Nuuskommentaar: Ramptoestand en 2021-munisipale verkiesing

Kiesers word gemaan om sosiale distansiëring toe te pas terwyl hulle wag om hul kruisies te trek tydens ‘n voorverkiesing in Lawrenceville, Georgia in die VSA. (Foto: Alyssa Pointer/Atlanta Journal-Constitution via AP)

Die Covid-19-pandemie word daarvan verdink dat dit komende verkiesings in verskeie lande kan kelder, en selfs die demokrasie lyk of dit in die slag kan bly. Maar is daar nie dalk goeie opsies wat oorweeg kan word voor dit te laat is nie?

Volgende jaar moet Suid-Afrikaners weer verkiesing hou – die keer die landswye munisipale verkiesing. Ingevolge die Grondwet moet dit binne twee jaar volg ná die nasionale en provinsiale verkiesing, en dié betrokke soort verkiesing moet elke vyf jaar plaasvind. Die Grondwet het gepraat.

Maar wat as die verkiesing(s) werklik nie kan plaasvind nie, en ander planne gemaak moet word? Met die Covid-19-pandemie wat veroorsaak dat die komende verkiesings moontlik nie sal kan plaasvind nie, word na ander planne gekyk. Suid-Afrika is egter nie al land wat kopkrap nie. Die VSA se presidentsverkiesing kan dalk ook in die slag bly, in elk geval in die formaat wat ons ken.

Dit sal Suid-Afrika waarskynlik loon om te gaan kyk wat nou in Ethiopië gaan gebeur, waar die regering pas die verkiesing onbepaald weens Covid-19 uitgestel het. Ook Ethiopië se grondwet beperk ’n termyn tot vyf jaar, en die huidige parlement se termyn verstryk op 30 September. Hoe nou gemaak?

Na berig word ontleed die Ethiopiese regering vier “moontlikhede”:

  1. Om die parlement te ontbind.
  2. Om ’n noodtoestand af te kondig
  3. Om die grondwet te wysig
  4. Of om na ’n grondwetlike uitleg te soek wat ’n oorgangsproses grondwetlik haalbaar maak.

Kiesers trek hul kruisies tydens ‘n voorverkiesing in Lawrenceville, Georgia in die VSA. (Foto: Alyssa Pointer/Atlanta Journal-Constitution via AP)

Grondwetlikheid is nie die werklike probleem nie, maar heterogeniteit, of soos deesdae meer politiek-korrek gestel, diversiteit. Dis nie net etnies van aard nie, maar ook godsdienstig, met twee hoofgodsdienste, die Christene, meestal Ethiopiese Koptiese Christene, en Moslems. Dit gaan wel nou beter as ʼn paar dekades gelede toe daar in ʼn stadium ses burgeroorloë gelyk plaasgevind het, maar die middelpuntvlietende kragte het nie sommer verdwyn nie.

In die VSA word wyd besin oor of dit hoegenaamd moontlik sal wees om verkiesing te hou, en die moontlikheid om veral die nominasiestryde deur middel van elektronika te laat gesied word algemeen ondersoek – ook ter wille van maniere om Covid-19 te bekamp, maar ook ander redes.

Maar wat nou in Suid-Afrika? Rassespanning word nie juis besweer deur te volhard met planne om grond sonder vergoeding te onteien nie, en wit mense gaan ook nie kwalifiseer wanneer die grond herverdeel word nie. Dit lyk of daar met die droogtehulp op groot skaal blatant teen wit mense gediskrimineer word. Met die verklaarde ramptoestand is daar uit die kabinet sterk uitsprake om rassisme as grondslag vir noodhulp te gebruik, en dan nog ewe vermetel te ontken dat dit rassisme is. Heel pikant word diegene wat teen die rassisme beswaar maak van rassisme beskuldig.

Nie een van die Ethiopiese opsies wat skynbaar oorweeg word (al meen kenners dit is moeilik om te bepaal welke van die vier “opsies” die mees plofbare konkoksie bevat), sal sonder die sterk moontlikheid van konflik hier geïmplementeer kan word nie. Wat wel duidelik is, daar sal ’n tipe Kodesa tussen partye moet plaasvind, wat in alle waarskynlikheid tot minstens enkele grondwetwysigings sal moet lei, en dan ’n soort eenheidsregering. Gaan so iets genoegsaam demokraties kan wees as daar geen manier was om volkswil te toets nie?

Kiesers wag om hul kruisies te trek tydens ‘n voorverkiesing in Lawrenceville, Georgia in die VSA. (Foto: Alyssa Pointer/Atlanta Journal-Constitution via AP)

Of wat van ’n tussentydse tegnokratiese regering? Tegnokrasie beteken nie noodwendig dat ’n bepaalde groep ’n land regeer nie, maar dat kundiges ingetrek word wat die politieke regering adviseer. Daar is juis nou ’n versugting onder die publiek dat die regering werklike kundiges moet gebruik om die land ten beste te regeer, en nie politiek- oorheersende persone en groepe nie.

Ongelukkig het hierdie kwessie nog gans te min deurlopende aandag gekry, en is daar gans te veel wolhaarstories as feite oor die karakter en aard van tegnokrasie in omloop geplaas, soos dat die tegnokrasie anti-demokraties en anti-Christen is. Net soos van demokrasie gesê word dis ’n euwel, maar dat dit darem die beste euwel is wat ons ken, kan van die tegnokrasie gesê word dit is nie ideaal nie, maar dis darem ligjare beter as die kakistrokrasie waarop die land nou afstuur, of reeds grootliks platgeloop is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fedup ·

Whatever the outcome, this poor virus and the white people will be blamed. Let’s see what will pop out if we throw a rock in that circus tent.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.