Nuuskommentaar: Plofkrag van die vrot appels

vrot-appelDie ding met ʼn vrot appel is – as hy van die boom af val, spat die vrottigheid in alle rigtings…

Die geweldig baie trefslae wat ’n kringtelevisie-opname kry van ’n voorval wat wys hoe die “bevelvoerder” van die EFF, Julius Malema vir Cassie Moller in ’n kitskosrestaurant onder meer rondstamp, wys hoe ’n enkele voorval kan uitkring. Die EFF skaar hulle by Malema, maar hulle hou nie net by hul weergawe dat Moller se optrede beledigend teenoor swart mense sou wees nie, maar die EFF trek sommer weer “honderde jare van kolonialisme” by. Dit word tot ‘n rasse-voorval “opgegradeer” – een waar die blaam verplaas word.

Moller word nou in die proses om strafregtelike klagtes te lê deur AfriForum bygestaan.

In Times Live vertel prof. Jonathan Jansen, rektor van Kovsies, hoe hy een oggend wakker geword het en twaalf “Te Koop”-borde voor sy huis gekry het.

Jansen ruk hieroor die dam onder die eend se stert uit – wat waarskynlik die werk van kwajongens was wat kennis geneem het van die omstredenheid oor Jansen se kop. Jansen glo dit was die werk van ’n persoon of persone van sy universiteit wat ontsteld is oor die transformasieproses by die UV.

Sou dit twaalf, of selfs net een doodskis wees wat op sy sypaadjie afgelaai gewees het, sou ’n mens so ʼn reaksie te wagte wees, en begrip daarvoor hê.

Byna alle meningsvormers en rubriekskrywers ontvang in hul loopbane dreigemente (byna altyd lafhartig naamloos), soms oor die absurdste sake, en soms heel duidelik van ’n persoon wat geestesongesteld is. En daar bestaan altyd die moontlikheid dat daar een uit ’n honderd persone is wie se kop genoeg raas, of ideologies op ʼn “trip” gegaan het dat hy daad aan sy dreigement gaan voeg.

Maar ʼn aantal “Te Koop”-borde? Is dit wel die werk van ʼn ontevrede personeellid, dan staan daardie persoon nie alleen nie. In die media was daar oorgenoeg briewe van personeel wat sy bestuurstyl aanval, presies die teenoorgestelde wat Jansen in die artikel meen hy die geleentheid voor bied – robuuste intellektuele debat…

Jansen sê by tipiese Engelstalige universiteite kan daar wel sulke debatte gevoer word, maar by (voormalige) Afrikaanse universiteite soos Stellenbosch en die UV, eindig dit “gereeld” in doodsdreigemente en beledigings. Het Jansen die twee smeerbriewe van JC van der Merwe in Rapport en Volksblad wat vir hom in die bresse tree in gedagte by die slinger van beledigings?

Vra maar ook die twee Kovsiestudente wat hom wou gaan spreek na hulle, volgens die hof, onverdiend geskors is. Dieselfde universiteit wat ’n vise-rektor skors omdat sy per e-pos navrae van Volksblad met die waarheid beantwoord het. Dieselfde universiteit wat Volksblad by die Persombudsman verkla en waar onder meer bevind word dat die UV self skuldig was aan die beriggewing deur nie medianavrae te beantwoord nie.

Dit dra heel duidelik nie die beeld van ’n universiteit wat ruimte laat vir “robuuste intellektuele gesprek” nie. Veral as die manier waarop transformasie voltrek word, bevraagteken word nie.

Die gevolg was verskeie briewe wat gepubliseer is waarin Jansen eenvoudig ’n rassis genoem is.

Presies hoe inskiklik sal Jansen vir ’n debat oor transformasie wees as ooreengekom word dat die “reset”-knoppie gedruk word, en dié proses van A – Z, dit wil sê van sy grondwetlike versoenbaarheid tot uiteindelike doelwitte (wat ook weer grondwetlik gemeet word) vir debat oopgestel word? Met die insigte wat reeds ingewin is, onder meer met sake soos die effektiewe ineenstorting van die skool vir geneeskunde by die UV.

Kan inkonsekwentheid in ’n heterogene land soos Suid-Afrika geduld word? Skynbaar wel, geoordeel aan die stroom Afrikaanse kritiek. Op ’n ry het dr. Christi van der Westhuizen, en proff. Pierre de Vos en Herman Wasserman vanuit verskillende vakdissiplines (hoewel nie almal in hul artikels suiwer vakwetenskaplik gebly het nie) AfriForum vir sy optrede teen Dookom se omstrede rap-liedjie verkwalik. ’n Refrein was dat AfriForum sy konsekwentheid moet wys deur onder meer dieselfde soort klagtes teen Sunette Bridges te lê. Heel gerieflik word vergeet hoe AfriForum hom dadelik, en in sterk taal, teen uitlatings op ’n oorsese video oor plaasmoorde uitgespreek het, waarin die persoon met wie ʼn onderhoud gevoer is onder meer die Joodse volksmoord ontken het.

Omgekeerd, gaan dié drie Kaapse intellektuele hulle nou teen die EFF se rasbehepte uitlatings oor die jongste klag teen Malema uitlaat? Gaan hulle hul oor Jansen se analoog tussen die “Te Koop”-bordjies en weerstand teen transformasie uitlaat?

In hierdie rubriek is al geweldig baie oproepe tot versoening gedoen, is baie dikwels gepleit vir ʼn wag voor die mond en dat die land bouers, en nie slopers nodig het nie. Inkonsekwentheid draai tog die fundamentele gelykheidsbeginsel in die grondwet nek om.

Die vrot appels bly val en spat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Louis ·

Probleem is, politieke leiers, openbare leiers ens. draai hul mantels na die wind; Of soos die engelse se ” they play up to their audience” Die vloek van die politikus. Oneerlikheid.

Jimmy Grundlingh ·

‘n Hele potjie groen vye jam vir hierdie mond!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.