Nuuskommentaar: Politieke geweld – DA vs ANC, en SA die verloorder

Foto: Dave Bryant @davebryantct / Twitter

Foto: Dave Bryant
@davebryantct / Twitter

Rome brand. Suid-Afrika beleef in die aanloop tot die verkiesing gemiddeld vier tot vyf gewelddadige proteste per dag.

Historici sal in die toekoms haarfyn ontleed wat die toekomstige implikasies was van 12 Februarie 2013.

Volgens oorlewering het Nero Rome aan die brand laat steek as inspirasie toe hy besig was om te komponeer, en die Christene is daarna geblameer.

Pres. Jacob Zuma is ook besig om te “komponeer” – om vir sy staatsrede voor te berei.

Omtrent al wat van Nero die komponis se musikale vermoëns bekend is, is dat Rome gebrand het.

Hoe gaan Zuma se staatsrede onthou word? Van ‘n afwesige president terwyl sy eie mense die land aan die brand steek? Suid-Afrika se staatsredes het sedert 1994 nog min raakvlakke met internasionale konvensie oor staats- en troonredes getoon, en herinner eerder aan die “groot brêgh” voor intervarsities en interskole. En oor ‘n klompie weke is dit verkiesing…

Beide die ANC en die DA maak daarop aanspraak dat hulle gister se “slag van Johannesburg” gewen het. Wat egter wel seker was, was dat Suid-Afrika die groot verloorder is.

Tegnies was die DA die wenner, en het die ANC groot skandes gemaak. Die ANC kan maar met sy eie weergawe kom soos wat hy lus het; dis te betwyfel of enige ANC-ondersteuner self werklik sou glo dat die DA ‘n fisiese bedreiging vir Luthuli-huis sou inhou. Dit het suiwer gegaan oor persepsies, en ‘n organisasie wat op die rug probeer ry van ‘n “suksesvolle” bevrydingsbeweging wat hondmak en gehoorsaam die grondwetlike reg van ‘n teenstander sou erken. Nie sommer nie, en enige heuning aansmeerdery om die werklikheid anders te skets is bog, en ‘n belediging vir die intelligensie van die publiek.

Die ander kant van die munt is dat veel meer as die DA se grondwetlike reg tot die optog as motief geskuil het. Dit is geen geheim nie dat die DA sy oog op nog baie swart kiesers het, terwyl onlangse peilings steeds toon dat baie swart mense die DA as eintlik ‘n wit party beskou – ‘n persepsie wat die ANC uiteraard ten alle koste lewend wil hou. ‘n Tipe “magsvertoon” deur veral swart lede sou die DA dus baie help om sy wit, of “coconut”-beeld te laat afskud.

En presies net soveel is vir die ANC op die spel om te toon dat dit nié die geval is nie.

En wie op ‘n vat buskruit sit en met vuurhoutjies speel…

Presies wat moet potensiële buitelandse beleggers oor gister se gebeure dink? Was dit werklik nodig om die ANC se werkskeppingsbeleid uit te daag op ‘n wyse wat investering in die voet skiet eerder as in die hand werk? Die buitelandse media het onsagkens met die gebeure omgegaan. Die gebeure het ‘n baie belangrike pluspunt – dat Suid-Afrika op dieselfde dag sy posisie op die persvryheidsindeks met ‘n indrukwekkende tien plekke verbeter het (ongeag dat die verbetering aan ‘n misverstand toegeskryf kan word) – meer as net geneutraliseer in die oë van die wêreld. Wat beteken ‘n relatiewe persvryheid as die regerende party die opposisie met brandbomme, stokke en klippe tot swye dwing?

Die polisie se gehawende beeld is net verder gekneus. Die ANC se saamtrek (sonder om toestemming te vra en te verkry) was duidelik onwettig. Die gevaarlike wapens wat saamgedra is, was onwettig. Uit berigte blyk dit dat die enkeles wat wel gearresteer is, nie gearresteer is weens deelname aan ‘n onwettige byeenkoms nie, maar omdat hulle met die polisie slaags geraak het.

Heel moontlik het die TV-beelde van gister se optog wél daartoe bygedra dat die DA se beeld as wit party gesloop is. Uiteindelik was dit egter die post-Dagang-gekneusde Helen Zille wat die TV-kollig gesteel het deur die onderhoude te doen.

Suid-Afrikaners moet verlief neem daarvan dat die “goeie ou dae” toe Nat en Sap mekaar met die skousaal se opvoustoele gemoker het, of die “Hertzogiete”

met vrot eiers en tamaties bestook is, vir altyd verby is. Die oomblik wat politieke geweld oor die kleur-“grens” spoel word ander persepsies losgelaat, wat die land nie kan bekostig nie.

Nou moet eerder geïmproviseer word as om op sekere regte aan te dring wat die land geen guns bewys nie.

En die ANC se leiers het baie duidelik ‘n reuse taak om sy ondersteuners tot volwasse politiek te lei. En gister se gebeure het getoon dat die leiers geen haas daarmee het nie. En dis ‘n skande, fienies en klaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Danie ·

Herman,is dit werklik nodig om vir die ANC te skerm?Hulle kan mos vir hulself praat.Ek vra dit na aanleiding van jou vraag of die DA werklik nodig gehad het om die ANC se wekskeppingsbeleid uit te daag?En dan noem jy die persepsie van die buiteland.My vaderland die buiteland weet lankal hoe korrup en oneffektief die ANC regering is.Is dit omdat die VF+ ook in die regering sit dat jy die Zuma regering so verdedig?Die DA het dit ten minste aan die groot klok gehang dat die ANC valse beloftes maak met sy 6 miljoen weksgeleenthede wat hulle belowe.Laas verkiesing het hulle 5 miljoen werksgeleenthede belowe.
Dit is baie waar dat nie toegelaat word dat politieke geweld oor die kleurgrens spoel nie,soos jy tereg se,ander persepsies word dan losgelaat.Dis waar,hierdie is nie Nat en Sap dae nie.Die kleurkwessie moet regtig versigtig hanteer word.

Demokraat ·

Die DA het bepaald ‘n groot sielkundige oorwinning oor die ANC behaal en kan mens Helen Zille en haar party maar slegs loof vir hulle manhaftigheid – hulle het die ANC behoorlik aangevat !!

Die DA beskik bepaald oor die profiel om die ANC by die stembus ‘n punt te wys – hulle doen dit op die tipiese Afrika-manier – dalk vreemd maar doeltreffend.

Slim Daan ·

Skuus my ou naamgenoot.
Suggereer jy die voorskriftelike uitoefening van regte in n demokrasie staan sekonder tot kleurkwessies wat versigtig ” hanteer ” moet word ? Se gai.
Wat uit hierdie oefening duidelik blyk is dat stokke en klippe aangewend sal word om die magsbasis van die ANC ten alle koste te verdedig en te behou. Kos nie n Siener v Rensburg om te voorspel dat indien daar n wesenlike moontlikheid vorentoe bestaan dat die ANC inderdaad uit die kussings gelig mag word, AK 47’s weldra die aanwending van knopkieries en pangas sal vervang.
Die uwe durf vermeld te se dat in die lig van bg gebeure sodanige abdikasie tydens n regverdige uitkoms van n verkiesing – nie vlgs die Britse ” fair play ” reel/dogma sal geskied nie. Dit maak enige ander party se droom om so iets te verwesenlik eintlik futiel. Die skrif is na my mening ( ala Afrika ) reeds aan die muur. Die credo van ” mag is myne en myne alleen ” – skemer in die lig van bovermelde gebeure – sterk deur.

Hein ·

Ek haal aan: “En die ANC se leiers het baie duidelik ‘n reuse taak om sy ondersteuners tot volwasse politiek te lei.” Hieruit moet vanaf die veronderstelling uitgegaan word dat die leierskap self polities volwasse moet wees. Die modus operandi van die terroriste organisasie wat tans in beheer van die land is, kan op geen moontlike manier met polities volwasse demokratiese prosesse in lyn gebring word nie. Die manier hoe die term ‘demokrasie’ in Afrika vertolk word, is stem vir die politieke party waarvan die meeste gehou word, hou daardie party in beheer tot die wederkoms, en breek staats- en privaateiendom om te wys jy is nie gelukkig met hulle nie. Van die krag van ‘n stemkruisie is daar geen sprake nie. Indien die ANC dit regkry om hulle ondersteuners polities volwasse te kry, sal hulle bitter vinnig uitgestem word; daarom die dawerende stilte van hulle kant of oor die onsinnige geweld. Ek stem beslis saam oor die ‘groot brêgh’; ook maar net ‘n sinnelose oefening. In elk geval is die twee partye se beleide so na aan mekaar, met dieselfde sienings oor die freedom charter, regstellende aksie en swart ekonomiese bemagting; al verskil is dat die DA dit seker meer effektief sal kan toepas as die ANC.

Danie ·

Slim Daan,wat Herman Toerien probeer se het,en ek stem met hom saam,is dat n rasse oorlog ten alle koste vermy moet word.Dis die laaste ding wat nodig is.Ek gee die VF+ en Solidariteit krediet dat hulle hul mense se saak in die politiek en vakbondwese stel en bevorder,maar sonder om dit op n rassistiese skeltaal manier te doen.
n Rasse oorlog kan n verbale rasse oorlog insluit.Dit dien ons saak net so min.Dan bly die persepsies dat wit mense swart mense wil benadeel,en rassisties is, en sal hulle die bevrydingsparty[ANC] en die EFF bly steun.Want die ANC en EFF gaan hulle mense vertel wit mense wil apartheid terugbring,en dan word hulle[ANC en EFF] weer sterker,waar hulle besig is om steun te verloor.
Ek gee dus wel die VF+ en Solidariteit krediet dat hulle Afrikaners se saak stel op n nie militante en nie rassistiese wyse.
So word die persepsies wat onder swart mense heers stadig afgebreek en n respek begin groei.Dit is n lang proses,maar almal moet dit volg.Dis al wat kan werk.Speel die bal,maar nie die man.
Dit beteken nie ek het nie probleme met beleidsaspekte van die VF+ nie.Of dan n totale gebrek aan n beleid.Daar word vaagweg gepraat van selfbeskikking.Maar hulle gee nooit konkrete voorstelle in die verband nie.Waarmee ek ook n groot probleem het is dat VF+ mense altyd smalend verwys na die DA wat die ANC nie kan stop nie.Kan die VF+ beter doen?Kan die VF+ die ANC weerhou van n twee derde meerderheid?Betekendie VF+ se 4 parlementariers enigiets in die parlement om die ANC se weghol meerderheid te keer?Net die DA kan n twee derde meerderheid afweer.So VF+ stop om n ander opposisie party aan te val om stemme te kry.Nou het julle self n party regs van julle wat julle gaan aanval om stemme te kry. n Mens maai wat jy saai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.