Nuuskommentaar: Positief. Ons móét positief wees. Kloekmoedig afgestof

Om neerhalend na iemand wat die land se toekoms negatief beoordeel vinger te wys, klaar nie die negatiewe denke op nie – dit steek eerder die lont aan. Tog hou dit ’n wye reeks voordele in om ’n blymoedige mens te wees, maar dit kort ál harder werk om te midde van wavragte negatiewe nuus positief te bly.

Dit verg nie veel van ’n profeet wees om te weet dat vanoggend se opskrif ook heelwat argwaan gaan ontlok nie. Baie Suid-Afrikaners is boos oor die tempo waarin die ANC die land by die status van ’n piesangrepubliek aangesleep bring. Sommiges meen die koeël is onomkeerbaar reeds deur die kerk, ander meen die ANC maak so droog, daar is geen manier dat die ANC deel van ’n herstelproses kan wees nie.

Min mense sal verskil daarvan dat die afgelope drie dae se nuuskommentare, wat as ’n trilogie van negatiwiteit beskryf kan word, nou nie juis die positiewe alternatief belig nie, tog het die lesers goed op die drie stukke gereageer. Heelwat het hul frustrasie aangedui dat hulle weens verskeie faktore nie die land kan verlaat nie.

Tonne positiwiteit is immers al voorheen uitgestort om van Suid-Afrika ’n modelstaat te maak, maar dinge boer nou/steeds gewoon agteruit.

Maar aldus die ekonoom, dr. Roelof Botha, sing die mense se opvattings en die werklikheid soms verskillende deuntjies. Sy artikel hieroor op Netwerk24 het verskyn onder die titel “Syfers wat die suurknolle graag miskyk”.

Dit is egter nie net verbeelding dat Suid-Afrikaners redelik die hoenders in is oor hoe sake gaan nie. Die jaarlikse World Happiness Report van 2019 plaas Suid-Afrika 106de uit 156 lande. Die uitslae en werklike, objektiewe feite loop egter nie altyd saam nie. So tel Paraguay en Panama onder die gelukkigste lande, terwyl meer as die helfte van die VSA se inwoners te midde van ’n ekonomiese opbloei negatief is. Daarteenoor is slegs ’n derde van die wêreldbevolking negatief.

Positiwiteit, en positiewe denke, word graag as wonderlike deug voorgehou.

As positief en positiwiteit sulke wonderlike aanwinste is, hoeveel keer kom dié woorde in die Bybel voor?

Nie een keer nie. Nóg in die 1953- nóg in die 1983-vertaling, en ook nie in die Bybel vir Almal nie.

Dit beteken egter nie dat die Christen nie positief mag wees nie. Trouens, motiveringsprekers wat “positive thinking” as tema inspan, wend hulle dikwels tot die Bybel vir inspirasie en inhoud. Daar is baie woorde wat maar skraps in die Bybel gebruik word, of glad nie, en tog sentraal staan in die Christen se wyse van gedrag openbaar.

Die woord “dankie” kom byvoorbeeld glad nie in die 1983-vertaling voor nie, en in die 1953-vertaling is dit eweneens so skaars soos hoendertande. Die woord “asseblief” kom in die 1983-vertaling 43 keer voor, en in die 1953-vertaling net vyf keer. Dit dui eerder op ’n wyse van taalaanwendig, en selfs die afwesigheid van sekere woorde in die Bybelse tale dui eerder op destydse taalmaniere as op swak maniere.

Selfs sonder die spesifieke woord “positief” bevat die Bybel talle voorbeelde van woorde en uitdrukkings wat inhoud gee aan positiewe denke. Lees gerus hier.

Op Facebook het verskeie bekendes hul menings gelug oor alternatiewe woorde wat die Bybel moontlik in plaas van “positief” gebruik. Dit sluit in hoopvol of vertroue, hoop, blymoedig, “Wees bly in die Here” of “Verbly jou in die Here” en “Vind jou vreugde in die Here en vertrou op Hom”. Mens kan realisties wees sonder om alles te verdoem: “Daar waar jou hart is …”

’n Behoorlike vloedgolf van lesers is volgens hul lesersterugvoer uiters negatief oor die toedrag van sake in Suid-Afrika. Intense teleurstelling ná ’n opgeblase euforie neig om ’n pot euforiese trauma of depressie te veroorsaak, en met die Ramaforie se inploffing was dit ook nie anders nie.

Vanoggend wil ek ’n oproep op die positiewe doen, hopelik met die vorige dag se nuus as inspirasie. Vanoggend se raadpleeg van nuusbronne lewer ook ’n skraps oes aan positiewe nuus op.

My verskoning dat die eie voorbeeld nou hier gebruik word.

Die uwe het wel self gister ’n stewige toets oor positiewe denke en nuus deurloop. Die afgelope net meer as vier jaar kry die uwe behandeling vir wat as ’n ongeneeslike maar nieterminale kanker, Waldenstrom, beskryf word. Aanvanklik was daar nog ’n tweede kanker wat nou al ’n ruk in remissie is. Gister was ’n belangrike D-dag. Die aanduidings was dat die chemo wat die laaste jaar ingespan is, ’n baie positiewe uitwerking het, en daar is inderdaad groot beterskap. Gister sou die internis die uitslag gee – is die herstel genoegsaam dat verdere behandeling vir eers nie meer nodig sou wees nie, of moet dit voortgesit word. Die uitslag was dat daar steeds kankerselle aanwesig is, en nog minstens een sesmaandekursus se behandeling nodig is. Ek kan egter nou eers ’n blaaskans kry.

Of dit positief is of negatief, hang van die mens se eie beoordeling af. As ’n mens my toestand met ’n jaar gelede vergelyk, is dit sommer baie positief. Toe was ek 21 dae aaneenlopend in die hospitaal met griep en longontsteking. Drie maal het die internis gemeen ek gaan dit nie maak nie. Ek was dikwels in ’n rolstoel, was erg maer, en bitterlik swak. Nou is ek, ondanks reeds 36 chemo’s die afgelope vier jaar, al baie sterker, swaarder en gesonder. Ek het die vooruitsig van nog ses chemo’s, en dan waarskynlik ’n paar jaar remissie. Ek kon met ’n lekker hart van die hospitaaltjie (wat die afgelope paar jaar my tweede tuiste is) se personeel vir eers afskeid neem. Vir my voel dit positief, al is dit effe gedemp, maar gisteraand het ons die eerste oproep gekry om te simpatiseer oor die slegte nuus.

Wees kloekmoedig. Dis miskien die belangrikste boodskap wat ek nou vir myself het. Wat dit in sekere sin makliker maak, is dat die nuus die afgelope ruk oor die algemeen baie positief – selfs oorweldigend positief was.

Dit geskied egter teen die agtergrond van die feit dat nieterminaal maar ook as ongeneeslik beskryf word. Klinies is die beste waarop ’n mens kan hoop dat fases van “onder beheer” bereik kan word, fases wat volgens die literatuur gewoonlik so twee jaar duur, maar soms langer, en daar was volgens die jongste literatuur wat ek gesien het, enkele gevalle wat nooit teruggekom het nie. (Dis toe die woord “kloekmoedig” in my gedagtes opkom. Dit word as verouderd beskou, en is Nederlands én Afrikaans. Dit kom in Gesang 75:1 voor.)

Dit word soms bloot met die woord “dapper” verklaar, maar ook woorde soos stoutmoedig, onverskrokke. Gedra u manlik, manhaftig/manmoedig. “Onversaagd” word ook ingespan. In Nederlands word onversaagd “op onversaagde wijze” naas dapper ingespan.

O Here, gee my asseblief die krag daartoe.

Dit is interessant hoeveel wenke oor positiewe denke behels dat iets gedoen moet word om positiewe denke te ontwikkel – dis nie iets wat sommer vanself gebeur nie. Daar is talle verwysings wat vra dat mense hul brein moet herprogrammeer.

Is dit nie baie negatief om van die standpunt uit te gaan dat negatief wees die natuurlike houding is, en dat positief daarenteen harde werk vereis en dus eintlik ’n onnatuurlike toestand is nie?

Die beloning is dat jou positiewe denke jou sukses sal bepaal.

Is hierdie soort denke noodwendig realisties? Hoeveel van die boere wat onlangs weens die ongekende droogte die handdoek ingewerp het, was noodwendig negatief voor die droogte? Het baie nie dalk positief uitgesien na die volgende paar jaar nie? Is hul ondergang werklik aan negatiewe denke te danke?

En dan is ’n mens nog net by positiewe denke, en nie ten volle positiwiteit nie.

Klik hier om meer te lees.

Gesindheid

“Jou gesindheid maak ’n verskil!” lui ’n opskrif.

Wat dink jy het die grootste uitwerking op jou geluk?

  • jou omstandighede
  • jou gene
  • jou gesindheid

Party sou “omstandighede” kies. Hulle sê dalk: “Ek sou gelukkig gewees het …

  • “as ek maar net meer geld gehad het”
  • “as ek maar net gelukkig getroud was”
  • “as ek maar net gesonder was”

Maar in werklikheid het geluk dikwels meer te doen met jou gesindheid as met jou omstandighede of jou gene. En dit is goeie nuus. Waarom? Want anders as jou omstandighede of jou gene – waaraan jy min of niks kan doen nie – kan jy iets aan jou gesindheid doen.

’n Goeie geneesmiddel

’n Bybelspreuk sê: “’n Vrolike mens is ’n gesonde mens, ’n neerslagtige mens raak uitgeput” (Spreuke 17:22, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Met ander woorde, jou gesindheid maak ’n verskil! Dit kan bepaal of jy ’n doelwit bereik of tou opgooi en of ’n tragedie die beste of die slegste in jou na vore bring.

Party mense stem dalk nie hiermee saam nie. Hulle sê dalk:

  • “Hoekom moet ek maak asof alles goed gaan?”
  • “Positiewe denke gaan nie my situasie verander nie.”
  • “Ek sal eerder realisties wees as om in ’n droomwêreld te leef.”

Hierdie besware klink dalk geldig. Maar dit is voordelig om ’n positiewe uitkyk te verkry.

Die Daily Maverick skryf hieroor soos volg: “Life is complex and happiness, like other emotions, doesn’t exist in a vacuum.”

Miskien bied die lied, “Tel jou seëninge, tel hul een vir een”, ’n goeie manier om die pad na positiwiteit aan te pak.

Baie sterkte.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wicus

Dankie vir die positiewe boodskap Herman, doen so voort

Baie sterkte op jou pad.

Tilly

Baie dankie vir jou positiewe berig. Ek is baie jammer om te hoor waardeer jy is en is baie bly dat jy beter is.

Ek wil net byse: Daar is n groot verskil tussen die land wat in n gemors is en jou gesondheid.

Die land se korrupsie, moord, verkragting, ens is nie regtig iets waaroor n mens kan positief wees nie.

Gesondheid, skuld, huwelik, ens is in enige land (daaraan kan n mens werk of ten minste iets daaraan doen), ons land se probleme is heeltemal n ander storie.

Willie

Interresant hoe Goddelose mense beskryf word… Dankie vir die positiewe boodskap, mens vergeet baie maklik..al is dit moeilik

Dries

Di President beloof 1 000 000 werke in 10 jaar – dus gemiddeld 200 000 per jaar. Maar, ons stoot ongeveer 600 000 nuwe werkers, na skool, elke jaar in di werkmag in. Dus, sal ons steeds in hierdie opsig, agteruit boer! AL di SBO’s se gesaamentlike skuld is by di 1 000 Miljard – dus verlore vir di opbou van di ekonomie. Di Staat leen DAAGLIKS, meer as n Miljard. Op 16 Desember 1838, kom ongeveer 150 mense te staan teen n oormag van 5 000. Di uitslag is Geskiedenis… Di verskil tussen vandag en toe, is di onwrikbare… Lees meer »

Werner

So ons moet maar blymoedig die afgrond in solank ons net nie die waarheid bekend maak nie