Nuuskommentaar: Platinum-skikking maar nog ‘n middelvinger vir landbou

boerVolgens Amcu is ‘n skikking bereik oor die beëindiging van die platinumstaking, en sal die skikking vandag geteken word. Môre keer werkers terug werk toe – meer as vyf maande na hulle die langste staking in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse mynwese ingelui het.

Amcu het egter male sonder tal getoon dat hy ‘n skikking op die laaste nippertjie kan verongeluk deur die doelpale te verskuif. Niemand sal dus behoorlik asem haal voor bedrywighede inderdaad aan die gang is, en sake vlot verloop nie. En dan gaan dit bitter lank neem om die skade te herstel – indien enigsins moontlik.

Maar terwyl die liggie in die mynskag aangegaan het, het die regering weer met een van sy “meesterskuiwe” ‘n stap nader aan rampspoedigheid gevoer.

Minister Gugile Nkwinti van landelike ontwikkeling en grondhervorming het die beleidsvoorstelle gepubliseer wat in wese daarop neerkom dat van boere verwag sal word om die helfte van hul grond aan plaaswerkers te oorhandig. Die kort en die lank is, die grondeienaar sal ingevolge hierdie plan die helfte van sy grond verloor – sonder kompensasie.

Dit is moeilik om in te dink hoeveel bepalings van die grondwet met so ‘n stelsel oortree sou word – die verbod op diskriminasie, die reg op die beoefening van ‘n beroep omdat in talle gevalle die helfte van die grond nie meer ‘n lewensvatbare eenheid daarstel nie, die reg op eiendom – dit word ‘n formidabele lys.

Grond, en landbougrond in die besonder, maak in Suid-Afrika geen homogene landboutoestande uit nie. Die beskikbaarheid van water – bogronds en ondergronds – bepaal dikwels die lewensvatbaarheid van grond. Sommige plase is hoofsaaklik bergwêreld met erg uitgeloogde grond.

Grondwaarde dien bykans altyd as kollateraal vir produksielenings. Met die afgelope droogte het baie boere so noustrop getrek dat hul produksieskuld groter as hul grondwaarde geword het.

Week vir week word plase in die Landbouweekblad geadverteer. Hiervan is dikwels ‘n hele paar wat, soos dit in die handel en wandel bekend staan, uitgeboer het. Die aantal boere en boerdery-eenhede word geleidelik minder.

Landbou-ekonome met gevorderde kwalifikasies maak berekenings oor die lewensvatbare grootte van plase in die land se verskillende streke. Selfs in gebiede wat nie as marginaal beskou word nie, is dit dikwels nie minder as sowat 400 hektaar nie.

Tog, die vestiging van kleinboere “om landelike armoede teen te werk” bly ‘n algemene tema van selfs pres. Jacob se politieke retoriek. Op die oog af klink dit na ‘n soortgelyke soort oplossing as om aan Amcu se looneise te voldoen en sulke “leefbare lone” te betaal wat meer is as wat die myne kan bekostig, en soos adjunk-pres. Cyril Ramaphosa dit stel, die hennetjie te slag wat die goue (platinum-) eiers lê.

Dit is nie geheime syfers, of syfers wat moeilik is om te verstaan nie. Tog hou die gekheid nie op nie.

Die probleem is eerder histories en polities van aard. Opnames toon dat tot 85% van swart mense glo blankes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. Hierdie historiese “onreg moet reggestel word”. Vanuit die geledere van die EFF is dr. Pieter Mulder tydens die debat oor die staatsrede ‘n gronddief genoem – iets wat darem teruggetrek moes word. Hierteenoor toon die peilings dat sowat 85% van die blankes glo dis nie net bog nie, maar ‘n groot leuen.

Die Nasionale Ontwikkelingsplan bepaal dat die landbou ‘n bykomende miljoen werksgeleenthede moet skep. Terwyl die plaasadvertensies in die Landbouweekblad ‘n ander verhaal vertel.

Dit laat voorts die indruk dat die Suid-Afrikaanse regering nog absoluut niks oor die situasie in Zimbabwe geleer het nie. Volgens die jongste berigte lok Zimbabwe nou blanke boere terug – dalk tot 300 voor die einde van die jaar – om ‘n dreigende kosramp te probeer afweer.

Hier te lande word R7 miljard aan provinsies geoormerk om klein- en bestaansboere te ondersteun. Dit maak, volgens minister Senzeni Zokwana deel uit van die NOP se program om teen 2030 ‘n miljoen bykomende werksgeleenthede in die landbousektor te skep.

Landbou-organisasies se bereidwilligheid om die regering te ondersteun om sekere doelwitte te bereik word kort-kort in die wiele gery deur nuwe mallighede wat as ernstige planne op die tafel geplaas word.

Intussen word min gedoen om die verhoudinge met die boere wat kan boer te bou. Pas het dit bekend geword dat die departement van landbou R4 miljoen skenk aan die organisasies wat volgens sy eie aansprake agter die plaaswerkersopstand in die Wes-Kaap gesit het. Die departement motiveer dit weer aan die hand van ‘n verslag wat ‘n persoon namens die Human Rights Watch opgestel is – ‘n verslag wat onder behoorlike ontleding aan flarde geruk was.

Nkwinti soek kommentaar op sy voorstelle. Sonder om profeet te wees is dit duidelik dat die minister onder kundige kommentaar toegegooi gaan word. En, as hy dit gaan lees gaan hy nie baie daarvan hou nie.

Reeds in 1994, aan die hand van ander voorbeelde in veral Afrika, het politieke wetenskaplikes daarop gewys dat die ANC al sy mislukkings op die vorige regering se brood sal smeer Selfs met die laaste verkiesing is nog gereeld probeer om wyle apartheid vir alles wat die ANC verbrou, te blameer. Wanneer daardie verskoning nie meer werk nie, sal na ander populistiese metodes gegryp word – en is die grondkwessie as die hoof-uitlaatklep genoem. Die druk op grondgryp gaan eerder toeneem as afneem, en daar moet so ver moontlik pro-aktief aan werkbare oplossings gedink word.

Gesonde verstand moet eenvoudig seëvier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.