Nuuskommentaar: Politieke enjinkamer

Die wêreldwye ekonomiese krisis onderstreep hoe belangrik dit is dat die verskillende politieke wetenskappe nie net die gebeure beskryf nie, maar ook die dinamika daarvan begryp. Die Wall Street-besetting wat na verskillende wêreldstede uitkring dui daarop dat ‘n kollektiewe vinger iewers heen wys, en daardie uitgewysde begin al hoe duideliker uitkristalliseer. Dit het ook ‘n impak op Suid-Afrika.

Politieke sosiologie kan in sy eenvoudigste vorm beskryf word as die studie van politieke gedrag vanuit ‘n sosiologiese oogpunt. Dat die besetting in Wall Street begin het is geen toeval nie – dit sal die simbool bly van die kaartehuis van die wêreldekonomie wat ineen gestort het. En toe dit gebeur, het dieselfde simptome, wat as vulgêre inhaligheid beskryf kan word, domino’s wêreldwyd laat intuimel, of gedryf om in te tuimel. Van New York tot Amsterdam, van Londen tot Tokio, Ysland, Ierland en vele meer het dieselfde klagte gekom: bankbase en ander magnate wat met banale inhaligheid alles opslurp of die instansies, of die lande se ekonomieë dit kan dra of nie. So blatant was dit dat toe regerings moes raap en skraap om reddingsboeie uit te gooi, van die instansies asof dit geregverdig is, weer daarvan gebruik het om hul base onder bonusse te toe te gooi.

Politieke sosiologie beskik al jare lank oor ‘n model wat die verskynsel beskryf en noodwendige gevolg uitstippel – die model van relatiewe deprivasie. In kort kom dit neer op die rewolusionêre klimaat wat ontstaan wanneer die gaping tussen die bevolking se verwagtinge en die realiteit te groot word. Dit manifesteer hom dikwels in die land se inkomstegaping.

Politieke partye se navorsers waarsku al lank dat dié gaping in Suid-Afrika onhoudbaar groot is – trouens, onder die meetbare lande die grootste ter wêreld, na Suid-Afrika Brasilië verbygesteek het. Waar Brasilië die gaping vernou, vergroot Suid-Afrika die gaping. In Suid-Afrika is dit ook nie soseer die privaat sektor, die sogenaamde produktiewe sektor wat die groot sondebok is nie, maar die owerheidsektor en veral semi-staatsinstellings. Terwyl die land se ekonomie wurg weens reuse verhogings aan krag gaan ken Eskom byvoorbeeld verhogings en bonusse toe aan die base wat deur Volksblad as vulgêr beskryf word. Eskom staan lank nie alleen nie.

Die vreemdheid is dat die politieke navorsers, selfs in die ACDP, oor die algemeen moes vind dat hul verwysings na hierdie groeiende probleem sonder uitsondering uit mediaverklarings en toesprake verwyder is. Volstruispolitiek los nie probleme op nie, en dit is nie die taak van navorsers om hul kliënte ook van inligting te voorsien wat hulle wil hoor nie. Nou wys die weersin wat toltariewe en Salga se toelaagvoorstelle vir munisipale raadslede ontlok daarop dat die publiek in ‘n groeiende mate bewus daarvan raak dat hierdie vulgêre inhaligheid sake so skeeftrek dat gewone ekonomiese wette nie meer werk nie.

Nog ‘n voorbeeld van skynbare inhaligheid waar die publiek die voet dwars neersit is die omstrede kwessie van bonusse binne Krieket SA, waar die regering nou ‘n kommissie van ondersoek ingestel het kort na Krieket Suid-Afrika aangekondig het die voorsitter, Mtutuzeli Nyoka het weer die trekpas gekry, terwyl die uitvoerende beampte, Gerald Majola verklaar het die bonussage is afgehandel. Normaalweg sou regeringsinmenging in sport erg afkeuringswaardig wees en word deur die meeste internasionale sportliggame verbied, maar wanneer ‘n ouditeursfirma duidelik uitwys iets is nie pluis nie, en die sportliggaam vertolk dit dat alles klop-disselboom is, is regeringsinmenging onafwendbaar. Die publiek, borge en potensiële borge is geregtig om te weet hul beste belange word gedien.

Pres. Jacob Zuma sal ook ervaar dat die publiek soos skilpaaie begin vasbyt aan hul eise dat korrupsie en inhaligheid nie net ondersoek word nie, maar dat opgetree word. Die omstrede wapentransaksie kon, en kan maar net nie toegesmeer word nie. Die Openbare Beskermer kom nou ook met die een verslag na die ander uit en die publiek is beslis nie gediend daarmee dat hierdie bevindings op die rak beland en stof vergaar nie. Die jongste hiervan is die voortslepende sage van die Minister van samewerkende regering, of te wel munisipale sake, Sicelo Shiceka. Shiceka se geval belig ook ‘n ander aspek – die voorbeeld wat gestel word. Voor die minister met siekverlof is, het hy ooreenkomste onderteken vir ‘n uiters ambisieuse veldtog om te verseker dat alle munisipaliteite binne ‘n paar jaar skoon oudits sal kry. Kort voor lank was daar gevalle van ontplooide munisipale bestuurders wat in die spervuur beland het, maar openlik gespog het dat hulle onaantasbaar is omdat hulle deur die minister se ontplooiingstaakspan ontplooi is.

Formeel bestaan so ‘n span nie. Die leier van hierdie beweerde taakspan is aan die hoof van ‘n strategiese taakspan binne die departement wat formeel met ander funksies getaak is. Hierdie leier het ‘n ellelange geskiedenis van bedenklike OG-verslae op sy kerfstok, beginnende by Bronkhorspruit, en toe in Plettenbergbaai. Terwyl die OG hom hier gewiks het, het die destydse ANC-regering in die Wes-Kaap hom as administrateur aangewend om twee naburige munisipaliteite, waaronder die destydse berugte Kannaland, te probeer regruk.

Terwyl alle vreemde ontplooiings en herontplooiings stellig nie op hierdie persoon en sy taakspan se brood gesmeer kan word nie, kan ‘n boek geskryf word met al die inligting in die openbare domein oor kaders wat op een plek vasgebrand het, en dan teen gewoonlik ‘n nog hoër salaris in ‘n ander munisipaliteit ontplooi word. Soos te wagte volg bedroewende OG-verslae hierdie mense.

Die interessantheid is dat die ekonomiese impak van hierdie globale inhaligheid nie tot ‘n heropkoms van sosialisme lei nie, maar eerder op aggressiewe aandrang dat inhaligheid kortgevat word. In die VSA blyk dit dat die Republikeine wins maak uit die krisis. Dis egter nie omdat magnate ‘n simpatieker klimaat hier vind nie, maar omdat die Republikeine simpatieker staan teenoor instansies wat moraliteit in die algemeen, soos die tea party, en Christelike beginsels in die besonder, soos die Christian Coalition of America, bevorder.

In Suid-Afrika vind sosialisme en kommunisme egter skynbaar wel ‘n simpatieke oor. Die ANC-jeugliga se aandrang op die nasionalisering van banke en myne vind dus ‘n simpatieker oor as wat goed vir die land is. In die proses beweeg Suid-Afrika verder weg van die oplossing eerder as nader.

‘n Deel van die probleem in Suid-Afrika is dat sterk politieke leierskap wat nodig is baie moeilik gemonster kan word. Dit is problematies dat Zuma met ‘n benadering van alles vir almal probeer wees die president geword het, en dat hy in die proses te veel uiteenlopende groepe tevrede moet stel. Dit word verder gekompliseer der ‘n tradisie wat reeds tydens die bewind van pres. Nelson Mandela ontstaan het – die samestelling van ‘n reënboogkabinet om almal te probeer inbind. Dié kompleksiteit kan weer slegs deur die bril van die kulturele antropoloog verstaan word. Uit elke stamverband ‘n verteenwoordiger – ‘n Swazi-prinses, iemand uit elk van die verskillende Xhosastamme, en so meer. Stamhiërargie eerder as bekwaamheid tel punte, soos blyk uit die lot van die gewilde Bantu Holomisa wie se kop in sy tweestryd met die vaal Stella Sigcau gerol het.

Om Shiceka die trekpas te gee is dus ‘n veel komplekser proses in Suid-Afrika as wat dit byvoorbeeld in Europa sou wees, selfs waar kabinette die produk van komplekse koalisie-ooreenkomste is. Waarnemers verwag dus al ‘n ruk lank eerder ‘n kabinetskommeling waar Shiceka waarskynlik wel weggelaat sal word, maar die reënboogbalans deur komplekse en dikwels onverstaanbare skuiwe herstel word.

Intussen, ja, die Afrikaners is ook so ondervang, deur iemand wat sy vrypas verdien het met ‘n belofte van iemand se stem te wees. ‘n Baie, baie stil stem.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae