Nuuskommentaar: Pretoria se naamkwessie

Na berig word, is Pretoria se naamkwessie oplaas ontlont. Volgens die onbevestigde berig wat deur RSG gedra is het die uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metroraad in ‘n skikking met opposisiepartye ooreengekom dat die naam Pretoria onveranderd gaan bly, maar dat 27 straatname gaan verander.

Pretoria se naamkwessie is nie die eerste en die laaste wat in Suid-Afrika aan die bod kom nie. As administratiewe hoofstad van die land is dit egter nie net ‘n kwessie vir Pretorianers nie, maar ‘n nasionale kwessie. Die aap sal eers Dinsdag behoorlik uit die mou gelaat word wanneer die burgemeester, Kgosientso Ramokgopa, sy munisipale rede lewer.

Dit is nie net die weglaat van die naam Pretoria, of die redusering daarvan tot ‘n klein deeltjie van die middestad wat omstrede was nie – die naam Tshwane is ewe-eens omstrede. Historici is nie oortuig dat daar inderdaad ooit ‘n hoofman Tshwane bestaan het nie, en alternatiewe, soos ‘n rituele bees wat in die omgewing van die Wonderboom vrygelaat is, word as herkoms voorgehou. Nogtans is ‘n standbeeld van Tshwane gemaak. Nguni-stamme het ook nie werklik die gebruik van Tshwane oorgeneem nie, en gebruik steeds die naam Pitoli.

As uitvloeisel van die Kemptonparkse onderhandelings was die veronderstelling dat die naamkwessie op ‘n grondslag van kompromie hanteer sou word. Die nuwe munisipale strukture sou dus een naam kon hê, en die stede en dorpe in die bedieningsgebied van die munisipaliteit, ‘n ander. Veral in Limpopo het hiervan dadels gekom, en verskeie hofsake afgegee, onder meer oor die naam Louis Trichardt. Die aksies het ook aangedui hoe uiteenlopend geskiedenisvertolking kan wees, en dieselfde plofpotensiaal saamdra as die kwessie oor eerste besetting en grondbesit.

Die onderliggende probleem is dat die naamsveranderings as ‘n faset beskou word van die opsegging van die nasionale vredesakkoord waarop die huidige grondwetlike bedeling gebou word. Dit, soos aandrang dat die regstaatbeginsel opgesê moet word, stel veranderingsdrywers uit die vorige bedeling soos FW de Klerk besonder bloot aan kritiek soos naïwiteit tot verraaier wees.

Enige sweempie van nasionale kohesie wat nodig is om die onderliggende brandstof vir die huidige grondwetlike bedeling te voorsien, word onder druk geplaas. Voeg die Malema-Manyi-faktore by en die die polarisasievlakke bly baie hoog, en volgens sommige bronne eskaleer dit.

Die ironie is dat die sogenaamde herstel van oorspronklike name dikwels foutief is. ‘n Voorbeeld hiervan is dat na die ANC-kongres wat die einde van die jaar plaasvind, as die Mangaung-kongres verwys word. As na Mangaung as pleknaam verwys word, is dit eintlik geografies bloot die versamelnaam van ‘n aantal tradisioneel swart woongebiede. Verder is dit die naam van die munisipale struktuur wat verskeie stede, naamlik Bloemfontein, Botshabelo en ThabaNchu, aldus die ouditeur-generaal, in die moeras in bestuur. Boonop gee sommige kommentators soos prof. Amanda Gouws erg aanstoot deur te volhard om ‘n uitspraak vir Mangaung te gebruik wat “plek wat stink” beteken.

Verder blyk dit uit die werk van die historikus, Theal McCall, dat die naam Bloemfontein bekend was voor die bevolkingsgroepe wat die naam Mangaung gebruik, in die omgewing gekom het, maar dan moet voorstanders van die naam Bloemfontein aanvaar dit het niks met blommetjies by die fontein te make nie, maar sy herkoms het by ‘n Korannaleier, Jan Bloem, wat bekend is daarvoor dat hy taamlik wydsbeen oor die gereg gery het. Soms is dit bekend wat die oorspronklike inwoners plekke genoem het. Die kanse is egter skraal dat Kaapstad na Hoerikwaggo, een van die Koi-name vir die plek, verander sal word.

Name wat aanstoot gee is uiteraard vroeg reeds vervang. Juis hierin lê die knoop; van die plaasvervangende name gee ewe-eens aanstoot. Om mense wat die lied, Kill the Boer, kill the farmer, graag gesing het, mense wat landmyne op plaaspaaie geplant het, en vele meer grudade gepleeg het met straat- en plekname te vereer, is ook nie in pas met die vredesakkoord nie. So word die plofpotensiaal bloot saamgedra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.