Nuuskommentaar: Probleme vir grondgrypplanne dalk op horison

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Watter invloed gaan pres. Cyril Ramaphosa se onttrekking van SA se handtekening van ’n protokol van die SAOG die plaaslike grondgrypplanne uitoefen?

Dié komplekse vraag word so eenvoudig, maar regstegnies so korrek as moontlik, soos volg geformuleer:

“Dit is nog te vroeg om met gesag kommentaar te waag oor of, en indien wel, hoe pres. Ramaphosa se onttrekking van die land se handtekening van die SAOG se protokol, wat individue in staat sou stel om via die SAOG-tribunaal eise vir onteiening in te stel, die grondgrypplanne hier gaan beïnvloed. Sal die regering byvoorbeeld ‘voorsorg’ moet tref soos dat die SAOG sy stigtingsooreenkoms moet wysig, nadat die Konstitusionele Hof dié dokument as ’n regsbegronding gebruik het om Suid-Afrika te verplig om hom van die SAOG se ondermyning van die tribunaal te onttrek?”

Plaasaanvalle bly in die nuus

Sou die nuuswaardigheid van sekere nuus die enigste norm wees vir die bepaling van ’n tema vir die dag se nuuskommentaar, sou die plaasaanvalle by Hekpoort, waar die slagoffers onder meer wreed met kookwater gemartel is, en die een by Malmesbury waar ses van die sewe vermeende aanvallers aangekeer is, seker heel bo-aan gestaan het.

’n Hele lang lys kan trouens saamgestel word, soos ’n EFF-LP wat erken sy het R40 000 as skenking uit die omstrede CR17-fondse ontvang. Boonop is daar vraagtekens oor die beweerde besluit van die SAPD in die Wes-Kaap wat sou gesê het die plaaswagte en ander burgerlike instellings wat gehelp het met die aankeer van die verdagtes van die Malmesbury-plaasaanval gaan geen erkenning van die SAPD vir hul optrede kry nie, terwyl dié instellings se rol ’n model van onder meer radiokommunikasie en die voorkeer van die verdagtes op potensiële ontsnaproetes selfs taamlik ver van Malmesbury was.

Hopelik sal die SAPD self gou meer lig op die saak werp. Burgerlike hulp om misdaad georganiseerd te help bekamp durf nie ontmoedig te word nie.

SAOG se saakmakende nuus

Maar iets wat teen vroeg vanoggend skynbaar nie as buitengewoon nuuswaardig beskou word nie, is twee gebeurtenisse wat uit die pas afgelope 39ste spitsberaad van die Suider‑Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) in Tanzanië voortgevloei het.

Volgens die presidensie se Twitterdiens het pres. Cyril Ramaphosa terselfdertyd sy eerste ampsbesoek sedert hy president geword het, met die SAOG-beraad laat saamval. Maar die eerste brokkie belangrike nuus was in die afskeidsverklaring van die organisasie vervat toe aangekondig is dat Swahili die organisasie se vierde werkstaal word. Die ander drie, Engels, Frans en Portugees, is almal koloniale tale. Die nuwe besluit is toegejuig.

Maar aldus ’n aankondiging wat gisteraand via RSG se program, Kommentaar, wyer bekend gestel is, was die aankondiging dat Ramaphosa bekend gemaak het dat Suid-Afrika sy ondertekening van ’n “protokol” onttrek wat lidlande van siviele eise vrywaar wat deur die ontbinde SAOG-tribunaal hanteer is. Ongelukkig het die paneellede van die program nog nie kennis van die besluit gedra het nie.

Handtekening oor tribunaal onttrek

Oudpres. Jacob Zuma het in 2014 die protokol namens Suid-Afrika onderteken. Hierdeur het Robert Mugabe sy sin gekry deurdat onder andere voormalige wit Zimbabwiese boere wie se grond sonder vergoeding onteien is, via die tribunaal kompensasie kan eis. Die tribunaal het toe reeds besluit die Zimbabwiese regering se optrede was onwettig, en was vir die skade aanspreeklik.

Die enkele nuusberigte wat die jongste verwikkelinge dra, meld bloot dat die Suid-Afrikaanse Konstitusionele Hof verlede jaar beslis het dat die ondertekening van die protokol deur Zuma “ongrondwetlik, onwettig en irrasioneel” was. Dit was nie die enigste geleentheid waar die SA regering ter wille van bedenklike politiek ongrondwetlike besluite geneem het nie, soos om die howe te dwarsboom deur destydse pres. Omar al Bashir van Soedan effektief te help ontsnap uit die land uit. Beide Mugabe en Bashir is sedertdien deur hul eie lande as regeringshoofde uitgeskop.

In dié vroeë stadium lyk dit of Ramaphosa nou bloot ’n formele stap gedoen het deurdat die Konstitusionele Hof se uitspraak geen keuse aan die regering gestel het nie. Trouens, volgens die EWN-berig hieroor het Ramaphosa reeds na die hofbeslissing SA se handtekening formeel onttrek. (Die Konstitusionele Hof het reeds in Desember verlede jaar opdrag gegee dat die presidensie sy handtekening moet onttrek. Trouens, die hof het selfs gelas dat die opdrag ook die beoogde oprigting van ’n nuwe tribunaal geld wat beoog was om individue se reg op eise uit te skakel.) Die presidensie moes ook die regskoste van die aansoekers betaal. Die SAOG-beraad het kennis hiervan geneem, en kennis geneem van die Konstitusionele Hof se uitspraak.

Wat nié in die beskikbare berigte genoem word nie, is die epiese veldtog wat AfriForum deur die howe gevoer het om reg en geregtigheid te laat geskied. Die Zuma-bewind het AfriForum in elke stap van die proses gedwarsboom, en is deurlopend uit die hoogste kringe sleggesê. Lees verklaring deur Willie Spies hier.

En al het Ramaphosa nou die SAOG-geleentheid benut om die groot klok te haal en daardeur ’n lang vinger in Zuma se oog te druk, sal AfriForum waarskynlik lank wag om behoorlike erkenning te kry vir sy epiese stryd.

Of dit op ’n manier gaan bydra tot vergoeding aan die onteiende boere, sal ook gesien moet word. Soos begryplik het die SAOG gehou by sy standpunt dat internasionale sanksies teen Zimbabwe opgehef moet word. Hierdeur “kondoneer” die SAOG in effek Zimbabwe se onteiening sonder vergoeding, en ander menseregtevergrype wat volgens verskeie kommentators sedert Mugabe se afsetting gewoon voortduur, en volgens sommiges se menings, selfs verskerp is.

Gaan die Ramaphosa-bewind die boodskap kry dat die internasionale gemeenskap bereid is om vergrype soos grondonteiening sonder vergoeding nie net af te keur nie, maar te straf?

En die SAOG is ongemaklik baie blootgestel aan buitelandse menings. Byna die helfte van die SAOG se begroting (42%) kom van buitelandse donateurs.

Dit sal interessant wees om te volg hoe regsgeleerdes die proses verder uitlê, of Suid-Afrikaanse burgers wie se grond deur die beoogde grondwetlike wysiging sonder vergoeding onteien word, hulle nou ook op die nuwe tribunaal vir beregtiging sal kan beroep. Lees gerus ’n insiggewende artikel deur emeritus prof. Gerhard Erasmus hier.

Normaalweg sou die volgende vraag selfs vir duiwelsadvokaatdoeleindes te belaglik wees om genoem te word. Kan Ramaphosa dalk die potensiële tameletjie gebruik om die grondgrypplanne op so ’n wyse geskrap te kry, terwyl hy self sy skouers kan optrek as iets wat buite sy beheer gebeur het? Objektief behoort Ramaphosa immers al so spyt te wees oor die verwoestende invloed wat die grondgrypplanne op die ekonomie het, soos Ouboet sou sê – hy is so spyt soos ’n baber wat ’n “spark plug” ingesluk het.  Maar met die effek van ’n era waar nie die duiwelsadvokaat nie, maar die Openbare Beskermer die rol van duiwelsadvokaat met regsuitleg speel, is so ’n vraag dalk net-net nie so absurd nie.

Die Swahili-besluit

Dit sal interessant wees om te volg of, en indien wel, die Swahili-besluit regering- en populistiese denke in Suid-Afrika gaan beïnvloed. Hoewel die Grondwet bepaal dat die inheemse amptelike tale bevorder moet word, gebeur die teenoorgestelde in die praktyk, en word Engels feitlik strykdeur ten koste van die inheemse tale bevorder. Die jongste prominente voorbeeld is die besluit van die SA Bloeddiens dat sekere dokumente nou net in Engels beskikbaar sal wees.

Tanzanië is seker die bekendste land wat Swahili as amptelike taal aanvaar het. In dié land is dit ook die taal van onderrig op sekondêre onderwysvlak. In Kenia is dit ’n nasionale taal. Swahili word ook formeel in verskeie lande erken, soos Uganda, terwyl variasies wat baie nou aan Swahili verwant is, in lande soos Burundi en Rwanda, en eilandstate soos die Seychelle en Mayotte, amptelike tale is. Swahili is die moedertaal van sowat 5 miljoen mense, en die tweede taal van ongeveer 150 miljoen mense.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jerry ·

CR is gewoon bekend vir sy balanseer toertjies, in sommige gevalle, misleidende balanseer toertjies. Dat hy n president is vir die ANC in Luthuli huis, dis gewis. Dat hy uiteindelik bittergraag SA wil de-koloniseer, die grond besit en beheer sodat dit die ANC agter hom verenig en sodat dit n verenigde ANC is wat met buitelandse beleggings die ekonomie weer opbou vir die ANC , dis Virseker!

Stephan de S ·

Dankie Herman vir jou harde (navorsing) werk en al die interessante inligting wat n mens deur jou artikels bekom. Doe so voort.

Werner ·

Daar is net een probleem Jerry as hy Suid Afrika de-koloniseer is dit komunisme en geen buitelandse beleggers sal hier bele nie

Jimmy ·

Dit is die minste van die ANC se probleme. Die ANC is nou jou pa en jou ma. Hulle sal vir jou dink en sê wat jy moet doen.

aj ·

Uitstekende artikel Herman!

Baie dankie vir jou skerp joernalistiek! Jy gee die pas aan!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.