Nuuskommentaar: Raakvlakke tussen Turkye en Suid-Afrika

Erdogan en Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Erdogan en Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

’n Mens moet ’n bietjie dieper delf in die geskiedenis van Turkye om te verstaan hoekom daar soveel raakvlakke tussen presidente Erdogan en Zuma te bemerk is – raakvlakke wat ongelukkig tot albei lande se nadeel is.

Laat dit dadelik gestel word, daar is groot verskille tussen die politieke situasies in Suid-Afrika en Turkye, maar daar is ook ’n paar ooreenkomste sodat dit nodig is om kennis van mekaar se uitvloeisels te dra.

Die eerste ooreenkoms is die raakvlakke tussen pres. Jacob Zuma en die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan. Soos Zuma is Erdogan ’n meester van politieke manipulasie, wat onder meer daarin geslaag het om van eerste minister tot president te vorder, en in die proses die uitvoerende magte, en meer saamgeneem het.

Erdogan het nie besonder baie liefde vir die soort demokrasie wat dit vir Turkye sal moontlik maak om, soos dit wil, deel van die Europese Unie te word nie. Erdogan dreig byvoorbeeld om die doodstraf terug te bring om met die staatsgreepplegers af te reken, terwyl die land vroeër juis die doodstraf afgeskaf het om aan aansluitingsvereistes van die EU te voldoen. Die Duitse kanselier, Angela Merkel, het reeds aan Erdogan gesê die herinstelling van die doodstraf beteken Turkye kan nie deel van die EU word nie, is berig.

Ná aanvanklike veroordeling van die staatsgreep uit een mond, het dieselfde monde intussen groot kommer uitgespreek dat Erdogan die mislukte staatsgreep gaan gebruik om nog meer as tevore onderdrukkend te wees.

Soos Erdogan op populisme kon reken om die staatsgreep die hoof te bied, so slaag Zuma met sy populisme om genoeg steun te behou dat die ANC nie van hom as president ontslae raak nie, al sou dit in party- en landsbelang wees.

Onder albei leiers gedy korrupsie na berig word. Trouens, die eens hegte band tussen Erdogan en Fethullah Gülen, die prediker wat al 17 jaar in die VSA woon en van die orkestrasie van die staatsgreep beskuldig word, het juis ontstaan toe Gülen se volgelinge korrupsie gepak, en te na aan Erdogan se kring gekom het. Ook Zuma en sy kring bly nooit ver van berigte en bewerings van korrupsie nie.

Die ironie is dat Turkye ’n geskiedenis het van staatsgreeppogings. Die vorige vier staatsgrepe sedert 1960 was almal daarop gemik om die land na die grondwetlike basis van Kemal Atatürk “terug te bring”. Atatürk en sy jong Turke het in 1923 nie net van die sultan ontslae geraak nie, maar die land in ’n sekulêre staat omskep waar onder meer die dra van die fes verbied is, vroue stemreg gekry het, en vele meer.

Nie alles van Atatürk was so idealisties nie – die nasionalisme het so sterk geloop dat minderheidsvolke, soos die Christen-Armeniërs en -Assiriërs, en later die Koerde, aan ontsettende lyding en volksmoorde onderwerp is.

Die leër bly besonder lojaal aan Atatürk se leerstellings, en gebruik dan staatsgrepe om die situasie tot Atatürk se staatsmodel te “herset”. ’n Te noue verbintenis tussen die Islam en die regering was dikwels die resep vir ’n staatsgreep, en net met die staatsgreep van 1980 was die afloop vir die leër onwenslik toe ’n religieuse koalisie in 1983 aan bewind gekom het.

Erdogan het hoe langer hy aan bewind was, hoe meer tekens van religieuse vervlegting met die owerheid getoon. Dit was egter nie al nie – Gülen en sy aanhangers was ook nie gelukkig met die toestaan van taalregte en ander regte aan die Koerde nie – voorheen was Koerdies onder militêre bewind so te sê verbied ingevolge ’n Gülen-leerstelling dat Turks saam met die Islam van die Turke ’n uitverkore volk maak. Anders as wat verwag word, is Gülen egter ook ’n groot voorstander van die sekulêre staat.

Voorlopige aanduidings dui daarop dat die staatsgreepleiers juis weer dit in die oog gehad het om die land grondwetlik na die leerstellings van Atatürk te “herset”.

Miskien is die terrein waar Zuma en Erdogan die meeste verskil, juis die hantering van minderhede. Zuma is baie uitgesproke oor sy voorkeur vir swart nasionalisme, met min of geen ruimte vir ander nie. Erdogan het geen liefde vir die Koerde nie (en hulle nie vir hom nie), maar druk van die EU het tot talle toegewings aan die Koerde gelei.

In die geheel beskou, populisme en ’n erge gekonkel verseker dat albei leiers in die stoel bly.

Hoewel Turkye ’n lid van Navo is, word dit nie allerweë as ’n baie stabiele demokrasie beskou nie. Dit het egter ’n enorme weermag van sowat 600 000 soldate, die tweede grootste in Navo. As streekmag in die Midde-Ooste speel dit ’n soortgelyke rol as Suid-Afrika in Suidelike Afrika, behalwe natuurlik op ’n veel magtiger skaal. En al is dit lid van Navo, is dit nie baie lief om soldate buite sy grense in te span nie, behalwe teen die basisse van die Koerdiese PKK in Irak se Koerdistan, en ook in Sirië.

Al is die staatsgreeppoging suksesvol afgeweer, lyk dit tog of die Turke in die proses verloor het.

Al oorkom Zuma elke poging om hom uit die kussings te lig, verloor Suid-Afrika op fenomenale skaal.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Theuns ·

Herman dankie. Ek hoop jou kommentaar sal inslag vind by sommige van my vriende op die Maroela Forum. Hoekom is Dr. Leopold Schotz so stil? Groete.

Wern ·

Ja Herman se kommentaar raak my diep. Ek het nie tyd om gebeure oor op te lees nie, kom nie verder as hoofopskrifte oor internasionale gebeure nie, maar Herman het die manier om dit op te som. Hy lees duidelik baie wyd, doen navorsing en beste van als, kan dit analiseer op n logiese en werklik objektiewe manier sonder om bevooroordeeld of beinvloed deur polities korrek-probeer-wees nie, en dit is so skaars soos hoenertande!

Leopold Scholtz ·

Beste Theuns, ek is nie stil nie. Ek skryf woes! Vanoggend het ‘n artikel van my verskyn, en ‘n verdere een is aan Maroela gestuur.

Nico K ·

Die les wat ek uit die storie leer is dat daar maar min lande in die wêreld is waar minderheidsgroepe gelukkig leef.

Wern ·

Nee, hang af wie en waar die minderheidsgroep is en hoe goed hulle hulself georganiseer het. Inteendeel, die mees welvarendstes is dikwels minderheidsgroepe, en die beste voorbeeld is Jode. Hulle maak n klein minderheid in getalle in verskeie lande maar is by verre die welvarendste, onder andere in Amerika, amper elke Europese land, hier in SA, Australie, Rusland, en vele ander. Chinese minderhede vervul hierdie rol in baie lande in Suidoos Asie, Arabiese en Indiese minderhede in baie Afrika lande. Dikwels begin n minderheidgroep as n verdrukte, maar reeds daarom, omdat hulle nie anders kan as om saam te staan en hard te werk nie, styg hulle uit, ver bo hulle “hostile host” meerderheid, en voorbeelde op eie bodem is Portuguese en Grieke wat net enkele dekades terug brandarm was en die werk gedoen het wat ons nie wou doen nie, en vandag is hulle besonders welaf. So, minderheidsgroepe wat saam staan en effektief is is baie welaf en dis presies wat ons ook moet doen.

Lida ·

Zuma pose net vir die foto. Hy het geen idee hoekom hy daar is nie shame !!!!

Kobus ·

Wat ‘n safari beleef Zuma nie in sy ampstermyn nie. G’n wonder hy wil nie padgee nie. Gee hom ‘n pak klere, ‘n golfstok, ‘n swembroek, laat hom voor in die kerk sit, hy spreek die parlement toe, hy grinnik, weet asl van kernkrag, onderhandel dit met Putin, vele ambagte het die man, geseend, niks staan in sy pad nie, en hy glimlag met sulke skrefie-oë.

Kobus ·

Gaats, ek sien ek het asl gespel ipv als, maar vir ‘n tyd al kan mens mos net direk op Maroela tik, nie vooraf op Word en die copy en paste nie, dit deur ‘n speltoetser sit nie. Die puriste van spelling moet maar daarmee verlief neem. As dit ‘voinger’ glip, is dit tot daarna toe. Maar dan het mens mos baie tyd om te korrigeer voor mens dit plaas. En die speltoetser? Sleep maar die woordeboek nader.

Ek sien van kleintyd dat ek by tye sommer woorde omdraai, my goo gnav dit nie onmidellik nie, eers na so ‘n peer lese. Ek tik te vinnig om by my gedagtes te bly. Ek dink so.

Lance ·

Lida jy is SO reg …hy dink net aan die koek en tee na die foto hehe

Ben ·

Die Zuma het maar snaakse maatjies. Dit moet wees waar hy al sy truuks leer. Hy wil dalk ook nie graag die brug na vryheid brand nie. Vir nou is hy snoesig in ‘n kombersie toe gedraai. Koerant opskrifte gaan nog een more vra waar hy is, dan het hy al die vorige nag gehol. Sê soos die Amerikaners ” You can take this to the bank!”

Wern ·

Duitsland en EU is nog naief genoeg om so teen die doodstraf te wees maar hulle gaan met die tyd die voordele daarvan mis. En as iemand weer gaan kom met die redenasie dat dit nie werk nie gaan ek huil, want dit doen, nie volgens “navorsing” van die ge”captured liberaliste” nie maar beslis volgens dit wat op grondvlak gebeur.

Ek het niks respek gehad vir die Turkse president nie tot ek vandag gehoor het hoe die ekonomie onder hom gegroei het, en nou hier gelees het dat hy die doodstraf voorstaan, alhoewel dalk nie vir die regte redes in sy geval nie.

Ek hoop nie turkye gaan deel word van EU nie, neewat, hoe min respek het die europeers (of eerder die wat die res manipuleer) vir hulle eie geloof en kultuur!

HV ·

Die mislukte staatsgreep in Turkye hou dalk meer voordele in vir wêreld vrede as wat mens besef. Nie so lank terug was Erdogan die voorste oorlog s stoker vir Amerika se begeerte vir wêreld oorheersing. En toe ewe skielik vra Erdogan. vir Putin omverskoning oor die afskiet van die veg vliegtuig en bande tussen Turkye en Rusland begin om herstel te word . Turkye is n NAVO lid (gaan hy dalk uitgeskop word? ) en die samewerking met Rusland bring meer balans in Europa . Indien die staatsgreep suksesvol was, was Amerika nou in beheer van Turkye en kon hy rustig voortgaan met sy planne vir wêreld oorheersing.

Knikkebollen ·

Ek is geen 100% voorstaander vir Erdogan nie, maar mens moet dalk die volgende in gedagte hou:
1. Die ‘soort demokrasie’ wat van Turkye verwag word om dan deel te word van die EU, is daardie selfde soort demokrasie wat op SA afgedwing is en vir ons hierdie chaotiese situasie veroorsaak het, is ook dieselfde soort demokrasie wat vir Irak, Afganistan, Libie ens voorsien is en wat inteendeel die mees stabiliserende faktore uit die speelveld gevee het; is ook dieselfde ‘soort’ demokrasie wat vir Sirie voorgeskryf word en wat in een vlaag miljoene vlugtelinge op Europe se grense laat land het en; is dieselfde ‘soort’ demokrasie wat vir Britte laat besluit het dis tyd om uit die EU te vlug.
G’n wonder die meerderheid Turke is nie meer so gretig om ‘n EU Lid te wees nie.

Jcwf ·

”.Voorlopige aanduidings dui daarop dat die staatsgreepleiers juis weer dit in die oog gehad het om die land grondwetlik na die leerstellings van Atatürk the “herset”…”

Regtig Herman? Watter leiers was dit?

Gülen het gestel dat dit Erdoğan self is wat hierdie ‘staatsgreep’ georganiseer het en ons moet dié moontlikheid nie vergeet nie.

Hoe kan dit wees dat in 2 dae tyd Erdoğan ‘n lys van 50 000 teëstanders uit die lug getoor het wat aangehou is? Dit vereis mos baie langer om dit saam te stel?

Die ‘staatsgreep’ hulle het die parlementsgebou in Ankara beskiet. Hoekom? Dit was ‘n leë gebou.

In 1933 het Hitler ook die Reichstag in die brand gesteek. Het ons dit vergeet? En het ons vergeet hoekom Hitler dit gedoen het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.