Nuuskommentaar: PW, Dianne Kohler-Barnard en die Vredefort-koepel

Dianne Kohler-Barnard.

Dianne Kohler-Barnard.

Uit ʼn nuuswaardigheidsoogpunt moes die bekendmaking van ʼn selfhelpprogram van R3,5 miljard vir Afrikaners die onderwerp van vandag se nuuskommentaar gewees het. Aangesien die plan eers Saterdag tydens die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad in detail bekend gemaak en bespreek word, is dit miskien nodig om ʼn bietjie te delf in van die nuusgebeure wat die noodsaak van so ʼn omvattende plan baie nodig, indien nie onontbeerlik nie, maak.

ʼn Goeie aanduiding dat die Afrikaner eintlik maar op sy eie is, was dat die onderwerp van die Toekomsberaad glad nie in RSG se besprekingsprogram, Kommentaar, te berde gebring is nie, al het Rapport redelik deeglik, ook in terme van redaksionele beleid, hieraan aandag geskenk.

ʼn Belangrike element in die saak is dat baie Afrikaners nie net vervreemding in hul eie land ervaar nie, maar ʼn gees van vyandigheid. Dit het verlede jaar, tydens die susterkerke se gebedsdag van verootmoediging vir onder meer reën, ook geblyk toe die Hervormde Kerk die kwessie van lidmate wat soos vreemdelinge in hul eie land voel, as een van die gebedskwessies gelys het.

Teen dié agtergrond het die onnadenkende optrede van die DA se omstrede LP, Dianne Kohler-Barnard, ʼn rimpeleffek. Kohler-Barnard was nog nooit baie sensitief oor wie sy met woord en vingertaal die harnas injaag nie en is ook al daaroor gestraf.

Haar sonde, dié keer, was om heel téén haar eie politieke geskiedenis in as liberalis ʼn Facebook-inskrywing van ʼn joernalis te gaan deel waarin die joernalis, uit frustrasie met hoe die ANC alles afrem, waarskynlik tong in die kies na die PW-era verlang het.

Binne die konteks van Kohler-Barnard se posisie in die DA, was haar optrede nie baie slim nie en sy verdien waarskynlik alles wat nou met haar gebeur.

Of haar bedoelde of onbedoelde optrede baie SA-ondersteuners en selfs lede wat PW as die inleier tot hervorming beskou, vrede met die optrede teen haar het, is ʼn ander vraag.

Dit is egter ʼn huishoudelike kwessie waaroor die DA aan die kiesers verantwoording moet doen. Dat die klag van die ewe omstrede Phumzile van Damme se kant kom, gaan ook nie help om polarisasie teen te werk nie.

Aan die ander kant, toon opnames baie van die DA-lede steun die party nie soseer oor beleid nie, maar “pragmaties”, as die enigste party wat die ANC op sy tone kan hou.

Gaan die Selfhelpprojek ʼn invloed hierop uitoefen – dat simpatie en energie eerder begin vloei na ʼn omvattende projek waar die Afrikaner deur selfsorg, wat strategiese hofsake insluit, op ʼn hoofsaaklik korporatiewe basis so vry as moontlik van diskriminasie kan woon en werk, hom beveilig en sy onderrig volgens sy grondwetlike reg in sy moedertaal kan ontvang?

Die Vryheidsfront Plus het pas ʼn taamlike omvattende verslag die lig laat sien oor hoe die Suid-Afrikaanse regering die proklamasie van die Vredefort-koepelgebied tot Wêrelderfenisgebied deur Unesco kan laat sneuwel.

Gebrekkige wetlike plaaslike proklamasies, die storting van riool in die Vaalrivier, tot peperduur brou-bouwerk waar ʼn klomp geld boonop blykbaar soek is, tel onder die probleme.

Suid-Afrika het buitelandse toeriste bitter nodig en daarom kan sulke geleenthede nie verwaarloos word nie. Trouens, dit reflekteer maar power op ʼn land as sy regering ʼn besondere en unieke natuurerfenis so in die grond in vertrap.

En die tyd is nou ryp dat Suid-Afrika behoorlik sy tande in die internasionale mark vir paleo- en argeologiese toerisme slaan. Die onlangse ontdekking van eers Sediba, en daarna ʼn beweerde nuwe spesie, Homo naledi, het internasionale nuusdekking en belangstelling soos min gekry.

In die geval van Naledi was daar selfs in die internasionale media en onder wetenskaplikes ontsteltenis oor dié vonds, met allerlei omstrede navorsingsuitkomste soos die gebrek aan datering. Dit het ʼn waarskynlik groter vonds en veel beter nagevors in die noorde van Spanje grootliks uit die nuus gehou.

Paleo- en argeologiese toerisme is egter sensitiewe kwessies, dikwels omdat opgrawingsterreine maklik gekontamineer of beskadig kan word. Tog toon reuse-suksesse met dinosourus-toerisme in Montana dat die potensiaal enorm is. En Suid-Afrika bied ontsettend meer as die VSA, soos die ryk oes aan oorgangsfossiele soos die soogdieragtige reptiele wat die land voor die dinosourusse bewoon het.

Maar in die Karoo Nasionale Park is ʼn dinosourus-spoor wat gevolg kan word, wat saam met ander terreine wat as hulle behoorlik ontwikkel sou kon word, op toerisme-operateurs se besoekbare punte aangebring kon word.

Watter boodskap oor die land word egter uitgestuur as sy verlede so verslons word? Watter boodskap stuur dit oor hoe die toekoms aangepak gaan word, terwyl alles dui op ʼn gees dat die teenwoordige nou verteer moet word?

Maroela het onlangs in ʼn nuuskommentaar op minister Jeff Radebe se siniese oproep op burgers om die regering, wat in hul “beswil” optree, te vertrou, skerp ingeklim en vanoggend neem al drie Media 24 se Afrikaanse dagblaaie dieselfde standpunt as Maroela in die gedeelde hoofartikel  oor dié oproep in.

Kortom, die ANC en baie Afrikaners leef eenvoudig in heel verskillende wêrelde, met skynbaar heel verskillende verwagtinge oor standaarde vir ʼn uitkoms. Vir baie Afrikaners, reg of verkeerd, hang daar nog ʼn nostalgie aan die PW-era waar ʼn hoë premie op wet en orde geplaas is. Hoe meer dinge nou verval en hoe meer die werklikhede oor die PW-era vervaag, hoe groter sal die persepsie van skynbare teenstelling groei. Boonop het die omvattende staatsveiligheidsbestuurstelsel van die PW-era ook ʼn groter, omvattende been gehad wat na staatkundige, ekonomiese en maatskaplike kwessies omgesien het. Erge vergrype het egter ook plaasgevind, wetend of onwetend.

Deur Phumzile en ander se histerie oor die Kohler-Barnard-insident word bitter baie mense met onkreukbare integriteit sleg in die gesig gevat. Só word die plaveiwerk vir die noodsaak van die Toekomsberaad net dieper vasgemessel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Rynhardt ·

Ons gee te veel publisiteit vir Dianne Kohler-Barnard en die hanswors-politici!Hulle het ons almal in die rug gesteek en uitverkoop!Ons erfenis en toekoms gaan bepaal word deur ons self met die hulp van Bo!

Loeis ·

Daar word van die DA gepraat as “..die enigste party wat die ANC op sy tone kan hou”.

Dit laat my dink aan ‘n kommentaar verlede jaar net na die verkiesing op Afriforum se Facebook blad waarin ‘n vrou geskryf het dat as VF+ en Front Nasionaal by die DA was, die “ANC nie koning sou gekraai” het nie. Dit nadat die ANC ongeveer 62% van alle steun getrek het. Mens kan nie anders nie as om die afleiding te maak dat sy seker nie in graad een wiskunde deurgekom het nie.

Dit bring ons by ‘n ander vraag, naamlik wat die rol van opposisie partye is. Met die ANC se groot meerderheid, wen die ANC elke stemming in die parlement, en kan al die opposisie partye saam nie die ANC daarmee wen nie.

Opposisie partye speel wel ‘n baie belangrike rol, want hulle staan tussen die ANC en ‘n twee derde meerderheid. Ook die kleineres is hier baie belangrik (sonder die kleiner partye het die ANC daardie meerderheid).

Elke opposisie setel is dus belangrik, ook omdat hulle verskillende belange verteenwoordig, en ‘n stem vir hulle kiesers daarstel.

Sarel Strydom ·

Daar gekryf,geskel en beplan word en ons kan ons wonde lek, maar ons Voorvaders het di stryd gestry met roer in een hand en bybel in ander. Ons sal as Volk nie weer opstaan voor ons nie terugkeer na God toe nie.

Arie Plaasboer ·

Sarel, As jy bedoel dat die lede van Solidariteit (ook ek) wat die toekoms beraad beplan en wil uitvoer as afvalliges beskou moet jy jouself weer gaan ondersoek.
Solidariteit is nie `n beweging wat los staan van God nie. Hulle voer dalk SY plan met Suid Afrika uit.

Flip Sadler ·

As ek so luister na Pretoria FM klank koerant vanoggend,onderwerp oor Me. Barnard, Jan Jan Joubert en kie,klink dit al meer vir my asof ons nou in die beskuldide bank staan en bogenoemde die verontregte is !!!!

Santie ·

Barnard se stukkie gedeel is maar ñ punt van die hele storie. Maroela Media kan gerus op die facebook blad “South Africa for change” gaan lees hoe alle rasse in Suid Afrika werklik voel oor wat in Suid Afrika aangaan, daar is self swartmense wat sê dat die NP regering beter was as wat hul nou het! Daar kan julle ook lees van alle rasse in Suid Afrika se hoop vir more, dat die meeste bid vir ñ beter regering waar alle rasse kan floreer. Nie almal van ons het gaan lê sonder hoop nie en verwag alles gaan volgens ons wil moet gaan nie. Maar wat alle rasse wel besef is dat ons almal agteruit boer, so sleg dat alle rasse begin dink apartheid was beter. Besoek gerus die blad en lees wat swart, wit, geel, pink, afrikaans, zulu, xhoza, engels en al die res hoop voor

Eish! ·

Wat is fout as ‘n verdrukte nasie terugverlang na die verlede? Na ‘n tyd toe jy gekry het waarvoor jy betaal? , Tyd waar jy in die trate kon rondloop sonder om besteel en aangeval te word? Waar jy in die nag kon gaan slaap en geweet het diet sou die Here se wil wees as jy nie die volgende oggend leef nie en nie ‘n klomp moordenaars wat kyk hoeveel huise se mense hulle kan vermoor nie? Waar verkrag en aanrand hooggety vier? Ag nee rerig. Wel ek veralng kliphard na dai tyd en ek sal eerlik die verlede se regeerders terugwens as ons almal net in vrede in ons huise weer kon bly, met ‘n wet wat volgens die Bybel reg is. Straf diegene wat moord pleeg. Gaan kyk na die 10 gebooie. Wat mag en nie mag nie. Maar nee, deesdae as jy aan die regte kant staan mag jy alles doen wat nie reg is nie. Persoonlik dink ek die dam word hier onder die eend uitgeruk. Het die dame dan gesteel, moord gepleeg of bedrog gepleeg? Los haar uit dat sy haar werk gaan doen.

Winston ·

Weereens puik gestel Herman. Ek wonder nie meer nie. Dis nou die tyd om te beweeg in n stryd op oorlewing, ons kan dit doen. Ons kan niks red as ons “in verskillende wêrelde” leef nie en ongelukkig is dit Afrika.

Johannes Meintjes ·

Tussen die huigelagtige fasades van ons korrupte politiek en verwronge etiek in die Nuwe SA verg dit myns insiens soms iemand om net weer die perspektiewe van die geheelprentjie en tersaaklike rolspelers uit te lig. Die feit dat Me. Kohler-Barnard se kommentaar so uit verhouding geruk word beteken maar dat ons almal in SA teen hierdie tyd aan een of ander “guns-soek” histeriese reflex lei.

Dan ·

Dianne dankie vir jou eerlike mening dat jy jou se gese het. As dit vir hulle so moeilik is om te aanvaar, wys hulle n toffie. Die moeilikheid met politiek is dat hulle verwag elkeen wat deur hulle betaal word , saam met hulle in leuens moet lewe. Dis nou die tyd om vorentoe te beweeg en die regte ding te doen, jy sal weet wat die beste sal wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.