Nuuskommentaar: Politiek van vlieënde stoele en warm geld

Die lokaal nadat geweld uitgebreek het. Foto: Verskaf

Net toe gemeen is die dae van vlieënde stoele in die Suid-Afrikaanse politiek is saam met die Nat-Sap-era begrawe, toe vlieg die stoele by ’n ANC- provinsiale kongres in die Oos-Kaap. Dit word in die media wat op swart mense gerig is, met ontsteltenis waargeneem, maar is dit nie maar ’n manifestasie van die gebruiklike ontwrigting wanneer pogings om die akkreditasieproses te kaap nie slaag nie?

Die Suid-Afrikaanse politiek is ryk aan verhale oor kiesers wat warm om die kraag geraak het, en toe met die vuiste laat waai het. Of ons van Smelters teen Gesuiwerdes, of Sappe teen Natte praat, die verhale van groot gevegte is volop. By skole het die kinders van Smelters en Gesuiwerdes selfs pouses teen mekaar sokker gespeel. In die kleine Winburg het selfs twee NG gemeentes, een vir die Sappe en een vir die Natte, tot stand gekom.

By Ladybrand het die geveg so lustig verloop dat die stadsaal se baie besondere deure heel uit die kosyn uitbaklei is.

By menige veilingkraal staan die rye aanmekaar-opvoustoele en stof vergaar – stoele wat plankies makeer van die lekker baklei van destyds. Hoe meer stoele in so ’n ry aan mekaar vas was, hoe ’n lekkerder mokerding kon dit in die hande van ’n fris Boerklong word.

Later was daar die strooptogte op die “Hertzogiete” se vergaderings; opgeruk met lekker gooigoed soos (vrot) eiers en tamaties.

Maar dis, nostalgie en al, verby. Met die veelrassige politiek van vandag is daar volop rede waarom so iets nie weer kan gebeur nie. Net een geval kan voorkom waar die geweld oor die rassegrense spoel (al was ras glad nie in die bakleiers se gedagtes nie) en die land sit weer met ’n liederlike rassevoorval.

Maar is dit verby?

Koerante met talle swart lesers steier tans onder die “slag van die vlieënde stoele” in Oos-Londen. Dit moes nooit gebeur het nie, en dit mag nooit weer gebeur nie, is die algemene strekking. Vingers word gewys en nog meer vingers wys terug.

Die slotsom in baie gevalle is dat dit eintlik tradisie is dat daar tydens verkiesingskongresse met die aanwys van stemgeregtigde afgevaardigdes gekierang sal word. Net té veel is op die spel. Maar soms is die ouditeringsproses so streng dat, afgesien daarvan dat meer as ’n dag se kongrestyd verlore kan gaan, net te veel van die gekierang gesmoor word. Die truuk om foto’s van die stembriefie te neem sodat dit vir “betaling” gewys kan word, word ook nou erg onder die vergrootglas geplaas. En veral as een groep meer as die ander gekierang het en daardeur met die verkiesing die onderspit gedelf gaan word, word na fase twee oorgegaan – om die kongres of vergadering te ontwrig.

Dié keer het die een kant, min of meer die groepering wat adjunkpresident Cyril Ramaphosa steun en wat siek en sat vir korrupsie en staatskaping is, die rug styfgemaak. En toe vlieg die stoele. En die bloed vloei, en die polisie moet inmeng.

Die “vlieënde stoele” lewer meer ontsteltenis op as die voortgesette politieke moorde in KwaZulu-Natal.

Pas het Cosatu se algemene sekretaris, Bheki Ntshalintshali, gewaarsku dat “hekwagters” Ramaphosa se planne om die volgende ANC-president te word, in die wiele kan ry. Die “hekwagters” sou geplante agente in die ouditeringsproses wees wat moet toesien dat soveel afgevaardigdes moontlik wat vir Ramaphosa moet kom stem, op die een of ander manier uitgesluit moet word. Slaag hulle nie, moet hulle die vergadering/kongres probeer ontwrig.

Soos sake nou staan, word ook ander struikelblokke daagliks in Ramaphosa se pad gerol. Die vingers wys na die Zuma-kamp, wat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma insluit. Dlamini-Zuma het gou geleer dat ʼn verbintenis met Zuma haar kanse verswak om in Desember verkies te word, en het skynbaar subtiel afstand probeer plaas. Dis egter haar openlike aanhang van die doodgewoon rassistiese ekonomiese beleidsrigtings van Jacob Zuma wat baie mense – veral buite die ANC – die ritteltits met erge kouekoors gee.

Die Zuma-kamp se achilleshiel is die verbintenis met korrupsie en staatskaping. Boonop het die situasie ontstaan waar selfs senior kommentators dit nie meer nodig vind om die “beweerde” in te span wat Zuma as korrup beskryf, of selfs as die korrupste nie. Een het selfs vir Zuma uitgedaag om regstappe teen hom in te stel.

Met al die bewyse in die openbare domein, is Zuma inderdaad erg blootgestel.

Pas het nog ’n hoopvolle ANC-presidentskandidaat, Lindiwe Sisulu, ’n striemende aanval op Zuma en korrupsie gevoer. Die korrupsie en binnegevegte in die ANC kaap nie net die ANC nie, maar Suid-Afrika, aldus Sisulu.

Dit lyk nie of Suid-Afrika die laaste van die politiek van vlieënde stoele of warm geld gesien het nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

job jobson ·

Lindiwe jy volg nou die strategie van Makhozie. Die ANC gaan jou ook die TREKPAS gee. Jy is in elk geval ook te lig om prez te word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.