Nuuskommentaar: Ramaphosa en die Afrikanerbond-eeufees

Pres. Ramaphosa. Argieffoto: Elmond Jiyane/GCIS

Die Afrikanerbond (AB), toe nog bekend as die Afrikaner Broederbond, of sommer net die Broederbond, is op 5 Junie 1918 gestig. ’n Boek, Broederskap, is by die honderdjarige bestaan bekend gestel.

Deur die jare het ’n baie negatiewe beeld oor die organisasie by mense ontstaan. Heelwat mense praat steeds met groot bitterheid oor hoe hulle self, of hul ouers, deur die AB benadeel sou gewees het. ’n Onlangse briefskrywer op Netwerk 24 skryf van die “gebroedsel”. ’n Vermoede is dat daar takke was wat “rogue” geword het en teen die AB se beleid in, klein byltjies gaan slyp het. Dit word dikwels aan die destydse vertroulike aard van die organisasie toegeskryf, en die allerverskriklikste dinge is al in artikels en hier en daar ’n boek aan die AB toegeskryf. So is beweer dat die AB (of dan die destydse regering) verantwoordelik was dat die Rietbok, ’n Viscount van die SAL, in 1967 met ’n lewensverlies van al 25 mense aan boord, by Kayserstrand in die Oos-Kaap neergestort het. Hiervolgens sou die “ongeluk” teen JP Bruwer gemik gewees het. Bruwer, waarnemende hoofleier, sou een van twee passasiers wees wat teen apartheid gekant was.

In ’n kort, onlangse berig noem die redakteur van Beeld, Barnard Beukman ’n aantal beweerde kenmerke van die AB wat die organisasie se beeld geskaad het, soos baantjies vir boeties. Lede is glo ten koste van nie-lede in top-poste elders bevorder.

In ’n uitgebreide artikel deur die hoofsekretaris, Jan Bosman, wat terselfdertyd ’n resensie van die nuwe boek, Broederskap is, val ’n ongenoemde skrywer wat die inleiding geskryf het, sommer weg deur die AB “omstrede” te noem.

Tog meen Beukman die opskorting van die AB se vertroulike aard was ’n fout.

In ’n uitgebreide artikel op LitNet skryf die destydse redakteur van Volksblad, Hennie van Deventer hoe sy beroep as joernalis soms ingedruis het teen sy lidmaatskap van die AB waar hy vertroulike inligting vir homself moes hou. Met die 1994-oorgang het die joernalis in hom egter die oorhand gekry.

Die artikel meld prestasies wat die AB reeds bereik het, en nog wil bereik.

In ’n mediaverklaring wat Woensdag uitgereik is, skryf Bosman dat pres. Cyril Ramaphosa vanaand (7 Junie) die AB tydens ’n meerdaagse hoofraadsvergadering wat in die Paarl gehou word, gaan toespreek. Oudpres. Nelson Mandela en Thabo Mbeki het tydens hul ampstermyne ook so gemaak.

Groot verwagtinge word nou gekoester oor hoe Ramaphosa die Afrikaner beskou, en na verwagting vanaand die sluier gaan lig. Die ANC het met sy eie brouwerk die dividende wat hy in 2012 met sy eie eeufees kon verdien, egter verkwansel, en Maroela Media het destyds breedvoerig daaroor berig. Vanjaar word Mandela se 100ste verjaardag egter gevier en kry die ANC “onder nuwe bestuur” ’n kans om die beeld te poets. Ramaphosa is egter onder enorme druk, en dit sal interessant wees om te sien of hy die goue oomblik wat die AB hom vanaand bied, in landsbelang kan benut. Dit sal veral interessant wees om Ramaphosa se hantering van die kwessie van die onteiening van grond sonder vergoeding tydens sy toespraak, te analiseer. Gerusstellings wat op leë woorde neerkom, sal net nie deug nie.

Die AB skep nou vir Ramaphosa ’n unieke geleentheid om sinvol na die Afrikaner uit te reik, en hy sal goed doen om die geleentheid met meer inhoud aan te gryp as sy voorgangers se braaivleis- en leëbekpraatjies. Soos Bosman dit in die mediaverklaring stel: “Dit is vir die Afrikanerbond daarom aangenaam om pres. Cyril Ramaphosa by die Eeufeesviering te ontvang en te luister na sy visie vir Suid-Afrika en dan veral die kwessies wat vir ons as Afrikaners belangrik is.” Dis egter nie net die AB wat gaan luister nie – die ganse land en veral alle Afrikaners en ander minderhede het groot belang hierby. Mag dit nie verkwansel word, of deur Zuma se “terugvegpoging” in die slag bly nie.

Wat die AB self betref, meen dié organisasie hy het aanvanklik ’n groot rol in die opvoedkundige rol van die Afrikaner gespeel, en daarna die ekonomiese rol. Daarna is ’n groot rol in die politieke bemagtiging van die Afrikaner gespeel.

Oorkondes word ook tydens die hoofraad se saamtrek aan die volgende persone oorhandig: 

  • Prof. Hermann Giliomee vir sy besondere ruim bydrae tot die geskiedskrywing van die Afrikaner.
  • Mnr. Dave Steward vir sy besondere bydrae op grondwetlike terrein.
  • Mnr. Carel Trichardt as erkenning van sy lewenslange bydrae en uitlewing op kulturele gebied.
  • Dr. Carel Stander vir sy besondere bydrae met die finansiële bestuur van die Afrikanerbond en sy breë bydrae op kulturele gebied.

Al hierdie aspekte sal weer tydens die hoofraad se bespreking oor die toekoms herbesoek moet word. Op ekonomiese gebied sny SEB- en ander wetgewing diep in op die Afrikaner se vermoë om die ekonomiese welslae van die verlede te handhaaf. Daar is ’n besliste aanslag op veral die taalgebied teen Afrikaans, en op politieke gebied sal fyn getrap moet word oor hoe die Grondwet die soort beskerming kan bied wat met die opstel daarvan beoog is.

Samewerking met ander organisasies wat soortgelyke doelwitte stel, sal deurlopende aandag moet geniet, al verskil die metodes om doelwitte te bereik van mekaar.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

37 Kommentare

jongste oudste gewildste
Basson

Ek dink die bedoeling was goed in 1918 en in konteks gesien was dit bes moontlik nodig op daardie stadium

Egter is my ervaring dat dit vele jare later die binnebaan geword het vir bevoorregting, posisies / mag ens, die NP se eie ‘BEE’ ekwivalent.

(Regter DH Botha se bevindinge is nooit bekend gemaak?)

christa

is die broederbond nie dieselfde as Vrymesselaars nie?

M

Die Afrikaaner Broederbond is een van die 33 grade van die Vryemesselaars. (wereldwye uliminate). Lees meer op oor Vryemesselaars wereldwyd en mens verstaan baie meer van ons politieke verlede. AB is nie n organisasie waarop ons moet trots wees of voortbou nie. Jammer.

Andre

Ek sien Herman trap fyn in sy artikel hierbo. Die feit is dat die AB ‘n uitvloeisel is van die Broederbond en om daardie rede ‘n groot bedreiging vir die Afrikaner se belange. Goeie kommentaar deur almal hierbo wie kommentaar gelewer het.

bloues

Die Broederbond van ouds (Voor Treurnicht en ander die bond verlaat het)_, het goed gedoen vir die Afrikaner. Dit het eger ontaard in ‘n manne bende wat net na hulself en hul eie sakke gekyk het. As jy een van hulle was sou jy die vrugte pluk maar sou jy een van hulle teenstaan sou hulle die wereld vir jou omgekrap het. Selfs afskuwelike optredes is deur hulle en die Ruiterwag(hul kleinboetie) verdedig ten koste van die regverdige.
Veral in die kleiner plattelandse dorpies het hulle geheel en al die septer geswaai.
Ek wonder of daai manne lekker kan slaap.
Ek sou nie!