Nuuskommentaar: Prestasie en kwalifikasie  

Argieffoto

Met die matriekuitslae vir 2017 nou bekend, word flink ingespring om ontledings te doen. Menings van kenners verskil aansienlik, en groot kommer bestaan in sommige kringe, terwyl ander (insluitend dié wat geslaag het) juig.

Die vraag of daar ’n verband tussen vermoë en kwalifikasies is, het hom egter pas weer op ’n ander vlak afgespeel, en weer is pres. Donald Trump van die VSA die onderwerp onder die vergrootglas.

Weer eens kan, verdiend of onverdiend, ’n vergelyking tussen Trump en pres. Jacob Zuma getref word.

Kort ná Jaques Pauw se opspraakwekkende boek oor Zuma en sy kornuite en patronate verskyn het, verskyn ’n boek oor Trump. Die boek, Fire and Fury in the White House, is deur Michael Wolff geskryf, en bevat die produk van meer as 200 onderhoude, waaronder met Steve Bannon. Bannon se aanstelling as hoofstrateeg in die Withuis nadat Trump president geword het, was omstrede. Bannon is onder meer hoof van Breibart, wat hom magtig in die publikasiewêreld maak. Sy regse aanslag is goed bekend. Trump het hom later afgedank, en Bannon het nou in hierdie boek sy mond goed uitgespoel.

Hy het veral Trump jr. se bande met die Russe aan verraad gelyk gestel. Pres. Trump se reaksie was dat Bannon, toe hy afgedank is, nie net sy werk verloor het nie, maar ook sy verstand. Hy dreig met regsaksie, onder meer vir laster.

Die Los Angeles Times verwys in sy reaksie op die boek as A Dirty Dozen Takeaways From That Trump Book”.

Pauw se lywige boek klim goed onder Zuma in, en ’n mens staan eintlik verstom dat ’n mens sonder veel skoolopleiding, en wat die land in minder as twee termyne tot in die snippermandjie kon regeer, ook in staat sou wees om so ’n magtige “empire” binne die staat te bou, al was dit met hulp van onder meer die Guptas.

En Pauw se boek is nie die enigste boek wat dinge binne die Zuma-empire oopkrap nie.

Dit laat die vraag: “Moet ’n mens kwalifikasies hê om ’n suksesvolle regeringshoof te wees?”

donald-trump-01

Donald Trump. Foto: Commons.wikimedia.org

Een van die VSA se suksesvolste presidente was Reagan, wat geen intellektuele reus was nie. Hy was egter wys genoeg om goeie adviseurs aan te stel en na hulle te luister. Trump  beskik oor ’n BS-graad in ekonomie, en was voor hy president geword het ’n magnaat. Dit is nie sy intellek wat onder verdenking is nie, maar sy regeerstyl en die aanwending van sy intellek.

Niemand dink Zuma is dom nie, hy is bloot deur ’n senior familielid die geleentheid tot verdere studie ontneem. Die leemtes weens die gebrekkige opleiding, eerder as gebrek aan intellek, blyk net te dikwels en sy uitsprake het die land al enorme skade berokken.

Die Amerikaanse ekonomie het onder Trump se jaar oue bewind verbeter en die Amerikaners beleef nou ’n byna ongekende optimisme. Selfs Trump, wat steeds deur sy vyande gejag en verdag gemaak word, het baat gevind. Tevredenheid met hoe Trump as president vaar, is nou die hoogste sedert die middel van verlede jaar. Volgens die jongste peiling is 45% van die Amerikaners tevrede met sy werksverrigting, en 53% is ontevrede. (In Augustus 2017 was dit weer net 38%.)

 Matriekuitslae – Die lakmoestoets kom nog

 Die DA meen die werklike slaagsyfer is misleidend en eintlik net 37,3%. Die Vryheidsfront Plus is bekommerd oor die gehalte van die matriek.

Syfers is weer eens aangepas, en die vraag is of daarmee gegoël is, en of dit werklik sekere ingeboude ongelykhede op ’n empiriese wyse aanspreek.

Met die beloofde gratis tersiêre opleiding vir studente uit arm en middelklashuise, gaan ’n groter persentasie afgestudeerdes mettertyd hul weg na universiteite en ander opleidingsentra vind, en sal ’n beter oordeel gevel kan word oor die gehalte ná matriek.

Dosente merk gereeld op dat Suid-Afrikaanse studente ’n groot gereedheidsagterstand by studente van sekere ander Afrikalande het, waaronder Zimbabwe, al spandeer Suid-Afrika veel meer per kop aan skool-onderwys.

Dié onderwys, baie se finale akademiese opleiding, is ook nie beroepsgerig nie, aldus die Vryheidsfront Plus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish ·

Wat die matriekuitslae betref, is die geloofwaardigheid myns insiens verbind aan die regering se vermoë om vertroue in te boesem deur hul regeringsermoë op alle vlakke. Dit, laat ongelukkig veel te wense na en gevolglik is die kenners en opposisie se mening vir my van meer waarde. Onafhanklike toetse in het juis in 2017 ernstige leemtes blootgelê in die onderwysstelsel. Korrupsie, soos die verkoop van poste taan die beeld verder. Ek het geen vertroue in die uitslag nie en enige wysiging sal my nie verbaas of skok nie.
Trump, is n man uit een stuk en dis nou maar so indien jy nie van sy styl hou nie. Daar is nie n vergelyk te tref met die president van die helhool nie.

Doensovoort ·

As dosent by een van die Universiteite waar hierdie Matrikulante waarskynlik volgende jaar gaan aanmeld, wil ek net sê: Welgedaan! En gun my ook die geleentheid om sommer ook vir die Afrikaanse Hoërskole hier in Gauteng (want dis die uitslae wat ek het), weereens te sê: skitterende werk. Hulle kan probeer hoe hard hulle wil, sê wat hulle wil, doen wat hulle wil. Maar slaan die koerant oop en julle sal dadelik die ‘besige’ skole op die bladsye erken. En, uit ervaring, weet ek dat hierdie hoopvolle verdrukte minderheid weereens gaan opstaan en (in Engels) presteer op tersiêre vlak. Dit was nog nooit anders nie. Veg vir julle plekkie al voel die oormag oorweldigend. Doen elke jaar net beter, ten spyte van die doemprofete. Dit kweek die tipe jongmens wat ‘n suksespad saam met God loop. Ek salueer julle!

DieTwee weë ·

Die boom word aan sy vrugte geken. Mnr.Trump se regeerstyl kan met geen ander staatshoof s’n vergelyk word nie. Dit is uniek. In sy toespraak tydens die Verenigde Nasies se Kongres in New York- Sept. 2017 het hy hom onderskei deur onbevrees op die mislukking en bedrog van sosialisme en kommunisme te wys. Hy het sy afkeur aan roekelose wêreldleiers met terreuragendas so duidelik gestel dat Venezuela se Min. van Buitelandse Sake dit as ” This Racist and Supremacist theory” afgesnork het. Emmanuel Macron wat gemultilateraal het totdat mens sý intellek begin bevraagteken het. Minister Benjamin Netanyahu som Pres. Trump se rede met reg so op – ” He says no speech was “Bolder more Courageous and Forthright as the one delivered by Pres. Trump. Kan woorde ‘n wêreld verander? Dit kan slegs inspireer. Vir die Christen is die Hoop en Blye Tyding: “God se Woord.” Amen?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.