring dat die vakgebied geskiedenis nie verdien om vir politieke oogmerke verpolitiseer te word nie, dat nasionale versoening wat nie om die harde werklikheid gebou kan word nie, bloot in die wind gebou word.

Zuma en sy kornuite moet besef dat die land se heil nie lê in die skep en uitbou van planeet Zuma nie. Dié planeet is ’n lug-Nkandla, en Suid-Afrika is vierkantig in ’n wêreld geanker waar die geskiedenis deeglik deur gerekende historici sonder politieke oorwegings opgeteken is; die land is deel van ’n wêreld waar korrupsie nie maar net ’n Westerse konsep is nie (in teendeel as na die ranglys van die korrupsiepersepsie-indeks gekyk word); waar ’n lewensvatbare bestaan nie op ʼn klein lappie grond in die Karoo of soortgelyk gewurg kan word nie; waar apartheid nie vir (al) Eskom se probleme geblameer kan word nie; waar staatsgeld opraak as dit op onnodige luukshede en Nkandlas geblaas word.

En Davos is op die planeet aarde, nie planeet Zuma nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hanno Visagie ·

Verbasend is die volgehoue media-verswyging van die na-1994 ANC-SATV politiesgeskiedkundig skewe propagandaprogramme veral later op Sondagaande oor SATV2.

Eliza-beth ·

Herman, ek gaan sommer kommin wees en sê ek laaaik jou! Dankie vir jou skrywe – jy sien altyd albei kante raak en gee mens perspektief op dinge sonder om “kant te kies”, as ek dit so mag stel.

Herman Toerien ·

Baie dankie. Ek is natuurlik ook ‘n mens wie se bloed kan kook en yskoud kan word, maar ek probeer om vakkundig suiwer te bly, en objektief. Daar kom tye wat dit moeilik is. Bv oor plaasmoorde. Die seuntjie wat langs ons grootgeword het en tot sy volwasse lewe weens ‘n hartdeffek klein en tingerig was, is saam met sy swaer met masjiengewere tydens ‘n plaasaanval afgemaai. Toe is my skoonpa se broer wat alleen op die plaas woon, oorval, beroof, met ‘n mes gesteek en vasgebind gelos. Toe is my skoonma en haar huiswerkers oorval, vasgebind en die kluis leeggemaak. In ‘n stadium het ‘n vrou vir my vertel hoe die plaasaanvallers haar wewenaarpa se voetsole tot niet gebrand het om te verklap waar die kuis is wat hy nie gehad het nie. Nou woon ons oudste seun alleen op ‘n plaas. Hy was al twee keer saam met die plaaswag op die spoor van plaasaanvallers uit sy omgewing. In die mees onlangse geval het hulle ses aanvallers (Zimbabwiërs) aangekeer. Dis natuurlik vir ons baie sleg om te weet hoe blootgestel hy is, en ek sal nooit stry as iemand sê ek is subjektief of tot ‘n mate subjektief oor plaasaanvalle nie. Maar ek daag enigeen in my posisie uit om te bewys dat hy meer objektief as ek oor plaasaanvalle kan skryf. Herman

Eliza-beth ·

Sjoe Herman, jinne my ou, jy het jou deel van probleme gehad! En jy bly nog in SA – dit wil gedoen word! En ja, ek stem beslis saam, ek sal ook enigeen uitdaag om te sê jy is nie objektief nie! Verder geniet ek jou skrywes altyd, doen so voort! Groetnis

John White ·

Uitstekend! Ons gaan die geskiedenis, en veral die Apartheidsgeskiedenis moet herformuleer en die false propaganda oorwin!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.