Nuuskommentaar: Platinum-handdruk vir Zuma?

Jacob Zuma6 GCISDie asem is opgehou dat die ANC soveel steun in die afgelope verkiesing sou inboet, dat pres. Jacob Zuma op die een of ander wyse gedwing sou word om die presidentskap neer te lê.

Hoewel die ANC met 15 setels minder na die Nasionale Vergadering terugkeer, en die party ongeveer vier persent steun verloor het, is die wye konsensus dat Zuma dié ene oorleef het. Maar Zuma se probleme is klaarblyklik nie op ‘n einde nie, en dit sal goed wees om die oog te hou op verwikkelinge wat tog die president se kop kan laat rol:

– Pas het agt vakbonde wat filiale is van Cosatu, dié vakbondfederasie gedagvaar oor Cosatu se president, Sdumo Dlamini, se weiering om ‘n spesiale kongres te hou soos minstens ‘n derde van die lidvakbonde reeds twee keer in terme van die Cosatu se grondwet gevra het. ‘n Maand gelede, voor die verkiesing, het ANC-ringkoppe spesiaal ingegryp om ‘n skeuring te voorkom, sodat die verkiesing sonder hierdie blok aan die been oorleef kon word.

Die fyn skrif is dat Dlamini ‘n Zuma-man is, terwyl Numsa, wat sedert verlede jaar die grootste vakbond binne Cosatu is, nie Zuma steun nie. ‘n Spesiale kongres kan dus die invloed wat Zuma op Cosatu het, ernstig knou en die sekretaris-generaal, Zwelinzima Vavi, weer volledig in beheer plaas. En Vavi moes hom juis tot die hof wend om na sy skorsing in ere herstel te word. Groot belange en baie suur sop is in die spel betrokke.

– Terselfdertyd het die arbeidsonrus in die platinumgordel nie ‘n “vakansie” oor die verkiesingstyd geneem nie, en stu nog steeds voort met die mynmaatskappye wat nou buite-om die stakers se vakbond, Amcu, moet werk. Amcu, wat die gevaar loop om erg in aansien by sy lede geknou te word, reageer uiteraard heftig op hierdie verwikkeling. Die Cosatu-geaffillieerde NUM maak juis daarop aanspraak dat baie Amcu-lede na hom terugkeer. Die NUM is ook Zuma-gesind, en tot die begin van verlede jaar nog Cosatu se grootste vakbond en ruggraat.

Die staat het reeds teen die einde van Maart sowat R10 miljard aan belastinginkomste weens die staking verloor, terwyl die totale koste vir die land sowat R400 miljard was. Terselfdertyd het die ANC verkiesingsbeloftes gemaak wat skrik vir niks.

– Teen Dinsdagaand het daar weer onluste by Marikana uitgebreek. Vanoggend is berig dat sestien mense, waaronder veertien vroue, in hegtenis geneem is. Die spanning word verhoog deurdat stakende werkers tot vandag kans gegee is om na die werk terug te keer. Vroeër is drie mense wat blykbaar wou gaan werk vermoor. Op die oog af lyk dit of die situasie nog baie ver van genormaliseer is, en steeds druk op die ekonomie en Zuma se regering gaan plaas.

– Die sogenaamde snoerwet lê ook nog op Zuma se tafel om geteken te word. Sy voeteslepery hiermee het veroorsaak dat Suid-Afrika weens ‘n misverstand met tien plekke op die persvryheidsindeks verbeter het omdat Verslaggewers Sonder Grense verkeerdelik gemeen het Zuma “weier” om die wetsontwerp te teken. Sou hy dit teken, is Suid-Afrika weer onder groot internasionale druk, en sal daar in alle waarskynlikheid weer hofsake wees.

– Verskeie spoke sal nou na die verkiesing weer opgerakel word, waaronder Nkandla nie die minste gaan wees nie. Daar is egter ook onafgehandel regsprosesse waaronder een wat daarop gemik is om die bedrog- en korrupsie-aanklagte teen Zuma te laat bereg.

Die afgelope aantal jare het stakings deur Amcu die platinumprys die hoogte ingejaag. Dié keer het die patroon anders verloop – die platinumprys is nou bykans dieselfde as wat dit ses maande gelede was, en ook vier maande gelede voor die staking begin het. Wat egter in gedagte gehou moet word is dat die platinumprys kort voor die staking skerp getuimel het – van ongeveer $1 450 per ons tot net bo $1 300 per ons. Na dit duidelik geword het dat die staking gaan kom, het die prys tot bykans $1 427 gestyg, voor dit min of meer rondom die huidige prys gestabiliseer het.

Op die oog af lyk dit of opgepotte reserwevoorraad platinum en palladium in Suid-Afrika en Rusland pryse redelik konstant gehou het. Na raming sou die meeste platinumprodusente in Suid-Afrika se voorraad nie later nie as begin Mei uitgeput raak, terwyl Rusland se palladiumreserwes skynbaar opraak, en Rusland boonop sanksies weens die Oekraïne op die lyf loop. As van die myne nou moet sluit of afskaal, sal die domino-effek aansienlik wees.

Hoewel dit nietig klink, is die ANC se verlies aan setels in die nasionale vergadering, waarskynlik in die nasionale raad van provinsies, en die provinsiale wetgewers kollektief aansienlik. Dit raak ook die hoeveelheid personeel wat die ANC op staatskoste kan aanstel. Die ongelukkigheid onder party-lojaliste wat dit nie “maak” nie, veral as hulle nog hard gewerk het, kan verskerp word as daar plek gemaak word vir Cope-oorlopers soos Julie Killian en Nic Koornhoff. Selfs die posisie van Annalize van Wyk, wat as voorsitter van die komitee oor polisie die indruk van standvastigheid gee, se posisie is in die gedrang.

Die ANC sal nou ernstig moet besin of die party nog vir Zuma as “gesig” kan gebruik wanneer die landswye munisipale verkiesings oor minder as twee jaar moet plaasvind. Met Zuma aan die hoof is daar altyd die moontlikheid, so lyk dit, of daar “onverwags” nog ‘n skandaal of reuse verleentheid kan opduik. Wêreldwyd is kiesers met munisipale verkiesings minder geneig om op ideologiese of party-lojaliteitsgrondslag hul kruisies te trek, en meer gerig daarop om hul kruisies te trek by die persoon of party wat hulle meen die beste dienste sal verseker.

Indien die ANC wil verseker dat nie verder agteruit geboer moet word nie, sal reeds baie gou ‘n besluit geneem moet word om Zuma te “herontplooi”. Sy opvolger sal genoeg tyd wil hê om so veel as moontlik van die Zuma-skade ongedaan te maak, en homself as leier te vestig. Die mantel sal volgens alle aanduidings op Cyril Ramaphosa val.

Hierdie scenario kan dalk baie mense se dagdromery bly. Zuma is ‘n politieke Houdini en sy Zumafikasie is so voltrek dat talle mense se koppe waarskynlik sal rol as Zuma die aftog moet blaas. Boonop het die Zumafikasie grootliks saamgeval met ‘n Zoeloefikasie – tot so ‘n mate dat oud-pres. Thabo Mbeki, asook Winnie Madikizela-Mandela, hul monde oor “tribalism” uitgespoel het.

Zuma het voorts die voordeel gehad dat hy op die golf van die ANC se eeufeesvieringe, en die sentimente oor die afsterwe van oud-pres. Nelson Mandela kon ry. Daardie “kragbronne” is nou iets van die verlede.

Ongeveer 22 jaar na die laaste apartheidswet deur die vorige regering afgeskaf is, het Zuma en die ANC nog apartheid soos ‘n ou koei uit die sloot gegrawe. Uiteindelik moet hierdie lokaas vir stemme so oud word dat dit onbruikbaar van die hoek afval net na dit aangesit is.

Zuma kan ‘n paar dinge doen om sy politieke lewe te verleng. Hy kan, soos hy al telkemale aangeraai is, na die agtergrond beweeg en die rol van ‘n seremoniële president oorneem, hoewel grondwetlik gesproke nie ‘n formele reëling nie. Sy adjunk-president neem dan die rol van ‘n uitvoerende eerste minister oor. Daar kan gesorg word dat die kabinet gevul word met werklike kundige ministers wat ook knap bestuurders is.
Behoorlike, kundige adviseurs kan aangestel word.

Maar tot dusver was dit nie Zuma se styl nie. Die spook van moontlike vervolging sal waarskynlik maak dat Zuma self beheer oor soveel magsinstrumente as moontlik behou.

Tot nadeel van die land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

GPC ·

Hou asb vir Zuma in beheer. Dit maak net dat die oposisie soveel viniger sterker word. Met iemand meer bekwaam kan die oposisie stadiger groei. Hoe vinniger SA se oposisie so naby moontlik aan 50% kom, hoe vinniger gaan demokrasie begin werk. Met n groot meerderheid hoef die regerende party niks te doen vir SA burgers nie, en korrupsie dan hooggety vier. Met sterk oposisie moet die in beheer hard werk om in beheer te bly. Wes Kaap is goeie voorbeeld. DA het hard aan hul beloftes gewerk en hulle is beloon met meer stemme in areas waar hulle in beheer is/was.
So ek vra weer, hou asb vir Zuma aan as president sodat ANC so spoedig moontlik meer ondersteuning verloor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.