Nuuskommentaar: Polisie – diender of moordenaar?

Nog meer en meer ontstellende nuus oor dienende polisielede, ook senior polisie-offisiere, wat kriminele rekords vir onder meer moord en verkragting het, kom by die dag aan die lig.

Met die keuse van ‘n onderwerp vir die daaglikse konteks op nuusgebeure, is daar dae wat diep gedelf moet word om ‘n nuuswaardige onderwerp te vind. Ander dae, soos vandag, is die keuses groot. Daar is die Numsa-stakings wat die “stakingseisoen” inlui en die land enorme blywende skade in verliese aan uitvoerkontrakte kan besorg, die rand wat noustrop trek, die SAOG se uitdaging van internasionale demokratiese norme deur die Zimbabwiese geknoeide verkiesing as ‘n sukses op te hemel waarvoor sanksies opgehef moet word, 124 plaasaanvalle vanjaar wat reeds 35 lewens geëis het en die  regering se politieke dikbek oor die ontsteltenis daaroor, parlementslede van verskillende partye wat die Afrikanerbond oor “leuens” en “onsensitiwiteit” kap na ‘n voorlegging oor die grondkwessie, na die Afrikanerbond net een deeltjie uitgemaak het van ‘n ad hoc-komitee oor grondbesit wat onder meer ‘n konferensie met voorste kenners ingesluit het wat die kwessie ontleed het – ironies met die titel “Die Groot leuen” ….

Daar was die Grondwetlike Hof se uitspraak oor regshulp vir die familie van die Marikana-slagoffers, die kommissie na die wapentransaksie wat uiteindelik aan die gang begin kom het en steeds nie oortuig dat dit nie bloot ‘n toesmeeraksie is nie. Nog diensleweringsbetogings, ‘n peperduur vakansie op staatskoste van die president …

Die verskynsel dat die blote uitstel van die Oscar Pistoriussaak soveel belangstelling wek – ook in die buitelandse media, terwyl die parool vir “advokaat Barbie” ook om hoofopskrifte meeding.

Die nuus oor kriminele in die polisie is ook nie heeltemal nuut nie. Oor die afgelope dekade het onder meer Die Burger en Volksblad berigte gedra met ‘n ontstellende hoeveelheid polisielede in die Wes-Kaap en Vrystaat wat oor kriminele rekords beskik wat moord en verkragting insluit. Dit lyk nie baie waarskynlik dat, gegewe die aktiewe sentraliseringsbenadering van die regering oor die polisie, dit veel beter in ander provinsies sal gaan nie.

Opsommend kan gesê word dat volgens die jongste beskikbare inligting (waarvan sommiges aldus die DA van die parlementêre portefeuljekomitee weerhou is) 1 448 polisielede 3 204 kriminele oortredings deel waarvoor hulle deur die howe veroordeel is. Sommiges “spog” dus met meer as een kriminele oortreding.

– 54 is vir moord veroordeel
– 116 is poging tot moord veroordeel
– 37 is vir verkragting veroordeel (in die algemeen word slegs ‘n fraksie van verkragtingsake in Suid-Afrika by die polisie aangemeld, en daarvan word net ‘n fraksie suksesvol vervolg)
– 33 is vir poging tot verkragting veroordeel
– 917 is vir aanranding veroordeel

Hierdie syfers is slegs die syfers vir enkele jare wat tot 2010 strek, en dit is dus onseker wat die huidige, en volledige prentjie is.

Die polisie erken leemtes in die stelsel dat dit gebeur dat mense met kriminele rekords in die eerste plek aangestel kon wees, en dat dienende polisielede nie deur die polisie se eie stelsel “uitgevang” word dat hulle na indiensname aan kriminele oortredings skuldig bevind is nie.

Sulke statistiek bied ook nie die omstandigheidsgetuienis aan oor hoe dit gekom het dat ‘n polisielid ‘n sekere kriminele rekord op die lyf geloop het nie. Terwyl dit moeilik is om versagtende omstandighede vir ‘n verkragting in te dink, is die juridiese grens tussen moord, noodweer en selfverdediging, of selfs die aankeer van ‘n gesoekte misdadiger waartydens geskiet moet word dikwels haarfyn. En in ‘n gewelddadige samelewing soos Suid-Afrika word polisielede gereeld aan baie gevaarlike situasies blootgestel.

Maar by gebrek aan hierdie besonderhede, staan die talle sake van beserings en sterftes wat die Onafhanklike Klagtedirektoraat (OKD) in selle ondersoek soos ‘n seer duim uit. In April verlede jaar is berig dat die OKD minstens 6 000 klagtes per jaar teen polisielede ondersoek. Volgens die OKD was daar sedert 2009 ‘n vermeerdering van klagtes omdat klaers meer bewus geraak het daarvan dat hulle kan kla. Sou daar uit hierdie toename skuldigbevindings voortgespruit het, sou dit nog nie in die statistieke wat nou bekend gemaak is gereflekteer word nie.

‘n Tweede aspek is dat Suid-Afrika nie juis die beste rekord het wat voorbeeld stel van bo af nie. Terwyl die destydse nasionale polisiehoof. Jackie Selebi ook hoof van Interpol was, is hy van onder meer korrupsie aangekla en uiteindelik skuldig bevind en het vlugtig ‘n draai in die tronk gaan maak. Die vermoede is baie sterk dat hy slegs aan die pen gery het omdat sy politieke verskansing getuimel het. Voor oud-pres. Thabo Mbeki uit die kussings gelig is het dit gelyk of daar nie geskroom word om ander se loopbane te vernietig om Selebi te vrywaar nie.

Nou word die proses op die oog af herhaal met adv. Glenys Breytenbach wat uit sirkulasie gehou word om politiek-begunstigdes te beskerm.

Beide Solidariteit en AfriForum, en voorheen ook die Vereniging van Staatsamptenare, was in epiese stryde gewikkel om reg en geregtigheid in die polisie te laat geskied – met die vakbonde wat in stadiums hul hande vol gehad het om lede in die polisie teen viktimisasie van die begunstigdes te beskerm.

Die minister van polisie het hom tot die howe gewend om te probeer keer dat die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, se kommissie van ondersoek na ‘n beweerde disfunksionele polisiekantoor op die Kaapse Vlakte op dreef kom. Hoewel die polisiëringsfunksie volgens die grondwet ‘n gedeelde nasionale en provinsiale funksie is, en doeltreffende polisiëring ‘n provinsiale funksie is, word dié funksie in die praktyk sterk gesentraliseer, met onder meer ‘n taalbeleid wat nie strook met selfs die Wes-Kaap se eie grondwet nie.

Die probleme neem nie weg dat daar ook uitstekende polisielede is nie, lede wat werklik hul bes doen om onder dikwels moeilike omstandighede die gemeenskap te dien. Die GPF-stelsel is afhanklik van die goedgesindheid van die publiek, en hiervoor is vertroue nodig – vertroue wat ongelukkig vertroebel word wanneer ‘n kader as bevelvoerder na ‘n stasie ontplooi word waar hy met sy gesindheid sake beduiwel.

Bitter harde werk lê voor om die beeld van die polisie reggetimmer te kry, maar steeds groot dank aan daardie polisielede wat hard en eerlik hul werk doen.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae