Nuuskommentaar: Pretoria se naamsage en al die kommentare

red pretoria naambordProf Jonathan Jansen, Kovsierektor, het ‘n stormagtige week agter die blad. Opsommend, volgens hom, het hy nie heeltemal gesê wat berig is dat hy gesê het nie, en dit wat gesê is, is anders bedoel, maar wel bedoel, en hy staan by wat hy gesê het, en mense is geregtig op hul opinie daaroor, maar hy is nogtans geskok oor die trant van sommige van die kritiek op hom.

Ook pres. Jacob Zuma het onder skoot gekom, en sy beeldpoetser, Mac Maharaj, moes weer bontstaan oor iets wat die president kwytgeraak het toe hy by ‘n kerkfunksie van die toespraak wat vir hom geskryf is afgewyk het en sy voet weer netjies daarin gesit het. In hierdie geval het Zuma na berig word iets gesê tot die effek dat sy kritici vervloek is.

Baie van die kritiek, verdiend of onverdiend, kom in briewekolomme en veral die kuberruim voor.

Sielkundiges en sosioloë het al boekdele geskryf om te probeer verklaar oor hoekom Vaal Jannie in ‘n gesprek kwalik sy mond sal oopmaak, maar wanneer hy die kans kry om naamloos of gekoester agter ‘n skuilnaam sy sê te sê, in ‘n monster ontaard.

Dis nie net openbare figure en mense wat omstrede goed kwytraak wat onder sadistiese skoot kom nie. In Suid-Afrika is dit veral goed bekend gestel toe ‘n lafaard skoolmeisies se naam op Mixit op die sogenaamde “sletlys” geplaas het.

Dit was ‘n wêreldwye verskynsel, en diensverskaffers het aanvanklik rug styfgemaak om die identiteit van hul “kliënte” geheim te hou weens gewaande regte wat die kliënte sou geniet – al het die beskerming van die plegers op die beskerming van ‘n misdaad (kriminele laster) neerkom en dat ‘n maatskaplike probleem gevoed is. Wêreldwyd is die juridiese skroewe aangedraai.

Die boodskap is duidelik: Elke reg word begrens deur die reg van ‘n ander. Die een se meningsvryheid en reg op privaatheid strek nie so ver as om ‘n ander te belaster en sy reg op waardigheid te skend nie, en nog minder om ‘m misdaad ten koste van ‘n slagoffer met stilswye te beloon. Haatspraak in Suid-Afrika is, soos in die meeste beskaafde lande ter wêrelde, ook ‘n strafbare misdaad soos Julius Malema agtergekom het.

Sonder die balanseer van regte sou daar anargie wees. As my bewegingsvryheid nie deur ‘n ander se reg op privaatheid beperk was nie, kan ek en Pumba vyfuur soggens kortpad deur die bure se slaapkamer neem om die koerant te gaan koop. Die tronkbewaarder  wat die tronkdeure gesluit hou sou die inwoners se reg op bewegingsvryheid erg skend.

Maroelalesers sou agterkom dat daar aan die einde van berigte ‘n staande inskrywing gekom het wat sekere tipes kommentaar buite perke plaas: “Maroela Media hou van ‘n lekker warm debat en wil aan alle kuiermense die geleentheid gee om hul mening te lug. Ons sal egter geen rassisme, seksisme, homofobie, vieslike persoonlike opmerkings, ander vorms van haatspraak of kru, kras en vuil taal duld nie. Maroela Media behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder. Moenie die oom of tannie in die familie wees van wie niemand hou nie.”

Wil die gemiddelde ordentlike leser wat gebalanseerd na die lewe kyk werklik sy leesstof besoedel hê met skryfsels wat buite-om die beperkings hierbo is?

Die meeste media-instellings behou hulle die een of ander reg voor om te keer dat enige twak, wettig of darem binne die raamwerk van die wet, hul media besoedel. By sommiges is daar voorafkeuring, en by ander word daar polisieman gespeel om skadelike materiaal te verwyder. Sommiges het die kommentaarfunksies gesluit. Die ideaal bly dat alles geplaas word omdat die deelnemers opgevoed is om hulle ordentlik te gedra.

In ‘n heterogene samelewing is dit selfs nog meer belangrik dat die wag voor die mond nie moet dros nie, of dat ‘n groep se optrede nie provokatief moet wees nie. In die ou Suid-Afrika het dit as verswarende omstandighede gegeld as ‘n misdaad oor die rassegrense heen gepleeg is juis oor die potensiaal om na ‘n gesindheidsverharding onder groepe uit te brei.

Op die oomblik trap die Tshwane-metroraad se planne om Pretoria se naam te verander diep polariserende spore deur die land. ‘n Woordvoerder van die raad het aan Maroela Media gesê  AfriForum se SMS-veldtog was “kwaadwillig”, maar beskou nie die raad se veranderingsplanne as sodanig nie. Hy beskryf die veldtog om die naam te behou as die “vergiftiging” om die Afrikaners te wil laat glo die voorgenome verandering is ‘n aanval op hul erfenis is, wat ingespan word elke keer wanneer daar “‘n behoefte vir konsultasie en bespreking van nasionale eenheid en samehorigheid opduik.”

Dit is heel duidelik dat die veranderingsdrywers ‘n gans ander siening van versoening het as diegene wat meen die onderhandelde reëling dat munisipaliteite een naam, en dorpe ‘n ander sal hê, is juis as die versoeningsreëling ingestel.

En ja, wanneer jou kultuurerfenis beledig en aangeval word, sal, en moet dit hewige reaksie ontlok. Iemand kan immers nie sy hand in ‘n perdebynes gaan insteek en nie reaksie verwag nie. Maar hewig hoef nie sinoniem met platvloers te wees nie.

As Zuma nie leer dat sy godsdiensuitsprake aanstoot gee nie, moet hy voel. Selfs die NG Kerk het by geleentheid aangedui dat dié kerk Zuma as’t ware op terme plaas hieroor, en lidmate gaan afraai om ANC te stem as dit nie gestaak word nie. Zuma het nie opgehou nie, en die een of ander tyd gaan lidmate dit vir die kerkleiers warm maak om daad by die woord te voeg.

Daar is egter ‘n manier van ‘n ding doen of sê, en ‘n ander manier van ‘n ding doen of sê.

Oom Jan Laagtevlei had ‘n geliefde troetelvark Otterjasie, wat in oom Jan se oë niks verkeerd kon doen nie. By geleentheid het hy glo gesê: “As ek dan die vark in die verhaal móét wees, is dit goed solank dit ‘n vark soos Otterjasie is.”

Of soos Piet Retief in sy manifes geskryf het: “Ons is van voorneme, om gedurende ons reis, en by ons aankoms in die land waar ons permanent sal woon, die inboorlingstamme in te lig oor ons voornemens, en ons begeerte om in vrede en in ‘n vriendskaplike verhouding met hulle te lewe.”

Hierdie boodskap mag nooit deur indiwidue wat nie die grense van ordentlikheid ken gesaboteer word nie, maar as daar ten spyte van die beste pogings steeds provokatief opgetree word, sal die Afrikaner sy kultuurerfenis, soos Retief dit gestel het, met al wat in sy vermoë is verdedig. Dit sluit die howe en SMS–veldtogte in, maar daar is ‘n *&^%$ manier en ‘n regte manier.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae