Nuuskommentaar: Ramp nie ‘gestuit’ maar vererger – Ram(a)p(hosa) se prestasiekassie krimp

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

’n Dekade en ’n aks gelede het ’n opposisieraadslid na ’n verslag van die ouditeur-generaal oor ʼn betrokke munisipale raad as ʼn ramp verwys. Na afloop van die vergadering wou ’n raadslid van die regerende ANC by die doemprofeet weet of hy ernstig was met sy beoordeling as rampspoedig. Sedertdien gaan dit van erg tot erger, en maan die opposisie-DA dat daardie munisipaliteit, Mangaung, die eerste metro kan wees wat in duie stort. Maar steeds is die ANC onwillig om die regte bloubottel (kasterolie) in te span, en eerder op die soustrein te bly en die Bloutrein gulsig te sluk.

Vandag was die rypste koringland vir ’n nuuswaardige kommentaar die bekendmaking van verslae van die ouditeur-generaal met die staat en staatsentiteite wat die afgelope jaar agteruit geboer het. Dit is nie die soort nuus wat verantwoordelike Suid-Afrikaners sou wou hoor nadat Cyril Ramaphosa die regering van die Zupta-ramp vervang het nie.

As die Zupta-bewind baie kort saamgevat moet word, sou dit beskryf kon word as die inspan van korruptes om die staat van sy hulpbronne leeg te suig, en die wetstoepassers so te kaap dat daar nie vervolging sou plaasvind nie.

Iets is aan die gebeur – daar was byvoorbeeld reeds ’n hele aantal boeke wat verskeie aspekte van die staatskaping ontmasker het. ’n Paar sleutel-aanpassings is by die SAID gedoen, die Nasionale Vervolgingsgesag se kop is afgekap en ’n nuwe een aangeheg … maar steeds wil sake nie vlot nie. Nie alles kan (meer) voor die Zuptas se deur gelê word nie, maar soms lyk dit of Zuma steeds stewig in die saal is. Nie net kon die wapentransaksie-verwante korrupsieverhoor teen Zuma nog nie regtig aan die gang kom nie, maar hoe is dit moontlik dat die NVG steeds “onvoldoende” bewyse het om Julius Malema te verhoor, maar van sy eertydse “kollegas” wel, terwyl die leier van AfriForum se private vervolgingseenheid glo daar is wel genoeg bewyse? En dis nie asof dié persoon, adv. Gerrie Nel, as ’n paloeka beskou kan word as dit by vervolging kom nie. Terwyl Malema verklaar dat die EFF “gereed” is om Johannesburg te regeer? ’n Mens kan maar net wonder wie het wat in die twak ingemeng wat hy rook?

Dat die kreeftegang van die staat se finansies ’n ramp is, is gewis. Dat alles die Zuptas se skuld is, is ook ʼn bietjie vergesog, maar die feit dat dit so lank ná Zuma se afsetting steeds momentum afwaarts het, laat die koppe raas. Erg raas. In 1984 was dit reeds ’n kernelement van Ekonomie 116 toe die uwe die vak buitemuurs bestudeer het – dat die besteding van ’n te groot deel van die BNP aan die sogenaamde onproduktiewe (staat-)sektor rampspoedige gevolge sal hê. Dit kan hoogstens net sin maak as dit op die korttermyn gebruik word om meer geld in die produktiewe sektor in omloop te kry sodat die ekonomie gestimuleer kan word.

Al meer word die vingers na die radikale vakbonde gewys wat dit juis andersom sien … as krip vir die kaders. Ja, dit werk, maar ook net totdat ’n land se geld ook op is.

Wouter Wessels, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor finansies, som dit baie netjies op: “Die staat se salarisrekening is besig om geld wat die land aan die gang moet hou, met reëlmatige toename te verorber terwyl vakbonde aandring op groter porsies. Tog word die privaatsektor en wit mense van die land gereeld die sondebok gemaak vir die land se probleme.

“Almal weet dit en die regering erken dit en maak beloftes om op te tree. Tog gebeur net mooi niks. Die regering se salarisrekening maak tans 34% van die nasionale begroting uit. Dit beteken dat R340 uit elke R1 000 wat die regering bestee, aan salarisse gaan.

“Salarisse het in die tydperk van 2006/07 tot 2018/19 meer as verdriedubbel van R154 miljard tot R518 miljard. Staatsamptenare wat meer as R1 miljoen per jaar verdien, het gedurende dieselfde tydperk van 9 600 tot 29 000 toegeneem.”

Die DA is ook nie sonder koorspen oor waar die siek ekonomie vandaan kom nie. (Lees hier.) Ongelukkig word dit net in Engels bekendgestel, wat dit effektief weerhou van die Afrikaanse gemeenskapsmedia waar daar nie die kapasiteit of tyd is vir vertalings is nie. (Die DA is al meer as voldoende hierop gewys – nie net deur die uwe nie, maar verskeie groot rolspelers in die Afrikaanse media.)

Is Ramaphosa laks om op al die fronte van ekonomiese selfmoord wal te gooi – inteendeel, nog petrol op die vlamme te gooi met onteiening sonder vergoeding? Of is die Zupta-momentum nog net te groot om dit uit sy selfmoordkoers te dwing, laat staan nog in die regte rigting geforseer te kry?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Francois Steenkamp ·

Afrikaners wat hulle verlaat suiwer op vertalings vanuit ander tale na Afrikaans, se wêreldtjies moet maar bitter klein wees. Engels is die lingua franca, of ons nou daarvan hou of nie. Ons moes in elk geval nooit ons rug op Nederlands gekeer het nie.

Frans ·

Jy’s heeltemal reg Francois SteenKamp. Dit is egter aangenaam om in jou eie taal aangespreek te word. Veral waneer iemand jou wil inspan om hulle eie doelwitte te behaal. Dit is myns insiens ‘n teken van respek. Daar is ook Google Translate, weliswaar krom en skeef, maar hoe meer mense die vertaler reghelp, hoe beter gaan die veratlings in die toekoms raak. Dit behoort dus relatief eenvoudig vir die petisie-uitgewer te wees, klaarblyklik die DA, om vertalings in verskeie tale beskikbaar te maak. Moontlik wys hulle gedrag op hulle werklike mening en houding.

Gehasie ·

Baie goed verwoorde artikel. So geld dit ook vir Lesufi die ANC en ook vir diè wat die proses van (self) vernietiging begin het.

Santie ·

Spot on artikel! Skerp spelling van Ramaphosa…..Herman Toerien!! ????

Wonder ·

Herman ek stem saam met jou. Dinge in die land gaan nie baie gou verander nie. Die rede is baie eenvoudig. Die verkose regering maak van onkundige mense gebruik om in beheer van die land te bly. Die arme stem vee van die land vreet alles vir soetkoek op wat daar geskrywe word oor die blanke nasie. Hoekom kan dieselfde regering nie aan hulle ondersteuners verduidelik watter bydrae die blankes sedert apartheid met hulle belasting geld t.o.v die land se geldkoffers beteken het nie? As dit gedoen word sal die wedersydse antagonisme verminder en later verdwyn.

André-Chris ·

Interessant genoeg het Jackson Mthembu gister, betreffende die SAL, bevestig dat die Staat nie meer geld vir die entiteite het nie, soos Gordhan vroeër aan die parlement verduidelik het. Hulle is ook bewus daarvan dat die SAL nie geld het nie en nie einde hierdie maand salarisse sal kan betaal nie, maar sê Jackson Mthembu, dat dit die reg van die werkers is om vir salarisverhogings te staak, dus moet die SAL ‘n oplossing daarvoor vind. Nou vra ek, hoe doof wil ‘n mens wees om nie te kan verstaan dat die SAL nie geld het nie, in effek meer as bankrot is, dat mens nog steeds daardie werkers aanmoedig om vir die verhoging te staak?

Dit nou in hoeverre die realiteit inskop, so sal die ramp waarna Herman Toerien hier bo verwys, ook onafwendbaar met ons wees, want dit bly horende doof vir die werklikheid, wil nie sien nie, wil nie hoor nie, wil nie verstaan dat die grassnyer lank gelede al gebreek het nie.

Feite ·

Die staatskaping en soustrein status quo sal solank as moontlik deur die ANC gehandhaaf word, omrede die ANC elite en kaderstrukture daaruit voordeel trek. Die enkelinge wat uitgevang en uiteindelik vervolg gaan word, gaan in elk geval deur die ANC na omgesien word. Dit was nog altyd die ANC se plan dat die ANC onder Zuma die rand moet laat val vir die ANC en dat onder sy opvolger, die rand opgetel moet word vir die ANC. Dit blyk egter nie so maklik te wees om die rand weer op te tel terwyl die staatskaping status quo gehandhaaf word nie. Die ANC het hulself n bietjie misreken met die skade aan die ekonomie, maar sal beslis probeer om dit polities tot hul voordeel uit te buit!

Akademi Buktu ·

Daar is in die proses ‘n belangrikse aspek wat uit die oog verloor word. Dis nie net verhoogde salarisse wat ter sprake is nie, maar ook die verdeling van pre-1994 poste in meer poste wat verhoogde rang/posvlakke insluit. Werk wat voorheen deur een persoon op hoofbestuursvlak hanteer is, word nou deur deur ‘n hele paar gedoen.

Julie Jansen van Rensburg ·

Toe ek nog “kujihuisbrak” tydens my skooljare was, had ek ‘n kamermaat wat soms met heel komiese gesegdes na vore gekom het. Een daarvan: “…My ouma sê dit gaan van bed na wors…” (From bad to worse!!!) Absolute raak beskrywing van wat vandag in ons land aan’t gebeur is – “VAN BED NA WORS…”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.