Nuuskommentaar: Probeer nét aan Pravin te vat!

Pravin Gordhan. Foto: Flickr/GovernmentZA

Pravin Gordhan. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die oproepe op die publiek om druk op die Nasionale Vervolgingsgesag te plaas om sy vervolging van minister Gordhan te staak, het min of meer vrede daarmee of Gordhan dalk tegnies ʼn wet oortree het. Dit gaan oor die enorme skade wat die land kan ly as Gordhan wel aangekla word. Trouens, baie voel die sogenaamde “onwettige” ondersoekeenheid is baie nodig om sake te ondervang, soos wat nou uit die openbare beskermer se staatskapingsverslag blyk. Uit hierdie oogpunt is die voorgenome vervolging waaroor berig word, bitterlik stompsinnig.

Nuusberigte dat daar steeds ʼn “sameswering” in die Nasionale Vervolgingsgesag is om Pravin Gordhan en minstens een van sy destydse ondergeskiktes, te vervolg oor ʼn sogenaamde “rogue”-eenheid binne die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), laat baie mense warm onder die kraag en daar is opnuut oproepe vir veldtogte om die minister deur middel van druk op die regering te steun.

Boonop twyfel min mense daaraan dat pres. Jacob Zuma self agter die vervolgingsplanne sit en dat die nasionale direkteur van openbare vervolging, Shaun Abrahams, bloot as instrument dien. Oproepe om Abrahams se kop word al luider, en so ook die stemme wat vra dat Zuma die eerbare ding moet doen om te bedank, soos nou in ʼn brief deur sy ou lakei, dr. Mathole Mot­shekga.

Zuma het pas ʼn rondte agter die blad waarin hy besoek aan ondersteunersgroepe in KwaZulu-Natal gebring het, waar sy, wat Zuma is, se stert geprys is (ook deur homself) en Zuma weer erg rammetjie-uitnek geraak het en uitdagend gesê het hy gaan “nêrens heen nie.”  Veral SABC 3 het gesorg dat dit na die sitkamers van talle mense wat juis moeg is vir ʼn president wat die land eerder afwaarts sleep, as “nêrens heen” daarmee op pad is nie, gebring het.

Intussen word die kruit glo weer gelaai om Gordhan in die visier te kry.

Wat Gordhan betref, was daar, in die vorige rondte, min belangstelling oor of hy inderdaad iets verkeerd gedoen het. En as dit verkeerd sou wees, is aangevoer dit sou ʼn administratiewe saak wees, of hoogstens ʼn arbeidsaak. Om dit as kriminele saak te gaan verhoor, veral in die konteks van die enorme skade wat dit aan die land aanrig, was verregaande.

Oor die “onwettige” ondersoekeenheid het Gordhan in die verlede al verklaar hy het niks verkeerd gedoen nie. Dit was nie maar ʼn onkundige stelling nie, maar telkemale nadat hy met sy regspan gekonsulteer het.

Wat die breë publiek betref, is die gevoel egter dat die land die “onwettige” ondersoekeenheid, wetlik verkeerd of nie, bitter nodig het en dat die opskorting daarvan bygedra het daartoe dat talle trogvreters, veral diegene met bande met die soustreinryers, in die proses met “moord” weggekom het.

Trouens, daar is gereeld berig die “onwettige” ondersoekeenheid het eers onder politieke druk gekom nadat dit te na aan die regeringsleiers se basse begin krap het. Goedgeplaaste bevoordeeldes en indien nie nog staatskapers nie, het dus druk op die regering uitgeoefen om van die “onwettige” ondersoekeenheid ontslae te raak.

En in ʼn erg verdeelde ANC, waar desperaat gesoek word na ʼn stok om Pravin mee te slaan, het die “onwettige” ondersoekeenheid se “onwettigheid” as manna uit die hemel gekom.

(Pravin en diegene wat saam met hom in die visier is, het deurgaans ontken die “onwettige” ondersoekeenheid het hom skuldig gemaak aan die optredes waarvan dit beskuldig word en dat dit dus inderdaad geen “onwettige” ondersoekeenheid was nie).

In hierdie kommentaar gaan nie ʼn mening uitgespreek word oor of die eenheid wetlik in sonde ontvang en gebore is nie. Dit lyk of daar twee stelle menings hieroor is – dié van ʼn deel van die Nasionale Vervolgingsgesag en dié van Gordhan se eie regspan. Nadat Gordhan die vorige rondte gewen en Abrahams met baie vrot eier in die gesig  daarvan afgekom het, is daar by baie ander die gevoel dat Gordhan op beide regsgronde en weens pragmatiese oorwegings die beste daarvan gaan afkom.

Die feit van die saak is dat die land so ʼn eenheid bitterlik nodig het. ʼn Eenheid wat behoorlik “jag kan maak” op hooggeplaastes en goedgeplaastes wat, soos Gordhan dit in sy mediumtermyntoespraak genoem het, die staat se geld vir hulself toeëien.

So ʼn eenheid het kwalik meer magte nodig as dit waaroor die SAID reeds beskik en deur Fica-wetgewing gerugsteun word. ʼn Situasie kan eenvoudig nie ontstaan waar als in die haak is as die Ontvanger die “gewone” belastingbetalers onder die vergrootglas hou, maar sodra dit dieselfde met elite en mede-begunstigdes doen, is dit ʼn “onwettige” eenheid nie.

Moreel maak dit ook meer sin om iemand wat deur onregmatige verryking skatryk geword het, onder die vergrootglas te plaas as om ʼn paar honderd rand uit iemand met ʼn betreklike lae inkomste en wat sukkel om liggaam en siel aan mekaar te hou, te gaan wurg.

Die nodigheid het verder toegeneem toe Zuma sy lakei, Tom Moyane, as kommissaris van die Inkomstediens aangestel het en Moyane die Grootsakesentrum as deel van ʼn herstruktureringsplan wou ontbind. Gordhan het ʼn stokkie hiervoor gesteek, maar Moyane het met die herstrukturering voortgegaan en is onaantasbaar omdat hy kroonwild is, want volgens wet kan slegs die president hom aanstel en ontslaan.

En is dié konteks is dit redelik duidelik dat Moyane se posisie gekussing bly.

Teen dié agtergrond is dit baie nodig dat die Nasionale Vervolgingsgesag nie die beeld kry van ʼn politieke laksman nie. Dit sal byvoorbeeld ook baie help as die juridiese bontspringery oor die honderde aanklagte teen Zuma gestaak word en die president toegelaat word om sy dag in die hof te kry. Voeg hierby die kriminele aanklagte wat teen Zuma en ander ingedien word, wat voortspruit uit die openbare beskermer se staatskaping-verslag.

Zuma het immers pas gespog dat hy nie bang is om tronk toe te gaan nie, omdat hy onder die vorige bedeling tien jaar agter tralies was.

Sake het eenvoudig nou so ontwikkel dat regsoptrede teen Gordhan veel meer van ʼn kans staan om die land rommelstatus te besorg as wat optrede teen Zuma dit sal doen.

Die Nederlandse politieke joernalis, Hans Goslinga, stel in ʼn artikel in Trouw populisme teenoor demokrasie. Hy put ter aanvang ruim uit die beskouing van die politieke ontleder, Jacques de Kadt (1897-1988).  De Kadt het die pad van demokrasie, wat hy definieer as “georganiseerde wysheid” gevolg, eers as die stryd teen fascisme en daarna die kommunisme. Goslinga voer dit verder na ʼn nuwe front vir die demokrasie en dit is teen die opkoms van populisme.

Volgens De Kadt het die opgee van demokrasie niks anders opgelewer nie as “pauperstaten vol corruptie en stompzinnigheid.” Populisme tree, volgens Goslings, in as die rasionele met irrasionaliteit vervang word.

Die onus lê nou swaar op die publiek en die burgerlike samelewing om te keer dat Zuma, wat sy magsbasis op populisme en patronaatskap bou, Suid-Afrika nie in ʼn staat van armoede, korrupsie en stompsinnigheid laat ontaard nie.

En hiervoor moet Zuma die trekpas kry, verkieslik deur self die regte en eerbare ding te doen en self te loop eerder as om sy ondersteuners te gaan opsweep met “ek gaan nêrens heen nie.”

Nêrens kan ʼn baie eensame plek wees.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Anoniem ·

Briljant Herman. Ek hoop net daai eensame plek sal ten minste 10 Jaar wees.

callie ·

Jy is reg. Wat bang maak is gaan kyk na optrede van weermaglede in middestad, massiewe mag wat Zuma bewaak waar hy gaan, NVG wat doen wat hy vra, n SAP totaal in sy mag en nou begin die arrogansie van hy geen nerens nie. Ek bid ons beland nie daar nie maar die kans op n staatsgreep raak al groter.

Grassie ·

Zuma en sy aanhangsels raak nou paniekerig oor Gordhan se teenwoordigheid by finansies. Hulle weet wat hy alles kan oopkrap en ek dink hy is reeds besig daarmee. As ek Gordhan was sou ek nou baie, baie katvoet geloop het. Waar miljarde rand ter sprake is, is mense tot enigiets in staat.

Buitestander ·

Ou Zumpie kan nie sy vliegtuig kry nie, nou word die kot heeltemal om gekrap en al die speelgoed uit gegooi.
Sterkte met die tugtiging van Zumpie.

pieterdp ·

Dis die krimenele in die ANC wat tans in regering dien wat nou hul self wil beskerim om die lig van hul af te kry. Nou moet die persoone wat hul gaan uit wys en vervolg uit die weg gerym word . Met als in hul vermoei.

Zoema nomer 1 heel bo.

Theuns ·

Uitstekende kommentaar. Zuma het twee dinge duidelik gemaak die afgelope week! 1. Hy is life vir slaap. 2.Hy was tien jaar in die tronk en hy is glad nie bang om weer tronk toe te gaan nie.
Ek het n uitstekende voorstel vir hom! Zuma kombineer die bogenoemde behoeftes. Gaan tronk toe. Jy sal baie tyd daar kry om ‘n uitjie te knip! As jy Zuma se tweede uitdagende verklaring analiseer is dit amper soos ‘n skuld erkenning en behoort hy in die tronk te wees? Of is hy gewoond daaraan dat mense onskuldig in die tronk beland? Ek vra maar net!

Koos1 ·

Herman, ek wonder of iemand al ooit die regsgeldigheid van die Valke bevraagteken het, en ook of hulle binne hul mandaad werk? Dit was mos die ou Skerpioene vat aan die NVG geraporteer het? Die ANC het mos klip hard baklei dat hulle onder die SAPD moet resorteer.
Ek dink ‘n ondersoek moet daar begin, want ek is oortuig dat die staatskaping daar die oorsaak gehad het, of vergroot het.

Theuns ·

Goeie punt Koos. Dit wil voorkom of die valke nou al die sake by die polisie oorgeneem het en ondersoek? Dit is vreemd?

Henk ·

Indien ‘n ondersoek eenheid van die aard gestig word, moet dit deur hoer gesag goedgekeur word. Wat dan ook die geval was, waar Trevor Manuel die stigting hiervan goedgekeur het. En ek laat my vir geen oomblik vertel die ou wat homself die president van hierdie piesangboord noem, het nie geweet van die stigting van hierdie eenheid nie. My mening is eerder dat hy gedink het dat hy ook hier die hef in die hand het en die SARS, wat die geld insamel waarmee hy homself en sy korrupte vriende verryk, in toom sal kan hou. Totdat dit natuurlik aan die lig gekom het dat hierdie vrinne van hom deur die SARS ondersoekspan ondersoek word.

Justice ·

Henk jou aanname is in die kol. Ek hoop en vertrou dat die geheime ondersoekeenheid van SARS nog steeds bestaan. Hul spesialis kennis met die uitsnuffel van geheime bank rekeninge en belasting berekeninge gaan benodig word wanneer die leefstyl ondersoeke van al die Gupta ministers afskop. Die Parlementere stemming of Zuma in `n staat van beskuldiging geplaas moet word of nie sal `n goeie aanduiding van moontlike kandidate vir die ondersoekeenheid wees.

Plaatsie ·

Voordat daar te veel gespekuleer word oor die beweerde “Rogue Unit” sal dit goed wees om Johan van Loggerenberg se boek “The ROGUE” gelees word. So sal dit duidelik word dat daar nooit n “Rogue Unit” vestiges was nie, maar dat dit n term is wat aan n heel wettige ondersoek eenheid binne SARS toegedig is deur n vyadig gesinde koerant. Hierdie koerant het heel wat later in die openbaar erken dat hulle dit onregverdik gedoen het- en geen haan het toe daarna gekraai nie.
Ek bekommerd myself nie te veel daaroor dat sou hierdie aanklagte werklikheid word, dit waarskynlik dieselfde pad gaan volg as die pas afgelope aanklag teen Gordhan.

Plaatsie ·

Voordat daar te veel gespekuleer word oor die beweerde “Rogue Unit” sal dit goed wees dat Johan van Loggerenberg se boek ” ROGUE” gelees word. So sal dit duidelik word dat daar nooit n “Rogue Unit” vestiges was nie, maar dat dit n term is wat aan n heel wettige ondersoek eenheid binne SARS toegedig is deur n vyadig gesinde koerant. Hierdie koerant het heel wat later in die openbaar erken dat hulle dit onregverdik gedoen het- en geen haan het toe daarna gekraai nie.
Ek bekommerd myself nie te veel daaroor dat sou hierdie aanklagte werklikheid word, dit waarskynlik dieselfde pad gaan volg as die pas afgelope aanklag teen Gordhan.

vd Plaatsie ·

Voordat daar te veel gespekuleer word oor die beweerde “Rogue Unit” sal dit goed wees dat Johan van Loggerenberg se boek ” ROGUE” gelees word. So sal dit duidelik word dat daar nooit n “Rogue Unit” vestiges was nie, maar dat dit n term is wat aan n heel wettige ondersoek eenheid binne SARS toegedig is deur n vyadig gesinde koerant. Hierdie koerant het heel wat later in die openbaar erken dat hulle dit onregverdik gedoen het- en geen haan het toe daarna gekraai nie.
Ek bekommerd myself nie te veel daaroor dat sou hierdie aanklagte werklikheid word, dit waarskynlik dieselfde pad gaan volg as die pas afgelope aanklag teen Gordhan.

John ·

Interessant dat daar mense is wat vreeslik sensitief is oor hul inkomste-oplaes en wat dalk nie daarop aangedui is nie. Moet die inkomstediens net sekere mense se oplaes nagaan… die outjies wat skaars R100 000 ‘n jaar verdien, maar die menere met inkomstes meer as 100 mlj per dag, s’n nie?

Pieter Ellis ·

Die artikel in die Sunday times deur die twee joernaliste De Grote en Wa Afrika, is reeds bewys dat dit n geplante storie was om juis Gordhan en die eerlike manne wat nou nie meer by SARS werk nie, onder verdenking te stel.

Dit sal heel moontlik ook deur die howe bewys kan word, indien die saak voortgaan, dat Gordhan en sy gewese onderlinge regstegnies korrek opgetree het. MAAR sulke voorkennis staan blykbaar geensins in die pad van Nommer 1 en sy gespuis nie. Definitief ook nie in die pad van Abrahams wat nes destydse Nathi Nhleko, selfs as die sweet hulle aftap oor spanning van al hulle leeuns, alles in sy vermoe doen om Zuma te beskerm. Selfs sy eie naam met n plank slaan en loopbaan-selfmoord pleeg.

Ons moet besef dat die drang na geld nou so groot is, en dat die voorsmaak wat die klomp vraatsugtiges gesmaak het, nou die tesourie as die “Holy Grail” sien en alles in die stryd sal werp om vrye toegang daartoe te verseker.

Lees Generaal Johan Booysen se boek Blood on Their Hands, en al die ou bekendes word daarin ook uitgedos. Van Jiba to Mdluli, Mrwebi tot Abrahams, Piyega tot Nhleko. Hierdie mense het en sal tot die bitter einde alles doen om Zuma en sy kabaal te beskerm, want so kry hulle almal dan toegang tot die staatskas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.