Nuuskommentaar: Ramaphosa gaan klippe kou

Die ANC se nuwe nasionale uitvoerende komitee is Donderdag in die vroeë oggendure aangekondig. Foto: ANA

Uit die samestelling van die nuutverkose Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) van die ANC is dit duidelik dat Zuma-lojaliste goed verteenwoordig is. Die top-ses is ook gelykop verteenwoordigend van Ramaphosa- en Zuma-ondersteuners.  Tog is daar aanduidings dat die twee setels van mag vir die ANC so ’n handvol dubbeltjies in die skoen kan word dat pres. Jacob Zuma herroep kan word.

Die ANC het wel daarin geslaag om die NUK min of meer gelykop verteenwoordigend van mans en vroue te kry, hoewel van die vroue wat die paal gehaal het min of geen vertroue inboesem nie. Onder hulle tel Faith Muthambi, Susan Shabangu, Lindiwe Zulu, Mildred Oliphant, Baleka Mbete, Bathabile Dlamini en nog enkeles, waaronder Tina Joemat-Petterson. Verskeie mans, waaronder twee met kriminele rekords, boesem egter ook min vertroue in. So ’n NUK, veral as tweespalt heers, sal die gesamentlike opposisie se kanse om in 2019 met ’n koalisie aan bewind te kom, aanmerklik versterk.

Vir die huidige skyn die lig van Ramaphosa egter helder, ook, en dalk veral buite die ANC, in ’n donker ekonomie. Die werklikhede gaan egter reuse-eise aan die Ramaphosa-euforie stel.

Van sy verkiesing tot nuwe ANC-president is dit egter duidelik dat Ramaphosa alles in sy vermoë doen om vrede in die Top-6 te bewerkstellig. As berigte korrek is, het hy selfs vir sy omstrede sekretaris-generaal, Ace Magashule, ingetree in die dispuut oor sy verkiesing. Tog was daar ’n storie in omloop dat die res van die groot-6 dit aan Magashule duidelik gemaak het dat die moeilikheid wat hy met die Valke en ander instellings het, sy eie is.

Vir dr. Nkosazana Dlamini-Zuma was die 9de plek op die NUK-se verkiesingslys min troos – nie eens haar eie tak in KwaZulu-Natal het haar kandidatuur vir die presidentsamp gesteun nie.

Cyril Ramaphosa

Die nuutverkose president van die ANC, Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Hoeveel van die Zuma-ondersteuners sal dwars trek teen sy moontlike herroeping is moeilik om te bepaal. Dinge is nou besig om vir Zuma skeef te loop, met Shaun Abrahams wie se hande gebind word om hom uit die tronk te hou.

Wat wel in dié stadium baie onheilspellend klink is die aanduidings dat die ANC sy NUK (met Luthuli-huis as uitvoerende arm) nie net die ANC nie, maar die hele land se magsentrum wil maak. Terwyl dit ’n lomp manier mag wees om die tweespalt in die ANC onder beheer te hou, maak dit van Suid-Afrika effektief ’n eenpartystaat waar die veelparty-parlement in effek ’n rubberstempel word. Dit so kort ná opposisiepartye, onder meer deur hofsake met moeite ’n veelparty-demokrasie herstel het. Dit sluit verdoemende uitsprake van die konstitusionele hof in, en opposisiepartye en nie-regeringsorganisasies sal verwikkelinge met ’n valkoog dophou.

Die groot vraag bly natuurlik of  Ramaphosa oor die nodige deursettingsvermoë beskik om korrupsie en staatskaping in die bek te ruk. Sy beloftes klink belowend.

Tyd sal egter die groot skeidsregter wees om te bepaal of Ramaphosa die land en sy ekonomie bestendig gaan kry. Die verwagtinge wat die internasionale gemeenskap van hom koester, bied aan hom ’n grasie en speelruimte wat hy ten volle sal moet benut. Tyd vir voete sleep is daar egter nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pierre ·

Ek dink dat almal met Arendsoe nou na Ramaphosa gaan kyk en stem almal saam dat dit nie maklik gaan wees nie. Ek persoonlik is egter van mening dat hy alles het wat nodig is om hierdie stryd te wen, gegewe sy sukses by die onderhandelings tafel (hy het Meyer en kie ore aangesit) sy bydrae tot herskryf van die grondwet, sy vermoe om die Lesotho situasie te kon help hanteer is maar enkele voorbeelde waartoe hy instaat is. Gegewe die feit dat hy beslis ‘n Madiba man was wat vertroue by Madiba ingeboesem het sal hy beslis nie die Zuma pad loop nie. Ek lees baie in ‘n persoon se voorkoms en liggaamstaal, Ramaphosa is duidelik in ‘n ander klas en kan hy respek afdwing. Ek glo verder dat hy wel daarin kan slaag om tog die twee faksies bymekaar te hou. Al herroep hy nie noodwendig vir Zuma nie kan hy Zuma degradeer tot slegs ‘n seremoniele leier en hom soos ‘n puppet bestuur. Ek hoop ook dat Ramaphosa die openheid gaan he om veral in Korrektiewe dienste, die Weermag (Minister, Sek Def, HNW), PolisieSAL, ESCOM ens leiers nou te laat gaan en te vervang met nuwe leiers wat ‘n uitdaging kan aanvat en wat respek kan afdwing. Ek dink veral die Verdedigings Departement moet nou verander word sodat ons weer soos ‘n Weermag lyk. Ek wens Ramaphosa alle sterkte toe en vertrou dat sy besigheids vernuf hierdie land weer sal vestig tot wat dit altyd was.

Niks nuuts ·

As jy ‘n vir ‘n ou, gebreekte motor enjin ‘n nuwe body opsit, kan jy meeste mense vir ‘n ruk lank opgewonde kry en dalk selfs die kar verkoop kry. As jy egter iets betroubaar soek vir die lang pad, is dit dalk beter om ‘n totale nuwe voertuig te koop. Dit is die beginsel wat meeste kiesers in SA ongelukkig nooit sal begryp nie.
Ramaphosa lyk soos ‘n nuwe Porche : )

zoom zoom ·

Nee wat CR gaan nie vir lank dir pup kan rook nie. Klaar word daar gepraat vsn grond vat sonder vergoeding. Reserwebank wat nie meer onafhanklik moet funksioneer nie. Nee wat ons gaan nog klippe kou onder die ANC. DA gaan dit nie maak in 2019 soos wat hulle glo net so korup soos die nou aan beheer.

Adam ·

Die vraag is nie of CR ‘n intelligente of goeie man is nie; ons weet dit. Die vraag is of hy “politieke” murg in sy pype het.

John ·

Cyril gaan die murg uit die sopbene eet tussen die skroeiende skreeuende paddas in die pot kokende stink sop met hier en daar ‘n ou groentetjie vanaf ‘n Indiese voorheen geil boerplaas. Om die 2019-verkiesing oorweldigend te wen gaan eiendom en beurse uitgedeel word, geld gedruk word (oompie Mogabe weet hoe) en poste van wit na swart gewysig word. ‘n Totalitere mag word beoog. Iets tussen N-Korea en Nazi-Duitsland met onderdanigheid aan ANC-opperbevel met ‘volmaakte kommunisme’ as wagwoord. Menseregte is ‘n klug en bloot die naam van die pad na die hel met beelde van Mandela op elke draai. Was daar al ooit meer formidabele dwase as die De Klerk-gebroeders voor 1994 se katastrofiese georkastreerde inkonk van ons land se bestuurstelsel?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.