Nuuskommentaar: Ramaphosa by AB-eeufees – gaan die Afrikaner homself weggooi?

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Jairus Mmutle, GCIS

Gaan die deur tussen die Afrikaner en pres. Cyril Ramaphosa, wat hy luidens ’n mediaberig na die Afrikaner se harte oopgeskop het, kan oop bly? Of gaan ’n skeptiese groep Afrikaners sake verongeluk?

Beriggewing oor Ramaphosa se toespraak by ’n vergadering van die Afrikanerbond se hoofraad in die Paarl om dié organisasie se eeufees te vier, het wye nuusdekking gekry. Volgens Netwerk 24 het die AB self gesê Ramaphosa het die deur na Afrikanerharte oopgeskop. Dele van sy toespraak was in Afrikaans.

Lesersreaksies was, soos die afgelope paar dae, egter oor die algemeen negatief, nie soseer oor wat Ramaphosa sou sê nie, maar teenoor die AB self. Maroela Media het in gister se nuuskommentaar hierdie kwessie ook aangeraak.

Feit bly dat die AB hom tot voortgesette dialoog verbind het. Ramaphosa het op sy beurt aangedui: hoe meer sienings oor grondhervorming, hoe beter. Hy kon egter nie die gat in die emmer regdokter nie, en die kwessie van onteiening sonder vergoeding hou steeds die gevaar in dat alle goeie bedoelings oor grondhervorming kan verongeluk.

Die getalle lesersreaksies is normaalweg nie ’n goeie maatstaf om die omvang van verset te bepaal nie. ’n Meer genuanseerde studie, soos die identifisering van die standpunte van gereelde deelnemers, die gehalte en ingeligtheid van dié lesers en gebalanseerdheid help egter om tendense te identifiseer.

Die AB sal egter rede hê om bekommerd te wees oor die omvang van vyandige onkunde, ondanks omvangryke pogings om sy beeld wat dit oor dekades opgedoen het, te verbeter. Net so kommerwekkend is dat ander, oningeligte lesers bereid is om die skewe voorstellings vir soetkoek op te vreet. Aanhangers van samesweringsteorieë is ook erg bedrywig op hul rekenaars se toetsborde.

Is die omvang van vyandigheid en skeptisisme van so ’n aard en omvang dat dit realisties sal wees vir die president en sy ondersteuningsdienste om af te lei dat die meerderheid Afrikaners die president se hand van vriendskap weggeklap het? Hierdie ondersteuningsdienste is veel beter toegerus as die “gewone” ontleder om betroubare afleidings te kan maak.

Hoe wys is dit van heethoof-Afrikaners om organisasies uit eie geledere swart te smeer en verdag te maak, terwyl daar soveel te wen is uit onderlinge vertroue?

Dit is natuurlik nie die volledige prentjie nie. Kom dit by grondonteiening, was die AB van die begin af ’n belangrike lid van die ad hoc-komitee vir grondbesit, en sal dit onrealisties wees om te verwag dat die AB sommer ’n kat in die sak hieroor verkoop sal word. En dié ferm standpunte dateer van die dae voor onteiening sonder vergoeding ANC-beleid geword het.

Uit ’n bydrae vir die Februarie 2018-nuusbrief van die AB deur die voorsitter, Jaco Schoeman, kan reeds veel afgelei word oor hoe die AB sake met Ramaphosa gaan hanteer.

Die stigtingsdoelwitte van die AB word ook in die nuusbrief hanteer, en lui soos volg:

  1. Die aaneensmelting van Afrikaners; Afrikaners oor die lengte en breedte van ons land, die verlang na die opheffing van ons volk, te laat saamwerk om die verskil van opinie oor volksvraagstukke uit die weg te ruim, en ʼn gesonde en vooruitstrewende eensgesindheid te bewerkstellig.
  2. Die ontwikkeling van ʼn egte, ruimhartige demokratiese volkslewe, en die opleiding van die Afrikaner tot die regte gebruik daarvan.
  3. Die opwekking van die selfbewussyn van die Afrikaner, en die inboeseming van liefde vir sy taal, geskiedenis, tradisies, land, volk en godsdiens.
  4. Die bevordering van oorspronklike Suid-Afrikaanse kuns en kultuur in alle opsigte.
  5. Die veredeling van die samelewing op grondslag van die skoon ou sedes en karaktertrekke van ons volk.
  6. Die behartiging van die ekonomiese belange van Afrikaners.
  7. Die handhawing van die beginsels van Jesus Christus.

Vandag word dit as ’n goeie ding beskou dat daar organisasies is wat die Afrikanerdiversiteit in styl en oortuigings verteenwoordig. Een persoon sal dalk gemakliker in die AB ’n kulturele tuiste vind, ’n ander by AfriForum. Wat egter werklik hartseer is, is die skerp nydigheid wat uit Afrikanergeledere teenoor Afrikanerorganisasies ontstaan, soos die onlangse vuurwerk om AfriForum se kop.

Hierteenoor kan uiteenlopende organisasies soos die ad hoc-komitee oor eiendomsbesit, (volledige naam Tussentydse (ad hoc) Komitee vir die Beskerming van Eiendomsreg), bestaande uit AfriForum, die Afrikanerbond, die FW de Klerk Stigting, die Afrikanerfront, Agri SA, die ACDP, die DA, die FAK, die LWO, die NBU (Nasionale Belastingbetalersunie), Solidariteit Instituut vir Grondwetlike en Arbeidsregtelike Aangeleenthede, TLU SA, die VF+ en VRA (Vereniging van Regslui vir Afrikaans) weer goed saamwerk. As dit maar die norm kon wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

42 Kommentare

Al ·

Ons almal sal nou meer as ooit moet saamwerk, oopkop en nugter bly.
Ek glo veral in etniese sirkels dat hul ons nog steeds as bedreiging sien. Terwyl ons almal gelyke geleenthede wil hê, voorspoed en veiligheid in die land wil hê.
Daarvoor moet daar ñ goue middeweg gevind word en beide kante tegemoet kom halfpad.
Dalk het linkse professionele persone het seker baie nuuswaardige bronne of loopbaanbevordering deur Afriforum ensovoorts vyandig te behandel in openbaar.

White Rhino ·

Glo en vertrou hom gladnie.Hy paai die prooi vir die paddapot.Nie een van hulle is betroubaar nie. N Rat voor die oe.

OWee ·

Ons het mos nou al verskeie kere gehoor hoe hierdie paddasjef ons sagmaak met mooi beloftes en ons uitlaat in sy ‘ons mense’ beloftes. Hoe dom kan onse mense dan wees..

Barnard ·

Hy het dit duidelik gemaak wie sy ‘ons’ is en ons blankes is nie deel van daardie ‘ons’ nie.
Onthou dit.

Alida ·

Baie sinvolle en insiggewende artikel Herman. As die afrikaners net wil ophou negatief wees en CR kans gee om sy saak aan almal te stel. Die negatiewe kommentare gaan nou instroom. Mense maak hulle eie afleidings en glo dan dat wat hulle aflei gaan gebeur. Gee kans.

Liberaal ·

Jy is reg Alida, al was amper alle politici se beloftes aan Afrikaners nie nagekom nie, al praat hulle aanmekaar maar niks gebeur nie, mag ons nie terugdink nie, ons mag nie onthou nie, en ons moet als glo wat politici en die media vir ons se om te glo, dan is ons liberaal.

Gee jou siel weg ·

CR het ons gisteraand versoek om saam te werk om ons laaste besittings weg te gee met ‘n glimlag. Dit is soos n rower wat vir ons se gee jou geld of ek skiet.

Liberaal ·

So? Wat is fout daarmee om van die slafoffers te verwag om hulle eiendom, besigheid en inkomste prys te gee? Dit is mos die polities korrekte ding om te doen. Ek self gaan nie my eiendom of inkomste weggee nie want… Want ek is gelukkig genoeg om nie n boer te wees nie, ek bly in die stad…oja die eiendom van stedelinge kan ook weggevat word, maar dan emmigreer ek maar net eenvoudig, maar die wat nie kan emmigreer nie moet maar self sien kom klaar seker.

Albanus ·

Kan mnr. Ramaphosa is sy skik wees om sowat 3000 volgsame Afrikanermedehelpers te imponeer

Spike ·

Jammer om te sê. Ek vertrou hom nie. Verder glo ek hy is ñ goeie mens.

Jakalas ·

Ek het vanoggend na dit op YouTube gekyk en dit lyk alles goed soos wat dit voor gegee word, maar ek het al lank al geleer om geen politikus (ongeag die vel kleur) te vertrou nie. Wat hulle belowe en wat hulle doen is 2 verskillende goed. Ek hou my asem nog op oor die grond hervorming kwessie. Gelukkig besit ek nog geen grond nie.

Wat ek wel op gemerk het is dat die AB se dae wel getel is, want ek het geen jong mense daar gesien nie. Net ou ooms. Ek is self nog jonk (in my 20’s) en het gedink die AB is al lank al nie meer ‘n “ding” nie. As hulle nie nuwe bloed in kry nie, gaan hulle nie hulle 2de eeu beleef nie.

JC ·

Herman, my nederige opinie is dat ek van mening is dat die oorgrote getal Afrikaners wantrouig staan; nieteenstaande die plethora van onsinnige samesweringsteoriee , – en soos uitgewys was deur die kommentaar gister op jou ander AB artikel-; teenoor die AB omdat hulle om verstaanbare redes van oordeel is dat die AB deel was van die kliek wat ons met bloed-trane-en-sweet gekoopte vaderland op ‘n skinkbord aan kommuniste, bedrieers, manipuleerders, onmin-saaiers en sosiale ingenierswese spesialiste gegee het, DIT is waarom Afrikaners reageer soos hulle doen. Dit is so eenvoudig soos dit. Nou vier die AB hulle 100 jaar.
Maar eerlikwaar en in alle opregtheid, wat het hulle om te vier? Wat op dees aarde beteken hulle vir ons, of doen hulle vir ons, ons taal, kultuur en waarborge vir ons vreedsame voortbestaan in ons Vaderland?

Paul ·

Ek stem saam, ek het nie ‘n idee wat hierdie hele oefening beteken het nie. Wat se invloed het die AB na buite, na bv Landbou. Dalk was dit net ‘n platform wat die media die geleentheid gebied het om daaroor te berig.

Heinrich ·

Ek gaan seker my eie oningeligtheid moet adverteer, maar ek het jare laas van die AB gehoor, hulle is doodstil gewees toe Afrikaans by soveel universiteite doodgemaak was, oor al die bohaai oor Afrikaanse taalfeeste, oor die geboelie van die ANC met ons skole, hulle is doodstil oor die algemeen. Wat is julle mee besig behalwe om mooi stigtingsdoelwitte in nuusbriewe uit te stuur?

JC ·

BAIE Afrikaners (‘n wilde raaiskoot- maar seker om en by 90%) is ontnugter tot op die been in wat eens op ‘n tyd ‘n wenresep was en vrede en vooruitgang vir ons mense gegee het- daarom die reaksie- dit is myns insiens te verwagte en GEEN verrassing nie.

Die AB wat nie nuwe geslag Afrikaners verteenwoordig nie (Afriforum doen in my nederige opinie dit eerder) MOET NIE EERS DAARAAN DINK OM ONS SWAAR VERWORWE REGTE (DIE WAT ONS NOG HET-WAT OMTRENT NET DIE ONDER- BELEG PRIVAAT EIENDOMSREG IS) OP ‘N SKINKBORD WEG TE GEE SOOS IN die 1990’s nie.

Wat het ons in elk geval nog oor? Niks, ons geliefde taal is uitgestoot deur “regters” wat die uitoefening daarvan op staatskampusse moes waarborg en afdwing (waar was die AB toe?) en die enigstes (wat in die volksmond as verloopte en/of passiewe en/of traak-my-nie-agtig/ onverlee afrikaners bekend staan) wat nog iets het is die wat hulle siele verkoop het aan Mammon en lustig deelneem aan die kil-jou-hier-kil-jou-daar oeverblindende, veelkleurige, neem-jou-regte-sommer-nou-om-die-nwo- sosiaal-marxistiese-doelwitte te bereik, MAAR GLIMLAG EN WEES BLY ASSEBLIEF, reenboog pajama partytjie.

lv ·

Die gemiddelde ouderdom vd AB lede is tans seker 80 jaar.Dis verbasend dat n organisasie met so min steun en werklike inspraak die Pres by hul vieringe kon kry,absolute blufspel.

Eish ·

Dalk n welwillendheidsbesoek vir Lobola betaal, 24 jaar gelede.

Jerry ·

Die Afrikaner wat besluit het om in SA te bly het nie regtig ander keuses as om saam met CR na oplossings te soek en dit hopelik te vind. Dit is veral die jeug wat hulself sal moet laat geld om daarby baat te vind. Wantroue by die swart en wit jeug bestaan omrede hulle nie van beter weet nie en daarom ook inslag vind by die verkeerde leiers wat die wantroue vererger. Die werklike leiers sal weldra tydens samewerking deurkom en hopelik die jeug se denkrigting wegstuur van wantroue teenoor mekaar.

Paul ·

Ek glo nie daar was enigsins jongmense by die funksie nie. Die AB praat ook nie namens hulle nie.

Grassie ·

Die ouer geslag konserwatiewe Afrikaners, waarvan ek een is, onthou alte goed wat die broederbond ons aangedoen het in die jare van storm en drang voor 1994. Geen naamsverandering en beeldpoetsery gaan hul aansien verbeter of herstel nie. Hulle is in elk geval te min om voor te gee dat hulle die Afrikanervolk verteenwoordig. Dit is beter om liewers op Afriforum staat te maak om ons saak te stel.

Bert ·

Gemeet aan die ANC se optrede sedert 1994, spesifiek teenoor Afrikaners, kan mens nie anders as om uiters skepties te wees oor CR nie. Ons bly die vyand. Ons moet op ons plek gesit word. Alle ANC beleid kom daarop neer. Dalk lag Cyril weer vir ons soos vir Roelf.

Die probleem is dat ons geen ander opsie het as om te praat met die ANC nie. Maar die Afrikanerbond en ander elites mag onder geen omstandighede namens my praat nie. Laat Solidariteit namens ons gewone mense praat – hulle wat kospakkies uitdeel en erns maak met ons armes. Nie die Stellenbosch mafia of ander rykes, die linkse Afrikaanse media en professore en dosente wie nie ‘n flenter omgee vir die mense wie die prys moet betaal vir ‘n Nuwe Suid-Afrika.

Liberaal ·

Bert, die linkses dien die globale superrykes, so wat, die supperrykes werk hard vir hulle geld, en hulle betaal die massamedia om die middelklas te vertel hoe om te dink en hoe om by die regte besighede te koop oim die supperrykes nog ryker te maak, wat reg is want hulle werk hard vir hulle geld. Waarom bekommerd wees oor die armes en die middelklas as die rykes so hard werk vir hulle geld? Of so lui die liberale agenda.

Judge Dredd ·

Dit is beter om teenstand vooraf te bied as wat ons gepaai word, net om agterna maar weereens te nagekom word.

Charles ·

Ek stem beslis saak Adriana. Hierdie ou Paddatjie gaan hom ongelukkig nie laat prut en borrel van liggelowigheid en opgewondenheid op die kombuisstoof nie!

Charles ·

Ek stem beslis saam Adriana. Hierdie ou Paddatjie gaan hom ongelukkig nie laat prut en borrel van liggelowigheid en opgewondenheid op die kombuisstoof nie!

bgj van der westhuizen ·

ab lede wat het julle vir die normale wit afrikaner mense gedeon in die laaste 20 jaar niks dit was julle lede wat ons weg gegee het en nou wil julle ons kom vertel vertrou cr moet die dink ek is mal om te glo wat hy se nie hy moet hom bewys dat ons hom kan vertrou en hou op om die wat agter die wit mense kyk en eits doen sleg te maak

Robbie Leibrandt ·

Cyril is vanuit sy unie dae n uitsonderlike onderhandelaar (leuenaar). Kyk net hoe het hy die minderwaardige Moelf Reyer op sy roer gegee. Cyril sê vir almal wat hulle wil hoor en weerhou homself daarvan om n besluit te neem tot n spesifieke situasie sy natuurlike verloop geneem het of homself uitgewoed het. Die grond onteiening word natuurlik deur ander partye ook gedryf so hy kan terugsit en kyk wat gebeur. Hy het reeds 25 jr gelede gesê wat ons voorland is en die ANC Kommunis se plan is nog steeds dieselfde. Cyril is n kansvatter (BS), maar hier kom moeilikheid en julle kan ons wat so sê maar veroordeel. Daar is niks wat die moeite werd is wat ons uit onderhandelinge met hulle kan kry nie. Broederbond julle is n teleurstelling – waar is die dae voor die Broederbond geïnfiltreer en nutteloos gemaak is.

Paul ·

Almal wat grond in die land besit is opgewerk, veral oor CR se dryf dat onteiening sonder vergoeding moet wees. Daar is vrae, veral oor die bewering wat hulle sonder ophou verkondig en veralgemeen om dit later as die waarheid te laat uitslaan dat die wit mense die grond van hulle afgevat het.

Maar aan die anderkant van die munt, moet daar verseker ook druk van die eienaars van grond in die landelike gebiede en ou tradisionele tuislande wees, wat baie grond besit, wat hulle verhuur en wat ook hoogs ongelukkig oor moontlike onteiening is.

Ek kan nie onthou dat CR tot op hede al gesê het watter grond hulle in gedagte het nie, wie s’n, hulle is baie vaag en als hang in die lug, maar hulle verlang die mense se volle samewerking.

CR vra dat mense hom moet vertrou, al is hulle vaag, soos in, ek stort my geld in ‘n put af, ek weet net nie hoe diep die put is nie, maar maak dit saak?

Dan gee ek eerder my geld vir ‘n bank om te belê.

Paul ·

Ek moet byvoeg, die uiteindelike oogmerk, so is al oor berig, is dat die Staat alle grond wil besit en die bewonders moet dit dan van die Staat huur. Vandaar ook die ongelukkigheid by daardie grondeienaars in die landelike gebiede en voormalige tuislande, wat die grond verhuur. Ingelyks is hulle bevrees vir onteiening.

Robbie ·

Wat doen CR by n Broederbond feesviering? Regtig, julle weet ook nie waar om die streep te trek nie nè. Dis belangrik om jou vyand te kan identifiseer en te isoleer. Is daar enige blanke daar buite wat steeds glo ons gaan nie geleidelik onteien word van alles wat ons besit nie en dat CR namens die kommunistiese ANC hierdie projek implimenteer en dryf.

Nugter ·

Hoe kan iemand se die Afrikaners wat oorbly moet nou onderhandel met die CR klomp, daar is 25 jaar terug onderhandel en met sekere ooreenkomste na ons gekom soos eie skole, moedertaal onderwys, eiendomsreg ens. De Klerk het destyds op TV vir die mense gese
” julle eiendomsreg is verseker” niks daarvan is nagekom deur die ANC nie en wie was die persone wat onderhandel het Natuurlik CR en Roelf Meyer. Waar is ons skole en Universiteite en eiendomsreg. Ons versoek hulle net een of twee universeteite, indien daar amok is by ‘n Afrikaanse skool waar is ons versekering wat CR vir ons gebied het destyds. Nou wil hy eiendomsreg wegneem en geen versekering wat hy gegee het word nagekom nie, nou wil julle weer met hom onderhandel om weer sy leuens te glo. Waar was hy al die tyd wat Zuma die staat beroof het, indien almal dit kon sien en daaroor gepraat het hoe kan hy se hy het nie daarvan geweet nie. Nou moet daar oor ons bates onderhandel word met hom, nooit nie.

FG ·

Na al ons kulturele verliese van die afgelope 24 jaar, vertrou ek nie CR of die Afrikanerbond nie. Sanlam, Santam, Universiteit Stellenbosch ens se eeufeesvieringe vind almal in Engels plaas. Van die Afrikaner en Afrikaanse taal het daar niks oorgebly nie. Ons het nou aktiviste nodig, en nie onderdanige kruipers nie. Kyk gerus na die YouTube video en besluit self of die Afrikanerbond nog relevant is.

Paul ·

Ek het my lewe aan Santam gewy, sou oorlog toe vir hulle gaan en hulle het my versaak.

Skoon Gewete ·

Ek heuel nie met cr nie.Het ook nie met fw of rm nie.Ek sal ook so voortgaan.Ek wil met my gewete kan saamleef en daarom sal ek nooit kan uitverkoop of verraai nie.

Danie ·

Twee vrae. Watter relevansie het die president se toespraak voor ‘n groepie mense met ‘n landwye steunbasis van ongeveer 3000 mense. En wat maak die AB daarvan dat die president se party se amptelike beleid onteiening sonder vergoeding is. CR se dubbelpratery klink baie soos FW s’n tydens die referendum.

Andre van Coppenhagen ·

Noem my maar oningelig maar soms kan dit wat voor jou oë afspeel nie weg geredeneer word nie. Die AB het nie terwyl hylle aan die woord was enigsins verwys na die skreiende onbillike behandeling waaronder Afrikaners huidiglik gebuk gaan nie. Daarteenoor het Ramaphosa nie gehuiwer om wat volgens hom in die verlede verkeerd was, uit te wys nie. Dit herinner aan en werp lig op die onderhandelinge wat ons tot die punt gebring het waat ons vandag is. Ramaphosa het nie daar uitgestap met ‘n gebalanseerde boodskap dat hierdie ouens ook sekere eise in hul eie belang gaan voorlê nie. Dan wonder ek ook waarom kla as baie mense negatief is teenoor die sogenaamde AB as “leierskap”. Die AB het geen gronde waarop hulle kan aanvoer dat hulle Afrikaners verteenwoordig nie. Hulle is self aangestel. Die Afrikaner volk het hulle nie in noemenswaardige getalle aangestel nie. Daarom sal ‘n organisasie soos die internasionale organisasie UNPO (Unrepresented Peoples Organisation) hulle nooit as vertoonwoordigend van die Afrikaner sien nie. Afrikaners is verward midde al die self aangesteldes wat aanspraak maak dat hulle “leiers van die Volk” is. Die vermyding van Afrikaners se huidige nood is ‘n goeie aanduiding dat hulle nie in voeling met die Afrikaner publiek is nie. Afrikaners moet nou begin eise stel want daar is vir 24 jaar oor hulle geloop. Daarvoor is leierskap uit die Volk, vir die Volk nodig.

Marius ·

Ek vertrou ook geen politikus nie. Wat egter belangrik is is dat ons soos in die angloboereoorlog nog steeds nie saam staan nie. Ons moet ons onderlinge geskille en sienings en die eie ek begin vergeet anders gaan ons weer soos in die boereoorlog nie hond haar af maak nie. Ek verstaan ons sienings is nie altyd die selde nie. Maar is dit te veel gevra dat elkeen van ons n opoffering maak en mekaar se sienings respekteer sonder om teen mekaar te werk of mekaar se sienings aan te val. As ons liefde vir ons kinders en ons land en volk groter is as die liefde vir ons self en ons eie sienings dan miskien sal ons as afrikaners n verskil kan maak in hierdie land.
Daar is hoeveel afrikaner organiesasies. Ons kort n sterk leier wat hulle almal bymekaar kan kry om een tafel en saam n plan uit te werk.
Miskien moet hulle ook opoffer en besluit dat dit nie oor geld of oor hul hoeveelheid lede gaan nie maar oor die oorlewing van die afrikaner as volk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.