Nuuskommentaar: Pres. Ramaphosa?

Cyril Ramaphosa

Cyril Ramaphosa

‘n Hele paar nuusgebeure loop skynbaar ineen om bespiegelinge kliphard die ronde te laat doen dat pres. Jacob Zuma se dae as staatshoof min raak, en adjunk-president Cyril Ramaphosa die leisels gaan oorneem.

Die bespiegelings het behoorlik momentum gekry toe Zuma kort voor die Staatsrede effektief met verpligte verlof gestuur is “om te rus”, en boonop ‘n paar dae in die hospitaal vertoef het vir redes wat maar vaag gehou word.

Hierna het ‘n skynbaar futlose Zuma ‘n futlose Staatsrede gelewer.

Terwyl die ANC steeds volhou dat Zuma wel bestem is om sy volle vyfjaar-termyn uit te dien, het Ramaphosa, met die hulp van die SAUK, sy eie “staatsrede” gelewer. ‘n Mens hoef nie met die helm gebore te wees om te sien dat dit ‘n aksie is om Ramaphosa se statuur te verhoog en om sake binne die ANC tot bedaring te bring nie.

In die sosiale media is daar oproepe dat hoe gouer Ramaphosa by Zuma kan oorneem, hoe beter vir die land. Diegene buite die ANC wat briek wil aandraai hiermee, is bang dat ‘n pres. Ramaphosa só goed mag vaar dat dit die ruimte vir opposisiepartye om te groei, kan toeknyp.

Tog is nie alle waarnemers oortuig dat Ramaphosa Zuma se troonprins sal wees nie. Na hy oorreed is om tydens die Mangaung-konferensie in Bloemfontein as adjunk-presidentskandidaat van die ANC te staan, en hy inderdaad in die proses Zuma se posisie versterk het, is hy – soos die voormalige adjunk-pres. Kgalema Motlanthe in die skaduwee gehou.

Die ANC het (vergeefs) alles ingespan om Zuma se statuur te bou. Wat in ‘n mate geboemerang het. Intussen het Zuma skynbaar self dr. Zweli Mkhize as kroonprins gesalf.

Daar is ook toenemende aanduidings dat prominente Xhosas voel die ANC het nou lank genoeg ‘n Zoeloe as president gehad. Voetwerk vind verbete plaas, maar op so ‘n manier dat dit nie sommer as “tribalism” verdag gemaak kan word nie. Feit bly egter dat Amcu se grootste steun onder Xhosas geleë is.

Maar wat kan objektief verwag word? Die Sunday Times het nuwe en reeds bekende inligting saamgevoeg om ‘n gesondheidsprofiel van Zuma op te stel. Zuma is 72 jaar oud, hy is ‘n diabeet met hoë bloeddruk en sy hart is nie na wense nie.

Die volgehoue Zuma-bashing het klaarblyklik ook uiteindelik ‘n spoor op sy gemoed gelaat.

Analiste wys nou ook sommer daarop hoe die presidentskap spore op ander gelaat het, soos onder meer pres. Barack Obama. As peilings ontleed word oor hoekom die Amerikaanse president in ‘n emosionele knyptang is, is dit duidelik dat die werkende demokrasie nie sagkens met ‘n leier werk nie. Word owerheidsuitgawes besnoei, bou die verset op omdat die ekonomie nie genoeg gestimuleer word nie. Word uitgawes opgeskuif, is die kiesers weer kwaad omdat die staat nie genoeg besuinig nie.

Herstel die ekonomie, glo bykans die helfte van die kiesers die land verkeer in ‘n resessie, en dat die regering die kluts kwyt is oor die koers wat ingeslaan word.
En dit in die VSA, waar die president se eie gewildheid op net onder die vyftig persent bly boer.

In Suid-Afrika, met die ANC se oorweldigende oorheersing, het faksievorming nou die “lastigheid” ontwikkel dat die radikale vleuel steun kry, en aangehits word deur die Malema-kindertuin. Gematigdes kry weer aanklank by die opposisie aan die ander kant.

Zuma het self, met sy makro-kabinet ‘n kompromis tussen kommunistiese ideoloë, tegnokrate en ander merietelose belange probeer slaan. In die proses het hy nou ‘n mini-parlement binne die parlement, wat ook soos ‘n klomp wilde tarentale steeks is om soos ‘n klomp lêhoenders in dieselfde kampie ingejaag te word.

‘n Olike Zuma aan die stuur gaan vertroue in die land verder knou. ‘n Gesonde Zuma gaan vertroue in die land verder knou. ‘n Posisie waar Zuma in die praktyk ‘n seremoniële staatshoof word, en Ramaphosa ‘n “uitvoerende premier” is, so gebrekkig soos dit mag wees, dalk die beste opsie vir die volgende vyf jaar.

Maar… Zuma sal nie gerus kan slaap as hy nie seker is sy lojaliste bly sterk genoeg verskans om hom uit die howe te hou nie. En dit lyk nie of Zuma gereed is om selfs sy beste maats genoegsaam te vertrou nie.

Tong in die kies word selfs gespot dat Zuma nou met klimaatskepping besig is om voor te berei vir mediese parool, sou sake werklik vir hom skeef loop.

Omtrent al wat seker is dat die ANC se kommunikasie nie so geloofwaardig is dat die waarnemers en publiek alles wat aan die land opgedis word oor Zuma, vir soetkoek opvreet nie.

En dit is nie gesond vir die land se ekonomiese herstel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.