Nuuskommentaar: Polarisasie om ekstreem links en regs geen grap

Argieffoto (Foto: Chris Hilbert/Pixabay)

Terwyl dit duidelik is dat diegene wat ’n rooskleurige toekoms vir die land op die ekstreem linkse vleuel probeer vind gereeld tot vandalisme en geweld oorgaan, verklap leserskommentare dat daar ook nog baie lewe in die ekstreem regse geledere is. In die proses word broodnoodsaaklike aksies, soos die Solidariteit Beweging se #OnsBou-aksie, verdag gemaak.

Met die toestroming van vlugtelinge na Wes-Europa het ’n regse organisasie, bekend as Pegida, heelwat nuusdekking gekry. Polarisasie na die regterkant is egter nie al wat gebeur nie, dit gebeur ook na die linkerkant – en die teenwoordigheid van ’n ekstreem linkse gemeenskap bekend as die outonomiste, wat hulle in die stadsdeel Connewitch van die stad Leipzig tuisgemaak het, is ’n voorbeeld hiervan. Die linkses het selfs ’n “outonome Republiek van Connewitch” uitgeroep.

Hul mees dramatiese optrede was ’n aanval op die plaaslike polisiestasie waar onder meer Molotov-cocktails (brandbomme) ingespan is.

Radikalisering na die uiterste toe is ook nie vreemd aan Suid-Afrika nie, en vind op albei pole plaas. Die EFF, en van tyd tot tyd Numsa en ander radikale vakbonde, het tans die openbare mening op loop ná radikale uitsprake en optredes. Sekere elemente binne die ANC, periodiek pres. Jacob Zuma ook, wil nie agterbly nie en probeer steun in daardie geledere oes deur met radikale uitsprake by te hou.

Gister het ’n ANC-parlementslid weer haar mond uitgespoel oor Jan van Riebeeck “wat ongeveer 2 000 jaar gelede in die Kaap aangekom het”.

Uit heelwat van gister se leserskommentare in reaksie op berigte oor die Solidariteit Beweging se #OnsBou-program, is dit duidelik dat sentimente op die ekstreem regse spektrum baie lewendig is. Enige sweem van gematigdheid het onder skoot gekom.

Die middelgrond stel hom uiteraard bloot vir kritiek van links en regs. Dink maar aan die kabaal wat die Seunse Weenkoor oor Solidariteit se Plan B opgeskop het, en hoe Solidariteit as regs, en selfs as rassisties, uitgeskel is.

Die soort Grondwet wat Suid-Afrika het, waarborg ’n groot mate van uitdrukkingsvryheid, soos spraakvryheid, mediavryheid, die reg om optogte te hou, te betoog, en vele meer. Die “fynskrif” is egter dat dit vreedsaam moet wees.

’n Fynskrif wat baie wat die regte opeis, nie wil raaksien nie. ’n Goeie voorbeeld is hoe ontevrede die voorsitter van Kovsies se studenteraad is omdat die UFS so op vandalisme en geweld toegeslaan het. Hy hou bloot vol hulle het die reg op sulke optredes.

Ook op ander kampusse is die grens van geweldloosheid met gemak oorgesteek, en skade van honderde miljoene rande aangerig. Selfs vandag se eeufeesvieringe by die Universiteit van Fort Hare wat deur Zuma bygewoon gaan word, lyk na ’n fees onder beleg met studente wat reeds die markiestent waarin die geleentheid gehou sou word, afgebrand het, en dreig om die verrigtinge verder te ontwrig.

Seker een van die grootste foute wat die regering kan maak, is om linkse geweld ’n redelik vrye hand te gee, en meedoënloos op beplande regse geweld toe te slaan. Dit voed die gevoel van onvergenoegdheid, en daarin lê weer ’n konflikpotensiaal opgesluit.

Dit is jammer dat #OnsBou onder skoot kom. Die omvang van die kritiek, en die moontlikheid van georkestreerdheid moet egter ook verreken word. Die getal mense wat gister se nuuskommentaar hieroor op hul Facebookblaaie gedeel het, is byvoorbeeld in ’n heel ander orde meer as diegene wat die mond uitgespoel het (en in die proses dikwels baie onkunde laat blyk het).

Die Afrikaner het homself in die verlede talle kere met selfhelpaksies uit groot ellende gewerk. Terwyl daar ’n grondwetlike weg hiertoe is, laat diegene wat dit wil beproef toe om daardie weg te volg. Daar is immers reeds suksesse. Soos nou weer met ’n interdik teen die US, en die uitbreiding van Akademia.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

janneman ·

Ek is geen heilige koei nie, en staan tot korreksie. Die grootste probleem myns insiens le by oneerlikheid, waar n bepaalde oogmerk voorgehou word, terwyl dit eintlik net n bluf is om iets anders te bereik. Hoekom moet daar altyd gekonkel word om n ander uitslag te bewerkstellig, in plaas daarvan om reguit en openlik te wees oor die plan en die die motief? Hoekom byvoorbeeld het die Afriforum jeug op US nou hulle aansoek om die taaldebat eers stopgesit te kry, terug getrek? Dit terwyl daar reeds n interdik is wat US verplig om sy taalbeleid te volg wat reeds gepubliseer is. Laat US eers bewys hulle eerbiedig die hofuitspraak (wat nie tans die geval is nie). Dan onderhandel jy verder. Dit is sulke gevalle waar wantroue gekweek word, wat ekstremiste teen gematigdes gebruik as verweer, en solidatiteit sal ongelukkig ook na binne moet kyk om vertroue te verdien.

vermeende ·

Herman jy skryf sekerlik oor my.

Ek google Connewitch maar kry niks, as dit die geval is waaraan ek dink dan het jy versuim om by te voeg dat hulle ook roep vir she-ha wette wat daar sal geld.

Herman ek het ook n plan, plan X koop jy in? ek belowe jou die maan en die sterre. Ek het selfs n plan, omdraai plan. Alles is haarvein beplan maar ek kan jou nie nou meer vertel nie.
Al wat ek kan se is, dit gaan jou niks kos nie en daar wag potte vol goud aan die einde……..nou klink ek seker soos de klerk toe hy die NSA plan verkoop het aan die Ja/Nee stemmers.

vermeende ·

Hoekom probeer julle liberaliste altyd om alle kleure en geure in een bed te probeer druk.

Ons “RWGSES” wil nie daarvan deel wees nie, en ons wou ook nie in 92 nie.
As julle liberaliste wil deel he in die een bed orgie, spring in maar los ons uit.

Ek wonder net, hoekom bedreig die regses hierdie hele land so?
Wat kry ons vermag….niks.
Ons is die kleinste groepering in die land en glad nie gevaarlik nie.

Nee Herman, ek ruik n rot en glo my voor die einde van volgende jaar ataan Solidariteit hand om die blaas met die DA. Tony het die weg kom baan.

Lance ·

Die oomblik wat SA ras afskaf gaan SA werk soos bv Kanada …almal is net dieselfde dan en alles gebeur op jou vermoee en vaardighede …problem solved ….vra seker nou vir wors in n hondehok

HEVW ·

Ja, jy vra beslis na wors in n hondehok. Wanneer kom die seunse weenkoor met n konstruktiewe werkbare plan? Miskien moet hulle hul ook maar in n staatsdeel gaan tuismaak en die wat wil bou met vrede laat. Wat gewoonlik gebeur na al hul kritiek is hul eerste in die ry om die vrug van suksesse te geniet wat deur die behoudenis behaal is. Kyk maar wie se kinders is in privaatskole en wie geniet verpleging in privaat hospitale. Kyk maar wie gaan ook Akademia student wees.

Veritas ·

Het Jan van Riebeeck dan in die tyd van Christus ook die aarde bewandel? Hy was seker al redelik grys toe hy in die Kaap geland het.

Theuns ·

Nee wragtig ouens. Herman gee gebalanseerde kommentaar en ken sy vakgebied! Ek vermoed julle wil vir Herman ‘n “label” gee wat heeltemal die “POT MIS SIT!” Lees sy kommentaar met aandag en julle sal sien wat ek bedoel. En nog iets” As dit nie vir Afriforum en Solidariteit was nie het ons nie gewen in die Howe waar die ANC ons regte wou vertrap nie. Ondersteun die twee instansies want hulle bedoel goed. Kom nou laat ons saam staan!

vermeende ·

HEVW niemand staan in julle pad om te bou nie.
Nou gaan ek heel van die onderwerp afdwaal.
Dit het amper 400 jaar geneem om die land te bou, invrastruktuur en ekonomie. SA was op alle gebiede die leier in Afrika.
Ons het die grootste ekonomie in Afrika gahad en nou staan ons derde. Waar staan ons nou met die volgende, Paie, hospitale, waterbronne, landbou, mynbou, vervaardaging, ek kan aanhou en aanhou maar statestieke spreu self.

Punt is, dit is makliker om af tebreek as te bou en baie duurder, sooa jy bou so breek 50 ander agter jou af.
Dit help niks jy vergader almal om te help bou maar nooi ook die 50 in agter jou in om te kom afbreek nie, dan bou ek nie saam nie, net geld en tyd mors.
Bou eerder op n plek waar mense dit sal wardeer en die afbrekers nie toegang het nie, dan bou ek saam maar dit is net n droom want julle grondwet maak voorsiening dat die afbreker die werk sal kry met BEE en middernag weer kom afbreek onder die vlagie van misdaad.
Bou gerus, moenie deur ons gesteur word nie.
Ons koor sal wel weer sing…..TOLD YOU SO!

kyk, Solidariteit is nie net sleg nie, hulle doen baie goeie werk vir hulle lede…..daar kry hulle volpunte!

Nico K ·

Die mense wat Solidariteit so aanval. Wat doen julle om SA ‘n beter plek te maak. Kla? En hoe gaan dit enige iets help. Geweld en oorlog maak? Dan het niemand iets nie. Gaan kyk bietjie hoe lyk lande waar daar oorlog was. Julle weet nie waarvan julle praat nie.

KP ·

Solidariteit vat net sake wat hulle op koerant voorblaaie en tv laat beland. Was self lid maar is deur hulle in die steek gelaat so ek gebruik nou maar daardie geld meer
konstruktief.

Gerhardt O ·

Ek stem ongelukkig saam en ek hoop iemand van hulle lees hier, My salaris is ‘n paar jaar terug eensydig gevries en toe ek na 5 jaar die eerste keer by Solidariteit hulp vra, het ek geen hulp en vae antwoorde van ‘n onbevoegde regsklerk gekry. Ek het tog my lidmaatskap behou maar is ten volle bewus dat Solidariteit / Afriforum wat net agter publisiteit aan is mbt hofsake.

DMC de Koker ·

Interessant hoe daar altyd deur sommige meningsvormers op maroelamedia altyd ‘n dwarsklap na die sogenaamde “regses”uitgedeel word. Wonder net of die werklike vyande van die Afrikaner/Boervolk werklik aan daardie kant van die spektrum sit. Ek twyfel.

John ·

Dit sal goed wees as meer mense as Herman en Leopold vir ons vergas met hul ingeligte menings. Ek is seker daar is nog kundiges in die land met goed deurdagte opinies oor plaaslike en internasionale sake.

John ·

Ektreme linkse uitsprake die laaste tyd was iets soos: gryp die grond of die ryk wittes sal die arm swartes se water- en kragrekeninge betaal, ons sal brand. Watter verregse vergelykbare uitlating is gehoor? Kritiek teen president Zuma en besware oor verkeerde besluite van die regering of angstige uitinge van witmense oor die gryp van eiendom, maar niks oor skade, brande of bewapening nie. Daar is dus nie sprake van ‘n verregse aggressie, of teenpole vir Malema of die ANC se jeugaksie nie. Dit is ‘n onnodige verdagmakery deur Toerien.

Johannes Meintjes ·

Ek voer aan dat ons nog te veel kibbel en slimstories uitruil i.p.v. om die blanke Afrikaner se selfbestuur en selfbeskikkingsmeganismes, – deur eenparige ooreenkomste tussen Afrikanerinstansies, talle berade en ondersoeke tot datum, Plan B, die geween (of gekerm) en al die kantlynkommentaar te betreik en tot tasbare uitvoering te bring. “Regs” moet haas ‘n skaflike baadjie aantrek, die hare kam, skoene poets en konstruktief meedoen d.m.v. soomlose intergrasie met gemeenskaplike en kritiese doelwitte.

Oom Kalahari ·

@John, jy het die regte stelling in jou skrywe hierbo en stem heelhartig met jou standpunte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.