Nuuskommentaar: Puk en transformasie; maar watter transformasie?

Ingang na Puk-kampus Foto: AfriForum Jeug

Ingang na Puk-kampus Foto: AfriForum Jeug

Verskerpte transformasie is nou die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-universiteit se voorland. Uit al die motiverings kom tegelyk mooi woorde, en woorde wat na ’n aanslag teen Afrikaans, en dus die grondwet, klink. Veral die kultuurgoedere wat deur Afrikaans saamgedra word, word na die brandstapel gesleep. Of so klink dit.

Maar steeds is dit nie baie duidelik wat onder “transformasie” verstaan word nie.

Transformasie en rasbeheptheid

Die bekende John Kane-Berman, wat allermins as “regs” of “verkramp” beskou kan word, het dit by geleentheid soos volg uitgespel: “The term ‘revolution’ sounded too harsh for sensitive post-’94 years, so the ANC seized the term ‘transformation’ and designated it the official state ideology. The problem with this is that it could be understood simultaneously in an innocent and revolutionary manner. Being against transformation is being completely politically incorrect – almost like being against motherhood and apple pie! But supporting it implies support for the ANC’s National Democratic Revolution.

Nou watter weergawe lê vir die Puk voor? Omdat die Puk reeds onder die vorige rektor deur ’n transformasieproses, volgens die grondwetlike bepalings is, bly daar eintlik net een weergawe hiervoor oor.

En die goed-bemarkte aanmoediging/aanhitsing wat prof. Dan Kgwadi by die Kovsie-rektor, prof. Jonathan Jansen kry, dien nie juis as groot bemoediging nie. Genoeg inligting oor onlekkertes wat onder die kombers van gesensureerde inligting by Kovsies uitsypel, skep ʼn kommerwekkende (of soos oom Jan sê, bekommeringswaardige) prentjie wat ook baie oud-Kovsies ontstig.

In ’n rubriek in Rapport word na die nuwe boek van dr. Anthea Jeffery, BEE, Helping or Hurting? gekyk. Die opskrif van die rubriek, ’n Nuwe potloodtoets, is veelbetekenend. Anders as die goedkoop propaganda dit wil hê dat die ANC met apartheid weggedoen het, wys Jeffery daarop dat die vorige bewind reeds in 1991 die wet op rasseklassifikasie afgeskaf het.

Maar die ANC pas dit steeds, byna ʼn kwart eeu later, steeds lustig toe.

En dít is die kern van die probleem. Terwyl die Afrikaners wat ’n behoefte aan identifikasie met ’n eie groep het, aanbeweeg het weg van ras as norm, na ’n kulturele norm soos voorgeskryf deur die grondwet en die internasionale reg, klou die regering verbete aan ’n rasseklassifikasie wat in talle wette op die wetboek verskyn.

Vanuit bykans enige ekonomiese model kan maklik verklaar word hoekom dit nie kan werk nie. Kortliks kom dit daarop neer dat diegene wat reeds oor die middele en kundigheid beskik om die ekonomie te laat groei, weens die kleur van hul vel deur beperkende maatreëls verhinder word om dit te doen, en vervang word met ʼn beheptheid van rasgedrewe kwotas. Klits kaderontplooiing hierby in, en die herbegunstiging van reeds bevoordeeldes, en ’n ganse staatkundige bestel wat geplooi word om een enkele individu buite bereik van vervolging te stel, en daar is ’n taamlike resep vir moeilikheid ingebou.

Pas moes ’n jong seun wie se swakste syfer op sy rapport 94% was, verneem dat hy weens ’n kwota-bedeling nie keuring gekry het nie. As bitter harde werk só beloon word, kan verstaan word hoekom ’n rasbenepe transformasieproses nie juis versoening in die hand werk nie, maar eerder verharding.

Hou die transformasieproses by universiteite ’n gevaar vir Afrikaans in?

Die debat oor of Afrikaans gaan krepeer of floreer onder die huidige institusionele aanslae, is vuurwarm. Die glas kan half vol, of half leeg wees, afhangende van of ’n mens na die suksesse van Afrikaanse musiek en boeke kyk, of na die geleidelike dreinering van Afrikaanse vakliteratuur.

Verskeie voorbeelde, soos in Frankryk, bestaan waar minderheidstale weens ’n gebrek aan amptelike erkenning of beskerming, so te sê uitgesterf het.

Maar hoe lank kan ʼn taal sonder amptelike beskerming voortbestaan?

’n Goeie voorbeeld is die verhaal van Nieuw-Amsterdam, die Nederlandse kolonie wat veral met die teenswoordige New York geassosieer is. Die kolonie is in 1620 op die eiland Manhattan gestig, maar dadelik met ’n bestaande pelshandelpos naby die teenwoordige Albany (hoofstad van New York-staat) 240 kilometer noord in die Hudsonrivier op verbind. Talle Nederlandse dorpies is tussenin gevestig.

In 1655 het die direkteur-generaal van die Nederlandse kolonie, Peter Stuwesant, ook die Sweedse kolonie, Nya Sverige, geannekseer en so die kolonie uitgebrei om dele van die teenswoordige New York-staat, Delaware, New Jersey en Pennsilvanië in te sluit.

In 1664 het Brittanje die kolonie afgeneem en na New York herdoop.

Hoewel die latere Amerikaners redelik sterk beïnvloed is deur hierdie kortstondige Nederlandse kolonie, soos die benaming Yankee, ’n vervorming van die baie Jan en Kees-name in die Nederlandse kolonie, het die taal slegs plek-plek hardnekkig bly bestaan.

Selfs die Amerikaanse dollar is van die rijksdaalder afgelei wat een van die Nederlanders se betaalmiddele was. (Klik hier om meer te lees)

Tot enkele geslagte gelede het die Nederlandse Gereformeerde Kerk nog sy dienste in Nederlands gehou, en die predikante is uit Nederland beroep. Volgens oorlewering het die ouer geslag die handdoek ingewerp toe ’n dogtertjie haar ma vra wie is dan die Het Evangelie van wie sy so baie by die kerk hoor.

Of so ’n lot Afrikaans te beurt sal val, hang nie net af van die gebrekkige ondersteuning van owerheidsweë nie, maar die ingesteldheid van die sprekers daarvan self.

Wat wel ongetwyfeld so is, is dat ’n taal wat reeds gevorderde hoër opvoedkundige vermoëns het, daardie vermoëns ontneem word.

In hierdie stadium is die toekoms wat vir Afrikaans by die Puk voorsien word, nie heeltemal duidelik nie – dit word aan die een kant as hindernis vir transformasie beskryf, maar aan die ander kant word versekerings gebied.

Slotopmerkings

Miskien het die tyd aangebreek om transformasie deur ’n internasionale menseregteliggaam te laat toets om te bepaal of dit grondwetlik en volkeregtelik suiwer is. Of dan, watter weergawe daarvan is nié ’n skending van mense- en minderheidsregte nie, en dan die owerhede nougeset te hou by dit wat juridies houdbaar is.

Sodat die land nie deur ’n rewolusie in skaapsklere van sy kultuurgoedere en regte gestroop word nie.

Erfenisdag is immers net enkele dae gelede gevier, en die regering se formele bewoording daarvan op die GCIS se webwerf lui: “Erfenisdag erken en vier die kulturele rykdom van ons nasie. Suid-Afrikaners vier die dag deur die kulturele erfenis te erken en te onthou van die vele kulture wat die bevolking van Suid-Afrika vorm. Die viering van hierdie dag is deel van ons pogings om die verdeeldheid van die verlede te heel en ʼn samelewing te vestig wat gegrond is op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en fundamentele menseregte. Kom ons gebruik hierdie dag om te beweeg na daardie visie van nasionale eenheid en kulturele harmonie.

Hieruit lyk dit nie juis of dit die doel kan wees om een of meer van die kulture onder te ploeg ter wille van politieke doelwitte nie. Iewers is iemand uit pas of baie oneerlik.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

rissiepit ·

Transformasie deur ’n internasionale menseregteliggaam te laat toets…dit is die beste idee wat ek vandag gehoor het. Hoe kry ons so ´n organisasie in die hande om die saak regverdig aan te hoor?

Herman Toerien ·

Baie dankie. Ek stel voor so ‘n voorstel word regstreeks aan AfriForum gerig. AfriForum het al ‘n paar inisiatiewe in hierdie verband aan die gang, en ek is seker hulle sal al goed gerat wees. Dit sal egter altyd help as so ‘n instelling weet hulle verteenwoordig iemand, en tree nie maar net op omdat hulle lus het nie. Ek sien vanoggend juis iemand het AfriForum en Solidariteit op Facebook sommer bygedam omdat dié twee organisasies sake op die PUK-kampus kom deurmekaar krap en verhoudinge vertroebel het. Bygesê komende van iemand wat nie ernstig opgeneem word nie.

Gustav van Huyssteen ·

NWU-Pukke 70% swart 30% wit binne 5 jaar sê prof Kgwadi Ou strategie om doelwitte bekend te maak en dan te beweer jy is verkeerd aangehaal. Luister na Nuusdag met Niekie As Beeld weereens verkeerd oor Pukke berig het, korrigeer hulle. Hou op in metafore praat, spel in getalle prof Dan Kwgadi se transformasie doelwitte uit. Onthou prof Kgwadi het reeds gesê Pukke se huidige profiel van 70% wit en 30% swart lyk vir hom soos Wit-Volstaat

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.