Nuuskommentaar: Radikale vakbondwese ontspoor op politieke slagveld

Die vakbond Solidariteit

Die vakbond Solidariteit

Die vakbond Solidariteit word gereeld deur sogenaamde “transformasiedrywers” as “regs” afgemaak en allerlei dinge verwyt, maar tog geniet die vakbond respek omdat dit daarin slaag om op ‘n verantwoordelike, en dikwels indrukwekkende wyse die beste vir sy lede te doen, sonder om die land skade te berokken – in teendeel.

En dikwels wend Solidariteit, en ander verantwoordelike vakbonde, die howe aan vir reg en geregtigheid, soos nou weer die regsoptrede teen die DKD, en die bekende Renate Barnard-saak.

In skrille kontras hiermee is die vertoning van die radikale vakbonde. Die onderwysvakbond, Sadou (eerder bekend as Sadtu), word dikwels as die land se grootste vyand beskryf.

Sadtu se invloed gaan op internasionale skaal nie ongesiens verby nie. In die jongste Unesco-verslag oor onderwys wêreldwyd, wat deur van die wêreld se voorste onderwyskundiges opgestel is, word byvoorbeeld gemeld dat Suid-Afrikaanse leerlinge gemiddeld vyf persent, of te wel tien dae, van hul skooldae kwyt is weens stakings. Nog baie tyd gaan verlore omdat vakbonde wat onderwysers in swart woongebiede verteenwoordig, hul vergaderings in skooltyd hou. Die nuuskommentaar wat hieroor handel, kan hier gelees word.

Die radikale vakbondwese kon tradisioneel onder die sambreel van die vakverbond, Cosatu, saamgevat word, en waarvan Sadtu een is.

Vanuit hierdie geledere het stakings en intimidasie en geweld byna sinoniem geword. Die sogenaamde stakingseisoen eskaleer dus die klimaat van geweld wat met die diensleweringsbetogings en ander geweld gepaard gaan.

Uit 162 lande wat gemeet is, was Suid-Afrika op die 2013 vredesindeks die 121ste mees vreedsame land in die wêreld.  Botswana beklee die 32ste plek. Suid-Afrika vaar selfs swakker as Egipte, maar dit sal stellig verander as die 2014-indeks bekend gestel word.

Tradisioneel was die mynwerkersvakbond, die NUM, die ruggraat van Cosatu.

Met die opkoms van Amcu, wat nie lid is van Cosatu nie, het die NUM sy posisie binne Cosatu verloor, en is nou waarskynlik die derde grootste vakbond. Amcu het veral in die platinumgordel die NUM begin verdring, maar die NUM kla al lank dat Numsa van sy lede afrokkel.

Lidorganisasies van Cosau is veronderstel om betreklike duidelike grense te hê oor wie watter soort bedrywe se werkers verteenwoordig. Numsa is veral in bedrywe soos die motorvervaardigingsbedryf gesetel, maar daar is grys areas tussenin. Numsa se erodasie van die NUM het byvoorbeeld veral by Eskom begin, wat benewens kragopwekking ook ‘n belang by sekere steenkoolmyne het.

Die tweespalt in Cosatu is op ‘n spits gedryf toe die vakverbond sy sekretaris-generaal, Zwelinzima Vavi, geskors het. Die NUM het sy gewig by Cosatu hieroor ingewerp, maar Numsa het Vavi se kant gekies.

Hoewel Cosatu steeds volhou dat geen krisis dreig nie, het nege van die lidvakbonde saamgestaan om ‘n spesiale kongres aan te vra om die kwessie onder die loep te neem. Cosatu weier volstrek, en Numsa het reeds hieroor sy steun aan die ANC onttrek in die aanloop tot vanjaar se algemene verkiesing.

Word na die lys van vakbonde gekyk wat nou saam met Numsa op die spesiale kongres aandring, kom van die name voor van vakbonde wat reputasies het van gewelddadige stakings. Benewens Numsa is hulle die Communication Workers Union, die Democratic Nurses Union of SA, die Food and Allied Workers Union, die Public and Allied Workers Union of SA, die SA Commercial and Catering Workers Union, die SA Football Players Union, die SA Municipal Workers Union (Samwu) en the SA State and Allied Workers Union. Hoewel Sadtu nie by die groep is nie, is dit reeds duidelik dat daar minstens ‘n mate van tweespalt veral in die Oos-Kaap in dié vakbond heers oor die afwysende houding van Vavi, ‘n Xhosa.

Nou het Numsa aangekondig dat hy ‘n 48-uur kennisgewing gaan bedien van ‘n staking om by Anglo Platinum te staak. Met die staking van Amcu reeds in volle swang by platinummyne, en heelwat berigte van intimidasie, word nog ‘n vonkie by die kruitvat gehou.

Oor Numsa besluit om juis hier te staak, wat voorheen NUM-wêreld was en toe deur Amcu losgewring is, kan baie bespiegel word. Is dit ‘n poging om die binne-Cosatu-wrywing tussen die NUM en Numsa tot ‘n punt te dryf? Is dit ‘n teken van solidariteit met Amcu, aangesien Numsa se verteenwoordiging by dié myne nie baie groot is nie? Die Amcu-werkers is hoofsaaklik aan die smelters verbonde, wat beteken dat die leweringsketting van produksie oor ‘n aansienlike spanwydte ontwrig word.

Wat bykans seker is, is dat die beste belange van die werkers nie gedien word nie, en die beste belange van die land nog minder.

Kenners van die vakbondwese wys daarop dat die radikale vakbonde se leiers se grootste gebrek juis is dat hulle versuim om hul lede oor die groter prentjie te skool. Lede koester dus maklik persepsies dat hul eise, wat heeltemal onrealisties kan wees, heel haalbaar en geregverdig is. Daar is dus min begrip daarvoor dat ‘n groter inkomste nou, dikwels tot heeltemal geen inkomste ‘n bietjie later nie kan lei as die myn moet sluit of afskaal.

Anders as met die twee vorige ontwrigtings op die platinummyne, neig die prys van dié metaal steeds afwaarts. Van 20 Januarie tot die jongste prysvasstelling het dit reeds met $80 per ons gedaal.

Terwyl die werkers staak, word hul geldelike posie algaande benarder, en die argwaan oor die werkgewers wat nie “wil” toegee nie net nog groter.

Wat die vakbonde en hul lede wel deeglik besef, is dat dit verkiesingsjaar is. Die regering is dus in ‘n knyptang om die belasbare inkomstes so min as moontlik te ontwrig, om ‘n inkomste te hê om gestalte aan verkiesingsbeloftes te gee.

En so bly die gans wat die goue, ekskuus, platinumeiers lê, voëlvry.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae