Nuuskommentaar: Polisie kruip in donker weg vir kriminele

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: SAPD)

Die afgelope Sondag se Rapport doen skokkend verslag oor hoe ’n egpaar van Noordwes vir twee ure deur rowers aangehou is terwyl die polisie na bewering letterlik gesit en slaap het!

Die egpaar is net voor die inbraak deur hul alarmstelsel gewaarsku en het daarom kans gehad om die plaaslike polisie op drie landlyne en twee selfoonnommers te skakel – nie een van daai oproepe is beantwoord nie. Net voordat die egpaar as alternatief ’n vriend kon skakel wat ook deel van die gemeenskapspolisiëringsforum is, het die misdadigers ingebreek.

Nadat die misdadigers uiteindelik weg is, het die egpaar die vriend geskakel wat dadelik na die polisiestasie gegaan het. Daar het hy toe afgekom op afgeskakelde ligte terwyl hy blykbaar die polisie wakker moes klop. Nie net het die polisie hoegenaamd nie hulle fone geantwoord nie. Hulle het ook in die donker gesit en slaap terwyl iemand hulle werklik nodig gehad het. Hulle ontken egter natuurlik dat hulle ooit gesit en slaap het of dat hulle kontaknommer nie werk nie.

Die “verweer” wat hulle geopper het oor die ligte wat afgeskakel was, is amper meer lagwekkend as die situasie self. Die polisiebeamptes skakel glo die stasie se ligte af omdat hulle bang is dat iemand hulle van buite af deur die glasdeur gaan skiet! ʼn Mens moet jouself afvra watter lagwekkende werklikheid ons bewoon waar die polisie in die donkerte van die nag wegkruip vir misdadigers. Dalk is hulle vrees geldig en gegrond op vorige ervaring – dit is nóg erger. ʼn Wêreld waarin die polisiediens bang is vir kriminele oorrompeling is een waarin die polisiediens vir alle praktiese doeleindes nietig verklaar is.

Hierdie herinner ook aan die polisiestasies in Limpopo en Mpumalanga wat onderskeidelik in 2021 en 2020 beroof is. Die polisiestasie is van wapens en ammunisie beroof met polisiebeamptes in die Limpopo-geval wat selfs in die agterkant van ʼn vangwa ingeboender is. Die kriminele het uiteindelik ʼn opweging gemaak en besluit dat hulle bereid is om hierdie kans te vat. Watter risiko is daar dan werklik daaraan verbonde om ʼn polisiestasie te beroof – dit is nie asof die polisie die bewaarders van openbare vrede, veiligheid en orde is nie.

Die bogenoemde egpaar het op die ou einde kans gehad om vier oproepe te maak alvorens hulle volledig oorrompel is. Hulle het gekies om die polisiediens te skakel, aangesien die polisie juis veronderstel is om openbare vrede, veiligheid en orde te handhaaf. Ten spyte van hulle teoretiese plig om hierdie rol te vervul, vervul hulle dit vir alle praktiese doeleindes hoegenaamd nie meer nie. Die polisiediens is in vele opsigte gereduseer tot ʼn blote deel van die staatsburokrasie. Dit is ʼn instelling, soos binnelandse sake, waarby jy ʼn vuurwapenlisensie hernu wanneer nodig. Dit is ook dikwels net ʼn burokratiese instelling wat mense besoek om ʼn saaknommer te kry vir ʼn versekeringseis. Dit is nie omdat daar geen goeie polisiebeamptes oor is nie, maar eerder omdat selfs hulle gekniehalter word deur die korrupsie en vervallenheid van die polisiediens as geheel.

Prof. Koos Malan, grondwetkenner aan die Universiteit van Pretoria, verduidelik ook hoe die polisie bloot nie meer die vermoë het om sy grondwetlike en openbare plig te vervul nie. Tog het openbare veiligheid nie volledig verval met die verval van die polisiediens nie. Die burgerlike samelewing en private sektor het vierkant dié leemte gevul en sodoende prakties die polisie se openbare rol oorgeneem – hoewel hulle om politieke redes nooit hierdie tipe erkenning sal kry of magsafwenteling sal geniet nie.

Prof. Malan beskryf hierdie diskrepansie tussen teorie en werklikheid as een van mikro-republieke en verstekreg (default right). Die polisiediens deel in praktyk sy monopolie met die georganiseerde burgery sowel as die private sektor. Suid-Afrika het per capita een van die grootste private sekerheidsbedrywe in die wêreld. Die aantal aktiewe private sekerheidsbeamptes verdwerg die aantal polisiebeamptes met ʼn verhouding van 4:1. (Indien onaktiewe/werklose private sekerheidsbeamptes in ag geneem word, is hierdie verhouding nader aan 16:1.) Die polisie tot bevolkingsverhouding is 1:413 met die private sekerheidsbedryf wat ʼn verhouding van 1:106 handhaaf.

Namate die staat onttrek en verval in die vervulling van sy mees basiese funksies, word mikro-republieke sodoende gestig wat hierdie funksies bloot om oorlewing en voortbestaansredes oorneem. Wat die stigting van hierdie nuwe werklikhede volg, is dan so ook verstekreg wat begin vorm. Die de facto begin dus mettertyd die de jure nietig vervang – juis oor die nietigheid van die de jure.

Sodoende behoort ʼn oproep aan die polisiediens nie meer ʼn mens se instinktiewe reaksie te wees nie, maar eerder ʼn oproep aan private sekerheidsmaatskappye, buurtwagte, landelike patrollies of gemeenskapspolisiëringsforums. Hierdie is die instellings wat vir alle praktiese doeleindes openbare orde, veiligheid en vrede handhaaf – daar waar die polisiediens uitgeklok het om te slaap, het hierdie instellings die leemte gevul.

Ian Cameron, hoof van Action Society se gemeenskapsveiligheidsaksies, skryf vroeër vandeesmaand in ʼn meningstuk hoe georganiseerde gemeenskappe in 2022 geweld kan stuit. Hy beskryf ons huidige situasie as die perfekte storm van ʼn kriminele ekonomie, aangevuur deur politieke hebsug, selfvoldaanheid en onbeholpenheid wat alles tot ʼn kriminele virus saamgesnoer het. In ʼn neutedop heers wanorde, misdadigheid en korrupsie.

Hierdie toestand raak en bedreig potensieel elke liewe soort gemeenskap wat nie die nodige weerbaarheid en verskansing teen misdaad en kriminaliteit geniet nie. Cameron verduidelik egter hoe gemeenskappe, ten spyte van die polisiediens se verval, hulself kán verskans teen misdaad en geweld deur vier eenvoudige stappe te volg:

  1. Wees deel van ʼn gekoördineerde patrolliespan.
  2. Skep gevestigde kommunikasiekanale om dit te ondersteun.
  3. Verbeter individuele en groepsvaardighede in gemeenskapsweerbaarheid.
  4. Diegene met vuurwapens vir selfverdediging moet goed opgelei wees en ook seker maak om altyd aan die nodige wetlike vereistes te voldoen.

Sodoende kan daar in die tussentyd aan die politieke situasie gewerk en verbeter word, maar is tasbare grondvlakaksie en ‑optrede in die interim amper belangriker. ʼn Aktiewe en goed georganiseerde burgerlike samelewing wat tasbaar verantwoordelikheid neem, is uiteindelik die beste teenmiddel teen die staatsverval en polities morele erosie wat aan die orde van die dag is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anoniem

Die SAPD is die absolute laaste uitweg om te bel indien jy in gevaar verkeer, selfs ‘n rondloper brak sal meer nuttig wees.

Philip

Ek woon in n klein dorpie in NW regoor die polisiestasie wat volgens my mening n KFC eetsaal is behalwe voertuie van die stasie wat op maksimum REVS so n paar maal per dag op en af jaag in die straat.

AW

Hartseer Verby !!!

Jr

Herriner my van die grap wat n waarheid eintlik is in ons land Man het 200 rand, hy besluit hy is lus vir n 5 ster maaltyd by n luxury restaurant. Hy gaan in en eet homself dik. 2580 rand is die rekening. Hy vertel die kelner hy het net R200. Sy vertel die manager. Hy bel die polisie. Polisie arresteer hom. Hy betaal die polisie R200 rand en hulle laat hom gaan. Welkom in SA

Nie Verbaas

Mooi so ANC en in die besonder Cele. Julle BEE werk absoluut “fantasties”.