Nuuskommentaar: Politieke korrektheid – geroeste draad wat korrupte en gekaapte SA, ANC “aanmekaar hou”?

Herman Toerien

Plaaslike en internasionale berigte dui daarop dat die begrippe van politieke korrektheid en inkorrektheid nou eers nes geskop het om te bly. Terwyl daar uiteenlopende begrippe is vir wat alles as politiek korrek en inkorrek beskou kan word, is daar redelike konsensus dat politieke korrektheid as ’n proses beskou word om korrupsie en soortgelyk te verdoesel, en dat politieke inkorrektheid as metode beskou word om meningsvryheid en persvryheid te beskerm, en so korrupsie en staatskaping in die wiele te ry.

Watergate is na baie jare steeds die simbool van hoe ’n skande ’n president in die stof kan laat byt.

Maar hoe is dit moontlik dat politici wat in Suid-Afrika by veel erger betrek word, en na hulle milddadig die aanvoorwerk gedoen het om die land se ekonomie te saboteer, na grootskaalse onthullings steeds ’n magsfaktor is, en via kornuite die nuwe president steeds onder byna verlammende druk kan plaas?

Speel politieke korrektheid nie dalk ’n belangrike rol nie en, indien wel, hoe ’n groot rol speel dit in werklikheid?

Ter agtergrond. Na politieke korrektheid ’n ruk lank aan die deur van die openbare diskoers begin klop het om die prominensie te verkry wat dit verdien, het hierdie skrywer die kwessie in hierdie rubriek onder die loep geplaas. Hy het onder meer hardop gewonder of Maroela nie ’n belangrike bydrae gelewer het om die voorheen verlammende uitwerking van politieke korrektheid in SA aan die ban te doen, of minstens te knou nie.

Krediet is egter ook aan Tim du Plessis, onder meer oudredakteur van Rapport en bekende rubriekskrywer, gegee wat geskryf het politieke korrektheid is deur ’n groep swart redakteurs geknou, wat daarna deur die wit redakteurs gevolg is (Volksblad 18 Nov. 2014). Hy beskou politieke korrektheid as selfopgelegde perssensuur.

Dié Maroela-rubriek is hierna deur prof. Amanda Gouws van die US deur haar rubriek op Netwerk 24 as deel van die openbare diskoers geneem deur hierdie skrywer se kop te was. Die uwe het om verskeie redes besluit om nie in die openbare media hierop te reageer nie, onder andere omdat Gouws deur by verre die meeste van haar eie lesers gekritiseer is. Daar het genoeg vitrioel in die proses die onderwerp besoedel.

Dit het egter nie ’n einde aan die proses gebring om op internasionale skaal die kwessie van politieke korrektheid onder die loep te neem nie. Die Amerikaanse peilingsagentskap Rasmussen het pas ook oor die uitslag van ’n peiling oor politieke korrektheid berig. Hiervolgens meen Amerikaners oor die algemeen dat politieke korrektheid ’n groter probleem is vir persvryheid as die vitrioel waarmee pres. Donald Trump en ander politici mekaar met die teerkwas toetakel. Net 26% meen dat Amerikaners daarom werklike persvryheid geniet, en 68% meen dis nie die geval nie. Hulle moet versigtig wees wat hulle skryf of kan teenspoed te wagte wees.

Kan politieke korrektheid in Suid-Afrika werklik so invloedryk wees dat dit as die geroeste draad beskou kan word wat maak dat soveel ernstige probleme, byvoorbeeld staatskaping, met soveel moeite onder die knie gekry word?

Om ’n paar voorbeelde te noem wat in hierdie stadium die bloed laat kook:

  • ’n Groot deel van die reaksie op die presidensiële taakspan oor “grondhervorming” wat pas bekend gemaak is. Terwyl ’n groot deel van veral die Afrikaanse media, saam met die reaksie van individue, organisasies en politieke partye, nie skroom nie om die lakens uit te deel oor dié dele van die verslag wat duidelik ter wille van politieke uitkomste polities geplooi is, is daar ander wat dit as ’n lewensreddende verslag beskou waarvoor nie met die implementering gewag moet word tot artikel 25 van die Grondwet gewysig moet word nie.  Dat daar kundige menings is wat meen die implementering van die verslag kan die land se ekonomie kelder (en die proses het lank reeds begin manifesteer), is politiek inkorrek en behoort nie deel van die openbare diskoers te wees nie.
  • Die uitslag van die ANC se krisisberaad wat die afgelope naweek gehou is, sal eers later bekend wees. Uit dit wat reeds bekend is, maak sommige waarnemers die gevolgtrekking dat pres. Cyril Ramaphosa se posisie aanvanklik sterker gaan wees, maar dat die probleme met die staatskapers hom nog lank gaan ondermyn. Op RSG se program, Kommentaar, is onder meer verwys na die ANC se sekretaris-generaal en Zuma-ondersteuner, Ace Magashule, wat al hoe uitdagender teenoor die president word. Klits die Openbare Beskermer in die konkoksie in, asook die feit dat die algemene publiek net erg lont ruik dat Magashule so uitdagend en onaantasbaar kan bly, en terselfdertyd sprakeloos gelaat word omdat hulle nie kan verstaan dat daar niks van die wensdenkery kom dat Magashule nou “enige oomblik” gearresteer kan word nie.
  • Plaasaanvalle bly ’n teer kwessie, selfs na Ramaphosa uiteindelik die probleem by die naam genoem het, en swaargewigte in die media dit behoorlike dekking gegee het.  Die verlengde impak van die president het egter gou vervaag omdat daar veel meer konstantheid benodig word om genoegsaam ’n algemene klimaat teen plaasaanvalle te laat posvat.
  • In ’n ras-gepolariseerde samelewing soos Suid-Afrika is dit baie kompleks om die waarheid kwyt te raak sonder om iewers aanstoot te gee. Johann Maarman, eindredakteur van Die Burger, beskryf dit goed in sy rubriek waar hy mooi uitwys hoe die DA-leier, Mmusi Maimane, homself en die DA benadeel het deur verkeerde politieke opsies uit te oefen.

Wat is die grootste van verskillende euwels? Om persvryheid te beskerm deur bereid te wees om politieke inkorrektheid in te span wanneer politieke korrektheid blinde propaganda vir die regerende party blyk te wees? Persvryheid is immers baie noodsaaklik om korrupsie en, in ons geval, ook staatskaping teen te werk.

Persvryheid is weer verweef met meningsvryheid, ’n basiese mensereg. Deur politieke korrektheid op te eis, word die bevolking van ’n basiese mensereg gestroop. In die Suid-Afrikaanse konteks geld presies dieselfde as ’n meerderheid die minderheid van ’n basiese mensereg, die reg om eiendom te besit, wil stroop of minstens beperk. Politieke korrektheid word so ’n drakoniese maatreël wat ingespan word om die demokrasie, menseregte, die waarheid te ondermyn.

’n Instrument wat die Suid-Afrikaanse regering al verskeie kere as teenvoeter vir politieke inkorrektheid ingespan het, is om diegene wat dit doen, soos AfriForum en ander instansies se veldtogte om in die buiteland druk op die regering te plaas om die regte ding te doen, van sedisie en selfs hoogverraad te beskuldig, terwyl dié instansies dit juis in die beste belang van die land doen, en die regering van voortgesette skadelike stappe (dus die eintlike vyande van die bevolking) wil laat stuit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Paul ·

Ek wil bylas by Herman se artikel: Politieke korrektheid strem vooruitgang en groei. Neem as voorbeeld die navorsingsartikel deur Stellenbosch Universiteit oor die IK van bruin vroue waaroor so vreeslike bohaai opgeskop is, soveel so dat dit van die wetenskaplike joernaal wat dit aanvaar het vir publikasie onttrek is. As hierdie navorsing oor my volkie was, sou ek die navorsing wat gedoen is dankbaar aangryp en die aangeduide oorsaak van wanvoeding probeer aanspreek. Sodoende sal die volgende geslag beter af wees. Nou moet hierdie waarheid weggesteek word, want dis nie polities korrek nie (selfs afstootlik!)… So sal hierdie kwessie onaangespreek gelaat word en ons maar voortploeter in die donker. Ons doen onsself in deur sulke inligting te weerhou. Vooruitgang en groeie word belemmer. Dankie politieke korrektheid daarvoor!

Joubert Pierre ·

Politieke korrektheid het ‘n onding geword. ‘n Wêreldwye Twee-gesig ding wat net geld as dit klaende groepe mense pas wat nie nie hul sin kry nie, of nie iets kan of wil, op eie stoom, bereik nie. Dit lyk soos ‘n jaloesie gedrewe ding/iets.

Vryheid ·

En wie kry swaar op die ou end…. Die gewone man op straat.

Heinrich ·

Dis maklik om te toets. In enige stelling wat gemaak word, met die grondwetlike uitgangspunt dat almal gelyk is, verander alle woorde van “wit” na “swart” en andersom, en kyk of dit sin maak. As dit nié sin maak nie is dit mos net propaganda.

Trojaanse Donkie ·

Hoekom moet mense nog steeds dink dat die anc die land regeer(op sy misrabele manier)?. Persoonlik sal ek my geld op die EFF sit wat uiteindelik die septer sal swaai. Die anc is te hopeloos verdeeld en besig met hulle eie interne oorlog om hulle te steur met waarheen die land op pad is. Almal vreet dat dit bars by die trog van belastingbetalers se geld.

Jerry ·

Wanneer politieke inkorrektheid die elemente van veralgemening, bevooroordeeldheid en verdeeldheid bevat soos in Ernst en Steve se gevalle, dan is dit net so ver verwyder van die waarheid as wat die waarheid verdoesel word deur politieke korrektheid.

Piet ·

Politieke korrektheid: “stilbly in die aangesig van feite (vorm van fopnuus). Dan ook om opinies voorgehou as feite.
Sien die ANCYL wil nou militêre styl kampe hou – klink vir my só na Hitler Jugend.

John ·

Ons leef in ‘n eenpartystaat. Watter teenstand het die ANC? Mandela word as die foutlose goeie liefdevolle wese uitgebeeld, selfs deur baie wit mense, en die ANC leef knus onder die absoluut onkreukelbare mantel. So het die ANC die enigste ‘goeie’ in die land geword.

Vlakvark ·

Presies! Ons is oppad na die “ANC National Democratic Society Animal Farm waar die klein elite alle magshefbome beheer en die stemvee plebs in onkunde en psigologiese verslawing hou. Maar daar is ‘n uitweg indien alle goeie SA-ners gesien en gehoor word dat hulle stry vir geregtigheid. EN ons moet die oë en ore wees vir ons goeie joernaliste wat polities in-korrek optree ter bevordering van geregtigheid en naasteliefde. Ons Skepper vereis dat ons naasteliefde uitleef! Ons het werk om te doen.

Bestudeer George Orwell se “1984”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.