Nuuskommentaar: PUK ‘n faait, of net hoernalistiek?

Hoofhek van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus Foto: TimesLive

Hoofhek van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus Foto: TimesLive

In die spektrum van Suid-Afrikaanse nuus is daar genoeg nuus oor skroewe wat los is. By Bloemhof is drie babas dood nadat rou riool in die Vaalrivier beland het. Die sterftes is deur die besoedelde water veroorsaak, maar nie deur cholera nie.

Maar besoedelde water self maak nie sommer mense dood nie – dit moet iets wees wat in die besoedelde water is, bv. tifoïde. Die aanwesigheid van E.coli in die water is immers op sy eie nie veel meer as ‘n klikbek dat daar riool in die water is nie, wat ‘n geskikte groeimedium bied vir cholera, tifoïde en nog ‘n spektrum van potensieel dodelike bakterie, virusse en selfs swamme.

Volgens ‘n verslag van die Wêreld Ekonomiese Forum vaar Suid-Afrika die swakste met wiskunde en wetenskap in die wêreld, terwyl die gehalte van onderwys hier te lande ook onder die swakstes in die wêreld tel. Die onderwysdepartement ontken dat dit so beroerd gaan. Die probleem is dat die WEF se syfers baie sterk ooreenkomste toon met ander instellings se syfers wat nie so maklik as ongeloofwaardig onder die mat ingevee kan word nie. Ná ‘n peperduur hofsaak erken die onderwysdepartement dat nie alle skole in Limpopo handboeke het nie, en pak die skuld op die skoolhoofde (asof die departement geen aandeel daarin het om te verseker dat skoolhoofde bekwaam vir hul werk moet wees nie). Nou wil die departement boonop na die grondwetlike hof appelleer. Om presies te wat? Intussen moet universiteite meer en meer hulpbronne aan oorbruggingskursusse spandeer terwyl die departement van basiese onderwys volhou sy “verbeterde” prestasies is nie weens ‘n daling in standaarde nie.

Die Nasionale Vervolgingsgesag is weer in ‘n krisis gedompel toe dit geblyk het dat die persoon, wat pres. Jacob Zuma in die aangesig van ‘n dreigende hofbevel skynbaar inderhaas as NVG-hoof aangestel het, sy veiligheidsklaring gedruip het. Die NVG-hoof is juis aangestel nadat die vorige hoof, kragtens ‘n hofbeslissing, sy pos kwyt is omdat die hof bevind het Zuma het nie, soos die grondwet vereis, behoorlik aandag geskenk in sy oorweging van ‘n geskikte kandidaat nie. Hierna het Zuma ‘n skynbare leemte in die grondwet probeer benut deur van ‘n waarnemende NVG-hoof gebruik te maak waarvoor die grondwet nie sulke vereistes stel nie. Toe dié stukkie juridiese akrobasie in die hof getoets word, maak Zuma ‘n permanente aanstelling, en weer het hy eier in die gesig. Die nuwe hoof het onder meer kriminele rekords vir aanranding, verset teen arres en het ook versuim om te meld dat hy op ‘n aanklag van moord vrygespreek was.

Kortom, die land het genoeg stukkende dinge wat reggemaak moet word. Maar, geoordeel aan onthullings in Beeld, beveel ‘n taakspan aan dat iets wat nie net goed werk nie, maar presteer, “reggemaak” moet word.

Indien die beweerde lekkasies aan Beeld oor wat die taakspan oor die Pukke bevind het en aanbeveel het korrek in die koerant weergegee is, word die beeld van die voorsitter van die taakspan, dr. Leon Wessels, geskaad.

Wessels, ‘n oud-minister in die destydse NP-regering, het ná sy uittrede as minister ‘n formidabele reputasie opgebou terwyl hy ‘n kommissaris van die Menseregtekommissie was. Voor Wessels se aanstelling het die kommissie se beeld in baie kringe aan skerwe gelê. Gou is Wessels toegegooi deur klagtes uit die publiek wat agtergekom het om hom te betrek, het beteken dat sake die nodige aandag geniet. Selfs senior werknemers van die kommissie het op sy knoppie gedruk om brouwerk deur van hul kollegas te laat regmaak.

Indien Beeld se scoop die bevindinge korrek weergee, het die kommissie ‘n politiek-gedienstige bevinding gemaak, en die internasionale reg in die gesig geskop. Die universiteitsraad het Woensdag ʼn buitengewone vergadering voordat die verslag aan die minister voorgelê sal word.

Die beriggewing is aangebied as sou die kern van die verslag wees dat die drie kampusse “een kultuur” moet hê. Dit beteken dat die voorsiening van die grondwet vir die uitleef van eiesoortige kultuur nie neerslag gevind het nie, tensy die taakspan by die gebruik van die term “kultuur” nie die grondwetlike verstaan daarvan in die oog gehad het nie, maar ‘n soort studentekultuur wat soms neig om veral in ontgroeningspraktyke, elemente van juis anti-kultuur, op te neem.

Dit klink nie na die bevindinge waarop Wessels sy handtekening sou plaas nie, en daarom sal dit onwys wees om te veel oor die inhoud te spekuleer.

Net so sal dit onwys wees om voor die verslag ten volle openbaar gemaak is, te veel in Beeld se motiewe te lees.

Dit beteken nie dat die teelaarde vir gevolgtrekkings oor Beeld se agenda nie baie ryp is nie. Die wyse waarop Beeld die PUK-kwessie tot dusver hanteer het, het ‘n stortgolf kritiek en selfs ‘n boikot op die lyf geloop.

Die direksie het skynbaar die geledere om die redakteur gesluit, maar in die verklaring destyds daaroor was ook woorde ingesluit wat laat blyk het dat alles nie by herhaling geduld sal word nie. Van Media 24 se dagblaaie, het Beeld die ergste onder ‘n daling van verkope deurgeloop.

Boonop het Tim du Plessis, die hoof van Media 24 se Afrikaanse koerante, die tuig neergelê en by kykNET aangesluit. Daar is ‘n duidelike verskil tussen die politiek-redaksionele aanslag van Du Plessis (veral die laaste aantal jare) as die aanslag van Beeld onder die leiding van sy huidige redakteur. In ‘n onderhoud het Du Plessis sy eie pos as allesbehalwe dié van ‘n superredakteur beskryf, en dit eerder vergelyk met dié van ‘n posbode wat ook verlofvorms moes teken.

Beeld se huidige aanslag, veral met betrekking tot die PUK, staan in skrille kontras met ‘n rubriek van Tim enkele jare gelede waarin hy die Universiteit van Stellenbosch vermaan dat dit wat die US probeer doen, indruis teen kragte oor groepregte wat hulself oor die land vaardig gemaak het.

Daar is ‘n realiteit daar buite. Terwyl Beeld se verkope flink daal, het Solidariteit se Facebook-likes teen ‘n versnelde tempo die hoogte begin inskiet.

Die volledige bekendmaking van die PUK-verslag sal aandui of die taakspan inderdaad die internasionale reg (wat ook die manifestasie in Afrika insluit) in die tande geskop het, en of Beeld op ‘n Kamikazekoers volhard. En dis nie asof Afrikaans kan bekostig om koerante te verloor nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Aaag kom nou, dit is maklik om dit reg te maak. Vermoor Volksblad en dwing die Bloemfonteiners om Beeld te koop en sodoende weer die sirkulasiesyfers reg te ruk – die Vrystaters is mos in elk geval te stupid om te weet wat gaan erens in die land aan – of so dink die lotjie blykbaar…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.