Nuuskommentaar: Politiek in skole en kerke

Politiek in kerke en skole het kort na mekaar as kwessies opgeduik. Is dit reg of verkeerd, of net reg of verkeerd vanuit die onderskeie gemeenskappe se gebruike en oortuigings?

Is Mary Metcalfe reg dat drie leerders van KwaZulu Natal – en boonop al drie van dieselfde skool – openlik politiek op sosiale media mag “speel?” Dit lyk eerder of die skolewet omvattend beperkend is oor wat enigeen wat by ’n skool betrokke is – van die leerder tot die beheerraadslid – politiekgewys mag doen.

Metcalfe is ’n voormalige Gautengse en ANC-LUR vir onderwys, en word in sekere kringe hoog as opvoedkundige aangeslaan. Juis daarom maak dit saak wat sy van die geval te sê het. Baie sal uiteraard verskil dat sy reg is.

Uiteraard is te min van die konteks in hierdie bepaalde geval bekend, soos blyk uit die feit dat die KwaZulu-Natalse onderwysdepartement onder meer ’n ondersoek na rassisme by die skool van stapel stuur.

En dan die praktiese probleem – die leerders het die EFF gepropageer, wat so te sê gelyk aan moeilikheid is.

Terwyl hierdie kwessie ontwikkel, het ’n ander kwessie ook begin ontwikkel – vrae oor of dit reg is dat kerke hul dienste aan politici beskikbaar stel om hul verkiesingsveldtogte te voer. Boonop handel dit in hierdie stadium oor interne ANC-politiek, en dit is vanselfsprekend dat lidmate wat ander partye steun, ongelukkig sou wees.

Tradisionele kerke wat hoofsaaklik wit gemeentes bedien, handhaaf tradisioneel ’n taamlike skeiding tussen politiek en die kerklike sake. Die frase “soewerein in eie kring” is gereeld in hierdie verband gebruik. Dit is soms baie streng toegepas, terwyl ander effe meer geneig het na “universeel in eie kring”, waar die een noodwendig by die ander moes inmeng – soos die staat wat hipoteties sou ingryp waar ’n kerk lidmate begin hang wie se bydraes agterstallig raak. Net so behoort die kerk in te gryp as die staat ’n waardestelsel blatant verkrag.

Een van die susterkerke verwag van hul predikante om voor ’n verkiesing een preek af te staan om lidmate leiding te gee oor watter beleide in die oë van die kerk verkeerd sou wees, en watter reg. Om lidmate byvoorbeeld aan die kerk se standpunt oor aborsie te herinner sou hieronder tel.

In die praktyk is daar egter ’n groter “oorloop” van die een na die ander. Swart kerke het gewoonlik nie dieselfde konsep van “soewerein in eie kring” nie, en vandaar die kerklike byeenkomste (en dikwels begrafnisse en troues) wat politieke sprekers oplewer en in politieke saamtrekke ontaard. Veral in ’n land soos Suid-Afrika waar pres. Jacob Zuma en sy meelopers gereeld verregaande politieke uitlatings maak (wat aan godslastering grens), is die vermenging van politiek en godsdiens baie gevaarlik. Nou is daar vrae hieroor. Of dit in die praktyk gestop kan word, veral in onafhanklike swart kerke, is ’n ope vraag. Oor die vraag of dit verkeerd is, kan daar egter geen twyfel wees nie.

Die interessantheid is dat prof. Jonathan Jansen, toe nog rektor van Kovsies, ’n a-politieke stelsel in die studenteraadsverkiesing (probeer) inbou het. Is universiteite nie juis die plek waar jong ontluikende politieke leiers moet leer hoe om op ’n verantwoordelike wyse met die politiek om te gaan nie?

Aan die ander kant, dit is dikwels duidelik dat baie studente nie gereed is vir die verantwoordelikhede wat stemreg vir hulle bring nie. Gelukkig het dit stil geword oor ’n versugting van die destydse pres. Nelson Mandela om die ouderdom vir stemreg te verlaag.

Op die oomblik is die persentasie jong mense wat as kiesers registreer aan die lae kant. Dit lyk egter nie of dit hulle verhinder om aan politieke aktiwiteite soos optogte en saamtrekke deel te neem nie. Maar hierin lê immers ’n teenstrydigheid – sonder om uiteindelik te stem kan iemand se rol kwalik iets anders as afbrekend wees.

Dit lyk inderdaad of daar ’n behoefte is om jong mense beter oor die politiek te skool, en selfs in die vorm van debatte te laat deelneem, maar dit sal streng binne die grense van aanvaarbare opvoedkundige praktyke moet wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Buitestander ·

Dit is nie ‘n skoolvak nie.
Wat moet in elke geval in so ‘n vak geleer word.

Ivan Atterbury ·

Reels is daar om orde te handhaaf, waar daar nie orde is nie is daar wanorde. As reels van enige instansie, insluitend skole , ‘n invidu nie pas nie, wat soek so ‘n invidu dan daar? Dis sy/haar reg om elders geholpe te raak.

Albaster ·

Die probleem kom dat sekere partye se ondersteuners net eenvoudig te naief is om enigiets te verstaan. Maak nie saak waar en hoe hulle opgevoed word oor politiek, ekonomie of watookal nie, hulle verstaan net nie om reg te stem nie. Dit is hierdie mense wat ons almal aftrek. Demokrasie werk eenvoudig nie in n land waar so baie ongeletterdes of naiewe stemmers is nie.

Mielie ·

Hierdie leerders en skool was in my opinie die rooispan se teikenmark. Hierdie skool gaan binnekort sy status as spogskool verloor en dit gaan maar net nig n staatskool word. As hulle dan volgens die leier van die rooispan n grondwetlike reg het wat nie deur die skoolreels geraak mag word nie dan wil ek sê dat dit dan oral moet geld selfs in werkplekke en dat almal dan ook dieselfde regte het. Vryheid van spraak vir almal maak nie saak wat die skool of werkplek reels se nie. Mense dring aan dat persone afgedank moet word as hulle op sosiale media iets kwyt raak. Ek ken nie die grondwet nie maar ek glo dat daar niks in staan dat n blanke persoon nie dieselfde regte as ander mense het nie.

Eish ·

Politiek op skool?
Met die ouderdom van sommige skoliere moet dit dalk oorweeg word as buitemuurse bedrywigheid.
Kerke se profetise stem?
Die NG Kerk is op die rand van hofsake teen homself volgens die laaste Rapport. Die vorige een rink ink die dominee met die gemeente se vroue rond. Klink my die profetiese stem moet eers sy eie huis in orde kry voor hy begin vingers wys.

Jaco ·

Politiek HOORT nie in skole of die kerk nie. Die kerk hoort wel by die skool sowel as in die politiek. Omrede die woord van God nie meer in of by die huidige regering is nie, is hoekom dit in ons land gaan soos dit gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.