Nuuskommentaar: Politiek volg kultuur

Betogers op Muizenberg-strand. (Foto: Twitter)

Die afgelope naweek het honderde betogers Muizenberg se strand in ʼn daad van burgerlike ongehoorsaamheid beset. Die polisie was teenwoordig, het die situasie op ʼn afstand gemonitor en uiteindelik die skare op ʼn vreedsame manier van die strand verwyder.

Die eerste reaksie van die EFF was dat die polisie klaaglik misluk het deur geen van die betogers te arresteer nie:

“Based on previous experiences, it is clear that if the majority of these protesters were black they would have been arrested and shot with stun grenades and water cannons […] but because the majority are white, the police did nothing.”

By die eerste aanhoor maak ʼn mens gewoonlik die EFF se uitlatings as domastrant en irrelevant af en beweeg dan aan met jou lewe.

Tog is dit die moeite werd om by dié spesifieke stellings en ʼn soortgelyke opmerking stil te staan wat pres. Joe Biden van die VSA onlangs gemaak het.

Nadat betogers op 6 Januarie vanjaar die kongresgebou bestorm het, is fel kritiek uit feitlik alle oorde gelewer. Daardie dag is vyf mense dood, insluitende een vrou wat deur die polisie geskiet is. Daar was egter nie genoegsame wetstoepassingskapasiteit by die kongresgebou teenwoordig nie, wat beteken dat arrestasies moeilik en gevolglik ook min was.

In reaksie hierop het Biden gesê:

“No one can tell me that if it had been a group of Black Lives Matter protesting yesterday, they wouldn’t have been treated very, very differently from the mob of thugs that stormed the Capitol.”

Hierdie is presies dieselfde as die EFF se stelling – indien die mense swart was, sou die polisie hulle geskiet het.

Dit is ʼn verskriklike stelling. Indien dit waar is, het Amerika reuseprobleme en moes Biden in sy eerste week as president die hele polisiediens ontbind het. Die feite spreek egter nie daarvan dat swart mense disproporsioneel bloot weens hul velkleur deur die polisie en wetstoepassers geteiken word nie.

Dit strook ook met pres. Cyril Ramaphosa wat verlede jaar na George Floyd se dood gal gebraak het oor hoe swart mense steeds in Suid-Afrika onderdruk word. Dit ten spyte van die feit dat daar in ons land aktief téén wít mense gediskrimineer word.

Hierdie tipe (oneerlike) stellings is al so deel van die hoofstroom narratief dat mense nie eens daarby stilstaan nie. Biden het al herhaaldelik Amerika “systemically racist” genoem – so asof dit net nog ʼn opmerking is.

Jy moet jouself afvra wat fout met die samelewing is as politici sulke wilde stellings oor ras kan maak sonder om enige bewyse te lewer – sonder enige bevraagtekening.

Selfs al stem die meeste Amerikaners nie daarmee saam nie, geniet hierdie narratief groot aandag in die akademie, establishment media, kulturele instellings soos Hollywood en selfs “sentrum” linkse politieke kringe. Dit ís ʼn hoofstroom narratief.

Hoe het dit so normaal geword?

Die kort antwoord is dat diegene in Amerika met beter idees en narratiewe minder invloed oor die kultuur het as diegene met die slegte idees en oneerlike narratiewe. Hierdie magswanbalans het ook deurgesypel na die res van die Weste en so ook Suid-Afrika.

Saam met Ronald Reagan het die Republikeine in die 1980’s en vroeë 90’ die politiek gedomineer. Reagan was byna onaantasbaar. Ná sy twee termyne van ongelooflike Republikeinse sukses is HW Bush vir ʼn derde opeenvolgende Republikeinse termyn verkies. Konserwatiewes was polities suksesvol en het in daardie tydperk ook groot ekonomiese kompeteerders geword.

Hulle was egter so besig met dinge dóén dat hulle kultuur heeltemal afgeskeep het. Hulle het geglo dat dit genoeg is om net aan politiek en ekonomie aandag te gee.

Sodoende het die linkses na kultuur geskuif en kulturele instellings met hulle oneerlike idees en lewensuitkyk begin vul. Aanvanklik was dit nie vreeslik opmerklik nie en het konserwatiewes sodoende nie veel aandag daaraan gegee nie.

Hierdie oorname van kultuur was egter so suksesvol dat instellings van kultuur vandag byna uitsluitlik deur linksgesindes gevul is. Die establishment media is oorweldigend links. Universiteite is sentra vir linkse indoktrinasie. Hollywood is ʼn blatante propaganda-masjien vir ʼn linkse lewensuitkyk. Linksgesinde politieke elite kapitaliseer in die tussentyd daarop dat die dominerende narratief aan hulle kant is.

Sodoende is Biden se uitspraak net nog ʼn noot in die radikale kulturele kakofonie aan die orde van die dag.

Die rede waarom dit belangrik is, is omdat die dominerende kultuur van vandag noodwendig ʼn impak gaan hê op die politiek van môre. Dit is goed om met politieke en ekonomiese sake van vandag besig te wees, maar dit is ook uiters naïef en gevaarlik om kultuur bloot af te skryf as ʼn bysaak.

Kultuur is dit waardeur mense elke dag bewustelik en onbewustelik gevorm word. Dit is die rolprente waarna jy in jou vryetyd kyk. Dit is die voorveronderstellings oor die wêreld waarop jou opvoeding gebou word. Dit is die onderliggende waardes waaruit politieke kommentaar vloei. Dit is uiteindelik die ding wat mense se idees oor die werklikheid vorm. Indien jy dít ignoreer, gaan ʼn ander werklikheid as die een wat jy verkies jou inhaal.

Dit is ook presies wat met konserwatiewes in die VSA gebeur het. Biden wat hierdie tipe stellings kan maak sonder enige gevolge of bevraagtekening is die gevolg van ʼn verlore kultuur. Indien konserwatiewes ʼn beter politieke speelveld wil sien, gaan hulle ʼn beter kultuur moet kweek. ʼn Nuwe kultuur wat die huidige een antwoord, wat die ander kant ʼn stem gee en die politieke balans herstel.

Andrew Breitbart, die konserwatiewe mediareus, is bekend vir sy stelling: “Politics is downstream from culture.”

ʼn Mens gaan moeite moet doen met die kultuur vandag ten einde die politiek van môre makliker te maak. Diegene wat kultuur besit, stel die bepalings en voorwaardes vir die politieke gesprek daar. Dit is belangrik om ʼn alternatiewe kultuur te vorm ten einde ʼn meer gebalanseerde gesprek te fasiliteer. ʼn Gesprek waarin stellings soos Biden, Ramaphosa en die EFF sʼn nie (sonder enige bewyse) as vanselfsprekend aanvaar word nie. ʼn Gesprek waarin albei kante van die politieke spektrum ewe veel seggenskap het en sodoende ewe verantwoordbaar gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Vrijburger ·

Goeie ontleding van hoe suksesvol die linkses se kulturele Marxisme in die VSA was.
En ja, ANC/EFF en die VSA se ‘Demokratiese’ party is dieselfde monster in twee verskillende lande.

Pieter ·

Die alerikaners het gedink hulle is slim soos die ou NP hulle gaan op die harde manier leer. Nou sal hulle sien wat is n kommunis

christo ·

Ek het al talle kere die ‘ bumper sticker ‘ gesien wat sê: ” A black man will always be the suspect “. Niks rassistiese daaraan nie nè? Laat ek nou net ‘n ‘ bumper sticker ‘ plak wat sê: ‘ A white man will always be a racist” op my motor plak en ek sal die hoof nuus in SA haal, indien nie die wêreld nie. Dit sal lei tot onluste en plunder soos ons dit maar nét te goed ken.
Ons weet mos die EFF soek net sensasie, maar ons weet ook hulle is gewild is onder die swart SA jeug wat glo armoede is blankes se skuld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.