Nuuskommentaar: Ramaphosa se posisie benard – nete bly klou

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Kopano Tlape (DoC)/Flickr

In sy hoofartikel beskryf Netwerk 24 goed gemotiveerd pres. Cyril Ramaphosa se posisie as regeringshoof as “benard”. Hiermee is weinig fout te vind – eerder kan nog voorbeelde uitgelig word van hoe die druk op hom oplaai. Wat verstommend is, is dat hy dit skynbaar sienderoë duld, en ’n mens kan bloot aflei dat Ramaphosa voel hy het wel genoegsaam beheer oor situasies wat dreig om sake te laat ontspoor.

Dit alles geskied teen die agtergrond daarvan dat dit nie in landsbelang is dat die ANC volgende jaar se algemene verkiesing wen nie, nie eens ’n “verbeterde” ANC wat koersvas en beginselvas deur Ramaphosa gelei word nie. Daarvoor is daar bloot te veel ou, vrot hout wat soos nete klou en die land in onsekerhede, gebaai in korrupsie, laat dobber. En verdien ’n leier wat grondroof wil invoer die steun van enige verantwoordelike kieser?

Ramaphosa kan wel die oorblywende tyd voor die verkiesing gebruik om baie sake reg te ruk, of dan ten minste te verbeter, maar dit bly onseker solank hy nog geïnkrimineerdes uit die Zuma-era na-aan sy boesem hou – soos om met ’n verspot groot kabinet (wat hy self gesê het, moet verklein) vol te hou. Alles kan nie oornag gedoen word nie, maar dit is dalk al waarop Ramaphosa kan reken.

Hy kan ook kwalik los en vas verwagtinge saai, want in Suid-Afrika skep dit net nog sterker verwagtinge. Kort ná sy persoonlike besoek aan Noordwes om die kastaiings uit die vuur te probeer krap, eis die opstandige inwoners van Keiskamma dat Ramaphosa hulle ook moet kom besoek. En hulle dreig om met hul vandalistiese optrede voort te gaan tot dit gebeur. Intussen het sake in Noordwes nie heeltemal tot ruste gekom nie – die protesgolf het bloot versit én versprei.

Sake kan môre verder op ’n spits gedryf word deur ’n landwye staking wat met die stryd oor minimum lone verband hou. Die vakbondfederasie Saftu, wat Numsa insluit, het uitgevaar teen die regering se beplande minimumloon van R20 per uur of R3 500 per maand, asook sekere wysigings aan arbeidswetgewing.

Die ekonoom Mike Schussler reken die staking kan die land tussen R1 miljard en R1,5 miljard kos. Die koste-uitwerking kan wel versag word, maar nie die land se beeld as stakersland nie.

Die leierskap van Saftu kondig hul beplande landswye staking aan (23 April 2018). Foto: Twitter via @SAFTU_media

Boonop is die vandalisme en ander misdade wat tydens stakings aangerig word dikwels meer prominent as die staking self.

Cosatu, hoewel genooi, neem nie aan die staking deel nie.

Intussen is die ANC haastig, en met goeie rede, dat sake moet “normaliseer” en bestendig sodat sy verkiesingsmasjinerie aan die gang kan kom, veral in provinsies soos Noordwes en die Vrystaat, asook KwaZulu-Natal waar die strukture nog heeltemal flenters is weens Zuma se inmenging. In die jongste tussenverkiesings het dit ook gelyk of daar ’n taamlike herlewing van die IVP is.

Tog meen die ANC hy het aantreklike pryse in die oog, soos om die Wes-Kaap na sy kant oor te wen. Die vermaarde Ibrahim Rasool is in daardie provinsie as verkiesingshoof van die ANC aangewys, en sy taak sal stellig wees om diep te put uit die onmin wat die Patricia de Lille-affêre opgelewer het. Maar sal hy die nodige toegang tot swart gemeenskappe kry, veral soos dié wat onlangs in Hermanus en omgewing onluste veroorsaak het?

Dit moet in gedagte gehou word dat ander partye se verkiesingsmasjinerie ook nog op dreef moet kom, en aan Ramaphosa nog veel meer sal gee om dinge die hoof te bied. Die rol van sosiale media, tesame met die gevestigde media, maak dit ook moeiliker om ysters in al die vure te hou.

Met die Zuma-lojaliste wat nog aan sleutelposisies klou, is die Ramaphosa-lojaliste, veral dié wat hul sout werd is, dalk net ’n bietjie dun gesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Chris Ws ·

Baie goed gestel Mnr.Toerien!Ou CR is letterlik tussen ‘n klip en ‘n harde plek vasgekeer met die vernietiging wat tydens proteste plaasvind want sy optrede gaan die anc se verkiesing volgende jaar positief of negatief beinvloed en intussen sit die buiteland nuuskierig en kyk wat hy gaan doen!Kry vir jou mnr.Ramaja!

Robert ·

Daar is ‘n sêding dat ‘n luiperd sy kolle nie kan verander nie en ek sal een by noem en dit is dat ‘n sekere tipe slang se gif dieselfde bly. Dit help nie die ANC stel vir Rasool as hulle drywer vir die verkiesing aan nie. Hy gaan maar net dieselfde “truuks ” uithaal as toe hy ANC leier in die Weskaap was. Die ANC is desperaat en hulle het nie hulle lede, wat droogmaak, ordentlik gedissiplineer nie, nou gryp hulle na strooi halms om die situasie te beredder.

Grassie ·

Ramaphosa moet soos Zuma maak – kondig in die middel van die nag ‘n kabinetskommeling en ander nodige verskuiwings en afdankings aan en sit dan terug tot die ergste bohaai oorgewaai het. Maar ek glo nie hy het genoeg murg in sy pype om dit te doen nie. Hy is van Afrika, maar hy verstaan om een of ander rede nie Afrika-kultuur nie. Om te paai en te sus en mooi praatjies te maak word as swakheid beskou en respek word ingeboet. As hy sy voet neersit en doen wat gedoen moet word gaan sy aansien onder die gewone ANC lede, die stemvee, verbeter. Maar helaas, dit sit nie in sy broek nie.

Oom Kalahari ·

Ramaphosa het vele uitdagings ge-erf, maar nie sy skoonmaak proses van die begin reg toegepas nie. Daar is nog ‘n paar lojale Zuma/Gupta kadertjies wat die trein in trurat hou. Aangesien Rampies ‘n Venda is is daar van die ander stamme en faksies nie daarvan hou om deur ‘n ander gelei te wordnie en dan is daar nog die EFF en BLF wat die pop se stringe trek en toets wat die reaksie gaan wees om anargie teweeg te bring. Elkeen se geskiedenis het maar sy leiding en vooruitgang met oorsprong van Robben Eiland. As ANC en EFF gaan hande vat, wel dan is die ANC verseker in die groot stoel in 2019 verkiesing.

Reguit ·

Die naïewes glo dat die “nuwe een” beter is as die vorige een; dat die nuwe een “vertrou” kan word, dat die nuwe een “wonderlik” is, ensovoorts. Feit is: hulle is almal dieselfde tipe. Hulle almal lieg en bedrieg en maak mooi beloftes. Hoe weet mens wanneer ‘n politikus lieg? As sy mond oop gaan.

Adam ·

Bang Cyril is hopeloos te veel van ‘n diplomaat om die boot uit die gevaar-waters te stuur.

Kaufman ·

Dit is n skande dat die populere media nie Mev. Khosa se nuwe party publisiteit gegee het nie. Sy kon n alternatiewe party vir swart kiesers geword het, maar na haar bedanking die week, waarskeinlik omdat sy nie steun kon werf nie omdat die massamedia haar nie kans gegee het nie, gaan daardie party sekerlik verdwyn.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.