Nuuskommentaar: PUK die slagveld van Grondwet versus transformasie

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Die ganse land het ’n belang by hoe die onverkwiklike gebeure by die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit hom afspeel. Dit is lank nie meer ʼn huishoudelike saak nie. Veral minderhede het ’n groot belang by die afloop.

Op die oog af, maar erg oorvereenvoudig, lyk dit of die rektor, prof. Dan Kwgadi, sy eie magte taamlik rek om die minister van hoër onderwys se duidelike planne vir universiteite, waar Afrikaans nog ten volle of ten dele tot sy reg kom, deur te voer. Ten regte of ten onregte word hierdie planne onder die vaandel van transformasie aangepak en skynbaar gestoomroller. By die Universiteit Stellenbosch onder prof. Russel Botman is ’n komponent selfs geaktiveer om ’n transformasieplan te stoomroller wat nie deur die raad goedgekeur was nie.

Aan die ander kant gebruik diegene wat grondwetlike regte opeis om vir diversiteit, en die grondwetlike waarborge daarvoor, voorsiening te maak ook die term “transformasie”. Vir die leek lyk dit of die twee kampe twee onversoenbare idees het oor wat die inhoud van die woord “transformasie” behoort te behels. Uitlatings uit die eerste “transformasiekamp”, die minister ingesluit, dat die ander “eilandjies van apartheid” probeer skep en die Grondwet “misbruik” om hierdie doelwit te bereik, help ook nie juis die saak van versoening aan nie.

Oppervlakkig beskou, word die seine nou uitgestuur dat hier ’n groot hofsaak aan die broei is om finale arbiter te wees oor wat die Grondwet bedoel of nie, en intussen word vertroue in die Grondwet gesloop.

Intussen is daar beskuldigings van inkonsekwente optrede soos dat wit studente vir dieselfde soort sake, soos ontgroening, baie swaarder as swart studente op die Vaaldriehoekkampus gestraf word. Voorts word beskuldigings van diktatoriale optrede gemaak.

’n Interessantheid is dat personeel ook tot groter mate hul mond begin uitspoel. By ander universiteite sal personeel soortgelyke klagtes hê, maar pleit dat hul name nie bekend gemaak moet word nie. Daardie inligting is dus ook minder geneig om na die media deur te suurdeeg, want ’n joernalis wat ’n bron moet beskerm, is erg blootgestel.

Van buite beoordeel, lyk dit of die PUK nou die voorlaaste loopgraaf is waar hakke ingeslaan word vir internasionaal erkende minderheidsregte. (Die laaste is Akademia, wat die minister ook reeds gedreig het om te sluit.) Dit beteken kortweg waar onderskei word tussen die handhawing van Afrikaans en die gepaardgaande kultuur as grondwetlike reg, teenoor ’n situasie waar die handhawing daarvan afhang van die regering en sy ontplooides se vrygewigheid om aalmoese uit te deel.

Of is dit alles ’n kwessie van ’n yslike misverstand?

Kwgadi het, volgens die media, aangedui dat hy slegs een dekaan per fakulteit vir die drie kampusse saam beoog. Voorts het hy voorheen aangedui dat die taalbeleid binne die fakulteite die verantwoordelikheid van hierdie dekane sal wees. Oor laasgenoemde aspek word in die mees onlangse verlede geswyg. Dit beteken nietemin dat dit struktureel onmoontlik sal wees dat kampusrektore en hul onderbou behou kan word – daar is dus die vooruitsig van ’n situasie waar kampusse hul strukture wat kan waak oor die eiesoortigheid daarvan kwyt sal wees.

Dis moeilik om die verloop werklik te rekonstrueer, soos blyk uit die weergawe van die universiteit se skakeldienste oor die verloop van die onlangse senaatsvergadering, en die gerespekteerde prof. Fika van Rensburg se “alternatiewe” weergawe wat skynbaar op erg diktatoriale optrede deur die rektor dui. Nou lê ʼn raadsvergadering voor wat ook vooraf die kenmerke van ʼn laaste loopgraaf dra.

Rapport vra in sy hoofartikel dat wysheid by dié raadsvergadering sal seëvier. Daarmee kan nie fout gevind word nie, maar dit lyk of wysheid alleen nie genoeg gaan wees nie. Dit lyk inderdaad of beginsels teen mekaar te staan kom wat moeilik versoenbaar is. Dit voer die kwessie terug na die Grondwet, en die party wat wil seëvier, sal doodseker moet maak dat dit wat hy wil hê, al is dit ná ’n hofsaak, grondwetlik baie suiwer optree.

En miskien, in die breë belang, is dit goed dat daar vir eens en altyd uitsluitsel verkry word oor watter weergawe van transformasie die Grondwet die beste weerspieël. ’n Rasbenepe weergawe waar taal en kultuur gestoomroller word, klink op die oog af nie na iets wat grondwetlik en volkeregtelik kan standhou nie, al is daar politieke ontleders wat die Grondwet as liberale Grondwet verkwansel waarin te alle tye “one nation, one law” geld. Maar in hul ywer om die konsep te verkoop verswyg hulle dat die “one law”, die Grondwet, bepalings soos artikel 235 en ander – soos bepalings oor taalregte – bevat.

Dan kom ontleders met sulke onsinnighede soos dat mense (die “regses”) die Grondwet misbruik om die “liberale Grondwet” om te stoot. En dan ook vol te hou Suid-Afrika het die beste, of een van die beste grondwette in die wêreld, terwyl hierdie Grondwet skynbaar, volgens hierdie ontleders se logika, selfdestruktiewe meganismes bevat.

Die howe het ook reeds met erg inkonsekwente uitsprake vorendag gekom wat daarvan in ’n mate ʼn dobbelspel maak. Aan die wortel lê die regering se beheptheid met Engels. Dit beteken dat studente wat in Afrikaans onderrig word as studente beskou word wat hulle isoleer van die enorme wêreld van Engels. Maar is die teendeel nie waar nie? Kyk maar na die boekrak van ’n student uit die era toe Afrikaanse onderrig nie onder verdenking geplaas is nie. Op so ’n boekrak pryk tipies naas Afrikaanse vakkundige boeke ook Engelse boeke, en daarnaas ook Nederlandse en plek-plek selfs Duitse boeke. Dit lyk mos na ’n leeromgewing waarin horisonne eerder verbreed as vereng word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Cathy Kotze ·

‘n Groot banier met hierdie woorde is onlangs tydens ‘n protes van swart studente rondgeswaai. Baie van die studente het ook ‘n weergawe daarvan gehad:

ATTENTION COMRADES.

Time to take back the NWU
KILL the Boer
KILL the Racist
KILL Afrikaans

Uhuru amakuja!

Watter kans het vreedsame onderhandelinge?

Johannes ·

Ek beskou die banier waarna Me Kotze hierbo verwys as haatspraak teenoor die Afrikaner. Die swartes wat dit opgestel het en ook vertoon het besef duidelik nie wat se implikasies dit t.o.v. vreedsame naasbestaan vir ons almal inhou nie. Dit wek weersin by ons as Afrikaners en dra by tot die polarisasie tussen wit en swart. Ek is bevrees dat as hulle die saak te ver voer, die onwenslike gevolge van hul dade naderhand nie meer omgekeer sal kan word nie. En dan het ons moeilikheid wat kon gebly het. Of is dit waarna hulle soek?

Leendert van Oostrum ·

Na aanleiding van die banier waarnaa Me Kotze hierbo verwys:

Hoe verskil die strekking daarvan van ‘n tipiese voorblad van ‘n Afrikaanse koerant soos Beeld? Om van die redaksionele inhoud daarvan nie eens te praat nie.

Gideon Roos ·

Hierdie is ‘n saak wat PUK studente nie gaan laat staan nie. Ons is geregtig op onderwys in ons moedertaal. PUK is die laaste volwaardige Afrikaanse Kampus in die land, en on is tot hom geregtig. Die huidige regering is die wat die huidige grondwet opgestel het, en die wat hom net toepas waar dit hulle baat.
Daar is baie dinge wat jy by ‘n Afrikaner kan wat, maar sy taal is NIE een van hulle nie!

Michelle ·

Met verwysing na die banier,dis eintlik ironies dat hulle nou die NWU wil terugvat. Dit het in die eerste plek nie aan hulle behoort nie.
Wat is dit met die mense in SA dat dit wat nog heel is moet afgebreek word,voor hulle werklik tevrede is.
NWU was altyd die een universiteit waar daar ‘n redelike kalmte en vrede tussen al die studente was.
My hart is bitter seer.

Pieter Schalk Grobbelaar ·

Ek het drie kinders wat op die puk studier ,ek het net gister`n epos ontvang van af die Puk dat Prof. Kwgadi niks met die hele bedryf te doen het nie. My vrou was nou vir `n Ma en dogter geleentheid daar en sy se dat die koshuise deur SR lede besoek is en dat die inligting wat deurgegee is meer strook metdie bogenoemde brief van Herman Toerien so iewers is `n baie groot slang in die gras.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.